fbpx
Just Africa Mission (JAM)
Him we Preach and Proclaim - Colossians 1:28

Afrikaans

  • ‘n Bybelse Sondebegrip is vir Verlossing Nodig

    ‘n Bybelse Sondebegrip is vir Verlossing Nodig

    Deur Eerw. W.F. Burton

    Opsomming: Die regte begrip van sonde vestig die aandag op die kardinale probleem wat tussen die verlore sondaar en sy redding deur Jesus Christus staan.

    ‘n Bybelse sondebegrip, wat toenemend in humanistiese, vormgodsdienstige en intergeloofskringe aangeval word, is ‘n wesenlike deel van die Christelike verlossingsleer. Die Here Jesus het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. Die volgende oorsig oor die sondeleer, asook verlossing van sonde, is geskryf deur eerw. W.F. Burton onder die titel: Sin, and where to go with evil habits.

    Die sielkundige sê dat daar nie sonde is nie. Dit mag wees dat wat hy konstruktieween destruktiewe gedragnoem, baie naby kom aan wat die Bybel geregtigheid en sonde noem. Sonde en skuld word egter nie deur gedragsaanpassings of ‘n veranderde ingesteldheid uit die weg geruim nie, maar deur ‘n offer, deur straf, deur die bloed van ‘n onskuldige plaasvervanger.

    Die sondeprobleem is die ernstigste probleem in die wêreld. Wat is die oorsaak daarvan dat ons ganse samelewing deur haat, grootskaalse moorde en die verval van die jong geslag in misdadigheid gekenmerk word? Dit is sonde. Waarom gaan misleide en radelose mense met hulle probleme van die een sielkundige berader na die ander en bestee al hulle geld sonder om ‘n oplossing te kry? Dit is sonde.

    Sonde vernietig mense se lewens. Dit hits een mens teen die ander aan, en ook nasies teen mekaar, sodat hulle mekaar aan die keel gryp en probeer uitwis. Steeds word daar meer vernietigende wapens vervaardig. Dit is sonde wat al die menslike pyn en lyding veroorsaak en van die lewe een groot stryd op aarde maak. Wat is sonde?

    • Sonde is ‘n oortreding van ‘n bekende wet van God – dit sluit morele én geestelike wette in (1 Joh. 3:4).
    • Sonde is om te weet wat reg is en dit nie te doen nie, of om te weet wat verkeerd is en dit nie te vermy nie (Jak. 4:17).
    • ‘n Selfgerigte, vleeslike lewe en die veragting van ander mense is sonde (Gal. 5:16-21; Spr. 14:21).
    • Ydele gesprekke is sonde (Spr. 10:19, 1 Kor. 15:33).
    • Ongeloof in God se Woord is die uitstaande sonde van hierdie eeu (Rom. 14:23).

    Die tien gebooie is die kernagtigste uiteensetting van wat God van ons verwag, asook van ons pligte teenoor God én ons medemens. Hoewel ons verstandelik tot die regverdigheid van hierdie wette instem, vind ons dit onmoontlik om dit sonder die hulp van ‘n krag buite onsself te kan onderhou. Trouens, in 2 Korinthiërs 3:9 word die wet ‘n bediening van veroordelinggenoem, omdat dit ons leer wat reg is sonder om ons die krag te gee om dit te kan onderhou.

    ‘n Ingebore probleem

    Elkeen van ons is met sonde besmet. Dit is ingebore in ons. Sonde is die mees knaende en afskuwelikste van alle probleme. Dit is ‘n ketting wat ons nie kan breek nie, en ‘n vloek waaruit ons in ons eie krag nie kan ontsnap nie. Dit is waarom God sy Seun gestuur het om vir ons sondes te sterf, sodat ons deur Hom van die heerskappy van die sonde verlos kan word.

    Ons sielkundige en antropologiese vriende kan sonde agter allerlei vae, pseudo-wetenskaplike terme en goed klinkende drogredes verberg. Hulle kan sê dat dit anti-sosiale gedrag is, oorgelewerde volkstradisies of die manifestasie van ‘n oergedrag wat in die mens se psige vasgelê is. Hulle kan verskonings daarvoor maak, dit weg verduidelik en maak of dit nie bestaan nie. Die gewete wat die mens aankla, kan toegesmeer of doodgeskroei word, maar die feit van sonde bly steeds bestaan. Sonde kan net so min deur sielkunde uitgeskakel word as wat ‘n vliegtuig met ‘n ertjieblaser (pea-shooter) afgeskiet kan word.

    Is daar geen sonde nie? As dít so is, kan mens net sowel redeneer dat daar geen nag ná die dag is, geen winter ná die somer, geen pyn, geen sorge en geen verkeerde dinge nie.

    Aangekla deur jou gewete

    Sonde is die mees klaarblyklike en voor-die-hand-liggende verskynsel op aarde. In verskeie van die statte in die Kongo was ek die eerste blanke man wat ooit daar besoek afgelê het. In plaas daarvan om vir die mense te begin preek, het ek eers hulle vertroue gewen deur met hulle te gesels. Selfs in berugte kannibaalgemeenskappe het ek gevind dat hulle die duidelikste begrip het van wat reg en verkeerd is. Hulle het nie slegs growwe sondes soos diefstal, leuens, dronkenskap, owerspel en moord veroordeel nie, maar ook sulke dinge soos hoogmoed, wraaksug, humeurigheid, misleiding, luiheid en gierigheid. Hoewel hulle nog nooit tevore ‘n sendeling gesien het nie, het hulle ‘n gewete gehad wat vir hulle gesê het wat reg en verkeerd is.

    Die oplossing vir sonde

    God het net een manier bepaal waarop daar met sonde gewerk kan word, en dit is deur die Here Jesus Christus. Daar is geen ander manier nie:

    "...en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos" (Matt. 1:21).

    "En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie" (Hand. 4:12).

    Ek het gesien hoedat duisende mense van immoraliteit, verborge onsedelikheid, begeerlikheid, dronkenskap, ‘n slegte humeur en dwelmverslawing [insluitende tabak] verlos word. Ek het gesien hoedat hulle nuwe skepsele in Christus word (2 Kor. 5:17). Ek het gesien hoedat hele gesinne in die Kongo gered word.

    Die evangelie van Jesus Christus kan die laagste, mees gevalle en vuilste slaaf van die sonde bereik, sy bande breek en hom vry maak. Dit verleen aan hom ook die krag om die sonde te oorkom waardeur hy al die jare gebind is, en maak van hom of haar ‘n skoon, gelukkige en ordentlike lid van die gemeenskap – ‘n krag ten goede vir God én vir die samelewing.

    As mense maar net wil besef dat hulle nie die meesters van hulle eie lotgevalle is nie! Hulle word deur sonde oorheers en het behoefte om verlos te word en onder die heerskappy van God te leef!

