Onvergeeflike Sonde
Johan Malan - Afrikaanse Artikels, Mosselbaai (Augustus 2013)
Die volgende Skrifgedeelte bevat ’n duidelike riglyn oor ’n Christen se houding teenoor sonde, asook ’n uitspraak oor onvergeeflike sondes:
“As iemand sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee – vir die wat nie ’n sonde tot die dood doen nie. Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is ’n sonde wat nie tot die dood is nie. Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie. Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe. My kinders, bewaar julleself van die afgode“ (1 Joh. 5:16-21).
Daar is ’n aantal baie belangrike leerstellige beginsels in die Nuwe Testament wat ons in ag moet neem as ons hierdie gedeelte reg wil verstaan:
’n Heilige, nuwe natuur
“Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie” (1 Joh. 5:18). Johannes het hierdie beginsel reeds vroeër in sy brief bevestig: “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie” (1 Joh. 3:9). Wanneer ons weergebore word, word ons beklee met die nuwe mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:24). Omdat dit die natuur van Christus is, kan hierdie natuur nooit sondig nie. Die Heilige Gees hou aan om ons van sonde te oortuig en daarteen te waarsku, sodat ons die ongeregtigheid van die ou lewe konsekwent sal weerstaan en onsself rein bewaar. Ons moet voortdurend in Christus bly – dit is ’n opdrag (Joh. 15:4) – dan sal ons volgens die beginsels van die nuwe lewe wandel en nie sondig nie.
Die ou, vleeslike natuur
Die feit dat ons tydens wedergeboorte ’n nuwe, sondelose natuur kry, beteken glad nie dat ons nooit weer sal sondig nie, want ons het ’n verganklike liggaam wat met swakhede bevange is (Heb. 4:15), asook ’n ou, vleeslike natuur wat na die sonde neig. Die groot uitdaging waarvoor weergebore Christene te staan kom, is die opdrag tot heiligmaking: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Dit vereis ’n volle oorgawe, volkome selfverloëning en kruisiging van die vlees, sodat die setels van sonde in jou lewe verbreek kan word (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Indien jy dit nie doen, kan jy nie ’n oorwinnende stryd teen die sonde voer nie: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).
Wanneer ’n Christen wél sondig, tree hy in die vlees op en nie in die Gees nie, want die nuwe natuur kan nie sondig nie. Tydens weergeboorte word die sondige vlees in beginsel gekruisig en afgelê, en die moontlikheid vir oorwinning gevestig: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (Gal. 5:24-25). Die moontlikheid word dus geskep om oorwinnend deur die Gees te kan lewe, maar ons moet nog steeds uitvoering daaraan gee.
Hierin is juis die groot opdrag en seën van heiligmaking geleë, dat ons krag sal ontvang om ’n oorwinnende stryd teen sonde en vleeslikheid te kan voer. Het jy die Here al vertrou vir ’n rein hart en die toerusting met krag uit die hoogte? Indien nie, dan is jy nog steeds ’n vleeslike Christen met ’n verdeelde hart (1 Kor. 3:1-3), en dit is ’n resep vir geestelike stagnasie (Heb. 5:12-13; Ef. 4:14). Gryp die belofte tot heiligmaking aan en gee daagliks uitvoering daaraan, anders sal dit nooit ’n werklikheid in jou lewe word nie: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Doen jy die wil van die Here wat hierdie belangrike saak betref? “Dit is die wil van God julle heiligmaking; ... hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 8).
Die gevolge van sonde
Die gevolge van sonde is altyd die dood: “Want die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:20). “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. ... En as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort” (Jak. 1:14-15).
Dit is dus ’n basiese reël in ’n Christen se lewe dat hy nie moet sondig nie, omdat sonde verwoestende gevolge in ’n gelowige se lewe het: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:1-2).
