Evangelism
Evangelism | Reach out to Your Community | Group Bible Study

Work for Christ

Probleme met Darwin

'n Leek se bedenkinge

 

Laai die eBoek af

 

Dit is waar dat die werklikheid uit verskillende gebiede bestaan, en dat niemand op elke gebied 'n deskundige kan wees nie. Dit is egter ook waar dat die verskillende gebiede nie heeltemal sonder verband tot mekaar staan nie, en dat die een die ander beïnvloed. Daarom het die Darwinisme nie slegs implikasies vir bioloë nie. Verder kan op elke gebied van die werklikheid onderskei word tussen wat slegs vir kenners toeganklik is, en wat minder gespesialiseerd is. Oor sekere aspekte van die Darwinisme moet 'n leek liewer swyg. Wat weet hy per slot van sake van dinge soos gene en chromosome aan die een kant, en van fossiele aan die ander kant? Om enigsins gesaghebbend daaroor te kan uitspraak gee, is 'n jarelange studie nodig. Maar daar is 'n ander aspek van die Darwinisme waarmee dit anders gesteld is en waaroor dit nie vir die leek onmoontlik is om self betroubare gevolgtrekkings te bereik nie.

         Wat kan dan in 'n geskrif van hierdie lengte gesê word wat nog nie en een of meer van die talle boeke en artikels vir en teen die Darwinisme genoem is nie? Watter aanspraak het dit op uniekheid of oorspronklikheid? Ek sou wou antwoord dat die vraag eintlik anders gestel moet word: watter weglatings kenmerk hierdie artikel? En die antwoord is dat daar niks in hierdie artikel is wat nie eerstens deur 'n leek verstaan kan word nie, en wat tweedens nie deur so iemand gekontroleer kan word nie. Of daar ten spyte van hierdie weglatings nog iets waardevols gesê word, laat ek aan die leser oor om te besluit.

         Wanneer enigiets onder bespreking is, is dit belangrik om te weet presies wat dit is, en veral om verwarring te vermy met iets anders wat net gedeeltelik identies daarmee is. In hierdie geval moet daar baie duidelik onderskei word tussen die wye begrip “evolusie” en die spesifieke teorie vandag algemeen bekend as die “Darwinisme”. Charles Darwin was nie die eerste wat die evolusiegedagte verkondig het nie. Reeds sekere Griekse filosowe soos Anaximander en ander het hul hieraan gewaag. Darwin se oupa, Erasmus Darwin, was nog een. Daar was die Fransman Lamarck wat reeds voor Darwin sy gedagtes wêreldkundig gemaak het, maar wie se meganisme verskil het van Darwin s'n. Tot vandag toe nog is daar teïstiese evolusioniste wat die evolusiegedagte aanvaar, maar wat oortuig is dat ontwikkelinge deur God langs daardie weg bestier is, en nie uitsluitlik deur Darwin se meganisme nie. En selfs kreasioniste wat nie hiervoor te vinde is nie, sal nogtans erken dat daar sogenaamde mikro-evolusie binne spesies plaasgevind het. (Elke mens is self 'n bewys hiervan, want hy lyk anders as mense van ander rasse.) Darwin was dus nie oorspronklik toe hy beweer het dat evolusie plaasgevind het nie, maar wel in sy verklaring hoe dit geskied het.

         Wat het Darwin dan probeer doen? Hy het probeer doen wat talle ondernemende mense vanaf die vroegste tye reeds probeer het, naamlik om in die onbekende te kyk.

         Wanneer kennis van die onbekende ook al gesoek word, word daar gewoonlik gebruik gemaak van drie werkswyses. Die proses in 'n geregshof illustreer hulle al drie. Die eerste metode vertrou op inligting. Getuies word ondervra wat eerstehandse kennis dra van die gebeure onder bespreking. Inligting oor die verlede word ook dikwels verkry uit ou boeke. 'n Tweede metode maak gebruik van bewysstukke. Dit mag spore of vingerafdrukke wees of voorwerpe wat op ongewone plekke aangetref word, of fossiele, of wat ook al. Maar daar is ook 'n derde metode, en dié word dikwels as so vanselfsprekend aanvaar, dat dit skaars opgemerk word. Daar bestaan 'n windmaker woord daarvoor, naamlik “ekstrapolasie,” met die werkwoord “ekstrapoleer.” Dit berus op die aanname dat sekere kragte wat in die bekende wêreld waargeneem word, ook in die onbekende werksaam is. En dit beteken natuurlik dat die bekende grense aan die vermoë van sulke kragte ook in die onbekende sal geld. Kennis van die potensiaal van sekere kragte is een van die mees waardevolle vertrekpunte waarvandaan die onbekende benader kan word. As 'n ou man met jig in sy bene in sy getuienis beweer dat hy byna 'n volstruis ingehardloop het, maar net toe hy hom wou vang, het die groot voël weggevlieg en oor die boomtoppe verdwyn, mag die teenwoordiges goedig glimlag en respek betoon vir sy ouderdom, maar dis ook al wat hy van hulle kan verwag. Waarom? Omdat hulle kennis dra van die potensiaal van sy bene en van 'n volstruis se vlerke. Ook in die wetenskap word ekstrapolasie gedurig gebruik. Hiervan is Isaac Newton 'n mooi voorbeeld. Vanaf sy appelboom tot in die verste onbekende ruimtes het hy geëkstrapoleer en aanvaar dat die aantrekkingskrag wat op die een plek aangetref word, ook op die ander sy invloed laat geld. En van hierdie metode het ook Darwin gebruik gemaak. John Maynard Smith sê: “It was Darwin’s role to explain organic evolution also in terms of contemporary processes.” Met ander woorde, Darwin het geëkstrapoleer vanaf die gewone prosesse wat ons aldag waarneem en wat ons reken ons verstaan goed genoeg om afleidings daarvan te regverdig. Daarvandaan het hy dan geredeneer na die onbekende verlede, om vas te stel wat daar aangegaan het.

         Die bekende proses waarvandaan Darwin geëkstrapoleer het, was uitsoekteelt. Ons kan hierdie metode ook noem “kunsmatige seleksie,” aangesien dit 'n wyse is waarop die mens ingryp in die natuurlike voortplantingsproses van 'n diersoort deur individuele diere uit te soek wat daaraan mag deelneem en die ander uit te skakel of te elimineer. Eliminasie is die hart van uitsoekteelt. (En natuurlik is daar dan ook selektiewe kweking van plante). Darwin het geëkstrapoleer deur te redeneer: “Net soos ek tewerk gaan om 'n besondere tipe duif te teel, so het die natuur tewerk gegaan om nuwe soorte diere voort te bring.” En onder die verskillende metodes wat gebruik word om nuwe verskeidenhede voort te bring, was uitsoekteelt, eerder as kruisteelt of enige ander metode, die een wat vir hom belowend gelyk het as 'n wegspringplek vir sy ekstrapolasie.

        Uitsoekteelt is onmoontlik sonder variasie. Ons ken variasie baie goed by mense. Daar is langes en kortes, skrales en gesettes, slimmes en dommes, mooies en minder mooies. Nou gestel nou in 'n sekere land is dit 'n wet dat die langste mans net met die langste vrouens mag trou, en die kortstes met die kortstes. Wat sou die gevolg wees? Ongetwyfeld sou ons later 'n klomp reuse aan die een kant en 'n klomp dwergies aan die ander kant kry, met die grootste menigte tussenin. Maar variasie op vele gebiede is ook baie algemeen by diere en plante, en daar kan doelbewuste manipulasie maklik toegepas word. 'n Teler van diere of 'n kweker van plante het 'n teiken of doel of toekomsvisie in gedagte. En omdat lewende wesens in baie opsigte varieer, varieer hulle ook in die mate waarin hulle van nature in die rigting van sy teiken neig. Dan soek hy individue met 'n sterk aanvanklike neiging tot daardie doel, en hy strewe daarna om dit verder te laat neig en om dit tot meer lede van die spesie uit te brei. Veronderstel nou hy sou om een of ander uitspattige rede besluit 'n hond kan baat by 'n slurp soos dié van 'n olifant. “Wel, reken hy, 'n slurp is eintlik 'n besondere lang neus.” Maar net soos sommige mense groter neuse het as ander, so is daar ook honde wat van nature 'n rapsie langer neuse het as die gemiddelde hond van sy ras. Die teler soek dus die honde uit met die langste neuse, hou hulle apart en laat hulle onder mekaar teel, sonder dat dié met korter neuse by hulle toegelaat word, selfs al sit hulle ook en tjank by die hek. Elke hond wat gebore word se neus word getoets deur dit te meet, en hierdie toets bepaal of dit verder aan die program sal deelneem. Nou kry hy honde waarvan die neuse nog effens langer is as dié van hul ouers, en weereens soek hy die langstes uit en elimineer die ander uit die teelproses. Hy stipuleer in sy testament dat sy nageslag slegs sal erf as hulle sy lewenstaak voortsit. Of dit in die praktyk gaan werk, weet ek nie, maar as dit wel die geval is, sal daar met die loop van tyd talle tussenvorms ontstaan met neuse wat wel nog nie die ideaal bereik het nie, maar wat nietemin al langer word. “Variasie,” “Aanvanklike neiging” en “eliminasie” is drie sleutelbegrippe. Uitsoekteelt het die potensiaal om 'n nageslag te skep wat hul voorouers in een of ander opsig oortref. Hiervan was Darwin bewus. Toe vra hy 'n belangrike vraag: “Can the principle of selection, which we have seen is so potent in the hands of man, apply under nature?” En sy antwoord was: “Yes.” En daar begin die Darwinisme: by die gedagte dat uitsoekteelt ook in die natuur kan voorkom. En dit het hy genoem “natuurlike seleksie” in teenstelling tot die kunsmatige seleksie waarby die mens 'n rol speel. Maar in beginsel werk dit op dieselfde manier. “Natuurlike seleksie is 'n proses van eliminasie,” sê Ernst Mayr.

         Maar volgens Darwin se teorie word daar glad nie in die natuur op teikens afgestuur nie. Dit word beskou as een van die essensiële verskille tussen kunsmatige en natuurlike seleksie: geen doelstellings of teikens of toekomsvisioene nie, en geen voorkennis aan die begin van wat die einde gaan oplewer nie. Met ander woorde: geen beplanning nie. Nou wat laat dan die proses in 'n bepaalde rigting verloop? Waarom ontaard dit nie eenvoudig in 'n deurmekaarspul nie?

         Die geheim lê daarin dat sekere eienskappe oorlewing bevorder. Elke toename in so 'n eienskap dien dus oorlewing deurdat dit die dier aan die lewe hou, terwyl dié waarin die eienskap swakker verteenwoordig is, uitgeskakel word of minstens 'n kleiner nageslag voortbring. Elke verandering vind plaas deur 'n bedreiging die hoof te bied. So 'n bedreiging doen eintlik twee dinge. Eerstens toets dit die produk van elke stappie in die evolusieproses om te bepaal of die eienaar daarvan geëlimineer moet word of moet gedy. En tweedens elimineer dit dié wat nie die paal haal nie. Sonder 'n bedreiging en die eliminasie van dié wat nie die toets slaag om die bedreiging te oorwin nie, kan daar geen natuurlike seleksie wees nie.

         Neem byvoorbeeld die kameelperd. Volgens die Darwinisme was die kameelperd baie eeue gelede maar omtrent so groot soos 'n ander blaarvreter, sê nou maar die koedoe. Daar was egter ook, net soos by die mens, variasie in lengte, selfs by dié wat uitgegroei was. Maar by die kameelperd het iets 'n rol gespeel wat by die mens afwesig was, en dit is eliminasie van die kortes. Mense word nie geëlimineer omdat hulle kort is nie, en die langes ondertrou met korteres, en so bly die gemiddelde lengte grotendeels dieselfde. En normaalweg doen diere dit ook. Maar in die natuur kom droogtes voor, en dan word die kos te min, en terwyl die langstes nog die oorblywende boonste blare kan bykom, skop die korteres die emmer of word so swak dat hulle nie kan voortplant nie. Die droogtes was as 't ware elke keer die toetsers van die lengte van die kameelperde, en dan ook somaar die teregstellers van dié wat nie die toets geslaag het nie. Deur die kortes te elimineer het die droogtes die kameelperd al langer laat word tot wat hy vandag is.