    ‘n Russiese ateïs het eenkeer vir my gesê: “Burton, ek het dikwels gesê dat ek nooit sal erken dat daar ‘n mag bokant my is wat sterker as ek is nie. Nou sê die dokter vir my dat as ek nie ophou rook nie, dit verby met my is. Ek is ‘n gedoemde man, en ek moet erken dat daardie klein sigaretjie my baas is. Ek kan nie ophou nie. Ek sal maar moet aanhou rook, ten spyte daarvan dat dit besig is om my dood te maak.”

    As daardie man maar net sy probleem aan die gekruisigde en verrese Christus oorgegee het, sou hy daar en dan verlossing gekry het.

    ‘n Getuienis van verlossing

    As daar ooit ‘n man was wat in ‘n ernstige verknorsing was, dan is dit Frank White. Hy het só verslaaf aan drank geraak dat hy sy bevordering in die vloot verbeur het. Hy het ook só onbeskof en brutaal teenoor sy vrou en kinders opgetree, dat hulle hom verlaat het. Hy het voornemens uitgespreek en skriftelike beloftes gemaak dat hy dit nooit weer sou doen nie, maar alles tevergeefs. Hy was nie die meester van homself nie en kon net so min ophou drink as wat ‘n vis kan ophou om te swem.

    Alkohol het deel van sy lewe geword en hy kon nie daarsonder leef nie. Hoe langer hy met die gewoonte voortgegaan het, hoe minder moed en krag het hy gehad om dit te weerstaan. By tye het hy van die skip af aan land gegaan en vir homself gesê: “Ek sal nie weer naby ‘n kroeg kom nie.” Ten spyte hiervan kon hy homself nie keer nie, en het sy voete feitlik vanself in die rigting van die kroeg gedraai. Hy het dan aangehou drink totdat hulle hom terug na die skip toe moes sleep.

    Op ‘n dag het ‘n jong vrou wat aan hom totaal onbekend was, aan hom ‘n traktaatjie oor bekering gegee. Hy was ‘n Rooms-Katoliek en het absoluut niks van die evangelie geweet nie. Hy het in die traktaatjie gelees hoedat die Seun van God aan die kruis gesterf het om die straf vir mense se sondes te dra, en dat Hy weer opgestaan het en leef om aan almal wat hulle vertroue in Hom stel, verlossing te skenk.

    Toe die volle implikasies van hierdie feite tot sy verduisterde verstand deurgedring het, het hy die dorp waar hy gestasioneer was, deursoek na die vrou wat die traktaatjie aan hom gegee het. Hy het haar uiteindelik raakgeloop en haar gevra waar hy meer van hierdie waarhede kon verneem. Sy het hom na ‘n klein saaltjie verwys waar dienste gehou is. White het sy lewe daar met die belydenis van sy sondes aan Christus oorgegee, en is onmiddellik van drank verlos. Hy was ‘n nuwe mens. Toe sy vrou die wonderlike verandering sien wat daar in sy lewe ingetree het, het sy na hom teruggekeer en is kort daarna self gered.

    Die gesin met hulle vier kinders het daarna gelukkig saamgeleef. White se onbesproke karakter het die goedkeuring van sy meerderes weggedra, en hy is van een senior posisie ná die ander bevorder. Selfs sy kollegas wat nie godsdienstig georiënteerd was nie, moes erken dat geen ander krag as die evangelie van Jesus Christus hom so volkome kon verlos nie.

    Wat die Here vir Frank White gedoen het, kan Hy ook vir jóú doen.

    Sonde is ‘n werklikheid en dit sal nie help om dit te probeer wegredeneer nie. Dit is veel beter om dit te erken en in die geloof op te sien na Jesus, “want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21).

    Die goddelose mense leef sorgeloos voort, en totdat die Heilige Gees hulle van hul sonde oortuig (Joh. 16:8), skep hulle behae in sonde en verleen ook hulle goedkeuring aan dié wat dit doen (Rom. 1:32).

    Wanneer ‘n sondaar egter sy skrikwekkende toestand besef, dat hy onder die toorn van ‘n God is wie se wette hy oortree het (Joh. 3:36), dan is dit vir hom kosbaar om na die skuilplek vir sondaars te vlug, naamlik die kruis van Jesus waar Hy ons sondes op Homself geneem en die straf daarvoor gedra het.

    "[Hy het] self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe" (1 Pet. 2:24).

    "Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring" (1 Pet. 3:18).

    Alle mense op aarde is sondebesmet en het behoefte aan die Here Jesus se reddende genade: “…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23).

    Van ons word dit net verwag om hierdie sondes eerlik aan die Here te bely:

    "My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe" (Ps. 32:5).

    Wat ‘n onuitspreeklike vreugde om die versekering van die Here te kry dat ons sondes vergewe is:

    "Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk" (Jes. 44:22).

    "As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word" (Ps. 130:3-4).

    Voortgesette reiniging

    Daar is baie opsigte waarin ons nog steeds sal sondig, en dit moet ook teenoor die Here bely word:

    "My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld" (1 Joh. 2:1-2).

    Moenie probeer om vergewe te voel nie. Aanvaar net hierdie wonderlike feit in eenvoudige geloof. Dank die Here dat dit ‘n afgehandelde saak is. Glo dat jy vergewe en gereinig is. Verbly jou daarin, en die laste sal van jou gewete af weggerol word. Bou jou vertroue op die beloftes in die Bybel, en moenie deur jou gevoelens gelei word nie. Ons word deur die geloof geregverdig – nie deur gevoelens nie.

    Wandel met die Here en moenie jou sensitiwiteit vir sonde verloor nie:

    "Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde" (1 Joh. 1:7).

    Die Here reinig ons voortdurend van alle sonde. Ons opdrag is om in die lig te wandel en onmiddellik enige sonde waarvan die Heilige Gees ons oortuig, te bely en te laat staan. Moenie jou sondes toesmeer en daarmee volhard nie, want dit sal verwoestende gevolge in jou lewe hê:

    "Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind" (Spr. 28:13).

    Let daarop dat sonde bely én laat staan moet word. Sommige mense bely net hulle sondes, maar hou aan om dit te doen. Wanneer draai jy in die Naam van die Here jou rug op jou sonde en aanvaar sy verlossing? Ons leef in ‘n tyd van permissiwiteit en openlike sondige gedrag. Moet dit nie as ‘n verskoning gebruik om in sonde te leef omdat jou optrede “sosiaal aanvaarbaar” is nie. Meet jouself aan God se standaard en bied ten bloede toe weerstand in die stryd teen die sonde:

    "Julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie" (Heb. 12:3-4).

