Die Doop
Die onderwerp van die doop is baie kontroversieel met baie misverstande. Baie mense dweep met die doop en dit raak 'n obsessie by hulle. Dit veroorsaak baie keer ongebalanseerde en dwase strydvrae met die gevolg dat Christene twis oor die doop. Titus 3:9-11 verklaar dat sulke stryery nutteloos is. Dit verwek partyskap en deel mense op in kampe. Dit is nie ons doel nie, ons wil mense uitnooi om soos Handelinge 17:11 te maak – ‘...hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.’
1. WAT IS DIE DOOP?
Die Bybel leer ons dat daar twee sakramente is wat Jesus Sy dissipels beveel het om te onderhou: Die nagmaal en die doop. Beide het Hy self ingestel en ons beveel om dit te doen.
Matt. 28:18 - ‘Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.’
Hand. 2:38 – ‘En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.’
Met ander woorde om ons te laat doop is nie opsioneel nie, dit is 'n bevel van God wat ons moet gehoorsaam. Ons doop op die manier wat vir ons in die Bybel voorgehou word en dit is deur onderdompeling. Die Griekse woord ‘BAPTIZO’ het net een betekenis – om te dip, onder te druk, te sink en te onderdompel. Dis afgelei van die stamwoord ‘BAPTO’ wat algemeen onder die Grieke gebruik is wanneer hulle 'n kledingstuk gekleur het deur dit onder die kleurselwater in te druk; of wanneer hulle 'n beker onder die water ingedruk het om water te skep. Daarom lees ons in:
Joh. 3:23 – ‘En Johannes was ook besig om te doop in Enon naby Salim, omdat daar baie water was.’
Hand. 8:38 – ‘En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.’
2. HOE BELANGRIK IS DIE DOOP?
Daar word meer as 60 keer in die Nuwe Testament na die doop verwys.
- God het self die doop ingestel. Hy het Johannes gestuur om te doop in Johannes 1:33 en ook sy dissipels beveel om te doop. Gedurende Jesus se bediening op aarde het Sy dissipels mense gedoop wat in Hom geglo het (Joh. 4:12) en op die dag van Pinkster het die Apostels diegene wat tot bekering gekom het ook gedoop (Hand. 2:14).
- Doop is die natuurlike gevolg van geloof en bekering. (Mark. 16:15-16 en Hand. 2:38)
- Christus Jesus was self gedoop (Matt. 3:16) en Hy het die doop die vervulling van geregtigheid genoem (Matt. 3:14-15).
- Die Vader, Seun en Gees het die doop goedgekeur en geseën (Mark. 1:10-11).
- Die Bybel sê dat die skrifgeleerdes en Fariseërs die raad van God verwerp deur hulle nie te laat doop nie (Luk. 7:29-30). Daarom as ons dit verwerp dan verwerp ons ook 'n instelling van God.
3. WANNEER MAG 'N MENS GEDOOP WORD?
As jy 'n baba is deur jou ouers se toewyding, of eers as jy volwasse is deur jou eie besluit? Hierdie is 'n baie belangrike vraag want dit is hier waar baie kerke in hulle oortuigings verskil. Wanneer is dit geoorloof om gedoop te word? Watter Bybelse voorwaardes moet eers nagekom word voordat ons gedoop kan en mag word?
- Hulle wat die Evangelie gehoor en verstaan het (Mark. 16:15-16 en Hand. 8:30-31, 35).
- Diegene wat onder diepe oortuiging is van hulle sondes (Hand. 2:38 – Petrus se raad).
- Mense wat hulle bekeer het (Mark. 1:4 en Hand. 2:38).
Wat is bekering?
→ Wanneer jy 'n opregte berou en jammerte in jou hart het en jy jouself as’tware verwyt omdat jy spyt is oor jou sonde, opstand en rebellie teen God.
→ Daar is 'n diepe begeerte in jou om anders te wees – om gehoorsaam te wees aan God, om getrou aan God en heilig te lewe, om jouself te onderwerp aan die wil van God. Jy wil God in alles behaag en 'n volgeling van Jesus word.
