Uit die Duisternis tot die Lig
Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Laai hierdie boekie af in PDF formaat
Opsomming: Die Bybelse verlossingsleer is 'n saak waaroor ons geen onduidelikheid mag hê nie. Dit het betrekking op die nou poort waardeur alle mense moet gaan as hulle in die hemel wil uitkom. Sommige mense stry hard om in te gaan, maar slaag nie daarin om die deurgang te maak nie.
Hoofstukke:
Stappe op die Heilsweg
Valse Fondamente
Groei in Genade
Stappe op die Heilsweg
Daar is ‘n duidelike pad wat die Here met ‘n sondaar loop om sy siel te red, hom vir diens toe te rus en ook vir die ewige lewe in die hemel voor te berei. Die bereidwilligheid en volle samewerking van almal van ons, ooreenkomstig vaste Bybelse riglyne, is nodig indien ons die teleurstelling van ‘n valse bekering wil voorkom.
Ek nooi jou om saam met my die onnaspeurlike rykdomme van die Here Jesus se reddende genade in die Bybel te ontdek, en in die geloof vir jouself toe te eien.
1. Roeping
Die Here gee die eerste tree op die pad van die sondaar se redding: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Hy roep elke sondaar tot bekering op:
"Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol" (Jes. 1:18).
Vir hierdie doel het die Seun van God na die aarde gekom, om op grond van sy kruisdood nuwe lewe aan ‘n verlore mensdom te bied: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). Dié uitnodiging is net vir hulle wat besef en erken dat hulle ‘n geestelike probleem het: “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Matt. 9:13).
Dit is belangrik om die roepstem van die Here duidelik te hoor, want dit sal die aard van jou reaksie bepaal. Jy moet die omvang van jou probleem van verlorenheid deeglik besef, naamlik dat jy sonder Jesus Christus op ‘n ramp in jou lewe afstuur. Daar is geen ruimte vir selfregverdiging wat jou donker geestelike toestand betref nie, want “daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Rom. 3:10).
Jy moet kennis oor sonde opdoen, en veral van jou eie sondes wat ‘n skeidsmuur tussen jou en die Here is (Jes. 59: 2). Daar moet geen twyfel by jou bestaan dat die ewige doodstraf oor sondaars uitgespreek is nie (Rom. 6: 23). Alle ongereddes moet hulle op die voltrekking van dié vonnis voorberei, want as hulle nie tot bekering kom nie, sal hulle voor die groot wit troon die volgende woorde hoor: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:41).
In die roeping van die Here word nie slegs jou probleem geïdentifiseer nie, maar ook die oplossing daarvoor. Die feit dat God jou liefhet en deur die kruisdood van die Here Jesus dit vir jou moontlik gemaak het om sondevergifnis en die ewige lewe te verkry, is die goeie nuus wat saam met die roeping verkondig word:
"Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes" (1 Joh. 4:10).
"Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring – Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees" (1 Pet. 3:18).
"Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom" (2 Kor. 5:21).
Die roeping van God moet só tot die sondaar kom dat hy ook die volle implikasies van ‘n kosteberekening sal besef. Jesus het vir Nikodémus duidelik laat verstaan dat teologiese kennis en ‘n mooi lewe nie genoeg is om die koninkryk van God te beërf nie – hy móét weergebore word (Joh. 3:3). Hiervoor is dit nodig om alle bewuste sondes te bely en te laat staan sodat jy volkome nuut gemaak kan word.
Jesus het vir die ryk jongman gesê dat hy eers met sy sonde van materialisme moes breek (Luk 18:22). Vir dié jongman, wat andersins baie godsdienstig was, was dit moeilik om van sy boesemsonde af te sien, en hy het bedroef van die Here af weggegaan. Baie ander mense vind dit ook moeilik om tot bekering te kom, omdat hulle nie werklik met al hulle sondes wil breek nie. Vir almal wat met hierdie probleem worstel, sê die Here Jesus:
"Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie" (Luk. 13:24).
Om deur die nou poort in te gaan en ‘n nuwe lewe in Jesus Christus te kry, is ‘n onbeskryflike ondervinding en iets wat jy moet aanhou soek totdat jy dit vind (Luk. 11:9). Die gawe van die ewige lewe is ‘n geskenk van God wat nie deur die mens verdien of gekoop kan word nie. Die kosteberekening kom egter daarby dat die besoedelde kleed van sonde afgelê moet word voordat jy met die kleed van geregtigheid beklee kan word (Ef. 4:22-24). Is jy ten volle bereid om met jou sonde te breek?
‘n Sondaar wat die Here se roeping tot bekering ontvang het, ontwaak geestelik en kom tot die besef van sy verlore toestand. Sy oë gaan vir sy sondes oop, asook vir die oplossing van sy sonde-probleem. Dit gebeur onder die inwerking van die Heilige Gees wat deur die Woord van die Here met hom praat. ‘n Ontwaakte sondaar is nog glad nie gered nie, maar hy het uit sy doodslaap wakker geskrik en besef dat hy na die verderf op pad is en dringend iets aan die saak moet doen as hy nie verlore wil gaan nie. Hy kan op die volgende twee maniere op die besef van sy sonde en verlorenheid reageer:
· Hy kan gehoor gee aan die Heilige Gees wat hom van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig (Joh. 16:8). Dan moet hy sy sondes bely, die geregtigheid van die Here Jesus in die geloof toeëien en sodoende die oordeel oor sondaars vryspring (Joh. 5:24).
· Hy kan ook die roepstem van die Here tot sy eie ondergang weerstaan. “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb. 3:7). As hy sy hart aanhoudend verhard, dan vervaag die roepstem van die Here in sy lewe en raak dit al hoe moeiliker om daarop te reageer. Moenie toelaat dat jou hart só verhard raak dat jy later geen behae meer in die dinge van die Here het nie (Heb. 3:13; Pred. 12:1).
2. Berou
‘n Ontwaakte sondaar wat besef dat hy sy saak met die Here moet regmaak, het onder die oortuiging van die Heilige Gees groot berou oor sy sondige lewe. Hy regverdig nie meer homself nie en is diep onder die indruk van sy sonde en verwerplikheid. Hy voel aangekla en veroordeeld oor alles wat hy gedoen het. Sy skuldgevoelens dryf hom dan na die Here Jesus – dié Een wat so ‘n vernederende dood vir die redding van sondaars gesterf het.
Het jy al die intense droefheid en berou ervaar wat na ‘n ware bekering lei?
"Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding" (2 Kor. 7:10).
Die droefheid wat God behaag is om ‘n berouvolle hart te hê [‘n innerlike inkering] wat na ‘n ware bekering sal lei:
"Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word" (Hand. 3:19).
‘n Parafrase van hierdie teks lui só: “Kom dan tot inkeer [met berou en ‘n veranderde gevoel oor julle sondes] en bekeer julle [draai om] sodat julle sondes uitgewis kan word.”