  • ‘n Dooie Vormgodsdiens

    ‘n Dooie Vormgodsdiens

    Johan Malan - Afrikaanse Artikels

    Dit is nodig dat ons op die groot ontnugtering en skok sal let wat deur ‘n dooie vormgodsdiens veroorsaak word. Hier op aarde kan jy dalk daarmee wegkom, maar voor die troon van die Here, wanneer dit té laat is om jou foute en sondes reg te stel deur vergifnis en verlossing daarvoor te kry, sal dit tot jou ewige verdoemenis lei.

    Daar is twee skrifgedeeltes waarin die Here Jesus baie duidelik vir ons sê dat daar mense gaan wees wat hulleself as goeie Christene beskou, maar wat deur Hom verwerp gaan word wanneer hulle sterk daarop aanspraak sal maak om in sy koninkryk toegelaat te word. Die eerste waarskuwing oor die eindtydse gevolge van vormgodsdiens kry ons in Christus se bergpredikasie en die ander een in sy waarskuwing aan die gemeente in Laodicea. In sy bergpredikasie het Hy gesê:

    “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken... Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het... En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot” (Matt. 7:13-27).

    Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat daar twee paaie is wat na die ewigheid lei. Die een is die smal weg met die min mense daarop wat hemel toe gaan, en die ander een die populêre breë weg wat hel toe gaan. Uit die bergpredikasie is duidelik dat daar basies twee redes waarom mense op die breë weg beland. Die een is rykdom en wêreld plesier, en die ander een ‘n valse vormgodsdiens. Wat rykdom betref, gee die Here Jesus aan ons ‘n alternatief bo die versameling van aardse skatte: “Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees... Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt. 6:20-24). Jy móét ‘n keuse maak: as dit jou groot prioriteit is om verganklike wêreldse bates te versamel, dan dien jy die geldgod, Mammon, en hy sal jou aan die einde van die breë weg in sy ewige tente ontvang. Mammon verlei dus mense om deur ‘n sondige, wêreldse lewenswyse hulle siele aan hom te verkoop en daardeur die breë weg bo die smal weg te verkies.

    Daar is egter ook nog ‘n ander, baie belangrike rede waarom mense op die breë weg beland, en dit is misleiding deur valse profete. Dit is die wolwe in skaapsklere wat met ‘n onskuldige en vroom voorkoms hulle bedienings beoefen, maar van binne is hulle inhalige en roofsugtige wolwe wat net geestelike verwoestingswerk doen. Hulle werklike motief is selfverryking en selfverheerliking, daarom gebruik die duiwel hulle om ‘n misleidende vormgodsdiens aan mense op te dis. Hy gee selfs aan hulle die okkultiese vermoë om wonderwerke in die Naam van Jesus te doen, sodat naïewe kerkgangers daardeur op ‘n dwaalspoor geplaas kan word wat by die breë weg aansluit.

    Hulle aanspraak voor die troon van die Here sal wees dat hulle in sy Naam gepreek, wonderwerke gedoen en duiwels uitgedryf het. Die Here Jesus sal aan hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:23). Ons móét dus baie duidelik die feit in ag neem dat daar wél so-iets soos ‘n valse Christendom is waardeur mense mekaar salig spreek, maar die ware kruisevangelie word nie daar verkondig nie. Siele word nie in sulke kerke gered nie, want mense se lewens word nie op die Rots, Jesus Christus, gebou nie. Valse fondamente word aan hulle gebied, bv. dat ‘n goeie lewe, die uitverkiesing of ‘n wonderwerk hulle red.

    Valse evangelies van hierdie aard word net deur valse profete verkondig, wat self nog nie ‘n ontmoeting met die gekruisigde en verrese Here Jesus gehad het nie. Hy ken hulle nie as sy eie nie, al loop hulle ook in skaapsklere tussen die mense rond en preek in sy Naam. Diep binne-in hulle is die wolf-natuur van die ou lewe nog nie onttroon nie, daarom word hulle deur bedekte hebsug voortgedryf om hulle dwalings so populêr as moontlik te maak. Dit is in elk geval nie moeilik om aan gevalle, wêreldsgesinde mense lae geestelike standaarde aan te bied, en dit met die aanspraak van goddelike wonderwerke op te smuk nie. Dit is alles egter tevergeefs, want sonder ‘n ware bekering kan ons God nie behaag nie.

    Op daardie dag sal dit nie vir die valse profete help om argumente aan te bied dat hulle in die Naam van Jesus gepreek en ook tekens gedoen het nie. Die Here Jesus het hulle gewaarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” Die eerste tree om die wil van God te doen, is om waarlik tot bekering te kom. “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31).

    Het jy al God se wil gedoen deur die kruis-evangelie aan te neem en jou grondig te bekeer. Hy “wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Daar is ook ‘n tweede opsig waarin die valse profete nie God se wil doen nie, en dit is m.b.t. heiligmaking. 1 Thessalonicense 4:3 sê: “Dit is die wil van God, julle heiligmaking.” Heiligmaking stel ons voor ‘n duidelike opdrag om ons ou, sondige, wêreldsgesinde natuur oor te lewer om gekruisig te word. Die Here Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23).

    Valse predikers weet egter niks van hierdie tweede genadewerk van heiligmaking deur selfkruisiging en vervulling met die Heilige Gees nie, daarom bied hulle aan sukkelende, dikwels ongeredde naamchristene ‘n ander oplossing vir hulle probleme, naamlik duiwel-uitdrywing. Een ná die ander bevrydingsbediening word gestig om mense van demoniese besetenheid te verlos, terwyl die meeste van hulle bloot net onder die mag van die vlees, of sondige natuur, van die mens is. Duiwels word geïdentifiseer, bv. ‘n vraatsug-duiwel, ‘n wellus-duiwel, ‘n gedlgierigheid-duiwel, ‘n baklei-duiwel, ‘n lieg-duiwel, ‘n skinder-duiwel, ‘n steel-duiwel, ens. Die duiwel word dan uitgedryf om aan die persoon oorwinning oor sy sondes en probleme te gee.

    Dit help hom egter niks nie, omdat die sondige natuur waarmee hy gebore is, nog nie in ‘n volle oorgawe afgelê is sodat hy met die nuwe natuur beklee kan word wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid nie (Ef. 4:22-24). Hierdie soort van duiwel-uitdrywing wat deur valse profete gedoen word, gaan ook nie hulle kanse versterk om deur die Here Jesus aanvaar te word nie. Dit sal eerder hulle oordeel groter maak omdat hulle nie die volle waarheid van die kruis-evangelie, asook die Bybelse leer van heiligmaking, aan mense verkondig het nie. Hulle én hulle misleide volgelinge sal voor die groot wit troon verdelg word wanneer die storm van God se eindoordeel oor hulle losbars. Soos die man wie se huis – dalk uiterlik ‘n baie mooi huis – op sand gebou is, sal hulle sekerlik vergaan omdat die fondament van bekering in hulle lewe ontbreek.