        Die kameelperd het een unieke kenmerk wat oorlewing dien, maar sommige diere het 'n hele paar. Hier kom die verkleurmannetjie in die gedagte op. Hierdie oulike diertjie word in Afrika op groot skaal gehaat en gevrees weens sy unieke kenmerke. Sy kleurverandering beteken hy kan nie vertrou word nie, sy draaiende oë waarvan die een suidoos kan kyk en die ander noordwes, maak dit onmoontlik om te weet wat hy dink, sy lang tong maak dit vir die lafaard onnodig om tot by sy prooi te kom, sy stert wat kan vasklou beteken dat hy eintlik een poot meer het as gerespekteerde diere, en sy stadige pas is, volgens 'n ou oorlewering, die rede waarom die mens sterf. (Die skepper het hom naamlik na die mens gestuur met die boodskap dat hy vir altyd sou lewe, maar deurdat hy te veel tyd op pad verspeel het, het die akkedis hom verbygesteek met die nuus dat die mens sou sterf.) 'n Boosaard is wat hy is!

        Darwin sou moontlik vir iemand wat hierdie aanklagte voordra, gesê het: “Vriend, ek moet jou geluk wens dat jy so oplettend was en soveel unieke kenmerke raakgesien het. Maar waar jy die spoor byster raak, is wanneer jy alles vir skelmstreke aansien. So eenvoudig is dit nie. Kyk, elkeen van die kenmerke wat jy genoem het staan in diens van sy oorlewing. Die lang tong help hom om sy prooi te vang voordat hy raakgesien word, en so kry hy meer vlieë in sy maag. Die draaiende oë maak dit onnodig om die kop te veel te beweeg en aandag te trek en sy prooi te waarsku. Die stadige gang met die rukkerige bewegings soos 'n bewegende blaar laat sy prooi dink hy is maar net 'n blaar. Die kleurverandering is natuurlik 'n vorm van kamoeflering, wat vir enige jagter 'n aanwins is. En die klouende stert verleen stabiliteit. So dra al vyf by tot sy oorlewing. Oorlewing is die groot woord. Onthou dit.”

         Dit is nou wat betref die verkleurmannetjie se vyf redelik unieke kenmerke. Maar al sy kenmerke is tog nie uniek nie. Daar is ook nog honderde kenmerke wat hy in gemeen het met ander reptiele, en selfs met alle ander werweldiere of met diere in die algemeen. Wat van hulle? Waar kom hulle vandaan? Ook elkeen van hulle, net soos die unieke kenmerke, sou Darwin sê, het oorspronklik hul verskyning gemaak deur oorlewing te dien, selfs al is dit soms vir ons moeilik om te sien hoe dit geskied het. En 'n eienskap wat 'n dier aan die lewe hou, word natuurlik self daardeur van 'n plek verseker in die nageslag van daardie dier. So word die kenmerke wat oorlewing dien, ontwikkel en behou, en die ander word uitgeskakel.

         Vir die mens is dit redelik eenvoudig om uitsoekteelt toe te pas, maar hoe sou die natuur dit kon doen? Hoe kan dit verseker dat sommige diere 'n groter nageslag verkry as ander? 'n Goeie vriend van my het dit in Engels as volg opgesom: “Fitness in the evolutionary sense is defined as relative reproductive efficiency, such that the fittest individuals are those which not only leave the most progeny, but progeny which will themselves survive and reproduce.” Dit beteken dat eliminasie nie uitsluitlik afhanklik is van die dood van die diere wat nie die toets slaag nie. Dit kan ook funksioneer deur hul nageslag op een of ander manier te verminder – selfs deur te verhoed dat hulle gebore word.

         Een van die minder gebruiklike metodes wat aan die natuur toegeskryf word staan bekend as seksuele seleksie, waardeur sekere individuele diere meer aantreklik gemaak word vir die teenoorgestelde geslag as ander. Dit word dikwels onder voëls aangetref, waar die helderkleurige mannetjies meer aantreklik is vir die wyfies as die ou vaaljapies. Aangesien die mooiste mannetjies dan die grootste nageslag kry, word die daaropvolgende geslagte dan ook al aantrekliker. Maar selfs waar seksuele seleksie werk, moet daarop gelet word dat dit baie min eienskappe of liggaamsdele sou bevoordeel, aangesien daar relatief min organe is wat met seksuele aantreklikheid te doen het.

         Nog 'n eliminasieproses wat veral van toepassing is op die instinkte van diere wat eiers lê, berus daarop dat sommige eiers en kleintjies beter beskerm word as ander. Teoreties sou insekte wat hul eiers lê waar die kos volop is, 'n beter kans op 'n talryke nageslag hê as dié wat hulle somaar op enige plek los waar die larwes van honger kan omkom; en dieselfde sou geld vir voëls wat stewige neste bou. Maar weereens sou baie min kenmerke van 'n dier hierdeur beïnvloed word, en dan hoofsaaklik die instinkte wat direk met voortplanting in verband staan.

         Maar daar is nog die mees algemene eliminasieproses wat die natuur sou kon aanwend, en dit is die een wat 'n rol gespeel het in die teorie in verband met die kameelperd, naamlik die vroeë dood van die minder bedeeldes, voordat hulle 'n groot nageslag kan verwek. En hoewel daar min eienskappe is wat 'n rol kan speel in seksuele seleksie, en ook nie veel meer wat die lot van die weerlose kleintjies kan bepaal nie, is daar talle wat kan help bepaal watter diere in die stryd om oorlewing suksesvol sal wees. 'n Mens vind dan ook dat Darwiniste dikwels die klem op seleksie deur die dood lê, byna asof dit die enigste middel is wat die natuur kan gebruik. Darwin het gepraat van “one general law, leading to the advancement of all organic beings, namely, multiply, vary; let the strongest live and the weakest die.” Die dood is die enigste eliminasiefaktor wat hy hier noem. En hierby kon hy nog die woordjie “young” of “early” gevoeg het. Alle diere sterf uiteindelik, selfs die sterkstes. Maar wat natuurlike seleksie aandrywe is die vroeë dood van die swakkes, voordat hul kans gehad het om aan die voortplantingsproses deel te neem.

         As Darwin praat van sterk en swak, moet dit nie gesien word as gespierd en minder gespierd nie. 'n Lang kameelperd wat oorlewe is byvoorbeeld nie noodwendig sterker as 'n kortere wat sterf nie. “Sterk” beteken in hierdie verband eintlik “goed toegerus vir die stryd om oorlewing.” Later het die meer gepaste woord “fit”, wat vertaal kan word met “geskik,” die “strong” vervang. Dit druk meer presies uit wat bedoel word. Maar hoewel die woord “strongest” 'n ongelukkige keuse mag wees, druk Darwin se woord “die” presies uit wat hy bedoel. Die dood is die enigste eliminasiefaktor wat hy in sy “one general law” noem.

         Daar is 'n lewendige beskrywing deur Prof. Richard Dawkins van wat in die vermeende evolusie van die oog sou gebeur, en weereens is die dood die enigste faktor wat hy noem. Hy sê as ons argumentshalwe aanvaar dat 1,000 stappies nodig was om die oog uit 'n kaal stuk vel voort te bring, dan beteken dit dat daar 1,000 afdraaiplekke langs die pad was. By elke punt van hierdie aard het sommige diere oorlewe deur toevallig die pad te kies wat na beter gesigsvermoë lei. Maar “die gebied langs die pad lê besaai met die dooie liggame van dié wat by elkeen van die 1,000 opeenvolgende keusepunte die verkeerde draai gemaak het.” Let wel: alhoewel die evolusie wat genoem word geskied ten behoewe van die oog, is dit nie dooie wat daar lê nie, maar wel dooie liggame. Natuurlike seleksie kan wel 'n deel van 'n dier laat ontwikkel, maar dit kan nie 'n deel van 'n dier doodmaak en die res laat lewe nie. As 'n dier se oog nie goed genoeg is nie, moet die hele liggaam daarvoor boet. En hierdie dood moet by elke stappie plaasvind, want as die ongeskiktes nie geëlimineer word nie, sal hulle maar net weer die nageslag in hul evolusie kortwiek. En alhoewel dit nie noodwendig sou beteken dat al die ongeskiktes elke keer omkom nie, moet daar minstens so 'n aansienlike persentasie uitgeskakel word dat dit 'n uitwerking op die volgende geslag sou hê. Wat 'n bloedige slagting! En eintlik sou dit nog erger moes wees as wat Prof. Dawkins dit beskrywe, want die oog bestaan uit verskillende dele, en elke deel sou sy slagtings moes uitvoer. Hier lê een dier byvoorbeeld dood omdat sy iris nie goed genoeg was nie, en daar lê 'n slagoffer van die horingvlies of die retina, en dies meer. Maar laat ons maar soos Prof. Dawkins die oog behandel as een geheel. Wat met die oog gebeur het, sou vanselfsprekend ook waar wees van die oor en die neus en die longe en die lewer en die tande en die toonnaels en al die honderde ander organe wat deur natuurlike seleksie geword het wat hulle is. Elkeen sou by elke stappie van hul evolusie 'n groot aantal dooie diere langs die pad laat lê. Dink aan Ernst Mayr se woorde: “Natuurlike seleksie is 'n proses van eliminasie.” Die onontbeerlikheid van eliminasie geld by elke stappie in die evolusie van elke eienskap. En gewoonlik vind eliminasie plaas deur die dood. Die eerste vereiste vir natuurlike seleksie is dus variasie. En hierby kom die onontbeerlike bedreiging en die toetsing, en die oorwinning deur sommige lede van 'n spesie en 'n nederlaag deur ander wat lei tot eliminasie.

        Nou is daar 'n deurslaggewende vraag: Kon die eienskappe opeenvolgend ontwikkel het? Kon hulle as 't ware in 'n ry inval soos mense by 'n poskantoor wat elkeen wag vir die een voor hom om klaar te maak voordat hy met sy eie besigheid begin? Kon die longe byvoorbeeld geëvolueer het tot waar hulle vandag is, en toe eers het die eerste tekens van 'n lewer hul verskyning begin maak? Kon elke evoluerende eienskap of orgaan vir dié voor hom wag om volmaaktheid te bereik voordat hy self die eerste stappie op die evolusieleer waag? Helaas nie. Teoreties is dit moontlik dat sommige eienskappe later kon begin ontwikkel as ander. Maar hulle funksioneer nie onafhanklik van mekaar in hul dienslewering nie. Wat sou fris bene baat as daar geen oë was om te sien waar om te loop nie? Wat is die nut van uitstekende tande in 'n dier sonder 'n spysverteringstelsel? 'n Kragtige hart sou nutteloos wees in 'n liggaam sonder are en bloed. En so meer. Daar moes 'n geweldige mate van gelyktydige ontwikkelinge gewees het, anders sou 'n stadium noodwendig bereik word waar 'n kwart van die organe so ontwikkel was soos hulle vandag is, terwyl daar van driekwart nog nie eens 'n teken was nie. En wat sou so 'n onklaar dier op aarde gedoen het? Die noodsaaklikheid van grootskaalse gelyktydige ontwikkeling van eienskappe en organe mag nooit uit die oog verloor word nie. Ons kan wel die ontwikkeling van 'n spesifieke eienskap uitsonder om spesiaal daaroor na te dink, maar as dit ons enigsins laat vergeet van die massa ander eienskappe wat gelyktydig sou moes ontwikkel, het ons die kluts kwytgeraak. Elke keer wanneer ons lees hoe een of ander eienskap geëvolueer het, kan ons wel wonder of die skrywer enigsins daarvan bewus was dat talle ander eienskappe terselfdertyd deur hierdie proses moes gegaan het.

         Maar asof dit nie genoeg hoofbrekens besorg om uit te werk hoe fisiese eienskappe volgens hierdie teorie kon ontstaan het nie, word daarop aanspraak gemaak dat instinkte ook op dieselfde wyse hul opwagting gemaak het. 'n Instink is 'n soort innerlike drang om iets te doen wat lyk asof dit beplan is, maar wat nie op voorkennis en redenasie berus of uit die voorbeeld van andere aangeleer is nie.

         As vinkeiers uit 'n nes geneem en in 'n groot hok onder 'n kanarie uitgebroei word, word die kleintjies groot sonder dat hulle ooit 'n vinknes gesien het, en sonder dat hulle ooit uit waarneming geleer het dat paring moet plaasvind. Tog paar hulle met mekaar as hulle groot is, want hulle ondervind 'n drang om dit te doen. Maar daar is nog drange. Alhoewel hulle geen inligting ontvang het oor wat die gevolg van hul paring gaan wees nie, bou hulle betyds neste presies net soos dié van hul voorgeslagte, alhoewel hulle nog binne-in die eierdoppe was toe hulle uit die nes gehaal is en dus nog nooit een gesien het nie. En die wyfietjie gaan lê haar eiers daarin en broei op hulle. Wie het vir haar gesê om dit te doen? Instink is nie aangeleerde gedrag nie en ook nie beplande gedrag nie. Daar is talle eenvoudige instinkte, soos die kudde-instink wat maak dat diere van dieselfde spesie in groot getalle bymekaar bly. En ons ken die vluginstink wanneer gevaar dreig. Iemand wat instinkte in hul volle glorie wil sien, kan 'n by na sy nes volg en kyk wat daar aangaan. Asof dit nie genoeg is dat daar 'n magdom instinktiewe handelinge uitgevoer word nie, is daar ook nog werkverdeling onder die verskillende lede. Daar is stof tot nadenke.