Droefheid, of berou oor sonde, is ‘n direkte gevolg van die Heilige Gees se oortuiging van sonde in jou hart. Dit dryf jou na die Here en werk ‘n bekering na die lewende God in die hand. Berou is ‘n diep geestelike bewuswording van jou totale onwaardigheid voor die Here. Jy besef dat jy ‘n helverdiende sondaar is wat geen aanspraak op begenadiging het nie. In hierdie toestand kan jy jouself maar net op ‘n barmhartige God beroep om jou in genade aan te sien.
Toe Petrus die Here Jesus verloën het, het hy buite toe gehardloop en bitterlik geween (Matt. 26:75). Dit is ware berou oor sonde, en hieruit vloei dié soort belydenis wat die voorwaarde vir vergifnis is.
Hoe kan ‘n mens jou sondes opreg bely as jy nog nie vir die Heilige Gees die geleentheid gegee het om jou van die afskuwelike aard en gevolge daarvan te oortuig nie? Hierdie oortuiging kry jy wanneer jy die Woord van die Here aandagtig lees of daarna luister. As die Here jou roep, wys Hy jou presies waar jy met Hom staan. Die droefheid wat dan volgens sy wil en onder die leiding van die Heilige Gees oor jou kom, plaas jou op die pad na ‘n ware bekering.
Daar is geen plek vir bedekte hoogmoed en selfregverdiging wanneer jy na die Here toe kom sodat Hy jou siel kan red nie, want só ‘n gesindheid sal ware berou, gebrokenheid van hart en ‘n eerlike sondebelydenis teëwerk: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jak. 4:6). Jy moet aan die einde van jouself kom, erken dat jy ‘n mislukking van jou lewe gemaak het, en jou vertroue in die Here alleen stel. Jy verdien niks nie.
3. Bekering
Wanneer die berouvolle sondaar besluit om die saak met die Here reg te maak, dan draai hy om op sy lewenspad wat weg van die Here af gelei het, en nader die troon van genade met belydenis van sonde. Hy vra nie net vinnig en terloops dat die Here sy sonde moet vergewe nie, maar voldoen ook aan die voorwaarde vir vergifnis, naamlik ‘n grondige en eerlike belydenis van sonde:
"As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig" (1 Joh. 1:8-9).
Die Here Jesus wag dat jy jou sondes (in die meervoud, dus almal van hulle) sal bely én ook jou rug daarop sal draai. Jy moet daarmee breek en jou volle samewerking gee om nie daarmee voort te gaan nie:
"Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind" (Spr. 28:13).
Sowel sondaars wat tot bekering kom as teruggevalle Christene wat weer deur sonde in hulle lewe verstrik geraak het, moet ten volle bereid wees om uit die ou lewe uit te stap en belydenis van hulle oortredinge te doen. Die verlore seun het ‘n duidelike besluit geneem en gesê:
"Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u" (Luk. 15:18).
Toe Dawid sonde gedoen het, het hy dit erken en bely:
"Ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë... was my, dat ek witter kan wees as sneeu" (Ps. 51:5-6, 9).
Dit is duidelik dat daar ‘n saak is om met die Here uit te maak voordat jy van ‘n slegte gewete wat jou weens jou sonde veroordeel, gereinig sal word. ‘n Vinnige, kollektiewe sondebelydenis sal nie deug nie. Dit help nie om net te sê: “Vergewe al my sondes” en daarmee die saak as afgehandel te beskou nie. Jy moet ordentlik gaan huis skoonmaak en die sondes een vir een bely soos wat die Heilige Gees jou daarvan oortuig. Slegs dán voldoen jy aan die Here se voorwaarde van ‘n deeglike en eerlike selfondersoek, en ‘n belydenis wat nie net met die verstand nie, maar ook met die hart gedoen is.
‘n Belangrike vereiste by die belydenis van sonde en die aanvaarding van die Here Jesus as jou Verlosser, is dat dit in die geloof gedoen moet word. ‘n Sondaar wat dood is in sy sondes en misdade en nog nie op die Here se roepstem ag geslaan het nie, het geen geloof nie – hy is nog ‘n ongelowige met ‘n verharde hart. Wanneer hy egter die evangelieboodskap gehoor het en ontwaak het om sy sondes en verlorenheid te besef, skenk die Here aan hom bekeringsgenade. Hy kan dan in die geloof om redding tot die Here uitroep soos wat die berouvolle tollenaar gedoen het, en weet dat die Here hom sal verhoor: “O God, wees my, sondaar, genadig!” (Luk. 18:13).
Oor die verkryging van geloof om jou sondes te bely en die Here as jou Verlosser te ontvang, sê Paulus: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Rom. 10:17).
Wanneer ‘n sondaar na ‘n goeie bekeringsboodskap luister, die Bybel of ‘n Christelike boek lees, wek die Heilige Gees geloof in sy hart op om te kan glo wat hy hoor, en ook daarop te reageer. Soms sê mense dat hulle nie kan glo nie. Die oplossing hiervoor is nie om die probleem teologies weg te redeneer of om iemand oor te haal om net met sy verstand te probeer glo nie, maar verdere blootstelling aan die Woord van die Here. Die beginsel bly steeds dat die geloof deur die Woord van God is. Laat die persoon lang gedeeltes in die Nuwe Testament lees en ook na evangeliese preke luister. Geloof sal weldra in sy dorre siel uitgestort word as hy met die lewende Woord omgaan. Die Here Jesus het gesê: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh. 6:63).
Noudat hy kan glo, en ook ‘n wilsbesluit geneem het om Jesus Christus as Verlosser in sy lewe te ontvang, kan hy in volle geloofsversekerdheid na die troon van genade gaan om vryspraak te verkry:
"Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek" (Heb. 11:6).
Die Here Jesus kan “volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Heb. 7:25). Glo jy dit? Dan is die deur van genade ook vir jou oop om die vergifnis van die Here deelagtig te word.
Deur die geloof tree jy op hierdie nuwe en lewende weg tot die genadetroon toe waar jy jou sondes bely en die Here Jesus as jou Saligmaker ontvang. Dit is ‘n stap van bekering. In reaksie hierop sal die Here sy kant van die ooreenkoms nakom en sy genadewerk van reiniging en herskepping vir jou doen. Volgens 1 Johannes 1:9 is Hy getrou en regverdig om jou sondes te vergewe en jou van alle ongeregtigheid te reinig. Hy het beloof om niemand wat na Hom toe kom, ooit uit te werp nie (Joh. 6:37).