    Dit sal nie help om in die Naam van die Here Jesus ‘n Christelike gemeente of ander bediening te bedryf sonder om mense op ‘n Bybelse manier tot bekering te lei, en ook aan hulle die leer oor heiligmaking te verkondig nie. Wanneer ‘n sondaar voor die kruis kniel en Jesus as sy Verlosser aanneem, dan word die werke van die duiwel in sy lewe verbreek. Daarna moet hy deur die vervulling met die Heilige Gees ook volle oorwinning oor die hartstogte en begeerlikhede van die vlees kry, asook oor die versoekings van die duiwel.

    Indien die stap van heiligmaking nie deur weergebore Christene geneem word nie, het hulle nie die geestelike krag om teen versoekings en vleeslike luste te oorwin nie, en ook nie die geestelike insig om al die subtiele dwalings van valse leraars te kan onderskei nie. As gevolg hiervan beland baie van hulle op die dwaalweg van misleiding, en raak sommige van hulle die slagoffer van wêreldgesindheid, materialisme, buite-egtelike verhoudings, of watter ander sonde ook al.

    Behalwe die vormgodsdienstiges wat deur die Here weggewys gaan word, gaan daar ook baie vleeslike Christene met leë hande voor Hom verskyn, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Die Here Jesus het ons om goeie redes gewaarsku toe Hy gesê het: “Pas op dat niemand julle mislei nie... Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:4,24). Sorg dat jy nie saam met hulle weggewys word nie.

    Die selfregverdiging van Laodicea

    ‘n Baie duidelike geval van dooie vormgodsdiens word deur die Here Jesus aangespreek in sy brief aan die Laodicense: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie" (Op. 3:16-17). Laodicea is die enigste van die sewe gemeentes in Openbaring wat geen enkele woord van goedkeuring van die Here ontvang het waarin Hy sekere werke of eienskappe van hulle prys nie. Hulle was uiters walglik vir Hom, soos lou water in die mond. Hulle selfgesentreerdheid, materialisme en humanistiese vormgodsdiens was afstootlik vir die Here, en Hy het Homself daarvan gedistansieer deur hulle uit sy mond te spuug.

    Die lou, selfvoldane, selfgesentreerde en geestelik bankrot gemeente van Laodicéa is kenmerkend van die kerk van die 20ste eeu, en as sodanig verteenwoordig dit die laaste periode in die kerkgeskiedenis. ‘n Sorgwekkende toestand heers in dié geestelik afgestompte gemeente. “Laodicea” beteken “menseregte.” As gevolg van hulle humanistiese oriëntasie het hulle ‘n horisontale ingesteldheid op menseregte. Die mens-God-verhouding ontvang bykans geen klem nie omdat die mens in die humanistiese filosofie die oppergesag het en die bepaler van sy eie lotgevalle is. Dit is waarom hy vir homself die reg opeis om die Bybel as ‘n onvolmaakte en menslike boek te beskryf en openlike twyfel oor Jesus se maagdelike geboorte, sy godheid, sy opstanding en sy persoonlike wederkoms uit te spreek.

    Tevrede met slegs ‘n uiterlike gedaante van godsaligheid gaan die gemeente van Laodicea voort op die weg van vormgodsdiens, en is nie eers bewus van sy geestelike armoede nie: “Jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.” Ten spyte van al die welvaart en goed georganiseerde aktiwiteite word Christus nie werklik geken of gedien nie. Sy Naam word wél gebruik, maar daar eindig dit ook. Van só ‘n stelsel van mensgemaakte godsdiens wat op intellektuele argumente, morele beredenering en uiterlike vertoon ingestel is, onttrek die Here Jesus Homself en Hy sê ook duidelik waarom Hy dit doen.

    Die voorspoedsteologie van Laodicea, op grond waarvan hulle sê: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie,” is op selfregverdiging en ‘n gemaklike aardse lewe ingestel, maar word deur geestelike bankrotskap gekenmerk. Die prediking deur ewe materialistiese en selfvoldane leraars is slegs daarop gerig om mense se gehoor te streel (2 Tim. 4:3-4).

    Die gevolg hiervan is dat die jong geslag deur ‘n Laodicese gees bemeester word. Binne hierdie teologiese raamwerk is die kwessie van sonde irrelevant omdat die begeertes van die eie-ek die botoon oor die bepalings van die Bybel voer. Die god van hierdie wêreld, Mammon, swaai die septer oor die vervalle kerk van Laodicea wat deur die Here Jesus uit sy mond gespuug is. Mammon mislei die moderne geslag om rykdom, populariteit, sukses en ‘n wêreldse selfbeeld na te streef. In hierdie leefwyse is daar plek vir arrogante selfverheerliking, roem op jou eie prestasie, asook vrye teuels aan vleeslike begeerlikhede na drank en al die ander dinge van die wêreld.

    Die selfvoldane en selfvergenoegde mens erken nie geredelik sy afhanklikheid van God nie en buig nie maklik die knie voor Hom nie. Die kerk as instituut staan in die diens van die mens om die samelewing nóg meer humanisties te hervorm, met die gevolg dat daar in die totale opset net ‘n gedaante van godsaligheid oorbly.

    Die kloof tussen die menseregte-ideologie en die evangelie is onoorbrugbaar. Die humanisme gaan van die standpunt uit dat die mens inherent goed is en slegs deur sy uiterlike omstandighede benadeel kan word. Die evangelie van Jesus Christus stel dit duidelik dat alle mense geestelik bedorwe en van nature sondaars is. Hulle moet deur die wedergeboorte innerlik verander word voordat hulle kinders van God genoem kan word. Hierdie beskrywing van die mens as ‘n sondaar is vir die humaniste totaal onaanvaarbaar, en hulle beskou dit as ‘n belediging.

    Laodicéa beeld die rasionele, agnostiese en selfregverdigende mens uit. Hy redeneer alles met sy verstand uit, gevolglik bestaan sy godsdiens net uit uiterlike kennis van die Bybel. Die werklike geloofsaanvaarding van die Here se beloftes oor wedergeboorte en heiligmaking ken hy nie, en doen alles in sy vermoë om dit teologies weg te redeneer. Hierdie ingesteldheid lei tot ‘n naamchristendom en kerke wat hulleself volgens menslike kriteria evalueer en op grond hiervan as baie goed beskou. Dit is egter ‘n ernstige vorm van selfmisleiding omdat hulle nie werklik aan die Here behoort nie. Wanneer hulle wél agterkom dat daar nog iets skort, neem hulle hul toevlug tot kerklike ritusse soos die doop en Nagmaal, asook sielkundige berading en selfs hipnose, om oplossings te soek. Hierdeur dryf hulle ál hoe verder van die Here af weg, omdat daar geen plaasvervanger vir ware geloof is nie (Heb. 4:2; 10:38; 11:6).