         Die Darwiniste verklaar die ontstaan van instinkte ook met natuurlike seleksie. Die diere by wie 'n voordelige instink teenwoordig was, het 'n groot nageslag gelaat, terwyl dié by wie dit afwesig of in geringer mate teenwoordig was, die onderspit gedelf het. Die diere met 'n onderontwikkelde vluginstink het byvoorbeeld te laat uitgevind dat dit beter is om bang Jan te wees as dooie Jan, en gevolglik het hul ook nie soveel kleintjies voortgebring soos dié wat beter vir hul veiligheid gesorg het nie. Die voëls wat swak neste gebou het, se kleintjies was onbeskermd en is uitgeskakel. Maar die kinders van dié wat gevlug het of sterk neste gebou het, het opgegroei om ook weer te vlug of sterk neste te bou. En om ook weereens kleintjies voort te bring wat betyds vlug of sterk neste bou.

         Daar kom egter nog iets by alles wat ons gesê het. Na Darwin se tyd is vasgestel dat daar naas normale variasies soos lengteverskille en dies meer, ook toevallige mutasies voorkom. So 'n mutasie word veroorsaak deur 'n fout wat binne-in die dier plaasvind. Dit mag inderdaad deur een of ander eksterne faktor veroorsaak word, soos chemikalieë, ligstrale of radio-aktiewe strale. Maar die tyd van verskyning en die aard daarvan word op geen wyse bepaal deur 'n behoefte wat bevredig moet word nie. As 'n sekere straal veroorsaak dat die oorbelle groter word, is dit nie omdat daar op daardie tydstip 'n behoefte aan groter oorbelle is nie. As 'n mutasie tot enige nut vir die dier is, kan hy sy sterre dank, maar dit is blote geluk. Trouens, so 'n toevallige mutasie is gewoonlik nadelig van aard. Nou kan daar geredeneer word dat daar ook toevallig voordelige mutasies kon plaasgevind het, en dat natuurlike seleksie dit kon opgevolg het deur dit verder te laat evolueer. Maar aangesien mutasies toevallig plaasvind, sou dit beteken dat die toeval op groot skaal ingeroep word om die wa deur die drif te trek, en hoe meer dit gedoen word, hoe minder kan daar rasionele verklarings aangebied word. Sodra iets onverklaarbaar is, kan gesê word: “Siedaar, dit was 'n mutasie.” Maar dit sou neerkom op 'n verwerping van die Darwinisme, want Darwin was oortuig dat natuurlike seleksie alleen 'n basis vir evolusie kon bied.

         Nou dat ons na mutasie gekyk het, kan ons aandag gee aan 'n beswaar wat teen 'n leek ingebring kan word wat bedenkinge koester teen Darwin se teorie, naamlik dat hy nie genoeg weet nie, en dat dit dus vir hom onmoontlik om self tot 'n besluit te kom.

         Hoewel hierdie beswaar oënskynlik meriete het, moet hier weereens 'n onderskeiding getref word tussen evolusionisme in die algemeen wat almal vanaf Anaximander tot die teïstiese evolusioniste insluit, en die Darwinisme waarvolgens natuurlike seleksie die enigste meganisme van die evolusieproses is. Evolusionisme in die algemeen is net nie tans die onderwerp van bespreking nie.

         Vir natuurlike seleksie, het ons gesien, is twee dinge nodig, naamlik variasie en eliminasie. Wat bepaal nou hierdie twee aspekte van die evolusieproses?

         Wat laat diere varieer? Wat maak dat in dieselfde werpsel sommige hondjies kleiner is as ander, dat hulle kleur effens verskil, en dat hulle ook temperamentverskille toon? Dit bring ons by die werking van die gene en die ander faktore wat mutasies bepaal en waaroor die leek wyslik handel om hom nie uit te spreek nie. Variasie word bepaal in die verborge dieptes waar selfs die deskundiges gevorderde apparate nodig het om in te kyk.

         Heeltemal anders is dit gesteld met die eliminasie-aspek. Eliminasie vind grotendeels plaas in die dier se interaksie met sy omgewing. Dit word aangetref in die jag, waar die vinnigste jagters die meeste prooi vang en die vinnigste prooi ontsnap, waar die kameelperde met die langste nekke die droogtes oorlewe, die otters met die grootste webbe tussen die tone die meeste visse kan vang en die verkleurmannetjies wat die beste by die omgewing aanpas die meeste insekte verorber. En op hierdie gebied is die leek nie 'n vreemdeling nie. Alhoewel hy geen bioloog mag wees nie, weet hy darem ook nie heeltemal niks van diere, hul gewoontes, en hulle leef- en sterfwyse nie. Alhoewel hy hom nie as 'n deskundige mag uitspreek nie, het hy vrymoedigheid om vrae te vra en in baie gevalle self te beantwoord.

         Nou watter probleme is daar met Darwin? Minstens vyf vrae dui op probleme met Darwin se teorie dat evolusie deur natuurlike seleksie die uitsluitlike proses was wat vir die ontstaan van alle belangrike kenmerke van alle lewende wesens verantwoordelik was. Een van hierdie vrae maak dit uiters moeilik om sy teorie te aanvaar, en vier maak dit (vir my altans) heeltemal onmoontlik.

Probleem 1: Is die dienslewering voldoende?

Darwin het gepraat van opeenvolgende stappies wat elkeen diens lewer in die evolusieproses, en hy het hulle beskryf as “finely graduated.” Met elkeen word iets toegevoeg tot een of ander eienskap wat individuele diere beter laat oorleef as ander van dieselfde spesie. Prof. Richard Dawkins sê as iemand sukkel om te aanvaar dat die hele evolusieproses uit sulke stappies bestaan het, kan hy sy geloof so 'n hupstootjie gee deur hulle baie klein voor te stel. “However improbable a large-scale change may be, smaller changes are less improbable,” verduidelik hy. “And provided we postulate a sufficiently large series of sufficiently graded intermediaries, we shall be able to derive anything from anything else, without invoking astronomical improbabilities.” Nou hy het ongetwyfeld 'n punt beet, maar daar is ook 'n punt wat hy mis. Die geldige punt is dat dit inderdaad makliker is om jou voor te stel dat 'n klein stappie plaasgevind het as 'n grote. Maar aan die ander kant is dit weer veel moeiliker om te glo dat 'n kleintjie 'n merkwaardige uitwerking sou gehad het. Ek kan my moontlik makliker voorstel dat 'n kameelperd se nek een millimeter per stappie langer geword het as tien sentimeters. Maar aan die ander kant is dit vir my baie moeiliker om te aanvaar dat die bykomende millimeter 'n noemenswaardige verskil sou gemaak het aan die getal verhongerde kameelperde, as die langer toevoeging. Die opeenvolgende stappies moet elkeen aansienlike diens lewer deur 'n bedreiging te oorwin wat die agtergeblewe diere elimineer.Wat ookal hierdeur verkry is, moet oorerflik wees en uiteindelik na die hele spesie uitbrei. Met ander woorde, hoe kleiner die stappie, hoe makliker om te glo dat dit plaasgevind het, maar hoe moeiliker om te glo dat dit so 'n belangrike rol gespeel het. Maar as u reken dat dit 'n bietjie vaag is, kan ons voortgaan na die onmoontlikhede.

Probleem 2. Waar is die versoener?

Daar was eenkeer (in die sprokieswêreld, natuurlik) 'n baie eksentrieke koning wat 'n groot bewondering vir katte gekoester het, en wat besluit het dat al die katte in sy koninkryk 'n aantal onderskeidende eienskappe moes besit. Hulle moes besonder lang sterte hê en besonder lang ore en neuse. Hulle moes 'n skerper reuksintuig hê as enige ander kat, en beter kon hoor en sien. En as hulle miaau, moes dit so melodieus wees dat dit die slaaploses aan die slaap sus. Hy het ook nog eienskappe bygevoeg, totdat daar twintig kenmerke was waarin elke kat in sy koninkryk moes uitblink. Toe het hy twintig telers uitgestuur van wie elkeen moes sorg dat een van die eienskappe deur uitsoekteelt deel word van die katbevolking. Elkeen moes die katte uitsoek wat ten opsigte van die besondere eienskap wat hy moes bevorder alreeds uitgemunt het, en die ander elimineer, hetsy deur die dood, hetsy deur sterilisasie of afsondering.

                     Die telers het fluks aan die werk gespring. Maar reeds op die eerste dag het daar struwelinge ontstaan toe een teler hom verheug oor 'n kat met 'n baie belowende stert, en 'n ander een daarop aandring dat hy uitgeskakel word vanweë sy gebrekkige gehoor. Dit het spoedig geblyk dat die beste sopraan 'n baie kort neus het. En so het dit voortgegaan. Elke uitblinker op een gebied het weer êrens anders tekort geskied. Die telers het gedreig om mekaar te lyf te gaan, en die koning was baie ontsteld en het gevrees dat hy die eerste heerser van 'n katlose koninkryk sou word. Hy kon nie verstaan wat skort nie, totdat 'n wyse raadslid hom probeer inlig het.

         “U sien, u Majesteit, 'n kat is maar baie soos 'n mens. As u nou na die bevolking van u koninkryk kyk, sal u vind dat die vinnigste atlete nie noodwendig die beste pianiste is nie. Die slimste vroue is nie altyd die mooiste nie. Selfs op skool sal u vind dat 'n leerling wat uitstaande is in tale, baie swak mag vaar in wiskunde. U sal baie ver moet gaan, u Majesteit, om 'n genie of 'n kampioen op enige gebied te vind wat nie êrens op 'n ander gebied onder die gemiddelde presteer nie. Uitnemendhede is onafhanklik of lukraak versprei, en waar die een voorkom het niks te doen met die ander nie.”

                     Waar was die probleem dan? Die probleem was dat geskikthede by katte ook versprei is soos by mense. Slegs in hoogs uitsonderlike gevalle het 'n kat aan al twintig vereistes voldoen. Elkeen was op sekere gebiede minderwaardig, dus moes elkeen geëlimineer word om die kampioene op daardie gebiede te laat floreer. Die behoefte om die belange van elke ontwikkelende eienskap te versoen met dié van elke ander een kon nie bevredig word nie.

         Maar wat het dit met die Darwinisme te doen?

         Wanneer daar aan evolusie in die algemeen gedink word, moet altyd in gedagte gehou word dat dit eintlik bestaan uit 'n menigte besondere evolusieprosesse. Hoeveel eienskappe en organe daar gelyktydig moes evolueer is seker nie moontlik om te bereken nie, maar om net aan die omvang van die proses te dink behoort al 'n idee te gee van die implikasies daarvan. Voeg dan die instinkte hierby. Ek wil nie die taak hê om te bereken hoeveel evolusieprosesse nodig sou gewees het om enige tans lewende dier voort te bring nie, maar niks verhinder ons verbeelding om vlugte te neem nie. Waar die verkleurmannetjie vyf unieke kenmerke toon wat hom van ander diere onderskei en wat elkeen deur natuurlike seleksie sou moes ontstaan, tel al die kenmerke wat hy met ander diere deel ongetwyfeld nader aan vyfhonderd. En dan is daar ook talle diere wat kenmerke besit wat aan die trapsuutjies onbekend is.

         Terwyl die oog, volgens Prof. Dawkins se beskrywing, met sy slagting besig was, sonder om hom te steur aan wat vir die evolusie van die ander organe nodig was, waarmee het die oor hom onledig gehou? Hy sou ook moes evolueer deur dooie diere langs die pad te strooi. En die lewer? En die niere? En die tande en die tong en die toonnaels? En die wenkbroue en al die ander honderde organe wat moes ontwikkel? Het elkeen nie sy eie privaat evolusie ondergaan en dus effektief sy eie slagting uitgevoer nie? En aangesien hulle nie een-vir-een op 'n ry kon ontwikkel nie, moes hulle die slagtings grotendeels gelyktydig uitvoer. Elke dier wat aan die evolusieproses deelneem, kies – soos Prof. Dawkins dit beskrywe -- by elke afdraaiplek van elke orgaan of instink 'n pad òf na verdere ontwikkeling òf na uitskakeling. Hoeveel onvermydelike eliminasies sou nie nodig wees nie!