Om in die Here Jesus te glo (Joh. 3:16; Hand. 16:31), is ‘n meer omvattende begrip as net die aanvaarding van die basiese feit dat Hy na die aarde gekom en vir die redding van sondaars gesterf het. Ek moet glo:
· dat Hy die waaragtige God is wat die Redder van die wêreld is (1 Joh. 5:20; Luk. 19:10);
· dat ek slegs op grond van sy kruisdood met God versoen kan word (Kol. 1:20);
· dat ek deur bekering en sondebelydenis tot Hom moet nader om vergifnis te verkry (Matt. 9:13);
· dat die Here volkome in staat is om die ou lewe te laat verbygaan en alles nuut te maak (2 Kor. 5:17);
· dat die Here Jesus my koop met sy bloed wanneer Hy my red, en dat ek dus sy eiendom word om deur Hom gebruik te word (1 Kor. 6:19-20; 1 Pet. 1:18-19);
· dat ek deur die wedergeboorte ‘n nuwe begin in die lewe sal maak en deur toewyding tot geestelike volwassenheid moet opgroei (Ef. 4:13-14; Heb. 5:12-6:1); en
· dat ek deur die vervulling met die Heilige Gees, Bybelstudie en my bereidwilligheid tot diensbaarheid as ‘n getuie vir Christus voorberei moet word (Hand. 1:8; Ef. 5:18; 2 Pet. 3:18; 2 Tim. 3:16-17; 2 Tim. 4:2).
4. Regverdigmaking
Die sondaar se redding deur die Here sluit twee aspekte in, nl. die uitdelging van sy sondeskuld (regverdigmaking), en die gawe van die ewige lewe wat aan hom geskenk word (wedergeboorte). Dié twee sake staan in ‘n noue verband met mekaar, want die gevalle mens is geestelik dood as gevolg van sy sondes en misdade.
Die grondslag vir die vergifnis van ‘n mens se sonde is die kruisdood van die Here Jesus, waardeur Hy die doodstraf vir ons sonde betaal en sodoende sy groot genade en liefde vir ‘n verloregaande mensdom bewys het:
"Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof" (Rom. 3:23-25).
"Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom" (Jes. 53:5).
"In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade" (Ef. 1:7).
Elkeen van ons het ‘n skuldbrief, of klagstaat, van sonde op grond waarvan die duiwel ons aankla en op ons lewe aanspraak maak. Hierdie lys van onbelyde sondes is ook die rede waarom ons geestelik dood is. Die vraag is nie of die Here voldoende voorsiening vir die vergifnis van ons menigvuldige sondes en misdade gemaak het nie. Hy hét dit gedoen! Die vraag is of jy al voor Hom gekniel en jou sondes met berou bely Het? Indien wel, dan sal Hy jou deur middel van toegerekende geregtigheid regverdig verklaar én ‘n nuwe lewe aan jou skenk:
"En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael" (Kol. 2:13-14).
Hy het die volle prys betaal en is magtig om te vergewe!
5. Wedergeboorte
Die konsep van wedergeboorte is van die allergrootste belang in die redding van sondaars. Hierdeur sê die Here vir ons in duidelike taal:
· dat ons geestelik dood was weens ons sonde, en deur Hom lewend gemaak moet word; en
· dat ons ou lewe tot in sy kern verdorwe is en glad nie gerehabiliteer of verbeter kan word nie – ons moet nuut gemaak word deur die wedergeboorte om deelgenote van sy koninkryk te kan word.
"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie" (Joh. 3:3).
Verder dui die wedergeboorte op die opstandingslewe van die Here Jesus. Op grond van sy kruisdood moet ons van ons sonde verlos word en daarvoor sterwe, en terselfdertyd lewend gemaak word in Hom sodat ons sy opstandingslewe kan verkry:
"Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode" (1 Pet. 1:3).
Hy vergewe nie net jou sondes nie – Hy maak ook van jou ‘n nuwe mens. Het jy Jesus Christus, die vleesgeworde Woord, al só leer ken deur sy Woord dat jy die onontbeerlike belofte oor wedergeboorte in die geloof aanvaar het? (1 Pet. 1:23). As jy maar sy roepstem tot redding gehoor en daarop ag geslaan het:
"Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn" (Ef. 5:14).
Die Heilige Gees doen die werk van wederbaring in jou hart op grond van die soenverdienste van Jesus Christus aan die kruis:
"...na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser" (Titus 3:5-6).
6. Heiligmaking
Aan die ware kerk van Jesus Christus, m.a.w. diegene wat reeds wedergebore is, kom die duidelike opdrag in die Bybel om hulleself te verloën, met die Heilige Gees vervul te word, rein en ingetoë te leef en vrug te dra wat by die bekering pas. Die eerste opdrag op die pad van heiligmaking en dissipelskap is baie duidelik:
"As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg" (Luk. 9:23).
Volgens Lukas 14:27-33 staan hierdie kruis van selfverloëning duidelik in verband met die kosteberekening vir dissipelskap. Jy moet ‘n besliste keuse maak of jy die hartstogte en begeerlikhede van die vlees (die ou, wêreldsgesinde natuur met al sy neigings) wil bevredig, en of jy werklik bereid is om van daardie dinge af te sien en die Here met jou hele hart en alles wat jy het, te dien.
Jy kan nie die rykdom en eer van die wêreld najaag én ook nog die Here Jesus behaag en dien nie. Dit is onversoenbare ideale. Kan jy saam met Paulus getuig dat net die gekruisigde Here Jesus werklik vir jou belangrik is, en dat jy jouself deur sy kruisdood ook as dood vir die wêreld en sy begeerlikhede beskou?
"Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld" (Gal. 6:14).
As ek vasberade die sondige begeerlikhede van die ou natuur aflê, dan sál die Here my met sy heiligheid en oorwinningskrag beklee. Die oue mens móét eers afgelê word voordat ek met die nuwe mens beklee kan word:
"Wat die vorige lewenswandel betref [moet julle] die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan... en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid" (Ef. 4:22, 24).
‘n Kruis van selfverloëning moet elke dag opgeneem word sodat die ou natuur gekruisig kan bly, anders sal ek geestelik terugval (Heb. 12:14-15). Vanuit ‘n oorgegewe posisie kan ek in die geloof erns met die volgende opdragte maak, omdat ek aan die voorwaarde van selfverloëning voldoen:
"...word met die Gees vervul" (Ef. 5:18).
"Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig" (1 Pet. 1:15-16).
"Dit is die wil van God: julle heiligmaking... hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het" (1 Thess. 4:3, 8).
Deur die ondervinding van heiligmaking en my voortgesette toewyding daarna, maak die Here van my ‘n rein kanaal waardeur Hy kan werk. Hy rus my toe om die vrug van die Gees te dra, teen die aanslae van die sielevyand te triomfeer (Ef. 6:10-11), aan die eise van dissipelskap te voldoen, te midde van teëstand of versoekings by my beginsels en geloofsoortuigings te bly, alle laste en sondes af te lê en end-uit op die smal weg te volhard. (Heb. 12:1-2)
Deur te versuim om aan die opdrag tot heiligmaking te voldoen, beperk baie Christene hulleself tot die betreurenswaardige lae geestelike standaard van die selfgesentreerde en vleeslike gemeente in Korinthe:
"En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?" (1 Kor. 3:1-3).