    As gevolg van sy selfgesentreerdheid en ingesteldheid op wêreldse kwessies, is die eindtydse kerk geestelik bankrot en profeties uitsigloos. Die wegraping van die bruidsgemeente sal dus vir sy teoloë, leraars en lidmate as ‘n geweldige skok kom wat nie sonder ‘n diepgaande herwaardering van Bybelse feite verklaar sal kan word nie. Geseënd is hulle wat wél vir antwoorde na die Bybel toe gaan en hulle saak met die Here regmaak. Die ander sal op die weg van misleiding voortgaan en tot hulle eie ondergang ‘n verbond met die Antichris sluit.

  • ‘n Messias vir Alle Gelowe

    ‘n Messias vir Alle Gelowe

    Johan Malan - Afrikaanse Artikels

    “En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering... en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?... Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid” (Op. 13:1-8).

    Johannes stel dit baie duidelik dat daar in die eindtyd ‘n dramatiese en wêreldwye openbaring van die twee groot koninkryke sal wees wat tans nog op ‘n verborge wyse uit die geestelike sfeer optree. Die koninkryk van God sal sigbaar geopenbaar word wanneer Jesus Christus ten aanskoue van alle mense na die aarde terugkeer om sy vyande te oordeel en sy koninkryk op aarde te vestig. Johannes sê: “Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien” (Op. 1:7). In hoofstuk 19 sê hy dat Jesus as die Koning van die konings terugkom aarde toe en dat Hy daarna die nasies met ‘n ysterstaf sal regeer.

    Die opponerende koninkryk van die duisternis gaan voor die tyd egter ook ‘n dramatiese en sigbare verskyning maak wanneer die Antichris, wat deur Johannes die dier genoem word, as wêreldleier en valse wêreldmessias op die toneel sal verskyn. Satan sal hom sy krag gee en sy troon en groot mag. Aan die begin van sy regering sal hy al sy sataniese misleidingskrag inspan om die nasies te oortuig dat hy die beloofde messias en vredemaker is waarvoor almal van hulle gewag het. Hy sal met sy bose doelstelling slaag, want ons lees dat die aanhangers van alle gelowe hom as hulle wêreldmessias sal navolg en aanbid.

    In die lig van hierdie feite is dit duidelik dat die wêreld onwrikbaar af op ‘n multigodsdienstige bedeling afstuur waarin alle volke onder die oorhoofse leierskap van die Antichris geestelik verenig sal word. Hulle sal openlike bewondering vir die dier koester omdat hy die verdeelde mensdom in samewerking met die valse profeet sal verenig en sodoende, ten minste tydelik, die belangrikste konflikte in die wêreld sal oplos. Sy beleid sal die einddoelwit wees van ‘n gees van wêreldeenheid wat al ‘n geruime tyd werksaam is om mense se oortuigings te verander en die aanvaarding van ‘n nuwe wêreldorde van globalisme, of internasionalisme, op alle lewensterreine moontlik te maak – veral ook op godsdienstige gebied.

    Verwikkelinge in die kontemporêre wêreld lewer bewys van hierdie transformasieproses in mense se denke en oortuigings. Die afgelope aantal jare is veral gekenmerk deur ‘n sterker wordende stroom van multigodsdienstige denke wat deur vooraanstaande politieke en godsdiensleiers bevorder word. Dit alleen is ‘n duidelike bewys dat die verskyning van die Antichris voor die deur is. Ek noem aan u ‘n paar belangrikste voorbeelde van hierdie intergeloofsekumene, want hulle berei almal die weg vir die komende wêreldmessias voor:

    In Christelike kringe is daar ‘n groot aantal postmoderne teoloë wat saam die grondslag lê vir die opkomende kerk van die 21ste eeu. Dié kerk staan in Engels as die emerging church bekend, en word as die produk van ‘n nuwe hervorming gesien. In hierdie moderne, sogenaamde verligte kerk word daar nie alleen ekumeniese brûe tussen die verskillende Christelike kerke gebou nie, maar ook tussen die Christendom en die nie-Christelike gelowe. Hulle gaan openlik van die standpunt uit dat die Christendom nie regtig so uniek is as wat ons gedink het nie, omdat ons volgens hulle die universele God van alle gelowe aanbid. Hierdie gemeenskaplike Skeppergod staan in ander gelowe net onder ander name bekend.

    Die aanname word verder gemaak dat aangesien ons almal dieselfde God aanbid wat Homself deur alle gelowe aan die mensdom geopenbaar het, ons nou saam op die openbaring van die gemeenskaplike messias van alle gelowe wag. Dit is dié wêreldmessias waarvan ons in Openbaring 13 gelees het, wat inderdaad universeel aanvaar en ook aanbid sal word. Onder sy leiding sal alle gelowe hande vat en saamwerk.

    Die Here Jesus staan egter in die pad van hierdie eenheid, omdat Hy bokant al die afgode verhewe is. As gevolg hiervan ontneem ekumeniste Jesus Christus sy verhewe posisie as God en Seun van God, en ook sy maagdelike geboorte wat die bewys is dat Hy nie deur ‘n sondige mens verwek is nie. Daar word van Jesus net ‘n gewone, menslike profeet gemaak wat op dieselfde vlak as die messiasse van ander gelowe geplaas word, bv. Krisjna, Boeddha en ander. Hulle word nou as gelykwaardige gesante van God gesien wat in verskillende tye van die geskiedenis almal wegbereiders was vir die eindtydse  wêreldmessias wat ‘n Utopia op aarde sal inlui.

    Daar is baie Christelike kerke wat reeds so ver van ‘n Bybelse geloof afvallig geraak het dat hulle ‘n Jesussal aanvaar wat nie maagdelik gebore is en ook nie die Seun van God is nie. Die Antichris sal hulle taal praat en aan al hulle verwagtings voldoen. Hy sal uit die aarde opkom en ‘n aardse koninkryk aan almal bied. Hierdie ander Jesus wat in die liberale, opkomende kerk verkondig word, is baie duidelik die valse christus van die eindtyd, naamlik die Antichris. Hy sal aanvanklik as ‘n vredevors sy verskyning maak en alle nasies en gelowe mislei om te dink dat hy ‘n spesiale gesant van God is wat gekom het om vrede op aarde te bring. Daar sal dus gekyk moet word hoedat die aanhangers van alle ander gelowe geestelik voorberei word om ‘n wêreldmessias te ontvang. Ons kyk eers na Israel omdat Jerusalem een van die fokuspunte van die Antichris se optrede sal wees.

