Sekerheid van Gered Wees
deur
Olga Coetzer
Redding, Weergeboorte, Tot-bekering-kom, Sekerheid van Saligheid, Hart-vir-die-Here-gee, Kind-van-die-Heer-word, Jesus-aanneem-as-jou-Saligmaker is verskillende terme van een en dieselfde ondervinding, nl. Om te Weet dat jou sonde vergewe is en dat Jesus nou in jou hart woon.
HOE KRY MENS HIERDIE SEKERHEID?
Ek sal uit my eie ondervinding en getuienis aanhaal:
Ek het die voorreg gehad om gebore te word in ‘n huis waar albei my ouers kinders van die Here was met ‘n getuienis van so ‘n ondervinding.
HET HIERDIE VOORREG VIR MY SEKERHEID GEGEE?
NEE. Want soos alle mense is ek “in ongeregtigheid gebore en in sonde het my moeder my ontvang” (Ps.51:7) en het ek nodig gehad om self na Jesus te kom om vriende met Hom te maak. Ek is gedoop as ‘n babatjie.
HET MY GODSDIENSTIGE OPVOEDING VIR MY SEKERHEID GEGEE?
NEE. Ek was soet, stout en het pak gekry soos enige ander kind. Die vrugte in my lewe gewys dat daar sonde in my hart is. maar die voordeel van my godsdienstige opvoeding was dat my ouers my vertel het dat ek Sekerheid van Sondevergifnis moes hê om Hemel toe te kan gaan. Ek was bang om Hel toe te gaan en ek het al op sesjarige leeftyd soms besef ek is verlore.
Een nag het ek gedroom my keel word afgesny. Ek was baie benoud en het gebid dat die Here my sonde moet vergewe. Toe ek wakker word was ek so bly dat dit maar net ‘n droom was. Die vrees vir die dood het ook vir ‘n tyd verdwyn.
HET HEIRDIE DROOM VIR MY SEKERHEID GEGEE?
NEE. Drome as sulks gee nie weergeboorte nie, dis die Woord van God wat dit doen. (1Pet.1:23)
Op hoërskool het ek C.S.V Konferensies gereeld bygewoon. Eenkeer met so ‘n geleentheid het ek baie gehuil. Vir ‘n week lank het ek so “lig” gevoel. Maar dis alles weer verby.
HET MY TRANE MY SEKERHEID GEGEE?
NEE. Trane was nie sonde weg nie. “Julle is rein deur die Woord wat Ek tot julle gespreek het” (Joh.15:3)
Ek is aangeneem en voorgestel as lidmaat van die Kerk.
HET KERKLIDMAATSKAP VIR MY SEKERHEID GEGEE?
NEE. Terwyl ek voor die Here en voor die gemeente belowe dat ek die Here sal dien met my hele hart, met my hele siel en met al my krag, het ek geweet ek het nie die krag om dit te doen nie. Ek het gevoel soos ‘n bedrieër en daar was heimwee in my hart.
Ek wou gered wees sodat ek Hemel toe kon gaan en nie hoef in die Hel te kom nie. Maar die plesier van die wêreld het my net toe begin bekoor, ondanks my streng godsdienstige agtergrond, en ek wou dit darem nie nou al prys gee nie. Al was my naam nou geskrywe in die Kerkregister was dit nie geskryf in die Boek van die Lewe van die Lam nie. (Open.20:15)
Die volgende dag gebruik ek toe al Nagmaal.
HET NAGMAAL-GEBRUIK VIR MY SEKERHEID GEGEE?
NEE. Al het ek in vrede geleef met my medemens het ek nog nooit vrede gemaak met God nie. My sonde was ‘n skeidsmuur tussen Hom en my.(Jes.59:2) Ons was nog nooit vriende nie; ek was nog sy vyand. (Jak.4:4) Ek het dus ‘n oordeel oor myself geëet. (1Kor.11:27) Daarna is ek universiteit toe en het die lewe geniet. Maar, as ek in my kamer kom, na ‘n wonderlike dansparty of ‘n goeie fliek, was daar so ‘n leegheid in my hart, so ‘n hongersnood! Ek was nie versadig nie. Na my Finale eksamen het ek by my weduwee moeder gaan bly en daar skool gehou. Om haar nie seer te maak nie het ek saam met haar Kerk toe gegaan, bidure toe en huisgodsdiens gedeel, met ander woorde ‘n vroom lewe gelei.