         Die term “lukraak verspreiding van geskikthede” kan eenvoudig verduidelik word. Daar is nie so iets soos algemene geskiktheid nie. Die lukraak verspreiding van geskikthede kom by alle diere voor, net soos by die koning se katte in die verspotte verhaaltjie. Die eienskappe wat varieer is in sekere gevalle aan mekaar gekoppel, byvoorbeeld as die een van die ander afhanklik is. (Spoed mag gepaard gaan met beenlengte, en dies meer.) Maar die groot massa eienskappe is lukraak versprei. Toe Darwin gesê het die sterkstes moet oorlewe en die swakstes uitsterf, was daar iets waaraan hy gewis nie gedink het nie: dat elke sterke ook weer op ander gebiede wat moet evolueer 'n swakke is. Vir alle praktiese doeleindes beteken dit dat elke individuele dier wat op grond van een uitstaande kenmerk geskik is om in die evolusieproses te oorlewe, weer op grond van ander evoluerende eienskappe ongeskik is en uitgeskakel sal word. En so sal elkeen 'n beurt kry om geëlimineer te word. En wie gesterf het in belang van een eienskap, kan nie weer opstaan om te kom help met die ontwikkeling van 'n ander een nie. Almal sal langs die pad gestrooi lê. En net so dood soos enigeen van hulle sou die Darwinisme wees.

 

Probleem 3. Waar is die vroeë diens?

'n Boer het verskillende diere op sy plaas wat take verrig. Maar hy het ook 'n toekomsvisie, en daarom hou hy onvolwasse diertjies aan die lewe met die oog op diens wat hulle eendag sal lewer. “Hierdie vulletjie gaan nog die ploeg trek,” sê hy, “en hierdie kalfie gaan emmers vol melk gee. En hierdie katjie, wat jy dink is net hier om die kinders te vermaak, gaan dit vir die rotte warm maak.” Nou kan iemand moontlik vra of hierdie soort beskerming met die oog op die toekoms, wat gedurende sommige diere se lewensloop geld, dan nie ook gedurende die evolusieproses kan geld nie. Kan die natuur as 't ware sê: “Gee hierdie nuttelose knoppie of groeiseltjie 'n kans, dit sal nog eendag 'n nuttige orgaan word”? Ongelukkig nie. Darwin sê elke stappie in die evolusieproses moet tot diens van sy eienaar wees. En 'n stappie lewer altyd sy diens voor die volgende stappie in dieselfde rigting. En dit sluit noodwendig die vroeë stappies in. Elke stappie, van die eerste tot die laaste, lewer diens deur voor die volgende stappie 'n talryke nageslag te help verseker. Hierdie diens is die dryfkrag waarsonder die evolusieproses tot stilstand sou kom. En dit bestaan uit die eliminasie van die ongewensdes, gewoonlik deur die dood. In hierdie verband mag die belangrike woordjie “each” nooit uit die oog verloor word nie. En ongelukkig vir Darwin se teorie is daar talle voorbeelde van stadiums wanneer 'n bykomende stap geen voordeel sou bied nie. Dit is veral opvallend reg aan die begin van die vermeende evolusie van 'n bepaalde eienskap, voordat die kritiese punt bereik is waar diens 'n aanvang kan neem.

         Dit geld nie vir alle vermeende ontwikkelinge nie. 'n Addisionele lengtetjie kon byvoorbeeld vir die kameelperd tot net soveel diens gewees het aan die begin van die verlenging as teen die einde. Maar in baie gevalle moet daar eers 'n kritiese punt bereik word voordat 'n ontwikkeling van enige waarde sou wees.

         Volgens Prof. Dawkins het die oog ontwikkel uit 'n ligsensitiewe kol. Ons sal na hierdie kol terugkom, want dit laat baie vrae ontstaan. Op die oomblik is dit voldoende om te wonder hoe die eerste kol van hierdie aard sy eienaar sou baat. Waarom sou die eerste gekoldes beter oorleef as die ongekoldes? Moontlik sou dit 'n krieweling veroorsaak as lig daarop val, of 'n kielierigheid of 'n jeuking, moontlik selfs 'n ligte pyn. En wat dan? Hoe sou enigiets binne-in die eienaar van die eerste ligsensitiewe kol dit herken as 'n aanduiding van die nabyheid van gevaar of van kos, en weet wat om daaromtrent te doen? As die uitwerking van lig irriterend was, mag dit moontlik daartoe gelei het dat hy donker plekke verkies het of die kol weggedraai het van die lig. Maar waarom sou daar in die donker plekke meer kos of minder gevare wees, aangesien nòg sy vyande nòg sy prooi ligsensitiewe kolle gehad het om tussen lig en donker te onderskei? Want as die kol nie reeds aan die begin tot handeling kon lei wat 'n onderskeid tussen lewe en dood maak nie, kon dit nie reeds vanaf die begin 'n rol speel in natuurlike seleksie nie. Dit sou nog eers 'n kritiese punt moes bereik wat dit op een of ander manier moontlik gemaak het om vyande of prooi assulmk.ks te herken.

         Maar let op iets wat nie eintlik deel van die oog is nie, maar wat eng daarmee verbonde is, naamlik die ooglid.

         'n Vriend van my het 'n soort verlamming in sy gesig gehad wat dit onmoontlik gemaak het om sy een oog te knip. Hy moes met 'n nat lappie rondloop om die oog klam te hou en so die saak te beredder. Iemand wat wil weet waarom dit nodig was, kan uitvind deur 'n ruk lank die oë net halfpad te knip.Tog het die vis geen ooglid nie. Onder water het hy dit nie nodig nie, en as hy daaruit gehaal word, het hy gewigtiger stof tot nadenke as brandende oogappels. As ons van die vis afstam, moes ons dus êrens langs die pad die ooglid ontwikkel het, en volgens die Darwiniste moes dit in klein stappies geskied het, met slagoffers langs die pad gestrooi. Maar hoe het die eerste klein stappies in die ontwikkeling 'n lewensbelangrike verskil gemaak? Toe 90% van die oogappel nog onbedek was, hoeveel beter was dit as om geen ooglid te hê nie? En toe nog 25% oop was? Met ander woorde, tot watter nut was al die baie stappies buiten die laaste paar wat die oog heeltemal kon sluit? Eers aan die einde sou die kritiese punt van nuttigheid bereik word. Hoe het dit voor daardie punt geëvolueer?

        Die seekoei het die besondere vermoë om sy neusgate en selfs sy ore onder water toe te maak. Maar hoeveel water het hulle uitgehou toe hulle net halfpad of driekwart kon sluit? En as die afsluitingsapparaat toe tot absoluut geen nut was nie, hoe het dit ontstaan, en hoe het dit verder ontwikkel?

         Kyk nog 'n slag na die vis, want daar is nog iets wat ons het en hy nie. 'n Vis het geen knie of elmboog of kneukel in sy vin nie. Vir elke gewrig om te kon ontstaan, moes 'n been op 'n sekere punt verdeel. Om te verdeel moes dit op daardie plek swakker word, byvoorbeeld deur dunner te word as die res van die been. Maar as dit in klein stappies moes plaasvind, sou die proses geslagte lank geen voordeel bied nie, aangesien die been nog steeds nie kon buig nie. Oor 'n lang tydperk sou elke gewrig niks meer gewees het as 'n swakker wordende plek in die been nie. En watter lewensbelangrike voordeel het 'n swak been bo 'n sterke? En dan moes 'n soort skarnier nog stapsgewys bygevoeg word! Dit laat die kop duisel.

      Die olifant kan iets vasvat deur dit tussen die boonste en onderste dele van sy snoet vas te knyp. Maar hoe het dit die grypende neuspunt verkry? Die boonste en onderste gedeeltes moes die vermoë ontwikkel om na mekaar toe te buig. Maar toe hierdie ontwikkeling begin het, kon hulle nog absoluut niks tussen hulle vasvat nie. 'n Kritiese punt waar hulle iets nuttigs kon vasvat moes eers bereik word voordat natuurlike seleksie kon oorneem. Wat het hulle tot by daardie punt gebring?

       Ook die lengte van die slurp bied dieselfde probleem. Dit kon eers na 'n kritiese punt 'n bydrae lewer deur te verleng. Die slurp moet kan dubbel buig vir kos en water. Voordat dit die stadium bereik het waar dit moontlik was, tot watter voordeel was die lengte?

        Of dink aan die bekerplant wat insekte vang. As dit ontstaan het uit 'n blaar wat stadigaan in 'n beker verander het, hoeveel insekte sou dit gevang het toe dit nog niks meer as 'n gerolde blaar was nie? Watter diens het dié vroeë stappie gelewer? Sou die vlieë dit nie uitgelag het nie?

       Die Venus vlieëvanger vang sy prooi deur in 'n kits dubbel te vou. Wat kon dit vang toe dit net gedeeltelik en baie stadig kon buig? Nie eens een persent van 'n vlieg nie.

        Op die internet is daar 'n verklaring van die beginstadiums van die evolusie van vere. Wat geeneen van die skrywers egter beantwoord nie, is die vraag watter lewensbelangrike voordeel die aanvanklike stappies in so 'n ontwikkeling gebied het wat die gelukkige diere bevoordeel en die omgewing bestrooi het met die lyke van die agtergeblewenes.

         Hierdie probleem is reeds vroeg opgemerk. Reeds in Darwin se tyd het die paleontoloog G.J.Mivart gevra: “What would be the utility of the first rudimentary beginnings of such structures?” Darwin het egter nie gereken dit is 'n onoorkomelike probleem nie. Meer onlangs stelProf.E.C.Olson dit so: “Een soort raaisel wat dikwels studente van evolusie gepla het, hou verband met strukture wat duidelike funksies vervul wanneer hulle eers heeltemal gevorm is, maar wat oënskynlik geen nut het gedurende die formasie en integrasie van hulle dele nie.” In die geval van insekte erken hy byvoorbeeld dat daar haas geen inligting bestaan oor die geskiedenis van hul vermoë om te vlieg nie. Dit wil voorkom asof daar in een of ander voorvaderlike tipe flappe of voue agter die kop ontstaan het, waarvan twee pare dan in vlerke ontwikkel het. “Daar mag vermoed word,” sê hy verder, “dat, toe hulle ontstaan het, hierdie voue 'n ander funksie vervul het, maar wat dit kon gewees het is nog nie eens geraai nie.” Maar is daar enige ander dier waarby sulke voue 'n lewensbelangrike rol speel?

          Prof. Olson se “ander funksie” lê die vinger op pogings wat soms aangewend word om problematiese gevalle te verklaar deur te aanvaar dat natuurlike seleksie kan plaasvind in twee of meer fases, terwyl elke fase 'n ander probleem oplos. Dit kan byna vergelyk word met 'n trein wat van Kaapstad tot in Pretoria moet loop en wat na elke trajek aan 'n ander lokomotief gehak word, of soos die poskoetse in die ou dae wat kort-kort 'n vars span perde gekry het. Daar word dan byvoorbeeld toegegee dat die olifant se slurp aan die begin van sy verlenging geen bydrae daartoe kon lewer om kos na sy bek te bring nie. Maar, word dan gevra, is dit die enigste doel wat 'n verlengde neus kan dien? Een skrywer noem die moontlikhede dat 'n effens verlengde neus moontlik seksuele aantreklikheid kon verhoog, of dit kon die reuksintuig versterk het, of die volume van die stem verhoog het. Nadat die neus dan 'n sekere lengte bygekry het om hierdie behoefte te vervul, het dit ook begin om die kos nader te bring en verder ontwikkel deur dit al beter te doen.

         Die probleem met hierdie oplossing is egter dat dit nie die situasie makliker maak nie, maar eerder nog grootliks bemoeilik. Die oorlewing van geen ander dier in die bosse van Afrika hang van een van hierdie drie voorlopige funksies van die neus af nie. Hoe sou die toeval gerek moes word as juis die een enkele spesie wat later weens die posisie en vorm van sy bek 'n baie lang neus sou nodig kry om kos aan te bring, ook nog in vroeëre tye 'n behoefte aan 'n meer matige lang neus gehad het om 'n funksie te vervul waaraan geen ander dier behoefte gehad het nie.  

         Ongetwyfeld kan nog talle sulke voorbeelde gevind word van eienskappe wat in hul vroeë stadiums geen diens kon lewer nie, veral onder die inwendige organe.