Die meeste kerke in die wêreld word knaend deur die probleme van ‘n geestelik passiewe, vrugtelose, kragtelose, bemoeisieke, twisgierige, vleeslike Christendom geteister. Dan praat ons nie van die groot aantal naamchristene wat nie eers gered is nie en net ‘n gedaante van godsaligheid het (2 Tim. 3:5). Wat nog meer verontrustend is, is die groot aantal stemme van veroordeling wat uit hierdie dekadente en afvallige kerke opgaan om ‘n aanval op die leer van heiligmaking as ‘n tweede genadewerk te doen!
Toe dr. Andrew Murray en sommige van sy tydgenote die leerstellings oor wedergeboorte en heiligmaking in hulle volle diepte en met groot oortuiging verkondig het, was daar herlewing in verskeie gemeentes in Suid-Afrika. Siele is gered en baie Christene is met die Heilige Gees vervul. Hulle het getuies vir die Here Jesus geword en die evangelie ook na donker sendingvelde in Afrika uitgedra.
Die instaatstellende krag van die Heilige Gees is ook tot ons beskikking om in hierdie laat uur groot dinge vir die Here te doen. Dit hang af of ons die Here met ons hele hart wil dien. Sal Hy ons besig vind met die uitvoering van die groot opdrag van wêreldevangelisasie wanneer Hy kom om ons te kom haal? Of sal ons dalk as gevolg van ons laksheid in die geselskap van die kompromiemakende, oppervlakkige en slapende kerk van die eindtyd gevind word?
Die Here Jesus wil nie passiewe volgelinge hê wat net in Hom glo en verder niks doen vir die uitbreiding van sy koninkryk nie. Hulle moet getuies van sy reddende genade wees en ook ‘n aktiewe gebedslewe lei.
"Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is" (Matt. 7:21).
Deur die krag van die Heilige Gees is dit moontlik om ‘n godvrugtige lewe te lei en die wil van ons hemelse Vader te doen. As jy nie op aarde ‘n behae daarin het om sy wil te doen nie, hoe sal jy ooit in die hemel kan aanpas waar net sy wil geskied?
Ons werk nie vir die Here om gered te word nie [werke-heiligheid], maar omdat ons gered is. Die Here Jesus het gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Ons is gestuurdes, en ons het ‘n baie groot taak om te vervul. Hiertoe wil die Heilige Gees ons daagliks toerus en gebruik. Is jy beskikbaar?
7. Verheerliking
Die laaste stap op die heilsweg is verheerliking. Dit sal by die eerste opstanding plaasvind, wanneer die ontslape én lewende Christene met onsterflike opstandingsliggame beklee sal word:
"Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word" (1 Kor. 15:51-52).
Die volle besonderhede van ons verheerlikte posisie in die hemel is nog nie aan ons geopenbaar nie, maar ons weet dat wat ons onverganklike opstandingsliggame betref, ons aan Christus gelyk sal wees. Hy sal steeds die Hoof van die gemeente wees, maar ons sal saam met Hom wees en in sy onuitspreeklike heerlikheid deel:
"Ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam" (Fil. 3:20-21).
"Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is" (1 Joh. 3:2-3).
In afwagting op ons verheerliking moet ons nóú vir ons hemelse bestaan voorberei word, en in alle opsigte rein en heilig leef. Vir ons toekomstige verheerliking is dit van groot belang hoedanig ons geestelike lewe op aarde daar uitsien. Behalwe dat ons wedergebore moet wees, word ons ook opgeroep om Geesvervulde lewens te lei en die Here te dien. Vir ons arbeid in die Here sal ons genadeloon by die Regterstoel van Christus ontvang (2 Kor. 5:10). Die volgende krone word in die Bybel genoem:
· Die kroon van roem vir sielewenners (1 Thess. 2:19).
· Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige lewe (1 Kor. 9:24-25).
· Die kroon van die lewe vir Christenmartelare (Op. 2:10).
· Die kroon van heerlikheid vir getroue herders (1 Pet. 5:2-4).
· Die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefhet (2 Tim. 4:8).
Sal jy eendag by die verheerliking met leë hande voor die Here staan, of sal Hy jou as ‘n getroue dienskneg bevind, aan wie gesê kan word:
"Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer" (vgl. Matt. 25:21).
Dit is duidelik dat die Here Jesus nie net gekom het om mense van die hel te red nie, maar om dissipels te maak. Hy wil nie slegs jou Verlosser wees nie, maar ook jou Koning, Leidsman en hemelse Bruidegom. Dit is waarom Hy jou hele lewe wil vernuwe en vir diens bekragtig.
Jy word uit die duisternis geroep tot sy wonderbare lig, en daarna toegerus om oorwinnend te leef en jou plig in die evangelisering van die wêreld te doen. In dié opsig is jy ‘n medewerker van God in Christus Jesus (1 Kor. 3:9), en nie ‘n passiewe meeloper nie. Jy word ook in hierdie lewe voorberei om eendag saam met die Here Jesus as koning te regeer. Jy moet eerstens leer om in jou eie lewe oor sonde en ongeregtigheid te oorwin. In die gesag en Naam van Christus moet daar dan ook uitbeweeg word om oorwinnings vir sy koninkryk in hierdie bose wêreld te behaal. Moet dus nie by die toetreepunt van redding vassteek nie, maar loop die hele pad met die Here. Leer om sy wil te doen sodat jy ‘n gesant van Christus kan wees wat daarna streef om Hom in alles te behaag.
Die oppervlakkige naamchristendom van ons tyd skiet ver kort van die Here se standaard van geestelikheid. Die meeste lede van Christelike kerke is heeltemal tevrede met die lae standaarde, en leef nie op na die hoë roeping van God in Christus Jesus nie (Fil. 3:14). Die rede hiervoor is dat baie van hulle nie eers gered is nie, terwyl diegene wat wél gered is, met slegs enkele uitsonderings nie in die krag en oorwinning van die Heilige Gees leef nie.
Ek wil jou uitdaag om jouself geestelik baie krities te evalueer in die lig van die Here se Woord. Ondersoek jouself of jy in die geloof is, m.a.w. of jy hoegenaamd gered is (2 Kor. 13:5). Hieronder is ‘n lys van valse fondamente waarop baie mense hul lewens bou, terwyl hulle in die selfmisleidende veronderstelling leef dat hulle Christene is. Oor jou werklike geestelike stand moet jy volkome duidelikheid hê omdat jou ewige toekoms daarvan afhang.
Indien jy die getuienis van die Heilige Gees in jou hart het dat jy ‘n kind van God is, kyk dan of jou lewe aan die verwagtinge van die Here voldoen. Dra jy vrugte wat by die bekering pas, en gebruik jy die talente wat Hy aan jou gegee het in sy diens? Die Here gaan ook dié vraag aan jou vra wanneer al sy diensknegte rekenskap van hulleself voor die Regsterstoel van Christus moet gee.
Ons is deur die Here Jesus na die verlorenes gestuur “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang… [en] werke [kan] doen wat by die bekering pas” (Hand. 26:18, 20).
