Die Sonde van Drink en Rook
Prof. Johan malan
Twee van die sondes waarteen mense ‘n baie verdraagsame houding inneem, is drink en rook. Wat sê die Bybel hiervan, en wat is die gevare wat daaraan verbonde is?
Drankgebruik
Een van die algemeenste argumente waardeur mense drankgebruik wil regverdig, is dat Jesus self wyn gemaak het. Dit is egter ‘n belastering van die Seun van God om voor te gee dat Hy deur sy wonderwerk by die bruilof in Kana die drankbedryf bevorder het. Hierdie handeling van Jesus was ‘n wonderwerk waardeur Hy sy godheid bekend gemaak het. Die Seun van God het nooit iets gedoen wat die mens tot nadeel strek nie. Dieselfde Jesus wat in sy Woord ernstig waarsku om nie te drink nie, kan nie iets in stryd met Homself doen nie (Hab. 2:15; Spr. 23:29-36).
Uit die Ou Testament is dit duidelik dat daar verskillende terme vir drank gebruik word. Hieruit kan mens duidelike onderskeid tref tussen dié soorte drank wat die Here verdoem en dié wat Hy aanbeveel:
Jajin. Hierdie woord kom 133 keer in die Bybel voor, en word elke keer as wyn vertaal. Dit is ‘n bekende feit dat jajin gegiste wyn was wat dronkmakend was. Dit is telkens deur die Here afgewys en selfs veroordeel (Spr. 23:29-36; Hab. 2:15).
Tirosh. Dié term kom 38 keer in die Bybel voor. Dit word 11 keer as nuwe wyn, 26 keer as soet wyn en een keer in ‘n neutrale vorm vertaal. Dit is ‘n algemeen aanvaarde feit dat tirosh suiwer druiwesap (ongegis) is, en dit is telkens deur die Here aanbeveel en selfs aangeprys (Jer. 40:10,12; Ps. 104:15).
Shekar. Dit kom ongeveer 21 keer voor en word elke keer as sterk drank vertaal. Dit word telkens deur die Here veroordeel (Spr. 20:1).
In die Nuwe Testament word daar in die oorspronklike taal nie onderskeid tussen die verskillende soorte drank getref nie, en word dit deurgaans as wyn vertaal. ‘n Mens kan egter uit die gegewens in die Ou Testament aflei watter soort wyn Jesus by die bruilof in Kana sou gemaak het – beslis ongegiste tirosh.
Die bewering dat Jesus gegiste wyn sou maak, druis teen die hele Skrif in, en bewerings van hierdie aard kom reguit van die duiwel af. Hy is die groot leuenaar wat op ‘n listige wyse soos ‘n engel van die lig kom om mense te mislei (2 Kor. 11:14). Dit is in sy aard om drank goed te praat, te verdedig en die gebruik daarvan te bevorder.
Om die nadele van drank te besef, moet daar na die ontstellende gevolge daarvan gekyk word:
- Egskeidings, kindermishandeling, armoede, ellende en gewelddadigheid word deur drankgebruik bevorder. Daar word beweer dat alkohol meer lewens verwoes, meer kinders laat honger ly, tot meer vroue se dood lei, en meer smarte en trane veroorsaak as enige ander faktor. In sowat 85% van alle huwelike wat in die egskeidingshof beland, speel drank ‘n rol. Dit is die grootste ontwrigter en vernietiger van lewens, geluk en harmonie.
- Dit verwoes die karakter van die mens en veroorsaak dat mense vuil, immoreel en gewelddadig raak, en dinge doen sonder om oor die ernstige gevolge daarvan na te dink. Openbare skandes word onder die invloed van drank gepleeg.
- In misdaad en motorongelukke speel drank in sowat 75% van die gevalle ‘n rol.
- ‘n Groot aantal geestesiektes word deur drank veroorsaak of vererger.
- Ongebore babas word erg benadeel en dikwels met geboortedefekte en abnormaliteite gebore omdat hulle moeders dranksugtig is.
- Onder die invloed van drank word talle sondes en wandade gepleeg. Dink aan Bélsasar wat God onder die invloed van drank uitgedaag het deur uit die tempelvoorwerpe te drink (Dan. 5).
- Die karakter van die hele samelewing kan vernietig of ernstig geskend word deur al die maatskaplike euwels wat deur drankmisbruik veroorsaak word.
- Drank verkort ‘n persoon se lewe omdat dit sy liggaam én brein aftakel en vernietig, en die oorsaak van talle siektes is.
- Drank lei mense uiteindelik na die hel. Die Bybel sê baie duidelik dat ‘n dronkaard die koninkryk van God beslis nie sal beërwe nie (1 Kor. 6:9-10; Gal. 5: 19-21; Op. 21:8).