    Verskeie ortodokse Joodse leiers is in dieselfde web van multigodsdienstige denke vasgevang. Op 13 Oktober 2004, ná byna tweeduisend jaar, is daar weer ‘n Sanhedrin in moderne Israel saamgestel. Hierdie liggaam het egter beperkte magte en word net deur ortodokse Jode erken. Die nuwe Sanhedrin bestaan uit 71 vooraanstaande rabbi’s en ander Joodse geleerdes. Hierdie raad bespreek onder andere die moontlikheid om die tempel te herbou. Die opspraakwekkende nuus vanaf die Sanhedrin uit Jerusalem, is dat die derde tempel ‘n huis van gebed sal wees vir alle gelowe wat bereid is om te erken dat daar net een God is, ongeag wat hulle hom noem. Islam word spesifiek ook hierby ingesluit. Die Here se woorde in Jesaja 56:7 word as regverdiging vir hierdie ekumeniese standpunt aangehaal: “...want my huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke.” Dié stelling word natuurlik verkeerdelik op ‘n multigodsdienstige manier vertolk om erkenning aan alle gelowe op aarde te gee.

    Daar is ‘n Joodse webtuiste wat die idee van “God se heilige berg” vir alle gelowe aktief bevorder, naamlik www.godsholymountain.org. Volgens hierdie Jode se huidige beplanning sal die tempeldiens met godsdienstige aktiwiteite in nabygeleë moskees en Rooms-Katolieke aanbiddingsplekke verenig word. Die uitvoerende direkteur van die Tempelinstituut, Jehuda Glick, sê dat daar op die koms van die Messias gewag word, want net Hy kan aan Israel toestemming verleen om die tempel te bou. Die Sanhedrin erken glad nie die huidige demokratiese regering van Israel nie, en het dit vir hulleself ten doel gestel om vir die land ‘n koning te kies. Dit plaas hierdie ortodokse leiers op ‘n gevaarlike pad, omdat die valse messias homself as ‘n afstammeling van koning Dawid sal voordoen en op Israel se koninklike troon aanspraak sal maak. Dit bevestig ‘n profesie van die Here Jesus, waarin Hy 2000 jaar gelede al aangedui het dat Israel ‘n baie groot oordeelsfout sal begaan deur die verkeerde messias te aanvaar. Hy het gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

    Israel stuur baie duidelik af op ‘n verbond met ‘n valse messias. Hulle sal egter meen dat dit die ware Messias is, omdat hy tot Israel se redding sal kom in ‘n groot oorlog, én ook aan hulle die reg sal gee om die tempel te herbou. Die Sanhedrin hou die tempelprojek voor as ‘n sleutel tot wêreldvrede, daarom het die Raad vroeg in 2007 briewe aan alle regerings geskryf waarin hulle sê dat die wêreld op ‘n rampspoedige koers is. Hulle stel voor dat die tempel na aanleiding van Jesaja 2:2-4 in Jerusalem herbou word sodat God se teenwoordigheid weer ervaar kan word om vrede op aarde te verseker. Volgens hierdie profesie sal die wet van die Here vanaf Jerusalem na die hele wêreld uitgaan, die nasies sal dit erken en eerbiedig, en dit sal daartoe lei dat hulle van hul swaarde pikke sal smee en van hul spiese snoeimesse. Hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.

    Die groot fout wat moderne Joodse godsdiensleiers maak, is om die derde tempel as ‘n aanbiddingsplek vir alle gelowe te sien, en dus ook hulle beloofde Messias met al die ander godsdienste te deel. Dit is die “ander messias” waarteen die Here Jesus hulle gewaarsku het.

    Dieselfde oordeelsfout word deur leiers van die ander groot godsdienste gemaak. Moslems verwag ook die wederkoms van Jesus om ‘n vrederyk op aarde te vestig. In die Koran word daar dikwels na Jesus verwys, maar nooit na sy godheid of die betekenis van sy kruisdood nie. Hy word slegs as die seun van Maria beskryf, en daar word beweer dat Mohammed die Trooster is wat Jesus vir die tydperk ná sy eie bediening op aarde beloof het. Daar word verwag dat die Moslems se Jesus na die aarde sal terugkeer en apokaliptiese oorloë saam met ‘n Moslem-profeet, die Imam Mahdi, sal voer om sy vyande te onderwerp en die wêreld te Islamiseer. ‘n Scenario van hierdie aard is baie moontlik tydens die Antichris se bewind, want hy sal in die eerste helfte van die verdrukking daarin slaag om nie net die misleide Christene, misleide Sioniste, en Islam, as sustergodsdienste te vestig nie, maar ook alle ander gelowe. Almal sal hande vat.

    Die Hindoes glo ook in die verskyning van ‘n wêreldmessias wat as Krisjna en ook as Jesus bekend staan. Hoewel die Hindoes nie monoteïsties is nie, het hulle drie gode wat bo al die ander uitstaan – dit is Brahma, Vishnu en Siva. Brahma word as die Skeppergod beskou. Vishnu word as verlosser aanbid en is tweede in rang ná Brahma. Derdens is daar Siva, wat met reproduksie en vrugbaarheid verbind word.

    Een van die besondere meesters, of avatars, in Hindoeïsme is Krisjna, wat die agtste inkarnasie van die god Vishnu was. Daar word beweer dat Jesus ‘n inkarnasie van Krisjna was en ‘n baie soortgelyke lewe gelei het. Die verwagting word gekoester dat daar ‘n nuwe inkarnasie sal wees van die avatar wat in verskillende historiese tydperke as Vishnu, Krisjna en Jesus bekend gestaan het. Enige van dié name kan vir hom gebruik word, maar hy sal ook as die Kalki Avatar, of die Wit Perd Avatar, bekend staan omdat hy op ‘n wit perd sal ry. Kalki Avatar sal die finale oorwinning oor boosheid op aarde behaal sodat alle negatiewe ondervindings sal ophou. Onder sy bewind sal daar vrede en eenheid op aarde wees.

    Daar is op die internet ‘n artikel geplaas: Jesus as a reincarnation of Krishna (www.near-death.com/). Hierin word beweer dat daar ‘n groot ooreenstemming tussen Jesus en Krisjna is, en dit word as ‘n bewys aangevoer waarom Jesus as ‘n inkarnasie van Krisjna beskou moet word. Dit wat die eindtydse Krisjna sal doen, naamlik om Jesus na te boots en te beweer dat hy ‘n nuwe inkarnasie van Jesus is, is presies wat die Antichris sal doen. Met die oog hierop het Jesus oor die tyd kort voor sy wederkoms gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! En hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5).

    Die Boeddhiste glo in Boeddha, wat Die Verligte Een beteken. Die eerste Boeddha, Gautama, het sowat 500 jaar voor Christus geleef. Daar word beweer dat hy ‘n soortgelyke lewe as dié van Jesus gelei het en ook in ‘n stryd met ‘n duiwelsfiguur gewikkel was. Boeddhiste kyk vooruit na ‘n tydperk van vrede, harmonie en voorspoed wanneer die vyfde Boeddha, dit is die Maitreya Boeddha, sal verskyn om oor die hele wêreld te heers. Vier Boeddhas het reeds verskyn, en wanneer die vyfde een kom, sal daar na verwagting ‘n koninkryk van geregtigheid en vrede onder sy heerskappy ingestel word.