HET DIE AANPASSING AAN ‘N VROOM LEWE VIR MY SEKERHEID GEGEE?
NEE. “Uit genade is julle gered, deur die geloof... nie uit die werke nie” (Ef.2:8-9) Al het almal goed gepraat van my en ek ‘n hoë opinie van myself gehad het, was daar rebellie in my hart. O, ek was verveel! En onversadig! In die tyd het ek opgehou om die Bybel te lees, so ‘n droë oninteressante boek. Ek het besluit om oor te slaan en die wêreld voluit te dien.
HOE HET EK DAN DIE SEKERHEID GEKRY?
Toe my moeder sien waarheen ek koers het sy volhard in die gebed vir my redding. ‘n Paar weke het verbygegaan en Evangelie predikers het na ons dorpie gekom. Die een vra my reguit: “Juffrou, is jy al gered?” “Nee,” sê ek. Hy gee my toe ‘n traktaatjie om te gaan lees. Ek weet nie wat ek daarin gelees het nie, maar ek was benoud oor my verlore toestand, die “geen sekerheid” omtrent die saligheid, waarin ek verkeer het. Heel op die laaste bladsy kry ek die “resep” hoe om na Jesus te kom.
Dis wat ek gedoen het:
- Ek het erken ek is verlore; as ek sterf gaan ek Hel toe.
- Ek het Jesus gevra om my sonde te vergewe. Op daardie oomblik, kon ek nie een sonde onthou om op te noem nie; ek het die bondel gebring.
- Ek het gesê: “Ek glo, Here, dat U my nou vergewe”... Volgens Sy Woord in 1Joh1:9 “As ons ons sondes bely Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe.” 1Joh1:7 “Die Bloed van Jesus Christus Sy Seun reinig ons van alle sonde.”
- Ek het Hom in die geloof in Sy Woord dankie gesê dat Hy my vergewe het sonder dat ek iets gevoel het, of ‘n bonatuurlike gesig gesien het of enige ekstase ondervind het.
Ek was nog dieselfde persoon fisies, maar;
- Die sondelas het verdwyn. Wat ‘n verligting!
- Daarmee het ook die vrees vir die dood en die oordeel daarna verdwyn.
- Die honger in my siel na versadiging was bevredig want Jesus het self ingekom en die leegheid gevul.
- Die Bybel, wat droog en oninteressant was, het vir my lewe gekry! As ek daarin lees was dit asof ‘n Persoon met my praat.
- En in my hart was die SEKERHEID VAN SONDEVERGIFNIS. (Rom.8:16) Ek was GERED! Ek kon en het ander daarvan vertel.
HOU HIERDIE SEKERHEID STAND?
Die Here belowe om my te bewaar. (Ps.121) by my te bly. (Mat.28:20); my vir struikeling te bewaar, (Jud.24) Dis Sy deel met ‘n voorwaarde aan my kant, nl. “Bly in My en Ek in julle. Wie in My bly, hy dra baie vrug. As iemand in My nie bly nie word hy uitgewerp...in die vuur” (Joh.15:4-6)
HOE BLY MENS IN HOM?
Deur elke dag:
- Met Hom te gesels... Deur te bid
- Hom kans te gee om met my te gesels... deurdie lees van Sy woord.
- Te praat van Hom en ander te vertel wat Hy vir my op daardie oomblik beteken
- En deur te begin soek na Heiligmaking (as ek algeheel oorgee aan die volle beheer van die Heilige Gees).
So bly ek in Hom en wen vir Hom siele.
sover deur die Heer se genade het ek nog nooit my Sekerheid van Gered te wees verloor nie.
WIL U NIE OOK SEKERMAAK DAT U GERED IS NIE?
U hoef nie so lank te wag soos ek gedoen het nie. U kan die Sekerheid van Gered wees nou hê.