- Drank maak van die mens ‘n bespotting (Spr. 20:1).
- Alkoholverslawing is een van die grootste en wreedste epidemies wat die wêreld ooit getref het, en moet met alle mag teëgestaan en verwerp word.
- Die Nagmaal is ‘n heilige feesmaal van die bloedgewastes. Om die Nagmaal met alkohol te bedien, beteken dat die Nagmaal met hierdie bose middel geassosieer word.
- Soos reeds aangetoon, is ongegiste wyn die enigste wyn wat in die Bybel aanvaar en in ‘n positiewe lig gestel word. Die Nagmaal is met die vrug van die wynstok (druiwesap) en nie met die vrug van ‘n gistingsproses (alkoholiese wyn) ingestel nie.
- Wyn is ‘n tipe van die bloed van Christus wat vir ons gestort is. Sy sondelose bloed moes vir sondaars vergiet word. Alkohol is die gevolg van ‘n gistingsproses in die drank, wat sonde in die Bybel tipeer. Alkoholiese drank is daarom nie ‘n ware tipe van die vlekkelose bloed van Christus nie. Hieruit kan ons duidelik aflei dat die Here Jesus nie die Avondmaal met alkoholiese drank bedien het nie.
- Om te sê dat die Nagmaal deur Jesus met alkoholiese drank ingestel is, is strydig met die duidelike beginsels van die Pasga. Toe Jesus die Nagmaal ingestel het, was hulle met die Pasga besig (Matt. 26:2,17-19). By die Pasga mag geen suurdeeg, wat direk met gisting in verband staan, in hulle huise gewees het nie (Ex. 12:19-20; vgl. ook 1 Kor. 5:6-8). Die bewering dat Jesus die Nagmaal met gegiste (alkoholiese) wyn sou instel, is dus inkonsekwent.
- Deur Nagmaal met alkoholiese wyn te bedien, kan Christene die oorsaak van struikeling wees vir diegene wat van alkoholisme bevry is (Rom. 14:13).
- Tabak is verslawend omdat nikotien ‘n gewoontevormende verdowingsmiddel is (Titus 3:3).
- Omdat my liggaam ‘n tempel van God is, mag ek dit nie met tabak benadeel nie (1 Kor. 3:16-17). Dit is ‘n medies bewese feit dat rook longkanker, hartkwale en ander siektes veroorsaak. Navorsing toon aan dat tabak 19 verskillende gifstowwe bevat wat hoogs nadelig vir die liggaam is (Gal. 6:6-8). Swanger vroue wat rook, tas hierdeur ook hul ongebore babas aan.
- Rook het geen waarde nie (1 Kor. 6:12; Jes. 55:2).
- Die nadelige effek op mense rondom die roker, soos bv. gesinslede, kollegas, ens., is baie ernstig.
- ‘n Christen wat rook, probeer altyd om dit vir ander weg te steek.
- Die rookgewoonte verhinder geestelike groei by ‘n geredde persoon.
- Rook tel onder die sondes van begeerlikheid. Dit is ‘n sinstrelende, onversadigde lus, ‘n ontembare sterk verlange en ‘n bose hartstog. Die menslike liggaam het geen natuurlike behoefte aan tabak nie, maar raak aan die nikotien verslaaf en ontwikkel dan ‘n toenemende drang daarna. Tabak bevat van 1% tot 3% nikotien, en die gemiddelde roker absorbeer omtrent 2 mg. per sigaret. Nikotien is ‘n kleurlose, olierige verbinding, en ‘n relatief kort werkende middel. Vlakke in die bloedstroom daal vinnig tot omtrent die helfte binne 30 minute nadat ‘n sigaret gerook is, en tot slegs ‘n kwart binne nog ‘n halfuur. Dit verklaar waarom so baie rokers omtrent 20 sigarette per dag rook.
- Rokers absorbeer ‘n aansienlike hoeveelheid koolstofmonoksied, soortgelyk aan die giftige gas wat by motors se uitlaatpype uitkom. Die suurstofdraende substansie in die bloed, hemoglobien, het ‘n hoë affiniteit vir dié gas. By swaar rokers kan soveel as 15% van hulle hemoglobien aan koolstofmonoksied verbind wees, wat verhoed dat dit met suurstof verbind. Dit kan die verhoogde produksie van hemoglobien en rooibloedselle veroorsaak, wat die bloed verdik. Die gesamentlike uitwerking van ‘n verswakking in die suurstofdraende en suurstofvrystellende vermoë van die hemoglobien en die verdikking van die bloed, kan ‘n nadelige uitwerking op die sirkulasie na die hart hê. Hierdie probleme kan deur die gevolge van aterosklerose vererger word.