 

Probleem 4. Waar is die bedreiging?

Natuurlike seleksie is by elke stappie daarvan afhanklik dat sekere diere swig voor 'n bedreiging en sodoende geëlimineer word, terwyl ander van dieselfde spesie dit oorwin danksy 'n geringe vordering in die evolusie van een of ander kenmerk of orgaan. Die bedreiging moet die minderwaardige diere uit die weg ruim wat met hul deelname aan die voortplantingsproses evolusie sou strem.

      Maar nou is daar sekere bedreigings wat, as dit in 'n bepaalde geografiese gebied sou voorkom, noodwendig 'n hele aantal spesies sou bedreig wat ewe kwesbaar daarteen is. As daar dan nou beweer word dat 'n bepaalde eienskap van een spesie aan hierdie bedreiging toegeskrywe moet word, maar dit het duidelik nie ander kwesbare spesies beïnvloed nie, het ons weereens op 'n probleem afgekom.

Nogeens die kameelperd. Selfs as fossiele uitgegrawe sou word van kameelperde met al die neklengtes vanaf die kortste tot wat dit vandag is, en hulle sou ook in die regte volgorde voorkom soos deur die evolusiegedagte vereis, sou dit nog nie bewys dat dit uitsluitlik deur natuurlike seleksie geskied het nie. Dink aan 'n vroeë kameelperd omtrent so groot soos 'n ander groterige plantvreter, byvoorbeeld 'n koedoe of 'n eland, met 'n nek soos dié van een van hulle. So moes die oerkameelperd volgens Darwin een tyd daar uitgesien het. Maar tussen hierdie oervorm en die huidige vorm moes daar dan natuurlik 'n massa tussenvorms gewees het wat geleidelik langer geword het namate droogtes die korteres afgemaai het. Hierdie tussenvorms was nog nie lank genoeg om al die droogtes te oorlewe nie, dus moes hulle geëlimineer word, terwyl die langeres kon oorlewe en hulle nageslag nog steeds langer geword het totdat hulle vandag se kameelperd voortgebring het. Maar die tussenvorms was tog al baie langer -- en gevolglik baie geskikter om te oorlewe -- as die koedoes en die waterbokke en die sebras en die springbokke en die duikertjies en die dikdikke en al die ander wat glad nie langer geword het nie. Toe sommige kameelperde reeds baie geskikter was as al die ander blaarvreters, moes hulle nogtans bokveld toe, terwyl die lede van die minder geskikte spesies blykbaar salig onbewus was van die droogtes. Die feit dat die kleiner spesies nie almal uitgesterf het nie, bewys eenvoudig dat die droogtes wat nodig was om die korter kameelperde te elimineer, nooit plaasgevind het nie. Daar was geen bedreiging wat natuurlike seleksie deur eliminasie kon moontlik maak nie.

         Dit sal die moeite loon om te wonder oor ander voorbeelde van diere met uitstaande unieke kenmerke waarvan die ontstaan deur Darwiniste toegeskryf word aan 'n rol wat dit in die verlede in oorlewing gespeel het, terwyl ander spesies goed daarsonder klaarkom. Vlerke word gevind by een soogdier, naamlik die vlermuis. As die vlermuise wat nie vinnig genoeg lang vingers en vliese tussen hul vingers gekry het nie, in die verlede in die stof moes byt, waarom het dit nie met ander diere gebeur nie? Watter bedreiging was daar wat hierdie ontwikkeling van vlerke op een spesie afgedwing het sonder om die ander spesies in gevaar te stel?

         Of kyk na die otter. Sy verre voorouers kon ongetwyfeld nie so lank onder water bly nie, en het ook nie webbe tussen hul tone gehad nie, dus moes beide die uithouvermoë en die swemapparaat op 'n stadium ontstaan het, met talle dooie otters wat dit nie kon maak nie. Maar waarom het soveel ander vergelykbare spesies geen begeerte ontwikkel om in die water te lewe en dus behoefte aan hierdie vorms van evolusie gehad nie? Of gaan na die miskruier. Dié wat nie die aanvanklike drang gevoel het om misballetjies te maak en te gaan bêre nie, het minder kinders voortgebring. Tog lewe en vermeerder torre in die mis sonder om hul oor balletjies te bekommer. So is daar talle ander gevalle om oor na te dink.

        Is die mens nie ook 'n geval nie? Die mens se verstandelike vermoëns is so geweldig verhewe bo dié van die mees intelligente dier, dat daar 'n menigte tussenvorms tussen so 'n dier en ons moes gewees het. Kom ons noem hulle aspirantmense, of hulle nou ook al halfmense was, of kwart-mense of driekwartmense. En ons kan wel vra hoeveel eliminasies nodig was om uiteindelik sulke pronkstukke soos ons voort te bring. Dit sou talle eliminasies van aspirantmense gekos het. Maar daar is 'n verdere vraag. Al daardie aspirantmense was tog al verstandelik veel verder ontwikkel as die mees intelligente dier, soos die sjimpansee of ander primate. Maar as al die menigte diere kon oorlewe met so 'n klein deeltjie van die aspirantmens se verstand, hoe is dit dan dat die veel hoër ontwikkelde aspirant-mense wat nog net nie so oulik was soos ons nie, almal deur natuurlike seleksie uitgeroei is?

    

Probleem 5. Waar is die koördineerder?

Of noem dit 'n “koppelaar.” Dit is iets soos die Engelse “match maker,” maar in die huidige verband het dit nie op huwelike betrekking nie. Akkurate koördinasieofkoppeling is op baie gebiede onontbeerlik, byvoorbeeld in die tegnologie. Aanskou die magtige Airbus. Hierdie kolos word finaal in Toulouse aanmekaargesit; maar so suiwer Frans is hy ook nie, want sy onderdele kom van minstens tien fabrieke in vier verskillende lande. En tog pas hulle so noukeurig by mekaar dat duisende mense gewillig is om hul lewens aan die voltooide produk toe te vertrou. Veronderstel nou iemand besoek die fabriek, en hy verneem van een van die werkers: “Bon jour, monsieur. Kan u my sê in watter land die plan vir die vliegtuig opgestel is?” Sy informant lyk enigsins uit die veld geslaan. “Die plan? Watter plan? Nee, daar was geen vooraf opgestelde plan nie. In elke fabriek is eenvoudig 'n innerlike drang gevoel om iets te vervaardig, en toe is dit alles hierheen gekarwei, en toe ons dit klaar aanmekaarsit het, voila, daar verskyn 'n reusevliegtuig!” As my Frans beter was, sou ek vir hom sê ek het beter humor in sy land verwag.

         En tog sou iets net so verregaande in die natuur nodig gewees het as die Darwinisme 'n feit was. Maar min mense word daardeur gepla.

         Net soos by menslike uitvindings, kom sulke noodsaaklike samewerking van verskillende onderdele ook in die natuur voor. Michael Behe gebruik die term “onverminderbare kompleksiteit” (“irreducible complexity”) vir so 'n geval in die biologiese wêreld, wat hy dan vergelyk met iets baie nederiger as 'n reusevliegtuig, naamlik 'n gewone muisvalletjie. Daar is 'n paar onderdele, en as enigeen ontbreek sal die valletjie geen enkele muis vang nie. Hy noem 'n aantal voorbeelde op die gebied van die mikrobiologie, maar gelukkig is daar ook meer bekende voorbeelde van dieselfde beginsel in plante en diere, en hulle is geensins minder oortuigend nie.

         Daar is reeds daarop gelet dat daar in elke dier 'n algemene interafhanklikheid van organe, dele van organe en eienskappe is. Maar die onontbeerlikheid van samewerking is besonder akuut in die geval van sekere diere waar twee of meer unieke organe of eienskappe totaal van mekaar afhanklik is om diens te kan verrig, terwyl hulle tog tot op die stadium waar hulle kan saamwerk, vanweë hul verskillende aard onafhanklik sou moes evolueer.

         Kom ons kyk weer na Oom Olifant. (Hy is in elk geval een van die moeilikste diere om mis te kyk.) In die eerste plek het hy 'n grypende neuspunt nodig wat die kos kan beetkry, en tweedens moet die neus lank genoeg wees om dubbel te buig om die bek by te kom. Daar is reeds genoem dat die evolusie van elkeen van hierdie eienskappe op sy eie onmoontlik sou wees weens die afwesigheid van dienslewering aan die begin van sy evolusie. Maar nou kom daar 'n verdere rede om kop te krap: hulle is ook dele wat totaal van mekaar afhanklik is as hulle diens wil lewer. As enigeen van hulle ontbreek het, sou die ander een net so nutteloos gewees het vir sy taak soos 'n muisvalletjie sonder veer. Wat kan 'n grypende punt aan 'n kort neus, of 'n lang neus wat niks kan gryp nie, die olifant baat? Trouens, die lang slurp sonder 'n grypende punt sou 'n hindernis wees wat voor die bek hang as die olifant wil wei. En as die neus so kort was dat dit net voorwerpe kon gryp en weer laat los, sou die olifant nie eintlik veel meer kon doen as om homself te vermaak nie. Gedurende 'n lang vroeë periode van ontwikkeling sou die twee eienskappe, naamlik die lengte en die vermoë om vas te vat, geen verband met mekaar hê nie. Elkeen sou van sy eie aanvanklike neiging moes wegspring en dan deur 'n lang proses van eensame en onafhanklike ontwikkeling gaan voordat hulle kon ontmoet en saamwerk. In die afwesigheid van 'n voorafgaande plan wat alreeds voor die begin van hul evolusie bestaan het, sou daar gedurende die lang periode voordat hulle uiteindelik hul kragte kon saamsnoer, hoegenaamd geen konneksie tussen hierdie twee afsonderlike vermoëns wees nie. Hoe het dit gekom dat hulle in dieselfde spesie ontwikkel het? Die een kon net sowel in die olifant en die ander in die renoster ontstaan het.

      Nou van 'n groot kolos na 'n klein kewertjie wat byna so beroemd is soos die Beatles en die Volkswagen Kewer. Hy staan bekend as die bombardierkewer. Hierdie goggatjie verdedig homself deur 'n vloeistof teen kookpunt uit te spuit. So 'n skroeiende stortbad raai dan sy vyande aan om liewer hul geluk elders uit te toets. Tog is hy nie aan die kragnet gekoppel nie, dog 'n chemiese reaksie vind plaas en stel hitte vry wanneer een vloeistof by 'n ander gevoeg word. Twee vloeistowwe word bymekaar gebring net voor die spuitaksie, en hulle reageer op so 'n wyse op mekaar, dat 'n temperatuur teen kookpunt die gevolg is. Vanselfsprekend moet hierdie twee vloeistowwe streng apart gehou word terwyl hulle nog in die insek se liggaam is, anders sou die reaksie daar plaasvind, met gestoofde kewer as gevolg.

         Hierin sien Prof. Dawkins geen bedreiging vir die Darwinisme nie. Die twee vloeistowwe, sê hy, was reeds teenwoordig in die insek se liggaam, waar hulle vir ander doeleindes gebruik is. “Die bombardierkewer se voorouers het eenvoudig aan verskillende chemikalieë wat reeds teenwoordig was, ander take opgelê.” Hy gebruik die woord “simply.” Nou hoe eenvoudig kan dit wees?

        Wat natuurlik onontbeerlik sou wees, is dat presies die regte twee souse onder al die beskikbares uitgekies en in aparte houers versamel moes word, aangesien hulle nie kan uitspuit tensy hulle dig afgesluit is nie. Hoe dit ook al gebeur het, was die keuse van vloeistowwe, die versameling, die voorbereiding van die houers en die berging tot op hierdie stadium nog steeds hoegenaamd tot geen voordeel vir die insek nie. Om eenvoudig twee van sy vloeistowwe uit te soek en in sterk houers te versamel gaan hom nie op enige manier langer laat lewe of meer kinders laat verwek nie. Hierdie houers moes ook dig bymekaar geleë wees, anders sou hulle nie later kon saamwerk nie. Verder moes hulle in die regte deel van die liggaam geleë wees waar hulle vir verdediging gebruik kan word. (Dit sou byvoorbeeld geen waarde gehad het as hulle op die rug geleë was nie.) Die houers moes elkeen 'n soort tuit hê. As die reaksie binne een van die houers moes plaasvind, moes dit sterk wande hê wat die hitte en druk kon weerstaan. Die nodige spiere moes verskaf of aangepas word om saam te druk. Alles moes onder die eienaar se beheer geplaas word, sodat hy dit presies op die regte oomblik kan aktiveer. En om die kroon te span, moes al hierdie dinge in klein stappies uitgevoer word, waarvan elkeen gesorg het dat dooie kewers langs die pad lê. En dan sê Prof. Dawkins: “Simply.”