    Die huidige menslike geslag sal volgens Boeddhiste aanhou om te versleg terwyl onreg, wreedheid en vleeslike begeertes toeneem en geregtigheid verdwyn. Hierdie verval sal vir 2500 jaar, vanaf die tyd van die eerste Boeddha, voortduur totdat die vyfde Boeddha kom. Daarna sal daar oral volmaakte geregtigheid heers. In die toekomstige “goue eeu” sal  daar nie moord, diefstal, owerspel, dronkenskap en armoede wees nie, en mense sal nie meer in modderhutte woon nie. ‘n Toestand van hemel op aarde sal dan heers.

    In die Boeddhistiese eskatologie word daar aan Maitreya Boeddha ook ander titels toegeskryf, waarvan “die Christus” een van die belangrikste is. Die leier van een van die Boeddhistiese organisasies in Engeland, Bejamin Crème, het ‘n boek geskryf met die titel: The Reappearance of the Christ and the Masters of Wisdom. Hierin sê hy dat daar spoedig ‘n wêreldmessias op die toneel sal verskyn in wie die messiaanse verwagtings van al die groot godsdienste vervul sal word. Vir die Boeddhiste sal hy die Maitreya Boeddha wees, vir die Hindoes Krisjna, vir die Jode die Messias, vir die Christene Jesus Christus en vir die Moslems die Imam Mahdi of Jesus.

    Die misleiding van ‘n wêreldmessias wat homself onder andere ook Jesus sal noem, is inderdaad besig om oor die hele wêreld te versprei. Dit sluit ook die Sjintoïste in Japan in. In ‘n boek, Messiah, the desire of all nations, sê E.A. Gordon dat die idee in Japan en Sjina posvat dat daar ‘n noue verband tussen Boeddhisme, Sjintoïsme en die Christendom is. Die skrywer kom tot die gevolgtrekking dat dié gelowe basies dieselfde is, maar net op verskillende maniere manifesteer. Almal verkondig geestelike ontwaking, selfdissipline, eenvoud van lewe, liefde, en die ontwikkeling van goeie eienskappe. In een van die Sjinto-tempels is selfs ‘n beeld van Jesus Christus, en in ‘n ander een ‘n beeld van die god Susa-no-o wat met Jahweh van die Bybel verbind word. Hulle is dus oop vir die idee van ‘n universele Christus van alle gelowe wat die wêreld in ‘n vrederyk sal inlei.

    Intussen doen vooraanstaande maar afvallige Christen-teoloë oral in die wêreld hulle bes om Jesus van sy godheid te stroop en van Hom net ‘n gewone profeet te maak wat op dieselfde vlak as die ander gelowe se meesters van wysheid funksioneer. Om dit te kan doen, ontken hulle alle verwysings na bonatuurlike aspekte van Jesus se geboorte, openbare optrede, opstanding en hemelvaart. Hulle ontken absoluut sy maagdelike geboorte en sê dat dit nie wetenskaplik is om in so ‘n mite te glo nie. Hulle sien Hom dus nie as die volmaakte Lam van God wat deur die Heilige Gees verwek is nie. Hulle is ook baie sterk gekant teen die geloof in  sy liggaamlike opstanding uit die dood. Ander verklarings word vir sy wonderwerke gegee. ‘n Pretoriase teoloog het ‘n boek geskryf, The Life of a Galilean Shaman: Jesus of Nazareth in anthropological perspective, waarin Jesus binne die verband van ‘n primitiewe kultuur as ‘n waarsêer en tradisionele geneser voorgestel word, m.a.w. ‘n toordokter, wat sy voorvadergeeste geraadpleeg, duiwels uitgedryf en siekes gesond gemaak het. ‘n Ander teoloog in Pretoria het ‘n boek geskryf, Fatherless in Galilee, waarin Jesus as ‘n buite-egtelike kind voorgestel word wat sonder ‘n pa grootgeword het en oor ‘n hemelse vader gefantaseer het. Daar was maar min reaksie van die verwerping van hierdie lasterlike bewerings.

    Uit die aard van die saak glo afvallige teoloë ook nie meer in die uniekheid, foutloosheid en goddelike inspirasie van die Bybel nie. Hulle huiwer dus nie om dit te vergeestelik en te verdraai net soos dit hulle pas nie. Toe daar aan een van hulle gevra is wat hy van Johannes 14:6 dink, waar Jesus sê dat net Hy die weg, die waarheid en die lewe is en niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie, was sy reaksie: “Hierdie vers is óf verkeerd vertaal, óf Jesus was verkeerd toe Hy hierdie stelling gemaak het, want daar is beslis baie ander gode in die wêreld deur wie ‘n mens tot God kan nader.” Vir hulle is Jesus een van baie meesters van wysheid, en hulle meen dat Hy ‘n gesamentlike rol het om saam met ander bekende meesters soos Mohammed, Boeddha en Krisjna te speel.

    Jesus is volgens hierdie teoloë nie ‘n unieke God-mens wat ver bo al die gode van die heidennasies verhewe is nie. Vir hulle het Hy aanvullend tot al die ander gelowe opgetree, en saam vorm hierdie gelowe ‘n groter geheel van God se openbarings aan die mensdom. Die Bybel praat wél van so ‘n valse Christus wat deur alle gelowe aanbid sal word. Hy word as die Antichris of die dier beskryf, en hy sal namens alle gelowe optree om die mensdom te verenig en in harmonie te laat saamleef. Wanneer hy sy sataniese vorm van eenheid gevestig het en die hele wêreld hom hiervoor sal bewonder, sal hy tot die volgende stap oorgaan om almal te dwing om hom, én sy vader Lucifer, te aanbid: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk?” (Op. 13:3-4).

    Wat ‘n futiele oefening sal dit nie wees nie! Die verenigde mensdom sal nog sê: “Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle... en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). In die middel van die verdrukking sal die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar, met woede op sy teëstanders toeslaan en ook ‘n militêre diktatuur instel. Weiering om hom en sy beeld te aanbid en ook sy nommer te ontvang, sal volgens Openbaring 13:15 met die dood strafbaar wees.

    Die skrikbewind van die dier en die draak sal van korte duur wees, want wanneer die ware Christus kom, sal hulle albei verdelg word. Johannes sê: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Op. 19:19-20). Die duiwel sal direk daarna vir duisend jaar lank in ‘n put gebind word (Op. 20:1-3). Dit is die tragiese uiteinde van almal wat ‘n ander Jesus onder die leiding van ‘n vreemde god aanbid het.