→ Daar is 'n definitiewe besluit in jou binneste om van nou af kant te kies vir God en teen sonde en slegte dinge wat oor jou pad kom. Jy het besluit om die wêreld met sy begeerlikhede te verloën en van alle goddelose plesiere af te sien, sodat jy die Here kan dien.
- Hulle wat glo: Hand. 8:12,36,37 en Mark. 16:16. Geloof kom voor doop – ‘Hy wat glo en hom laat doop sal gered word.’ Om te glo is om my algehele vertroue in Jesus as my verlosser te plaas: dat Hy my sondes alles vergewe en dat Sy bloed my volledig en volkome reinig van alle sonde en sondeskuld. Daar moet ook geglo word dat jy saam met Hom sal lewe in 'n nuwe lewe omdat Hy jou vrygemaak het van die mag van sonde.
- Die vrugte van bekering moet wys in jou lewe.
- Uit bogenoemde rede is dit duidelik waarom ons nie suigelinge of kindertjies kan doop nie.
4. WAT IS DIE BETEKENIS EN DOEL VAN DIE DOOP?
- Daar is kerke wat glo dat by die doop word mens weergebore, hulle lei dit hoofsaaklik af van die teks in Titus 3:5. Die teks maak gebruik van beeldspraak dat Jesus ons volledig rein was by wedergeboorte. Die doop is die uiterlike teken van die innerlike afwassing wat alreeds in my lewe plaasgevind het.
- Deur die eeue het die mens behoefte gehad aan uiterlike tekens vir geestelike realiteite. Bv. Abraham – die besnydenis; Noag – die reënboog; Israeliete – die wolk en vuurkolom; en selfs vandag nog as mense trou gee hulle vir mekaar 'n ring. Dit is ook so met die doop.
- Dit is 'n uiterlike bewys van ons geestelike eenwording en identifikasie met Jesus in Sy doop, begrafnis en opstanding. 1 Kor. 12:12-14 – Ons word geestelik (onsigbaar) deel gemaak van 'n liggaam, naamlik die Kerk van Christus. Ons word 'n lid omdat ons ingedoop word deur die Heilige Gees. [Illustrasie: Spons en water].
- Hoe gebeur dit dan dat ek deel gemaak word van die liggaam van Christus? Dit vind plaas in drie stappe. Daar is drie innerlike geestelike realiteite wat ek in my lewe moet ervaar het waarop die doop nou as teken wys.
Dood
As ek afloop in water in, maak ek 'n totale breek met die verlede en ek reken myself dood vir die wêreld en my ou lewe.
Begrafnis
As ek onder die water buite sig verdwyn is ek asof begrawe en ek identifiseer met Jesus in sy begrafnis (Rom. 6:4-6).
Opstanding
As ek weer uit die water opkom is dit die teken dat ek opstaan in 'n nuwe lewe saam met Christus net soos Hy uit die dood uit opgestaan het. My geestelike eenwording met Hom in Sy opstanding, verseker dat ek gans in 'n nuwe lewe sal wandel.
5. WAT GEBEUR NA DIE DOOP?
- Kry ek nou 'n spesiale stempel uit die hemel wat vir die duiwel sê: “Hanteer versigtig” of “los uit” of “super christen” ...? NEE! Al wat gebeur is dat ek nou onomkeerbaar verbind is tot 'n lewe van dissipelskap.
- Ek moet voorbereid wees op toetse, versoekinge en probleme (Matt. 4:1 en Mark. 1:9-13).
- Handelinge 2:41
Volhard in die leer
Volhard in gemeenskap
Volhard in die nagmaal
Volhard in gebede
Volhard om in blydskap jou lewe as kind van God te geniet en God te prys.
DIE GROOT BESLUIT
AL DIE KENNIS IN DIE WÊRELD HELP NIKS TENSY EK 'N BESLUIT MAAK IN DIE LIG VAN WAT EK NOU WEET NIE!
Het die Here met jou gepraat oor die doop?
Hand. 22:16 – ‘En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.’