Valse Fondamente
Daar is talle valse fondamente wat deur die sielevyand en sy medewerkers aan mense gebied word wanneer hulle na die Here en die krag van die Heilige Gees soek. Sy eerste mikpunt is om hulle daarvan te weerhou om met die Here deur te gaan en weergebore te word. Indien hy nie daarin kan slaag nie, gee hy nog lank nie die stryd gewonne nie. Hy probeer dan om hulle geestelik op ‘n syspoor te laat beland, tot moedeloosheid te dryf en hulle as gevolg van wêreldsgesindheid en teologiese dwalinge die krag van die Heilige Gees te laat verbeur. Hieronder is ‘n aantal van die valse fondamente en misleidende metodes waardeur baie mense geestelik beroof en verblind word:
Onduidelike roeping
As gevolg van oppervlakkige prediking en boeke met flou, afgewaterde boodskappies ontvang baie mense nie ‘n duidelike roeping om hulle saak met die Here reg te maak nie. Hulle word aan die slaap gesus en onder die indruk gelaat dat hulle Christene is as hulle lede van ‘n Christelike kerk is en ‘n Christelike geloofsbelydenis huldig. As gevolg hiervan soek hulle nie na ‘n ontmoeting met die Here nie en gaan met ‘n gedaante van godsaligheid deur die lewe.
Moralisering
Dikwels word die idee aan mense opgedis dat aangesien hulle goeie mense is, hulle aan die standaard van Christenskap voldoen. As gevolg hiervan kom hulle nooit werklik onder sonde-oortuiging nie en besef nie hulle verlore toestand nie. Hierdie houding lei daartoe dat hulle in hul morele onberispelikheid roem, en daarop ingestel is om goeie dade te doen waardeur hulle die guns van die gemeenskap, die kerk én die Here kan wen. Hierdie goeie mense gaan egter verlore omdat hulle nie geestelik weergebore is nie. Hulle besef nie dat hulle goeie lewens sonder bekering wegwerplik is nie, en leef in hulle noodlottige onkunde voort.
Doopbekerings
Baie duisende mense baseer hulle Christenskap op hul doop en aanneming. Daar word geredeneer dat die doop hulle in ‘n ewige verbondsverhouding met die Here plaas, en dat hulle dus vir tyd en ewigheid veilig in sy hand is. As gevolg hiervan is redding en wedergeboorte nie nodig nie. Die belydenis van geloof by aanneming word as voldoende beskou om die dooplidmaat tot volle lidmaat van die kerk van Christus te verklaar, meesal sonder ‘n duidelike getuienis van redding. Die opsigtelike feit dat baie van hulle ten spyte van die kerklike ritualisering nie kinders van die Here is nie, en steeds deur hulle sondige natuur oorheers word, word geïgnoreer en aan die algemene sondigheid van alle Christene toegeskryf.
‘Ons is almal sondaars’
Aan ongeredde kerklidmate wat met sondes worstel, word dikwels gesê dat ons maar almal sondaars is, en vrede met ons sondige neigings moet maak. Ons moet net ons bes probeer om dit onder bedwang te hou en matige sondaars te wees. Die enigste verskil tussen kerkmense en wêreldlinge is dat die kerkmense geredde sondaars is terwyl al die ander ongeredde sondaars is. Hierin is ‘n groot dwaling opgesluit, want só ‘n persoon mag dikwels om die vergifnis van sy sondes bid sonder om ooit sy totaal verlore toestand voor die Here te erken en om die redding van sy siel te bid.
Kopbekerings
Ons leef in ‘n tyd waarin baie van die prediking in oorredende woorde van menslike wysheid is, en nie in die betoning van gees en krag nie (1 Kor. 2:4). Die gevolg is dat net die mens se verstand deur koue teologiese argumente aangespreek word, en nie sy gees en siel nie. Só ‘n persoon bely die Here met sy lippe, maar sy hart is ver van Hom af. Sy verstand sê vir hom dat hy ‘n Christen is en deur die Heilige Gees gelei word, terwyl dit hoegenaamd nie die geval mag wees nie (Luk. 16:15). Sy hart is steeds koud en onaangeraak, omdat hy slegs ‘n kopbekering ondergaan het. Dié persoon het nie ‘n Heilige Gees gewerkte berou oor sy sonde gehad nie, hy het nie ‘n oortuigende getuienis nie en sy lewe het net oppervlakkig verander.
Emosionele bekerings
Dikwels word mense net emosioneel geraak en neem dan ‘n besluit wat nie in die geloof gefundeer is nie, maar op ‘n emosie. ‘n Besluit van dié aard bring geen blywende verandering nie en verloor ná ‘n tyd sy effek:
"En by wie op rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik" (Matt. 13:20-21).
Let daarop dat die betrokke persoon die woord met blydskap aangeneem het. Dit is ‘n emosie en moet nie met geloof verwar word nie. Oppervlakkige emosionele en verstandelike bekerings wat nie op ‘n dieper geloofsaanvaarding van die Here Jesus as Verlosser uitloop nie, is valse bekerings. Sulke persone het selfs datums waarop hulle tot bekering gekom het, maar dit baat hulle niks nie. Hulle mislei hulleself daardeur.
Kitsbekerings
Ons leef in ‘n tyd van maklike kitsoplossings en massaproduksie. Ongelukkig het massa-evangelisasie in baie opsigte ook by hierdie denkwyse ingeskakel en ‘n moderne bedryf geword wat op vinnige resultate ingestel is. Sonder om persoonlike aandag aan mense te gee, word groot groepe ná uitnodigings gelei om ‘n kort gebedjie agter ‘n prediker aan te bid, waarna hulle salig verklaar word. Baie van hulle is dan nog net aan die beginstadium van sonde-oortuiging. Hulle het nog nie ‘n behoorlike kosteberekening gemaak en met berou belydenis van hulle sondes gedoen nie, wanneer die proses kortgeknip en as afgehandel beskou word. Hulle word daarna gemaan om nooit aan hulle redding te twyfel nie, terwyl dit dalk glad nie eers plaasgevind het nie.
‘n Ontnugtering en valse bekering van hierdie aard ontmoedig sulke persone om weer te probeer. Sommiges wat gereed vir die stap was, kan egter wél onder omstandighede soos dié gered word, maar aan baie ander mense se siele kan onberekenbare groot skade gedoen word. Besluiteloosheid is sleg, maar so ook geforseerde besluite. Net berekende besluite onder die leiding van die Heilige Gees, gefundeer in ‘n sterk oortuiging, sal die toets deurstaan.
Goedkoop genade
Goedkoop genade word deur baie predikers as ‘n geskenk bemark wat onvoorwaardelik deur almal verkry kan word. Hoewel dit ‘n gawe van God is [‘n geskenk] is dit nogtans nie goedkoop nie omdat dit aan duidelike voorwaardes gekoppel is. Sonde moet eers met berou bely en laat staan word voordat vergifnis verkry word. Dit help nie om net lippediens aan die Christelike verlossingsleer te bewys en te dink dat jou saak met die Here dan reg is nie. Op hierdie maklike wyse sal jy nooit die getuienis van die Heilige Gees in jou hart ontvang, wat saam met jou gees sal getuig dat jy ‘n kind van God is nie (Rom. 8:16). Volg die weg van die Here, en laat sy Gees toe om jou diep onder die indruk van jou sonde en verlorenheid te bring, maar ook van die geregtigheid en reddende genade van die Here Jesus. Dan alleen sal jy op die regte koers vir ‘n grondige en blywende herskepping van jou lewe wees.