         Maar daar was 'n belofte om na die ligsensitiewe kol terug te keer. Vroeër is gevra watter nut dit heel aan die begin sou hê, maar nou is dit tyd om eerder te kyk na sy konstruksie. Michael Behe wys daarop dat so 'n kol, waarmee Prof. Dawkins begin, alreeds 'n baie ingewikkelde orgaan is. Dit bestaan uit verskillende samewerkende dele. Maar selfs al laat ons hierdie ingewikkeldhede tersyde, is daar iets anders om op te let. Volgens Prof. Dawkins was daar 'n deurskynende vlies op die kol wat dit beskerm het en wat later in die evolusieproses dikker geword het en die binnekant van die oog gevorm het. Daar was dus twee kolle op mekaar: 'n ligsensitiewe een met al sy geheimenisse, en 'n skynbaar veel nederiger deurskynende een wat nogtans kon verdik. Maar deurskynende vliese verskyn nie eenvoudig goedsmoeds op allerhande plekke op die liggaam nie, en ek weet nie van enige ander sulke kolle op die vel nie. Aan die ander kant is dit egter ook nie somaar niks nie, maar wel iets. En iets het iets anders nodig om dit te laat ontstaan. En dit kon baie duidelik nie van buite die liggaam daarop beland het nie, byvoorbeeld deur daarop te waai of gesmeer te word nie, want dan sou dit nie oorerflik gewees het nie, en sou dit geen verband met die evolusieproses gehad het nie. Dit kon slegs deur 'n mutasie verskyn wat die gevolg was van die toevallige werking van die gene. Dit beteken dat twee samewerkende kolle: 'n ligsensitiewe en 'n deurskynende, deur blote toeval op presies dieselfde plek op die liggaam hul verskyning moes maak waar die een later die ander nodig sou hsê. En dit wil gedoen wees!

      Het ek gesê: “Dieselfde plek”? Is dit die volle verhaal? Hoeveel diere het net een oog? Wat nodig sou wees, was nie een ligsensitiewe kol nie, maar twee. En toevallig sou hulle simmetries geleë moes wees. En die deurskynende vliese sou ook toevallig in simmetriese pare op presies dieselfde plekke moes verskyn.

       Die toeval sou selfs nog meer moes vermag. Is daar enige ander plek op die liggaam waar die oë beter of selfs net so goed geleë sou wees as waar hulle tans op verreweg die meeste diere is, naamlik redelik hoog aan die voorkant van die kop? Ek kan aan geen beter plek dink nie. En die toeval sou dit ook moes besef.

       Wanneer ons die astronomiese toevallighede bedink wat nodig sou wees om dit vir natuurlike seleksie moontlik te maak om die oë voort te bring, plaas Prof. Dawkins nog die kersie op die koek: volgens hom het die oog nie slegs eenmaal uit 'n ligsensitiewe kol ontwikkel nie, maar minstens veertig maal! Veertig maal het twee simmetriese kolle toevallig op twee ander simmetriese kolle beland op die mees geskikte plek op die liggaam. En dit was maar net die begin van die ontstaan van die oog.

       Elke dier en elke plant bevat lewensbelangrike vloeistowwe wat deur homself geproduseer word, waarvan bloed een van die bekendste is. Maar daar is ook diere (en selfs plante) wat vloeistowwe produseer wat vir hulself nie nodig is nie, maar wat hul uitwerking het in die liggame van ander diere, hetsy tot voordeel of tot nadeel. 'n Soogdier se melk word geproduseer vir haar kinders, die manlike sperm dien slegs 'n doel in 'n vroulike liggaam, en die talle gifstowwe het geen uitwerking op die skenker nie, maar wel op die ontvanger.

       Hierdie vloeistowwe word deur kliere voortgebring, en dit lewer al klaar stof tot nadenke wanneer gevra word watter diens so 'n klier aan die begin van sy evolusie kon gelewer het. Maar “hef aan” lê nog voor. Nie alleen het die vloeistof 'n klier of kliere nodig om dit te produseer nie, maar dit is ook nutteloos sonder 'n pypagtige toedieningsapparaat, of dit nou 'n speen is, of 'n manlike orgaan, of 'n hol tand, of 'n angel. Ons kan daarna verwys as 'n spuit.

       Die eerste probleem is dan natuurlik hoe elkeen van hierdie twee dinge, die klier en die spuit, ontstaan het deur klein stappies wat gedurende 'n aansienlike deel van hul vroeë werking nog geen nuttige diens sou kon lewer nie. Kon 'n perdeby se klier byvoorbeeld reg aan die begin van sy ontwikkeling reeds iets verskaf wat die dier se voortbestaan beveilig? En wat kon die angel doen kort nadat dit in sy vroegste vorm verskyn het?

       Maar hierby kom dan natuurlik die vraag van die koppelaar. Hoe het dit gekom dat elke klier gelyktydig met die nodige spuit geëvolueer het lank voordat hulle kon saamwerk?

       Maar ook dit is nog nie die einde nie, want daar is nog 'n derde vraag, en dit het te doen met instinkte. Al sou 'n koei oorvloedig melk gee en al was haar spene eersteklas, sou dit nog geen nut hê as die kalfie nie geweet het daar moet gesuig word nie. En iets moet vir die perdeby sê hy moet steek.

       Hierby kan nog gevoeg word die hoogs ingewikkelde vloeistowwe wat niks aan enige liggaam doen nie, maar wat wel dien as materiaal vir 'n konstruksie wat in diens van die produseerder staan. Die sywurm is 'n baie mooi voorbeeld, asook die spinnekop wat sy prooi vang met drade wat sterker as staal van dieselfde dikte is. Maar kyk as voorbereiding vir die spinnekop eers na drie uiters beleefde manne wat wag voor die deur van 'n hyser in 'n hoë gebou. As dit oopgaan, is daar 'n probleem, want elkeen dring daarop aan om laaste in te stap. So vasbeslote is hulle om in hul goeie maniere te volhard, dat hulle na 'n uur nog daar staan en besluit om maar die trap te gebruik.

       Maar die spinnekop sou dieselfde probleem ondervind as sy vermoë om webbe te spin deur Darwin se meganisme voorsien moes word.

       Kyk 'n bietjie meer noukeurig na hom, daar waar hy in sy web sit en wag vir insekte om die laaste fout in hul lewens te maak. Ek glo dit is abnormaal om nie grillerig vir hom te wees nie. Tog kan 'n mens jou hoed vir hom afhaal. Terwyl baie diere gifkliere het, en sywurms kliere het wat 'n draad kan spin, spog die spinnekop met altwee soorte: een van voor en een van agter. Hy is as 't ware dubbel geklierd.

         Minstens drie ingewikkelde dinge is nodig vir die spinnekop om sy web te spin.

         Eerstens is daar kliere nodig om die baie besondere vloeistof te vervaardig wat uitgespuit word. In die lug moet hierdie vloeistof die geweldige sterk draad vorm. 'n Spinnekop kan ook tegelykertyd verskillende soorte draad voortbring, elkeen natuurlik met sy eie resep.

         Tweedens benodig die spinnekop 'n soort spuit om die vloeistof die lug in te stuur waar dit hard word en 'n draad vorm. Hierdie spuit werk min of meer op dieselfde beginsel as 'n lawementspuit (enema). Die spuit benodig ook spiere om dit te laat werk. As daar verskillende soorte draad geproduseer word, is daar natuurlik meer as een spuit nodig, en elke spuit moet aan sy eie klier gekoppel wees.

         Derdens is 'n instink nodig wat die spinnekop lei om die web te konstrueer. Verskeie handelinge word benodig, en die web moet ook op die regte plek gebou word waar daar insekte beweeg wat kan dien as prooi. Ek laat my vertel dat 'n spinnekop soms na 'n hoë punt beweeg om die windrigting te toets voordat hy besluit waar sy net moet kom. Verskillende drade word gebruik, waarvan sommige taai is en ander nie, sodat die spinnekop self drade het om oor te beweeg. En hy moet weet waar en wanneer om watter draad te gebruik.

         Nou is dit maklik om te redeneer dat, aangesien hierdie drie benodigdhede in hierdie volgorde optree in die spinnekop se bouprogram, hulle ook in dieselfde volgorde geëvolueer het. Eers het die kliere dan in talle stappies al beter en beter geword, met dooie spinnekoppe wat gestrooi lê omdat hul kliere nie goed genoeg was nie. Toe het die evolusie van die spuit gevolg, en weereens moes talle onderontwikkelde spinnekoppe dit ontgeld. En toe die spuit klaar was, kon die evolusie van die instink begin, nogmaals met die gebruiklike slagting op elke stadium van ontwikkeling.

         So eenvoudig is dit egter ongelukkig nie. Elkeen van die drie faktore het na elke stappie in sy evolusieproses nodig dat die produk getoets en die onderontwikkelde spinnekoppe geëlimineer word. Wat elke toets moet vasstel, is of die stappie tot gevolg het dat meer insekte gevang word. Dit is net eenvoudig hoe die evolusieproses volgens Darwin werk.

         Om telkens te toets of 'n stappie in die ontwikkeling van 'n klier 'n aanwins was of nie, is dit nodig dat die produk in 'n web uitgetoets word. Maar hiervoor is beide die spuit en die instink nodig.

         En dan die spuit. As die klier 'n nuttelose mengsel voortbring, of as die web so hopeloos is dat dit nooit 'n vlieg sal vang nie, maak dit nie saak of die spuit uitstekend of 'n mislukking is nie. Die kwaliteit van die spuit kan slegs getoets word as die ander twee reeds goed funksioneer.

         Insgelyks kan die instink nie getoets word tensy beide die klier en die spuit reeds so goed funksioneer dat die spinnekoppe wat die instink gehoorsaam beloon word en die koppiges gestraf word nie.

         Kortliks kom dit daarop neer dat geeneen van die drie faktore wat 'n rol speel in die evolusie van die spinnekop se bouapparaat sou kon evolueer voordat die ander twee reeds gefunksioneer het nie. En in hierdie geval is dit nie weens goeie maniere nie.

         Enigeen wat verdere voorbeelde verlang, kan gerus op internet oplees oor die groot verskeidenheid vleesetende plante. Daar is vroeër gevra wat die bekerplant en die Venus vlieëvanger aan die begin van hul evolusie sou kon doen. Laasgenoemde se blaar kan in een-tiende van 'n sekonde dubbel vou. Hiervoor moet dit iets soos 'n veer besit, hoe dit dan ook al presies daar mag uitsien. Die vlieëvanger klap toe wanneer twee besondere haartjies gelyktydig aangeraak word, of as een tweemaal aangeraak word. Op een of ander wyse aktiveer dit dan die veer wat die blaar laat toeklik. Sonder die haartjies is die veer nutteloos, en sonder die veer dien die haartjies geen doel nie. En die blaar het stekels aan sy rand wat dien as tralies wat die gevangene verhoed om te ontsnap. Sonder hierdie tralies sou selfs die samewerking van die haartjies en die veer nutteloos gewees het. Maar die tralies sou ook geen doel dien sonder die ander twee nie.

 

Wat sou evolusie kon red?

.Sommige verhale van die broers Grimm begin met die woorde “In 'n groot woud....” Die gedagte aan 'n bos tower blykbaar die idee van die onbekende op, en van ongewone moontlikhede. Miskien vergemaklik dit geloof in die fabelagtige. Van die ander verhale begin met die woorde “Lank lank gelede.” Dit kom voor asof daar 'n diepgewortelde oortuiging is dat gebeurtenisse lank gelede moontlik was wat net eenvoudig nie meer voorkom nie. En dit mag verband hou met die vae oortuiging dat, as daar genoeg tyd beskikbaar is, enigiets moontlik minstens eenmaal kan gebeur. Iemand mag dus aan die hand gee dat voldoende tyd ook die Darwinisme sou kon red. “Onthou,” sou hy sê, “dat die evolusieproses nie duisende jare geduur het nie, maar miljarde. En gedurende so 'n lang tyd kan baie dinge gebeur. Selfs iets wat net elke paar duisend jaar voorval, kon baiemaal gebeur het. Elke eienskap kon met een stappie gevorder het en dan millennia gewag het voor die volgende stap, en sodoende die ander eienskappe kans gegee het vir hulle stappe sonder om met die eerste een verstrengel te raak.”

