Die Skaapkraal
deur Madelein Wolfaardt
Koop die Plakkaat vir hierdie Evangelie Boodskap
Johannes 10
In Johannes 10:1-16 gebruik Jesus die vergelyking van ‘n herder en skape, Hy is die Herder en ons die skape. Die skaapkraal verwys na die koninkryk van God en die skape wat buite die kraal is vergelyk ons met diegene wat nog nie gered is en in die koninkryk van God ingegaan het nie. Die skape wat binne is het die merk van die bloed van Jesus aan hulle harte, dis hulle wat deur die Deur (Jesus Christus) ingegaan het deur middel van die kruis (belydenis van sonde).
In hierdie studie kan jy vasstel waar jy self staan. Dit is belangrik om te weet waar jy staan sodat jy kan weet hoe om vorentoe te gaan. Waar bevind jy jouself?
1. Die wat vêr is
In die illustrasie sien ons die verlore skape in die verte wat buite die skaapkraal is en ons lees ook hiervan in Jesaja 53:6 “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; ...” Hierdie skape is vêr of selfs nog onbewus van hul verlore toestand. Hulle lewe hul eie lewens en reël hul eie sake en God speel geen rol in hul lewens nie. Sommige van hulle het dalk ‘n bewustheid van God of weet selfs baie van God, maar hulle ken Hom nie persoonlik nie.
Hieride skape wat vêr is, is nie noodwendig diegene wat onverskillige lewens lei of ‘rowwe’ sondes beoefen of selfs uitgesproke is teen Christenskap, God of die kerk nie. Dit is baiekeer eintlik diegene wat dink dat hulle reg is, diegene wat baie mooi morele lewens lei en goeie dade doen. Dit kan selfs getroue kerkgangers wees, maar hulle het nog nooit die keuse gemaak om by die kraal in te gaan nie, hulle het dus nie die merk van die bloed van Jesus op hulle harte nie.
2. Die wat oor die muur wil klim
Johannes 10:1
In die vers sê Jesus dat daar sommige skape is wat in die skaapkraal probeer inkom deur oor die muur te klim in plaas daarvan om deur die deur in te gaan. Hulle word diewe en rowers genoem. Dit kan verwys na mense wat in God se koninkryk wil inkom op ander maniere as deur die Enigste Weg.
‘n Paar voorbeelde van hoe mense oor die muur probeer klim is:
- Om ‘n goeie lewe te leef
- Goeie dade
- Aktief by hul kerk betrokke
- Lewe ‘n goeie morele lewe
- Woon Christelike byeenkomste by
- Lees hul Bybel
- Deur ‘goeie’ of ‘geestelike’ vriende te kry
- Om op te hou met sekere sondes
- Om soos ‘n Christen te praat
Dit is goed om hierdie dinge te doen MAAR dit kan jou nie red nie. Jy kan nie in die koninkryk van God ingaan deur hierdie dinge te doen nie. ‘n Mens kry nie punte deur jou lewe waarmee jy in die hemel sal kan in kom as jy hopenlik genoeg het op die ou end nie.
Efs. 2:8-9 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Dit is so dat ons goeie werke behoort te doen, maar volgens Jakobus is dit duidelik dat goeie werke ‘n uitvloeisel is van ons redding, en ons nie sal kan red nie (Jak. 2:14-26). Ons wil goeie werke doen omdat ons gered is en die Here wil behaag, nie omdat ons hoop dat hierdie werke ons in die hemel sal kry nie.
Rom. 3:23 sê dat almag gesondig het en dat die sonde ons skei van God. Daar is net een manier om van hierdie sonde ontslae te raak en dit is om die Here Jesus aan te neem in geloof en jou sonde voor Hom te bely. 1 Joh. 1:9
Almal moet op ‘n dag ‘n keuse maak om ‘n kind van God te word, anders sou dit dan beteken dat enige persoon wat ‘n goeie morele lewe lei dan ‘n Christen is of hulle wil wees of nie?!
3. Die wat in gaan
Johannes 10:9
Jesus is die Deur na die skaapkraal. Daar is slegs een manier om in te kom en dit is deur Jesus. God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gestuur het om vir die sonde van die wêreld te kom sterf (Joh. 3:16). Hy het die prys vir ons betaal deur aan die kruis te sterf en daarom kan ons gered word deur Sy bloed wat gestort was.
Om in die skaapkraal in te gaan moet jy Jesus Christus aanvaar as jou Heer en Redder deur die belydenis van jou sonde.
Die skape wat op die manier in die skaapkraal in gegaan het het die merk van Jesus se bloed op hulle harte. Hulle sonde is vergewe en hulle is nuut gemaak. 2 Kor. 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
4. Die wat binne is
Is jy binne die kraal? Dan behoort jy hard aan die werk te wees om andere ook die Deur te wys na die kraal. Dit is dan ook ‘n opdrag aan alle kinders van God om die Evangelie te versprei en dissipels te gaan maak van ander mense (Matt. 28:19).
Sekerheid van Saligheid
Kan jy seker wees dat jy gered is en dat as jy sou doodgaan jy hemel toe sal gaan?
Kom ons kyk wat die Bybel hieroor sê: “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.” 1 Joh. 5:13.
Sê hierdie vers dat ons kan hoop/ duim vashou dat ons die ewige lewe het? Nee! Dit is duidelik dat ons seker kan wees dat ons die ewige lewe het.
Slot
Het jy hierdie sekerheid van saligheid? Is jy ‘n skaap wat besig is om oor die muur te probeer klim, om in die koninkryk van God in te kom, of het jy deur die Deur ingegaan? Of is jy dalk een van daai skape wat daar vêr weg is? God roep jou na Hom toe vandag want dit is nie Sy wil dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
2Petrus 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

Beskikbaar in Engels en Afrikaans
* Die plakate sluit in:
- Aflaaibare Bybelstudie in PDF formaat
- Hoe om die plakaat te gebruik
- 12 Praktiese Wenke oor hoe om 'n persoon te lei om Jesus Christus aan te neem as hul Saligmaker
- A4 Plakaat - 'n ideale grootte om te kan opvou en in jou Bybel te hou