‘Glo net’
Nog ‘n vorm van goedkoop genade is dat jy net moet glo en niks doen nie. Werke, waaronder ook sondebelydenis, word met groot wantroue bejeën en as deel van ‘n mensgemaakte werkeheiligheid gesien. Hierdie mense haal graag Efésiërs 2:8-9 aan, wat sê dat ons uit genade gered is deur die geloof, nie uit die werke nie, sodat niemand kan roem nie. Hierdie stelling is heeltemal waar, maar om uit genade gered te kan word, móét die sondaar homself met belydenis van sy sondes tot die Here bekeer. Hy moet dus gewilliglik van alle boosheid in sy lewe afstand doen, en tot die Here om genade roep.
Ná sy redding moet hy dan ‘n lewe van goeie werke lei – nie om sy saligheid te verdien nie, maar om God te behaag en uitvoering aan die opdragte van die Bybel te gee. Die opdrag oor werke volg direk ná Efésiërs 2:8-9: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Ef. 2:10). Christenskap is ‘n aktiewe en dinamiese lewe wat jou volle samewerking vra. Jy moet ná jou bekering ‘n toegewyde medewerker van God in Christus word (1 Kor. 3:9), en ook jou wil inspan om dit te doen.
Misplaaste trooswoorde
‘n Ontwaakte sondaar wat sterk onder sonde-oortuiging is, soek dikwels by ander Christene raad oor die donker skuldgevoelens in sy gemoed. Dit is ‘n groot fout om só ‘n persoon se selfbeeld te probeer verbeter deur aan hom te sê dat hy glad nie so sleg is as wat hy meen nie. Familie is geneig om so iets uit meegevoel vir een van hul lede te sê.
Hierdeur kan die redding van die persoon verydel word. Hy moet eerder tot die besef gebring word dat sy probleem nóg erger is as wat hy dink. Sonde is verfoeilik in die oë van die Here, en die hel is ‘n grusame en skrikwekkende plek. Dit is nou die tyd om aan hom die oplossing te verkondig, naamlik dat die Here Jesus gesterf het om ons sondes te vergewe en aan ons die ewige lewe te skenk. Hy het gekom om die werke van die duiwel te verbreek en ons volkome van ons sondes te verlos, ook van ‘n slegte gewete. Wanneer daar aan mense leiding en voorligting gegee word, moet die erns van die probleem van sonde so sterk as moontlik gestel word, want dit is waar die oortuigingswerk van die Heilige Gees ook begin: by sonde.
Selfbejammering
Dikwels ly mense aan selfbejammering oor hulle mislukte lewe, of oor dinge wat met hulle gebeur het. Hieruit kan geestelik niks goeds kom nie, want “die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Kor. 7: 10). Berou wat uit sonde-oortuiging spruit, kom van die Heilige Gees af en lei jou na die kruis waar die oplossing vir jou sondeprobleem, ellende en verlorenheid is.
Selfbejammering laat jou egter na troos, meegevoel en verontskuldiging soek. Op dié pad sal jy na jou eie ondergang voortstrompel – dit lei nie na bekering, ‘n hartsverandering en die einde van jou sorge nie. Ontdek jou eie aandadigheid aan jou probleme onder die oortuiging van die Heilige Gees. Dan sal ‘n sielsdeursoekende droefheid oor jou kom wat jou om genade na die Here sal laat roep.
‘Alle Christene is met die Heilige Gees vervul’
Op grond van die feit dat Christene deur die Heilige Gees wederbaar word, word dikwels beweer dat aangesien die Heilige Gees ‘n Persoon is, alle Christene reeds met Hom vervul is. Hulle kan nie net die helfte van ‘n Persoon hê nie, en hoef dus nie ‘n tweede genadewerk te ontvang om met die Gees vervul te word nie. Hierby volstaan hulle dan.
Dié stelling is lynreg in stryd met die Bybel, en weerhou baie Christene van ‘n Geesvervulde, oorwinnende lewe. Die feit is dat sonder ‘n volle oorgawe en selfontlediging, die ongekruisigde vleeslike natuur in jou met die inwonende Heilige Gees in botsing kom. Die sielevyand sal alles in sy vermoë doen om jou in dié kragtelose posisie te hou, want dan sal jy nie vir hom ‘n groot bedreiging wees nie. Indien jy egter die kruis van selfverloëning opneem en om die vervulling met die Heilige Gees bid (Luk. 11:13), dan neem Hy beheer van jou lewe oor. Is die eie-ek dalk nog op die troon van jou hart? “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).
Fisiese manifestasies van die Gees
‘n Dwaling wat nou vinnig veld wen, is dat die Heilige Gees nie soseer in die geestelike sfeer werksaam is nie, maar op die sinlike vlak. Dit gee tot ‘n ervaringsteologie aanleiding waarin jy nie glo dat die Here vir jou iets gedoen het voordat jy ‘n sigbare en tasbare ervaring gehad het nie. Jy moet eers op die vloer val, snaakse dieregeluide maak of onbeheersd lag. Dan, glo jy, is jy gered. Van sonde-oortuiging en ‘n diep geestelike ontmoeting met die Here is hier geen sprake nie. Dié valse fondament is een van die baie plaasvervangers vir ‘n ware geloof, en miljoene word daardeur mislei.
"Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is" (Jes. 55:6).
Groei in Genade
Daar moet altyd vooruitgang in ‘n Christen se lewe wees. Nadat hy of sy uit die duisternis tot die lig gekom het, moet die vordering op die pad van die Here steeds voortduur:
"Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe" (Spr. 4:18).
Die volgende gedagtes oor groei in genade is deur die bekende herlewingsprediker, Charles Finney, aan baie van die bekeerlinge in sy dienste as Bybelse riglyne voorgehou:
"Julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus" (2 Pet. 3:18).
Genade is onverdiende guns. In die Bybel dui die woord genade dikwels ‘n geskenk aan. Die genade van God is dus die guns van God, sy geskenk aan ons.
Die opdrag om te groei in genade verbind ons nie aan die beginsel om die sonde geleidelik af te lê en te laat staan nie. Vreemd genoeg is daar mense wat so dink, maar nêrens gebied die Bybel ons om die sonde bietjie vir bietjie te laat staan nie. Dit word van ons verwag om onmiddellik en volkome daarmee te breek. Ons moet in God se guns toeneem, in sy beoordeling van ons, en dus in die waardigheid van ons lewenswandel.
Voorwaardes vir geestelike groei
Ons is in God se genade. Net soos wat die groei en toename in enigiets ‘n begin impliseer, impliseer die groei in God se guns die feit dat ons reeds guns in sy oë gevind het. Ons is “in die genade” omdat ons deur Hom begunstig is.