          Maar waarop sou dit neerkom? Eliminasie sou nog steeds onontbeerlik wees. En dit sou nog steeds beteken dat die eliminasie van individue wat in een opsig minderwaardig is, neerkom op die eliminasie van individue wat in 'n ander opsig uitstaande is.

         Ook sou miljarde jare nie die probleem met die eerste stappies oplos nie. Dit sou slegs beteken dat die eerste stappies verder en verder in die verlede verskuif word; maar as hulle van so 'n aard was dat hul geen diens aan hul eienaars gelewer het nie, sou hulle so nutteloos wees soos altyd.

         Sou bykomstige miljarde jare enige hulp bied aan die natuur se koppelaar deur dit makliker te maak vir eienskappe om tot die punt van bruikbaarheid te ontwikkel waar hulle met hul medewerkers verenig word? Wat dit wel sou doen, is om die tydsduur van hul onbruikbaarheid te verleng.

         Wat van diegene wat tevrede is met iets minder as volwaardige Darwinisme? Gestel nou dit kon sonder enige moontlikheid van twyfel bewys word dat alle lewende wesens vanaf dieselfde oorspronklike organisme geëvolueer het tot die verskeidenheid van vandag, selfs al het dit nie uitsluitlik deur natuurlike seleksie geskied nie. As die Darwinisme nie gered kan word nie, is dit nie minstens moontlik om darem iets te doen vir 'n meer algemene idee van evolusie nie?

         Dan sou ons nog steeds moes vra wat vir die evolusieproses verantwoordelik kon gewees het, aangesien natuurlike seleksie alleen dit nie sou kon regkry nie.

         En waarheen sou ons ons wend om hulp, indien nie na die ou beproefde werkswyse van ekstapolasie nie? Watter verskynsel ken ons in ons eie ondervinding waarvandaan ons kan ekstrapoleer tot 'n mag wat evolusie kon aandryf?

         Met ander woorde: wat kon (1) dit in baie klein stappies laat plaasvind, (2) botsings vermy tussen al die talle eienskappe wat gelyktydig moes ontwikkel, (3) evolusie reeds vanaf die vroegste stappies laat werk het toe sulke stappies nog geen voordeel gebied het nie, (4) dit beperk tot sekere spesies, hoewel ander dit nie minder nodig gehad het nie, (5) die regte interafhanklike onderdele bymekaar gebring het nadat hulle oor 'n lang periode onafhanklik ontwikkel het?

         Ek weet van slegs een manier waarop dit gedoen kon word, naamlik deur dit wat in kunsmatige seleksie werksaam is: 'n intelligensie wat vanaf die begin geweet het wat die einde gaan wees en wat die proses deur al sy stappe stuur.

         Dat intelligensie en voorkennis onontbeerlik sou gewees het word bevestig uit 'n onverwagte oord, naamlik deur Prof. Richard Dawkins.

         In 'n boek wat moet bewys dat geen beplanning in die ontstaan van lewensvorms betrokke was nie, skryf hy van 'n “computer monkey”. Dis 'n rekenaar wat gestel is om hom soos 'n aap te gedra. (En dit het nou niks met die soort vrywillige aapstreke te doen wat my rekenaar alte dikwels aanvang nie.) Net soos 'n aap wat net eenvoudig op enige klawers druk sonder om hom te bekommer oor watter letters daaruit voortkom, so moes die rekenaar net eenvoudig enige letters toevallig laat verskyn. Hy vra hoe lank dit sou neem vir hierdie elektroniese aap om toevallig 'n sinnetjie met 28 letters en spasies uit “Hamlet” te tik deur oor en oor te probeer. “To put it mildly, the phrase we seek would be a long time coming,” besluit hy. Prof. Dawkins noem hierdie metode om te probeer om die sin te tik “enkelstapseleksie,” want elke keer begin die rekenaaraap van meet af aan en wend 'n enkele poging aan om die sin te tik. So kon evolusie nie gewerk het nie, is sy gevolgtrekking. Maar, sê hy, dit is 'n ander saak as elke poging voortbou op die vorige. Want in teenstelling tot enkelstapseleksie is daar ook kumulatiewe seleksie. Weereens word dieselfde aantal letters lukraak getik om mee te begin. Nou word die sin herhaaldelik gedupliseer, maar elke keer met 'n toevallige fout. Na elke poging ondersoek die rekenaar dan die nuwe produk, en wanneer daar 'n letter verskyn wat met die teikensin uit Hamlet ooreenkom, word dit nie weer uitgevee nie. Dan gaan die proses van daar af voort. Terwyl die korrekte sin millennia sou neem om met enkelstapseleksie te verskyn, voltooi die rekenaar dieselfde taak in 'n japtrap met gebruikmaking van kumulatiewe seleksie. Deur sy bevindinge uit sy eksperiment met die rekenaaraap te ekstrapoleer na wat vermoedelik in die natuur sou gebeur het, bereik Prof. Dawkins die gevolgtrekking dat enkelstapseleksie nooit die evolusieproses aan die gang sou kry nie; “if, however, there was any way in which the necessary conditions for cumulative selection could have been set up by the blind forces of nature, strange and wonderful might have been the consequences. As a matter of fact that is exactly what happened on this planet ...”

       Maar wat is hierdie “necessary conditions for cumulative selection”? Wat is by die vorige poging gevoeg om dit te laat werk?

       Volgens Prof. Dawkins self word daar in kumulatiewe seleksie telkens ondersoek en besluit op grond van ooreenkoms met 'n teikenfrase. Dit is wat die rekenaaraap gedoen het, en wat die natuur dus sou moes doen om evolusie deur seleksie te laat werk. Maar hoe het die rekenaaraap dit reggekry? Hoe kon hy na elke probeerslag vasstel of daar ooreenkomste met die teikenfrase is, tensy hierdie teikenfrase van die begin af alreeds êrens in sy ingewande gestoor was?

      En hoe kon dit daar gekom het, tensy dit reg aan die begin daar geplaas is deur 'n intelligente wese wat vertroud was met die finale resultaat?

         Ons weet selfs wie daardie intelligente ontwerper was. Sy naam was Richard.

        As ons nou iets kan leer deur vanaf hierdie eksperiment, waarin 'n intelligente ontwerper die onmisbare faktor was wat die onderneming laat werk het, te ekstrapoleer na die gebeure in die natuur, wat sou die les wees?

         Prof. Dawkins beweer dat natuurlike seleksie die enigste werkbare alternatief vir toeval is wat ooit voorgestel is. Dit is voorwaar bemoedigend, want dit beteken dat daar nie nog ander voorstelle is wat ons hoef te ondersoek nie. Maar hoe werkbaar is natuurlike seleksie in die lig van die vrae wat reeds gestel is? En wat van die alternatief wat Prof. Dawkins met sy boek wou ontken, maar wat nietemin nodig was om sy eksperiment te laat werk, naamlik beplanning deur 'n intelligente ontwerper?

        Dit mag nie maklik wees om tot hierdie erkenning te kom nie. In sekere kringe is die tradisie baie sterk daarteen gekant, en baie doelbewuste pogings word aangewend om hierdie teenkanting te versterk. Maar wat anders het ons waarvandaan ons kan ekstrapoleer om 'n verklaring te vind vir die ontstaan van die lewende wêreld wat ons omring? Ek weet van geen ander nie. Die feite dwing my net in een rigting.

          Maar sodra ons 'n Intelligente Ontwerper ontdek het, kom verdere vrae na vore; en hierdie keer moet ons hulle nie aan Darwin stel nie, maar aan onsself. Kom ons kyk na 'n paar van hulle.

•Aangesien die Ontwerper in die mens se intelligensie deel, en dit in 'n mate wat die mens in vergelyking nietig laat lyk, sou dit dan verbasend wees as Hy ook ander eienskappe met hom deel, veral daardie waardes waarvan die mens in sy helderste oomblikke bewus is?

•Aangesien ons van Hom bewus geword het deur sy voltooide skeppinge waar te neem, watter ander afleiding kan ons maak as dat Hy benewens ontsaglike wysheid ook onmeetlike mag moet besit om sy planne tot uitvoer te bring?

•As ons eers van hom bewus geword het en begin besef wie hy is, volg dit vanselfsprekend dat alle waardes deur hom bepaal word. 'n Besoeker aan 'n diamantmyn mag getref word deur die tonne rots wat daaruit gehaal word; maar vir die kenner is alleenlik die klein hopie diamante belangrik. 'n Boer kyk na trop beeste, maar hulle is vir hom nietig in vergelyking met die klein seuntjie aan sy hand. Kan ons enigsins die waarde bepaal wat 'n Skepper aan die lewelose hemelliggame heg, en aan die mens aan die ander kant? En kan ons vir hom voorskrywe dat hy individuele mense moet waardeer volgens ons maatstaf?

•Alhoewel dit natuurlik van Hom sou afhang of Hy evolusionêre ontwikkeling wil gebruik, wat sou Hom verhinder om heeltemal daarsonder klaar te kom?

•Kan ons besluit dat dit vir Hom enigsins makliker of geriefliker sou wees om groot gebeurtenisse oor lang tydperke te laat plaasvind as in 'n oomblik?

•Aangesien dit Hy moes gewees het wat oorspronklik die mees onverklaarbare verskynsel, naamlik die lewe, in sy skepsels geplaas het, sou dit vir Hom enigsins 'n probleem wees om die lewe te laat terugkeer na waar dit eenmaal was? Of om dit op 'n ander manier te laat ontstaan as deur die samevoeging van die manlike en die vroulike?

•Sou dit verbaas as die mens vir Hom van besondere betekenis en waarde sou wees?

Sou dit verbasend wees as dit vir Hom baie belangrik is wat hierdie skepsel doen, wat hy wil doen, probeer doen en wat hy nalaat om te doen?

Sou dit verbaas as Hy met die mens sou wou kommunikeer, en as Hy ook nog meer direkte middele sou aanwend as om Homself in sy skepping te openbaar? Sou daar nie 'n wyse van kommunikasie wees wat ooreenstemminge toon met die mens se gesprek met ander mense nie? Sou Hy nie ook deur een mens met 'n ander kon spreek nie?

•Sou dit verbasend wees as Hy wat die mens gemaak het, ook nog ander wesens gemaak het wat in 'n mate met hul Skepper ooreenkom – moontlik selfs in 'n groter mate as die mens? En is dit onmoontlik dat hulle, net soos hul Skepper, van so 'n aard kan wees dat die mens hulle nie gewoonweg met sy sintuie kan waarneem nie? Met ander woorde: is die bestaan van onsigbare geestelike wesens iets waaroor die mens verbaas moet wees? En is dit onmoontlik dat, hoewel sommige getrou was aan hul Skepper, ander teen hom gerebelleer het net soos met mense die geval is? Is die bestaan van engele en demone in stryd met wat ons van die werklikheid kan te wete kom?

Sou dit verbasend wees as Hy soms die gewone natuurwette ophef? Trouens, selfs sommige materialiste aanvaar vandag dat ander wette in die kwantumwêreld geld as in die alledaagse lewe, en dat iets oorspronklik uit niks voortgebars het, in stryd met die eerste wet van die termodinamika. En wanneer aanvaarding van 'n Skepper van die heelal eers onafwendbaar word, wat bly dan vir Hom onmoontlik? Watter wonderwerk wat ons onwillig is om te aanvaar, is groter as die skepping van die heelal en die lewende wesens? En as sulke verstommende gebeurtenisse in die verre verlede kon gebeur het, is daar enige logiese rede waarom gebeurtenisse wat vir ons onmoontlik lyk en wat beskryf word as wonderwerke, nie vandag kan geskied nie?

•Wat verhinder Hom om dade wat vir ons natuurlik voorkom, af te wissel met optredes wat ons nie kan verklaar nie en wat ons as bonatuurlik beskryf? Wat is natuurlike seleksie en die ander meganismes anders as sy gereedskap, en wie kan aan Hom voorskryf wanneer Hy watter een moet gebruik?

•Is dit onmoontlik dat Hy doelstellings mag hê wat ons nie kan verstaan nie, en dat baie van sy dade en ook dit wat Hy nalaat om te doen, vir ons onverklaarbaar mag wees?

         Een ding is seker: as ons erns wil maak met die kennis van die werklikheid, sal daar 'n groot herwaardering van standpunte moet plaasvind.

         As ek onder groepdruk of enige ander druk die Darwinisme sou aanvaar, sou die probleme wat ek met Darwin ondervind by my spook. As ek kalm en na die beste van my verstandelike vermoë die feite oorweeg waarna ek verwys het, is die grootste prestasie wat ek aan Darwin kan toeskrywe, dat hy een meganisme aangedui het wat soms in die natuur werksaam is. As sy teorie gesaghebbend aangekondig word, mag dit oortuigend klink, maar wanneer indringend en ontledend daarna gekyk word, verkrummel dit. Ek kan niemand dwing om met my saam te stem nie; maar as iemand my anders wil oortuig, laat ek dan voorstel dat hy kalm en duidelik begin by die vrae wat ek gevra het. Daarna kan ons verder gesels.

