Gaan aan na Volwassenheid
In Heb 3 & 4 wys die skrywer vir ons die wonderlike belofte van God se rus, wat ‘n rein en oorwinnende lewe in Christus is. Hy vertel van hierdie belofte, en dan vermaan hy die Hebreërs in hoofstuk 5:12-14 dat hulle moet voortgaan na volwassenheid want hulle is nog kinders in die geloof.
Heb 5:12 “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.”
Die Hebrieërs het lank al die Evangelie gehoor, en moes by die tyd al verby die eerste dinge van die geloof gewees het, hulle moes self al leeraars gewees het. Maar omdat hulle nie voortgegaan het na volwassenheid nie, moet die skrywer nou weer vir hulle leer aangaande die eerste beginsels.
- Waarom het hulle so veragter?Ons sien dit in Heb 5:11 – hulle het traag geword om te hoor!Hulle het nie ag gegee op wat hulle gehoor het nie, daarom kon dit geen verskil maak in hulle nie en ook geen groei voortbring nie.Om ‘n ‘don’t care’ houding te toon of om jou hart te verhard teen God se Woord en die prediking.
- Almal moet iewers begin. Daar is niks mee verkeerd om ‘n geestelike baba te wees nie, solank ons nie voortgaan in die kinderlike maniere nie, maar oorgaan na volwassenheid.
- In teenstelling met geestelike babas is geestelike volwassenes in staat daartoe om andere te leer, en hulle sintuie is geoefen daarin om goed van kwaad te kan onderskei.
Heb 5:14 “Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
Jy moet oorgaan na geestelike volwassenheid, om goed van kwaad te kan onderskei. Dit is ook wat Salomo voor gebid het toe God aan hom verskyn en gesê het dat hy enigeiets van God kon vra. (1 Konings 3:9 “Gee dus aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?”) Bid en vra die Here dat hy vir jou ‘n hart van onderskeiding sal gee, sodat jy na die volmaaktheid voort kan gaan. Hoe fyner ons goed van kwaad kan onderskei, hoe nouer gaan ons trek in ons eie geestelike lewe. Dit maak die standaard waarvolgens ons lewe baie hoër, as ons gehoorsaam is.
Dan sal ons ook duidelik waar en vals van mekaar kan onderskei, “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;” Efs 4:14
Heb 6:1-2 Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.”
Ons moet die begin van die prediking van Christus as ons fondasie neerlê, en dan nie net daar bly nie, maar dan op die fondasie begin bou. Dit moet ook nooit nodig wees dat die fondasie weer gelê moet word nie, ons moet geleer word aangaande die eerste beginsels, en dan aanbeweeg deur op hierdie fondasie te bou.
Die fondasie is dievolgende volgens Heb 6:1-2:
- Bekering uit dooie werke – bekering/ redding/ wedergeboorte. Dit is die begin van enige kind van God se lewe, daar moet ‘n oomblik in jou lewe wees wat jy jou rug op sonde gedraai het en God gekies het en in jou lewe in genooi het.
- Geloof in God – wat ook hand aan hand gaan met die wedergeboorte. Die dag wat jy die Here aangeneem het het jy jou geloof in Hom gestel.
- Die doop van die gelowige - die ou dinge is verby. Dit is ‘n openbare getuienis van wat die Here vir jou kom doen het met jou wedergeboorte, dat Hy jou vergewe het, Sy kind gemaak het en dat die ou dinge nou verby is en alles het nuut geword.
- Die oplegging van hande – was ‘n gebruik by die Jode om mense in die bedienning te stel en te seën, maar Jesus en die apostels het dit ook gedoen om geestelike gawes aan mense mee te deel. Hierdie handoplegging was vir die tyd van die apostels, niemand is vandag toevertrou om die krag van die Heilige Gees so aan mense mee te deel nie. Ons moet dit van God af bid.
- Die opstanding uit die dode –is iets waaroor daar verdeeltheid ontstaan het, maar Jesus het geleer dat ons verheerlikte liggame gaan kry en vir ewig sal lewe.
- Ewige oordeel – ons leer in die begin van die oordeel wat kom, en weet dat ons ook gereed moet lewe, die ongeregtiges kry die ewige dood en die regverdiges die ewige lewe. Ons moet met ‘n toekomsverwagting leef dat Jesus terug sal kom om Sy bruid te kom haal.
Ons moenie stagneer en swaar word om te hoor nie, want dan veragter ons, en vergeet ons die begin van die prediking aangaande Christus, en bly ons geestelike babas. Ons moet die eerste beginsels aangaande die prediking vas lê in ons harte en lewens, en aangaan na volwassenheid.
Madelein Wolfaardt