Ons sondes is afgelê en vergewe. ‘n Groei in genade berus op die veronderstelling dat ons onsself reeds van alle bekende sondes bekeer en dit afgelê het. Om deur God aanvaar te word, beteken dat Hy ons ter wille van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, vergewe en in guns aanneem. Sy gunsbewys vereis dat ons alle vorms van rebellie teen Hom sal aflê, omdat die Bybel duidelik aantoon dat die voorwaarde vir God se guns die versaking van alle bewuste sondes is, asook geloof in Christus om ons sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Ons kan nie God se guns geniet terwyl ons bewustelik in sonde teenoor Hom leef nie. Om dus in genade te kan groei, moes genade al begin het.
Voortdurende groei. Wanneer ons in hierdie toestand is, is daar geleentheid vir voortdurende groei. Soos wat ons God beter leer ken, sal ons ook in staat wees om Hom meer te kan liefhê en ‘n breër en dieper vertroue in Hom te stel. Ons liefde en geloof in Hom kan volkome wees tot die mate waartoe ons Hom ken, en dit sal sy guns oor ons lewe verseker. Die potensiaal van ons groei in genade en kennis van Hom is eindeloos. Hoe meer ons liefhet en glo, des te beter sal ons God ken soos wat Hy Homself deur Jesus Christus aan ons openbaar. Terselfdertyd sal ons in sy guns toeneem en ook meer en groter gawes van Hom ontvang.
Volkome toewyding. Om te kan groei in genade moet ons ook groei in ons kennis van wat dit behels om onsself geheel en al aan die Here oor te gee. ‘n Ware bekering sluit die toewyding van onsself en alles wat ons het aan die Here in. Jong gelowiges is egter nog nie van die volle implikasies van hoër vorms van toewyding bewus nie. Aanvanklik dink hulle net daaraan om hulle siele te ontbloot, op die altaar te plaas en aan God te wy. Daarna word dit duidelik dat hulle nog nie hulle besittings en ander dinge naby hulle aan die Here oorgegee het nie. Hulle aanvanklike oorgawe was volkome volgens die lig wat hulle gehad het, maar hulle het toe nog nie volle insig gehad nie. Die gevolg is dat hulle nie elke voorkeur, neiging, begeerte en liefde volledig aan God oorgegee het nie. Om kennis hieroor te kry, neem tyd.
‘n Voorwaarde om in God se guns toe te neem, is om alles wat ons is, wat ons het, begeer en liefhet ten volle aan Hom oor te gee die oomblik wanneer dit tot ons kennis kom. Soos wat ons kennis toeneem, sal die Here ons roep om ook in genade toe te neem deur elke objek van ons kennis, begeertes en liefde aan Hom toe te wy. Soos wat jy meer lig ontvang, moet jou toewyding ook elke dag en elke uur toeneem, anders sal jy ophou om te groei. Die oomblik wanneer jy iets terughou en nalaat om dit op die altaar van toewyding te plaas, sal jy ophou groei in genade. Laat hierdie waarheid diep in jou hart insink.
Verdiep jou geestelike kennis. Jy moet deur die verligting van die Heilige Gees altyd na dieper geestelike insig soek. Jy kan geen besondere geestelike insig verkry as die Gees jou nie leer en in dieper waarhede inlei nie. Bid vir sy onderrig en waak daarteen om Hom te weerstaan of te bedroef. Deur die Gees wil Christus jou leermeester wees.
Pas jou lewenswyse hierby aan. ‘n Verdere voorwaarde vir groei is dat jy jou oortuigings en lewenswyse voortdurend by die onderrig van die Heilige Gees moet aanpas. Jou Christelike ervaring moet dus verdiep tot dieselfde mate as wat die oortuiging van jou plig en die kennis van God se wil in jou hart verdiep.
‘n Volkome geloof in God. Ons het behoefte aan ‘n vertroue in God wat só volkome is dat ons in donker tye net so onwrikbaar in Hom sal glo as in tye van voorspoed, ongeag of ons sy weë verstaan of nie. ‘n Volkome geloof is die geloof van ‘n Abraham, wat nie gewankel het nie al het God se belofte ook hoe onwaarskynlik gelyk. Só ‘n geloof rus onvoorwaardelik in God, in sy beloftes, sy getrouheid en sy liefde; dit maak nie saak hoe veeleisend en oënskynlik onredelik die Here se opdragte of sy leiding deur omstandighede is nie.
Volkome heiligmaking. ‘n Volkome geheiligde siel – die sentrum van ons begeertes, gevoelens en emosies – is nog ‘n voorwaarde om in God se guns te kan groei. In sy gevalle toestand is die menslike natuur sleg en bedorwe. Selfs al onderwerp jy jou wil aan God, kan versoeking nog steeds deur jou siel op jou inwerk en jou probeer weglok. Die wil veg teen hierdie begeerlikhede om hulle aan God se wil onderworpe te hou. Indien die menslike wil sy integriteit behou en aan God se wil vashou, word sonde nie gedoen nie.
Hierdie rebelse neigings hinder nogtans die wil in die diens van God en weerhou geestelike groei, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Soos wat die siel meer en meer onderwerp word en in harmonie met die wil se toewyding aan God kom, raak ons vry om onbelemmerde diens aan God te bewys. Hoe meer volkome die heiligmaking van die siel, des te meer sal ons in God se guns verkeer. Hy wil ons gees en siel en liggaam volkome heilig maak. (1 Thess. 5:23-24)
Vervulling met die Heilige Gees. Om in die Here te kan groei, vereis ‘n groter teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewens. Ek kan dit nie sterk genoeg beklemtoon nie dat elke stap in die Christen se lewe onder die leiding van die Heilige Gees geneem moet word. Streef daarna om deur die Heilige Gees onderrig te word, sodat Hy jou in alle sake kan lei. “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). “As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 8:13). Om in genade te kan groei, moet jy ook in die volheid van die Heilige Gees in jou hart groei.
‘n Meer intieme wandel met Jesus Christus. Ons moet Jesus beter leer ken en meer intiem met Hom wandel. Hy is ‘n Persoon en ons moet ‘n persoonlike verhouding met Hom handhaaf. In sy heilige teenwoordigheid “word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor. 3:18). Jesus het beloof om Homself te openbaar aan almal wat Hom liefhet en aan Hom gehoorsaam is. Ken Hom in al sy volheid deur Hom in die geloof vir elke aspek van jou verhouding met Hom te aanvaar. Beklee jouself met die Here Jesus en eien Hom vir jou toe, want Hy is jou wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing; jou Profeet om jou te leer, jou Koning om jou te regeer, jou Hoëpriester om versoening vir jou te doen, jou Middelaar, jou Advokaat, jou krag, jou Verlosser, jou skuilplek, jou Leidsman, jou skild, jou verdediging en jou beloning. Ken Hom in elkeen van hierdie hoedanighede deur Hom in die geloof toe te eien. Dit is ‘n onontbeerlike voorwaarde vir jou groei in genade.