- Meer as 3 000 wetenskaplike studies bewys met sekerheid die positiewe verwantskap tussen rook en siektes of sterfte. Die verwantskap tussen die rook van sigarette en sekere siektetoestande is ‘n wetenskaplike werklikheid aangesien daar herhaaldelik, vanuit verskillende bevolkings, verdoemende syfers en eksperimentele bewyse oor die nadeligheid van die rookgewoonte gevind is.
- Die SA Mediese Navorsingsraad verklaar dat geen ander sosiale gewoonte van die mens soveel sterfte en lyding as die rookgewoonte veroorsaak nie.
- “Moenie dwaal nie, God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf [siekte en die dood] maai” (Gal. 6:7-8). Rokers sal die gevolge van hulle sonde in hul liggaam én gees dra.
Wat van matig drink?
Mense argumenteer soms dat dit geoorloof is om matig te drink deur nie sekere perke te oorskry nie. Dit is een van die listigste leuens van Satan. Wanneer ‘n persoon elke keer net een bier of glasie wyn drink, ontwikkel sy liggaam stelselmatig ‘n afhanklikheid van die alkohol in die drank, en verlang hy mettertyd na ‘n meer effektiewe uitwerking van die drank op sy liggaam. Die gevolg is dat hy later óf meer drink óf na drank oorskakel wat meer alkohol as bier of wyn bevat. Matig drink wek dus die drang na meer alkohol op. Die matig drink-teorie is ‘n slinkse, duiwels-gekamoefleerde plan van die sielevyand om mense dieper in sy mag te kry. Baie matigheidsdrinkers het uiteindelik as volslae alkoholiste gesterf en sodoende hulle siele aan Satan verpand.
‘n Korrekte definisie van hierdie begrip is soos volg: Matigheid is die matige gebruik van dinge wat nuttig is, en die algehele onthouding van dinge wat skadelik is. Alkoholiese drank is ‘n verwoester van menselewens en moet totaal vermy word.
Die kind van God se houding oor drank
Alkoholiese drank en die gebruik daarvan is ‘n heidense praktyk wat net by die ongeredde wêreld tuis hoort: “Die heidene... wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye [en] drinkpartye” (1 Pet. 4:3). Godsmanne en toegewyde gelowiges is mense wat baie duidelik teen die gebruik van alkoholiese drank gekant is en self nooit daaraan raak nie.
Die Christen mag hoegenaamd nie op enige manier by die vervaardigingsproses, handel of propagering van drank betrokke wees nie. Dit is van groot belang dat ‘n Christen ook nie tydens onthale ‘n heildronk met drank sal instel wat alkohol bevat nie. Deur dit te doen, identifiseer hy homself met drank en keur die gebruik daarvan in beginsel goed.
Waarskuwings omtrent drank
Die Skrif waarsku in die volgende gedeeltes teen drank: Lev. 10:8-9; Deut. 21:20; 29:2-6; Spr. 20:1; 23:21, 29-32; Jes. 5:11-22; 28:3, 7-8; Hab. 2:15; Luk. 21:34; 1 Kor. 6:10; Ef. 5:18. Die gelowige word tot toewyding aan die Here Jesus opgeroep: “Onthou julle van elke vorm van die kwaad” (1 Thess. 5:22). “Raak nie aan wat onrein is nie” (2 Kor. 6:17; kyk ook 1 Kor. 8:13; Ef. 5:18; 1 Pet. 1:18).
Nagmaal en alkoholiese drank
Waarom bedien sekere evangeliese kerke die Nagmaal met nie-alkoholiese wyn? Is dit so belangrik as gedink word aan hoe relatief min die alkohol is wat ingeneem word? Dit gaan by die Nagmaal nie om die hoeveelheid alkohol wat ingeneem word nie, maar om die teenwoordigheid van alkoholiese drank. Die hoeveelheid is nie ter sprake nie, maar die onaanvaarbare aard daarvan. Die volgende oorwegings geld in hierdie verband:
Gevare van die Rookgewoonte
Dit is noodsaaklik dat die Christen alles in die lig van God se Woord sal toets met die oog op wat vir sy geestelike lewe nuttig of nadelig is. Baie mense vra die vraag: “Is rook sonde?” Net soos met baie ander praktyke, verklaar die Bybel nie uitdruklik dat rook sonde is nie. Dit gee egter aan ons duidelike algemene beginsels of maatstawwe vir die evaluering van enige gebruik of gesindheid. Ons moet “beproef wat die Here welbehaaglik is” (Ef. 5:10). Op grond van die volgende feite kan ons aanvaar dat rook 'n sondige gewoonte is:
Verlossing van rook. Die beste is om nooit met hierdie sondige en wêreldse euwel te begin nie. Om verlossing van rook te verkry, moet dit as ‘n sonde erken en bely word, en op die verlossende krag van Jesus Christus deur sy kruisdood vertrou word.