     Maar ten slotte ken ons die werklikheid nog steeds ten dele, kyk ons nog steeds deur 'n spieël in 'n raaisel, lei ons ekstrapolasies maar net tot by vermoedens, en staan ons nog steeds voor 'n diepe misterie, voor 'n toe deur.

      Tensy 'n Getuie van die ander kant kom en die deur vir ons oopmaak.

* * * * * * *

Hierdie artikel is 'n verwerking van 'n vorige een met die titel “Ontmoeting en Bedenkinge.”

Abraham Kriel

Posbus 2222
Somerset-Wes, 7129                  

Assurance of Salvation

Assu</p>rance
Are you saved?

Assu

rance

KNOWING THAT YOUR SINS ARE FORGIVEN and that Jesus lives in your heart.
Read More
Seker</p>heid
Is jy weergebore?

Seker

heid

Om te WEET DAT JOU SONDE VERGEWE IS en dat Jesus nou in jou hart woon.
Lees meer
Rebirth
What Why How..?

Rebirth

What the Bible teaches us about being born again.
Read More
 Weer</p>gebore
Wat Hoekom Hoe..?

Weer

gebore

Wat die Bybel ons leer van wedergeboorte.
Lees meer
Evangelism Explosion South Africa

Evangelism Explosion South Africa

EE SA is your partner in training believers to reach the world with the Gospel.

EE is recognized as a world leader in the training and equipping of believers to JOYFULLY SERVE and WITNESS TO OTHERS in the world today!

Together, let's Make Evangelism Happen!

www.ee3.org.za

EvangeCube

Great Evangelical tool to help you communicate the Gospel.

Now available in South Africa
The EvangeCube by E3 Resources is a seven-picture cube that simply and clearly unfolds the gospel of Jesus Christ. The eCube Classic (7cm) is made for everyone! Parents, Kids, Pastors, Youth Leaders, Sunday School Teachers, Missionaries, Lay Leaders and more can share this creative, easy-to-use puzzle to bring the Gospel of Jesus Christ to life.

Evangelism

Reach out to your community
Many people today say, "Why should I win souls?" "Isn't the preacher supposed to do that?" Yes! He is but so is every Christian.
Order Gospel Tracts

Experiencing God's Grace

This tract is available in PDF format.

Download here

5 Colour Child Evangelism

Present the Gospel to children

Use this short guide to present the Gospel to Children using 5 colours. This is also called the 'Wordless book'.

Go to guide

5 Kleure Kinderevangelie

Dra die Evangelie oor aan kinders

Gebruik die kort gids om die Evengelie oor te dra aan kinders met die gebruik van 5 kleure. Dit word ook die 'Woordlose boekie' genoem of die 'Kleure evangelie'.

Gaan na gids

Child Evangelism Fellowship

Child Evangelism Fellowship

Getting equipped

Do you feel called to minister to children?

Resources:

*Literature

*Good News Clubs

*Schools Ministries

*5-Day Clubs

*Ongoing Teacher Training

CEF Resources

Resource

Resource

Gospel Tracts for Christian Witnessing and Evangelism Outreach.
Gospel Tract Society is a non-profit Christian ministry devoted to distributing the Word of God in printed tract form.

Gospel Tract Society

Personal Work

Personal Work is reaching out to people one on one in stead of groups, building a relationship and over time leading them to salvation in Christ Jesus. But it does not end there, this newly saved person now needs to be guided and taught and that is where Discipleship comes in.
Qualifications for Soul Winning

by Dwight L. Moody

1. Shake off the vipers that are in the Church, formalism, pride, and self-importance, etc. 2. It is the only happy life to live for the salvation of souls. 3. We must be willing to do little things for Christ. 4. Must be of good courage. 5. Must be cheerful.

Read article

The Great Commission of Jesus Christ

by Prof. Johan Malan

The Godly mandate of the mission command embraces three different activities that must be carried out. The mission of the Christian church for the whole period between Christ’s first and second comings comprises of an assurance, three commands and a promise.

Read article

The Importance of Personal Soul Winning

by Dr. R. A. Torrey

"He first findeth his own brother Simon…. And he brought him to Jesus."–John 1:41,42. The one who brought his brother to Jesus was Andrew. We are not told that Andrew ever preached a sermon. If he did, the Holy Spirit did not think it worth putting on record. But this brother whom he brought to Jesus preached a sermon that led three thousand people to Jesus in one day.

Read article

Gospel Messages with Infographics

Here are three downloadable infographics to easily share the gospel with anyone. Use the images as a visual reference as you present these short messages to groups or individuals.
The Invitation
The Invitation

Matthew 11:28

Jesus said: “Come unto me, all ye that labor and are heavy laden, and I will give you rest.”

This invitation is extended to all mankind, the invitation is to ‘come to Jesus’.

Read more

The Wall
The Wall

Romans 3:23

In this verse, we see that all people have sinned, and that sin separates us from God. Here we will look at the wrong and the right way of destroying this wall of sin.

Read more

The Sheepfold
The Sheepfold

John 10

In John 10:1-16 Jesus uses the comparison of a shepherd and sheep, He is the Shepherd and we are the sheep.

Read more

Evangelie Boodskappe met Illustrasies

Hier is drie aflaaibare illustrasies om maklik die evangelie met enigeiemand te deel. Gebruik die prente as verwysing saam met die boodskappe om vir groepe of enkel persone aan te bied.
Die Uitnodiging
Die Uitnodiging

Mattheus 11:28

Jesus het gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” Hierdie uitnodiging word gemaak vir die ganse mensdom, die uitnogiging is ‘kom na My toe’.

Lees Meer

Die Muur
Die Muur

Romeine 3:23

In hierdie vers sien ons dat alle mense gesondig het en dat sonde ons skei van God. Hier sal ons kyk na die verkeerde en die regte manier om die sondemuur af te breek.

Lees Meer

Die Skaapkraal
Die Skaapkraal

Johannes 10

In Johannes 10:1-16 gebruik Jesus die vergelyking van ‘n herder en skape, Hy is die Herder en ons die skape.

Lees Meer

Bible
Classes

Bible

JAM offers Evening Bible School Classes on topics like Marriage, Communication and Fundamental Biblical Topics.
More
Kids
Ministry

Kids

Kids Games / Holiday Bible School / Children’s Services / Training & tools
More
Youth
Work

Youth

Camps / Youth Weeks / Youth Days / Services / Bible Studies / Training Youth workers
More
Work
Personal

Work

One on one outreach/evangelism is a very effective way of reaching people.
More

Helps for new believers

Preparing Your Testimony

How To Give Your Testimony

Next to the Word of God and the power of the Holy Spirit, your personal testimony is probably one of the most powerful ways to witness to someone. Yet many Christians do not know how to go about giving one. They know they are saved, but perhaps do not know how to tell someone else about how becoming a Christian has changed their life.

I want to testify

I am a new Christian

What do I do now?

Eternal life is a gift received from God by faith. You cannot buy it, you cannot earn it, neither can you work to keep it. It is all by grace. "For by grace are ye saved through faith; and that not of yourselves; it is the gift of God; Not of works, lest any man should boast." Ephesians 2:8-9. However, there are certain things God expects from you now.

What must I do?

/The%20Christian's%20Checklist
Here are some questions to ask yourself when you need to make decisions about difficult issues. This is very useful for youth groups and guiding others.
/Om%20‘n%20getuie%20te%20wees
Ons sien die vrug wat by die bekering pas in ons hele lewenswandel - in ons optrede, gesindhede, woorde, dade, denkwyse, voorkoms ens… Die mense naaste aan ons kan die maklikste beoordeel of ons goeie of slegte vrugte dra.
/God%20werk%20in%20ons%20om%20deur%20ons%20te%20kan%20werk
Ons moet God toelaat om in ons te werk. Hierdie voorbeelde wys ons dat dit moontlik is. Ons moet bid dat die Here ons harte en gedagtes sal verander en om aan ons te skaaf. Dit berei ons voor vir die werk wat Hy vir elkeen in gedagte het – om siele te win.

Rev. Shadrak Maloka

/Testimony
mp3
Listen to this powerful testimony of salvation. Late rev. Maloka was an orphaned baby who seemed to have no hope of a future until he met Jesus as his Lord and Savior. He went on to becoming a great evangelist of his time in South Africa.
mp3
Luister na hierdie kragtige getuienis van redding. Wyle ds. Maloka was as baba verwerp en wees gelaat. Dit het vir die kind gelyk of daar geen hoop of toekoms vir hom sou wees nie totdat hy die Here Jesus ontmoet het. Hy het op die ou end 'n groot evangelis en prediker geword van sy tyd in Suid Afrika.

Getuienisse

Luister na hierdie predikers se getuienisse van redding en heiligmaking.

/Ds.%20Hannes%20Delport
mp3
Ds. Hannes Delport, seun van wyle ds. L Delport, is huidiglik predekant van die Vrye Baptiste Kerk Welkom in die Vrystaat.
/Prof.%20Johan%20Malan
mp3
Wyle Prof. Johan Malan, is skrywer van vele artikels en boeke. Hy het homself as 'n evangeliese Christen beskou wat die letterlike, grammaties-historiese vertolking van die Bybel voorstaan.

From Darkness to Light

by Prof. Johan Malan
The way of salvation plainly shown and explained from the Bible.
Read the article

Uit die Duisternis tot die Lig

deur Prof. Johan Malan
Die pad van redding word duidelik beskryf uit die Bybel in hierdie artikel.
Lees die artikel
The Most Important Question

by R. A. Torrey

That question is this, "What shall I do, then, with Jesus who is called Christ?" "What shall I do, then, with Jesus who is called Christ?" Matthew 27:22 A right decision to that question hangs everything that is really worth having for time and for eternity for each one of us. Let us look at some of the things that we will get if we do the right thing with Jesus Christ.

Read article

Faith and Repentance

by Prof. Johan Malan

In the New Testament doctrine on salvation there is a mutual relationship between the concepts of “faith in Christ” and “repentance”. If we truly believe in Christ, repenting from our evil and selfish ways is inevitable. Faith in Jesus Christ as our Savior can only be expressed by turning away from the spiritual darkness of sin and taking refuge in Him who alone is able to forgive our sins and save our souls.

Read article

Hoe sien God ons?

Deur Ds. N A J van Rensburg

1 Petrus 4:12-19 Teksvers: vers 18 “En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” Die Bybel hou daarvan om die waarheid by wyse van kontras te stel omdat dit so ‘n kragtige wyse is wat die waarheid diep in die hart laat vasslaan. Twee dinge word langs mekaar gestel: die waarheid en die leuen; heiligheid en sonde; die hemel en die hel. Dit is wat ons teksvers doen, die regverdige word teenoor die goddelose gestel.

Lees artikel

Stappe van redding uit die lewe van Saggeüs

deur Madelein Wolfaardt

Lukas 19:1-10 Hy was soekend, hy het besef dat hy iets kortkom ten spyte van al sy rykdom. Hy het moeite gedoen om Jesus te sien. Almal het hom geken en geweet wie hy was, as so 'n bekende ryk man moes dit hom gekos het om sy trots in sy sak te steek en homself te verneder – deur voor almal in die boom te klim. Hy het nie omgegee nie, hy móés Jesus sien!

Lees artikel

Read and download these free booklets

Also great for group or personal Bible study.
Biblical Decision Making
Is it God’s will to “find” His will?
Exactly how should you go about making good, God-honoring decisions?

Read booklet

The Companionship Principle
Bringing Biblical Sanity to the Insanity of Dating
The real reason dating is often "insane" is Christian young people and parents have never consciously shaped their understanding of "dating" with the Bible.

Read booklet

Dinge van Belang
Dinge van Belang vir jong Christene
Hulp en raad aan jong Christene. Die boekie is vol waardevolle wenke en waarskuwings om jou te help op jou pad saam met die Here.

Lees boekie

Identifying False Teachers
A Biblical Checklist for Identifying False Teachers in the Church
The purpose of this booklet is simple: to give you a checklist so that you can identify and avoid Christian leaders whom God would call false.

Read booklet

Testing Today's Prophecy
Does today's "prophecy" measure up to biblical standards?
Should Christians accept the modern prophecy movement as a new work of God’s Spirit?

Read booklet