Valse tekens van groei in genade
Daar is ‘n aantal dinge wat jou kan mislei om te dink dat geestelike groei plaasvind, terwyl dit in werklikheid nie die geval is nie. Die volgende is valse tekens van groei:
· Die groei in kennis is nie ‘n absolute bewys van groei in genade nie. Toenemende kennis is ‘n voorwaarde vir toenemende genade. Kennis in sigself is egter nie genade nie, dus lei ‘n toename in kennis nie noodwendig tot ‘n toename in genade nie. ‘n Persoon kan ontplof van kennis en nogtans geen genade hê nie. Kennis moet na toewyding aan God lei, anders word dit nie in ‘n geestelike bate omskep nie.
· ‘n Groei in gawes is nie ‘n bewys daarvan dat ‘n individu nader aan die Here leef nie. ‘n Persoon wat bely dat hy Christus ken, kan beter bid en preek sonder dat hy noodwendig meer heilig is. Sulke aktiwiteite kan deur oefening aangeleer word. Dit is baie algemeen dat mense wat geen guns by God geniet nie, in allerlei uiterlike godsdienstige gebruike uitblink.
· Die feit dat ‘n persoon dink dat hy geestelik groei, beteken nie dat dit wél so is nie. Soms is mense baie beïndruk met hulle eie vooruitgang, terwyl dit vir ander duidelik is dat hulle agteruitgaan. Iemand wat geestelik besig is om te verrot, is selde daarvan bewus. Ons beoordeel altyd ons geestelike statuur volgens een of ander standaard. Indien ons Christus in al sy volheid as ons standaard neem, sal ons altyd ons prestasies laag beoordeel. As ons egter die kerk of ons vriende as maatstaf neem, sal ons moontlik onsself as geestelike reuse sien.
Bewyse van groei in genade
Daar is verskeie bewyse dat ons in God se genade groei:
· ‘n Meer volkome en kinderlike geloof in God is ‘n duidelike bewys van groei in genade. Jou lewe sal hierdeur gekenmerk word, en jyself én andere sal kan sien dat jy toenemende guns by God geniet.
· As jy los van die wêreld is, en jou siel vir die begeerlikhede van die wêreld gekruisig is, het jy geestelik vooruitgang gemaak op die pad na groter oorwinning.
· Minder gevoelens van weerstand wanneer jy gevra word om jouself te verloën, openbaar ‘n groei in genade. Jou eie gevoelens is minder oorheersend, en die wil verkry die oorhand sodat die siel in harmonie met die wil optree.
· Minder versoekings vir die sonde van versuim, bv. om die kruis te vermy en pligte soos Bybelstudie en stiltetyd na te laat. Soos wat heiligmaking van die gees, siel en liggaam toeneem, verloor hierdie versoekings hulle krag.
· Toenemende ywer vir die saak van die Here. Soms verflou ‘n Christen se ywer vir geestelike werk, maar as dit weer sterk word, dan groei hy in genade.
· Selfbewustheid en hoogmoed is twee vleeslike gesindhede. Wanneer dit kwyn en wegsterf, neem genade toe. Moenie selfbewus wees en jou teen jou eie swakhede blind staar nie, maar moet ook nie in hoogmoed verval en die eer van mense begin soek nie.
· Die aanvaarding van die volle geopenbaarde wil van God is ‘n teken van geestelike groei. Sommige Christene verwerp aspekte van die Here se wil en sy bestier van sake.
· ‘n Kalmte onder uiters moeilike omstandighede is ‘n bewys daarvan dat die siel stewig aan Christus geanker is.
· Lankmoedigheid en verdraagsaamheid onder provokasie, asook blydskap en oorwinning te midde van teleurstellings, dui op ‘n groei in genade. Jy tel jou seëninge in plaas van jou beproewings.
· ‘n Afnemende ingesteldheid op ander se foute en tekortkominge. Jy is nie meer so sarkasties en veroordelend nie. ‘n Sagter geaardheid en vergewensgesindheid gaan ook hiermee gepaard.
· ‘n Bereidwilligheid om opofferings te maak om andere te help. As mense se geestelike nood ons aanspreek en die redding van hulle siele ‘n belangrike ideaal vir ons word, het ons grootliks in die guns van die Here toegeneem.
· Wanneer die eer van die Here se Naam en die heiligheid van die kerk vir ons ernstige oorwegings is, het die genade van Christus oorvloedig in ons geword.
Hoe om in genade te groei
Hoe groei mens in genade? Deur voldoening aan die voorwaardes vir geestelike groei wat vroeër genoem is.
Ons moet onthou dat elke stap van geestelike vooruitgang in die geloof geneem word, en nie deur werke nie. Baie Christene maak groot foute op hierdie terrein. Sommiges beweer dat heiligheid deur werke en die nakom van uiterlike reëls verkry word. Hulle noem heiligmaking deur die geloof ‘n absurditeit en beskryf die proses van groei in genade as die aanleer van gewoontes van gehoorsaamheid en onderdanigheid aan God.
Dit is verbasend. Die feit is dat elke stap van vooruitgang in die Christen se lewe in die geloof deur ‘n vars en voller toeëiening van Christus, en deur ‘n nuwe vervulling en salwing met die Heilige Gees, verkry word. Wanneer ons swakhede, gebreke en sondes deur omstandighede aan ons geopenbaar word, is die Here Jesus ons enigste hoop. Ons groei slegs op na geestelike volwassenheid namate ons meer met Hom beklee word, van onsself ontledig word, die valse hoop van heilige gewoontes verwerp, en met toewyding na dieper aanrakings deur die Heilige Gees soek.
Die einde van die reis
Die eindbestemming van die Christen se pelgrimsreis uit die duisternis tot die lig is sy ewige tuiste in die hemel – in die nuwe Jerusalem waar die Here Jesus vir ons plek gaan berei het. In die moeilike dae van ons aardse bestaan gee ons geloof in die Here en die vaste wete van ons wonderlike toekoms aan ons krag om te volhard tot die einde toe.
Die hoop op Christus se koms en ons verheerliking is ‘n anker vir die siel wat veilig en vas is, en ingaan tot by die genadetroon (Heb. 6:19). Die Here is dus self ons anker. Ons weet dat ons toekoms veilig in sy hand is en dat Hy ons sal deurdra. “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe” (2 Kor. 4:16).
Die voortgesette reiniging deur die bloed van die Lam en die vernuwende krag van die Heilige Gees, stel ons in staat om van oorwinning tot oorwinning op dié pad te gaan. As ons kragtig word in die Here en in die krag van sy sterkte sal ons nooit onder die geledere van die vleeslikes, kragteloses of teruggevallenes gereken word nie. Terwyl ons opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus, sal ons geestesvermoëns verkry, deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Dan sal ons vinnig op die pad van die Here vorder en werke doen wat ewigheidswaarde het.