Indien ons in Christus bly en soms uit swakheid sondig, sal die Heilige Gees ons dadelik daarvan oortuig, sodat ons dit kan bely en laat staan. Christus sal dan by die Vader se troon as ons Voorspraak optree wanneer Satan ons daar aankla om aanspraak op ons lewe te maak nadat ons weer in sonde geval het. Indien ons onsself rein bewaar en dadelik weer die saak regstel wanneer ons gesondig het, sal ons onafgebroke in die versoening leef. Johannes sê: “As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons [voortdurend] van alle sonde” (1 Joh. 1:7).
Sonde wat nie tot die dood is nie
Hoewel alle sonde potensieel tot die dood lei, pleeg gelowiges meesal sondes wat nie noodwendig tot die dood lei nie omdat dit vergewe en uitgewis kan word. Sulke persone moet duidelik gekonfronteer word met die erns van die saak, sodat hulle hul sondes kan bely, laat staan en daarvan gereinig word: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:9; vgl. Spr. 28:13).
Indien sulke dwalende gelowiges nie dadelik hulle vertroebelde verhouding met die Here regstel nie, kan hulle weer gewoontesondaars word wat selfs uit die genade kan verval. Daar moet dan nóg ernstiger met hulle gepraat en vir hulle gebid word, want hulle kan steeds uit hierdie gevalle toestand herstel word (Gal. 6:1). In Lukas 15 is daar drie gelykenisse waardeur die Here Jesus na aanleiding van die afgedwaalde skaap, die verlore penning en die verlore seun, sy wil met betrekking tot teruggevallenes bekend maak. Geestelik afvalliges wat op die pad van die sonde weggedwaal het, moet volgens hierdie voorbeelde opgesoek en oorreed word om na die Here terug te keer en weer by ander gelowiges aan te sluit om die Here te dien.
In die geval van die verlore seun het hy ’n keuse vir die sonde en teen die lewe in sy vaderhuis gedoen. Hy het egter nie sy vader as sodanig verwerp nie, maar is oorkom deur die versoekings en genietinge van die sonde. Daar moet vir sulke persone gebid word, want die Vader wag ook dat hulle tot besinning sal kom en terugkeer na Hom toe. Ten spyte van die feit dat hierdie seun in sy afvallige toestand geestelik gesproke verlore en dood was, is hy volkome herstel en weer lewend gemaak. Hy “was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind” (Luk. 15:32). Hierdie stelling impliseer duidelik dat hy in ’n stadium gelewe het, toe geestelik gesterf het weens sy sonde en lang afwesigheid uit die vaderhuis, en daarna weer herleef het. Die Griekse woord vir “weer lewendig geword” (anazao) is baie toepaslik. Die Strong’s Konkordansie vertaal dié werkwoord só: “to recover life; be alive again; revive.”
’n Toestand van drastiese verval moet eerder voorkom word, daarom moet Christene wat begin sondig, gereeld en ernstig vermaan word oor die gevolge van hulle onverantwoordelike en gevaarlike optrede: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie“ (Heb. 3:12-13).
’n Persoon wat baie lank in hierdie toestand van afvalligheid voortleef, kan homself later in ’n situasie bevind waarin die Heilige Gees se stem al hoe meer in sy lewe vervaag. Dan verdwyn sy oortuiging oor sonde heeltemal en het hy geen behae meer in die dinge van die Here nie. Indien so ’n afvallige nie na die Here terugkom om geestelik te herleef nie, sal hy in die verderf beland. Sy onbelyde en volhardende sondes sal hom na die verderf sleep.
Onvergeeflike sonde wat tot die dood lei
Daar is egter ’n ander, veel meer gevaarlike vorm van geestelike verval. Johannes sê: “Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie” (1 Joh. 5:16). Dit het betrekking op onvergeeflike sondes wat deur “broeders” gepleeg word en onafwendbaar tot die ewige dood lei. Hierdie stelling is van toepassing op persone wat reeds die Here Jesus as Verlosser ontvang en die Heilige Gees deelagtig geword het, maar Hom daarna as Verlosser verwerp het. Hulle pleeg dus geestelike hoogverraad teen die Koning van die nuwe koninkryk wat hulle deur Hom beërf het. Deur hulle daad kruisig hulle Hom weer en bring groot oneer oor sy Naam:
“Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het – om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Heb. 6:4-6).
Hulle raak heeltemal koud en hart teenoor die Bybel en die Drie-enige God, en wys dit openlik. Die Heilige Gees het hulle verlaat, daarom kan hulle nie weer onder sondeoortuiging kom en geestelik herstel word nie. Sulke persone het deur hulle opsetlike sonde die enigste offer vir hulle sonde verwerp (Heb. 10:26), daarom wag die toorn van God op hulle: “Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?“ (Heb. 10:29).
Persone van hierdie aard verval in totale agnostisisme of ateïsme en dryf openlik die spot met die Bybel. Sommige van hulle raak by kultusse of nie-Christelike godsdienste betrokke. Vir hulle is die pad terug na die Here deur hulle eie toedoen geslote, want hulle het deur hulle optrede die bloed van die versoening onrein geag en die Heilige Gees gesmaad en belaster. Hy is die enigste Een wat hulle van sonde kan oortuig en wederbaar, maar hulle het Hom verdryf.
Daar is verskeie tragiese voorbeelde van Christene wat ’n getuienis van wedergeboorte gehad en selfs die evangelie van verlossing aan ander verkondig het, en later heeltemal afvallig geraak het. Sommige van hulle het sodanig die rug op die Bybel en die God van die Bybel gedraai dat hulle nou openlik die universele God van alle gelowe verkondig, en beweer dat saligheid deur alle gelowe verkry kan word. ’n Persoon wat multigodsdienstige denke van hierdie aard huldig, verwerp die unieke versoening van Jesus Christus aan die kruis, minag die oortuigingswerk van die Heilige Gees, en ontken dat die Bybel die ware en foutlose Woord van God is. Soos Judas Iskáriot verloën hulle die Here Jesus teen hulle beterwete en sal die prys daarvoor betaal.
Ander agnostici en aanhangers van valse gelowe kan egter nog gered word, want hulle is mislei en onkundig, en het nog nie die ware evangelie gehoor of aangeneem nie. Hulle kan dus nie hoogverraad pleeg teen ’n Koning en ’n koninkryk waarvan hulle nog nooit deel was nie.
Waaksaamheid teen afgodediens
Ons word aangespoor om tot die einde toe in Christus te bly en in die Bybelse leer van verlossing te volhard. Die Heilige Gees oortuig ons hiervan, daarom weerstaan ons alle vorms van misleiding wat die duiwel oor ons pad bring: “Ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe. My kinders, bewaar julleself van die afgode“ (1 Joh. 5:16-21).
Luister jy na die stem van die Heilige Gees, of het jy jouself dalk al oopgestel vir die misleiding van “die god van hierdie wêreld” (Satan) wat die sinne van mense verblind sodat hulle nie die Bybel kan verstaan of glo nie? (2 Kor. 4:4). Sy doel is dat mense nie die Here Jesus moet aanbid nie, maar eerder een van die baie afgode. Sommige van hierdie afgode doen hulleself as “Jesus” voor, maar sonder die versoeningsdood van Christus aan die kruis, sonder sy Godheid, sonder die geloof in sy opstanding uit die dode, en sonder die belofte van sy wederkoms. Sodoende word van Jesus ’n valse Jesus gemaak wat geen mens se siel kan red nie. Paulus waarsku Christene dat hulle nie van die ware Jesus afvallig moet raak en sodoende navolgers van een van Satan se “ander Jesusse” word nie (2 Kor. 11:2-4). Diegene in die gemeente wat vir hierdie misleiding val, word afgodedienaars wat hulle eie lot verseël.