    Is daar nog getroue predikers wat sal opstaan om die misleide massas teen die koms van die Antichris te waarsku? Baie van die eindtydse predikers is daarvoor verantwoordelik dat die maagde in die kerk dwaas optree en in die middernaguur van die kerkdispensasie aan die slaap raak. Die rede hiervoor is omdat hulle profeties uitsigloos is en geen begrip het vir die donker tyd waarop die wêreld afstuur nie. Hulle is onbewus van die feit dat hulle én hulle lidmate se lampe leeg geraak het van die olie van die Heilige Gees, en dat hulle weens ‘n gebrek aan genoeg lig uit God se Woord maklik mislei kan word. ‘n Grondige selfondersoek en verootmoediging is nodig om hierdie probleem reg te stel. Die kanse is egter gering dat dit oor ‘n breë front sal gebeur, want die algemene neiging is weg van die Here en sy Woord af.

    In hierdie geestelike skemerwêreld word die Here nie werklik voor oë gehou nie en dus ook nie die koms van Christus as die Bruidegom en die hemelse roeping van die ware kerk nie. In die plek daarvan word ‘n humanistiese teologie ontwikkel waarin die mens se aardse belange sentraal staan. Die gevolg hiervan is dat hulle op die vestiging van ‘n aardse koninkryk nog voor die wederkoms van die Here Jesus ingestel is. Kerke én verskillende gelowe werk saam om ‘n nuwe wêreldorde van politieke, godsdienstige én ekonomiese eenheid in te stel. In hulle koorsagtige pogings om die hele wêreld in ‘n beter plek te transformeer, wyk hulle grootliks van Bybelse beginsels af en bied sodoende aan die Antichris die geleentheid om die beweging vir sy eie doel te kaap.

    Die drome van koninkryksteoloë gaan op ‘n misleidende wyse ‘n werklikheid word wanneer die Antichris ná die wegraping op die toneel verskyn as ‘n vredevors en ruiter op ‘n wit perd. Hy sal daarin slaag om die wêreld én alle gelowe te verenig deur almal te oorreed om sy leierskap te aanvaar en hom te aanbid. Die voorbereidings vir hierdie komende bedeling word in die Bybel die groot afval van die laaste dae genoem. Paulus sê: “Eers moet afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word... sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4).

    Laat ons egter in hierdie tyd van afvalligheid en toetsing aan die ware Christus getrou bly sodat ons waardig geag sal word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36). Ons moet onder die leiding van die Heilige Gees as teëhouers teen die verderflike gees van die Antichris optree, want kan hy nie geopenbaar word solank sy teëhouer nog hier is nie. Wanneer die ware kerk egter weg is, sal daar niemand wees wat skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag nie. Dan sal die uur van duisternis aanbreek en die mens van sonde geopenbaar word.

    Hoe sal u onthou word wanneer u plek hier op aarde skielik leeg is? Het u nie dalk baiekeer nagelaat om van die Here Jesus te getuig en ander te waarsku teen die toorn wat aan die kom is nie? (1 Thess. 1:10). Daar sal ongelukkig Christene wees wat net aan hulleself gedink het en met leë hande voor die regterstoel van Christus sal verskyn. Ons moet seker maak dat ons nie onder hulle sal wees nie, want almal van ons het die opdrag om getuies te wees van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Weldra sal die kerkbedeling verby wees, dan sal die tyd van rekenskap aanbreek.

  • ‘n Ware Verhouding met God

    ‘n Ware Verhouding met God
    - Iemand  wat met God wandel

    Tiener Bybelstudie Reeks

    Hierdie reeks studies hoef nie in volgorde bestudeer te word nie, dit volg nie op mekaar nie buiten vir die studies wat ‘n deel 1 en 2 het. Soek al die teksverse in jou Bybel op. Dis belangrik om die teksverse te lees om te sien wat in die Bybel staan aangaandie die onderwerp. Dit sal jou ook help om jou Bybel beter te leerken.

    ‘n Voorbeeld uit die Bybel

    Lees: Gen 5:23-24

    In hierdie bogenoemde kort verse lees ons tussen ‘n klomp name van ‘n merkwaardige man. Die bybel beskryf henog soos volg:

    • ‘n Man wat met God gewandel het.(Gen. 5:22)
      (dit was net van Henog en Noag gesê)
    • ‘n Man wat God behaag het. (Heb.11:5)
    • n Man wat die dood nie gesien het nie. (Gen. 5:22 en Heb.11:5)

    Dit is merkwaardig dat in ‘n tyd van absolute goddeloosheid het ons ‘n man gevind, soos Henog, wat gekies het om met God te wandel.

    WAT BETEKEN DIT OM MET GOD TE WANDEL?
    OM SO ‘N VERHOUDING MET GOD TE HE?

    IS DIT MOONTLIK?

    Jy moet ‘n definitiewe, persoonlike, innerlike kommunikasie hê met die Here en bewus wees van Sy teenwoordigheid. Hierdie nabye gemeenskap met die Here het hom ‘n lewe laat lei, voor God en die mense, wat God so behaag het!!

    Hoe bly ons in pas as ons met God wil wandel?

    • Jy moet met die Here versoen word. God pas nie by jou aan nie! Jy moet by God aanpas!

    Versoen beteken: om nie langer in vyandskap (of vyande) met mekaar te wees nie – om weer vriende te maak.
    Versoening beteken: om te verander van vyand wees na vriend wees.

    Hoe doen ons dit? (Ps 119:105; Joh. 5:39; 2 Tim. 3:16)

    • Ons het gebed nodig om ins verhouding met die Here te onderhou. Sonder kommunikasie sal enige verhouding dit nie maak nie.
    • Ons moet onsself assosieer met hulle wat ook op Die Weg is. Dis hoekom ons nie die onderlinge byeenkomste moet afskeep soos sommige die gewoonte het nie (Heb. 10:25).
    • Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander.” (Spr. 27:17)
      Dis die manier wat ons groei in ons geestelike lewe.

    Wat is die voordele van so ‘n wandel?

    • Dis Daar sal ‘n toename wees in heiligmaking. ‘n Mens kan nie saam met ‘n heilige God wandel sonder om nie verander te word nie. – Om soos Jesus te word, elke dag ‘n verandering...
    • Daar sal ‘n toename wees in die kennis van God. Henog sou ‘n groter waardering gehad het vir God se natuur, ‘n groter vreugde geput het uit Sy volmaaktheid en ‘n groter besorgdheid vir Sy glorie en heerlikehid.
    • Daar sal ‘n diep besef van vreugde en vrede wees. “The joy of the Lord is my strength!”
    • Dit sal Sy beskerming vir jou verseker. "Want met U loop ek ‘n bende storm, met my God spring ek oor ‘n muur." (2 Sam 22:30) 
    • Dit sal jou aanspoor om ernstig met mense te praat oor hulle siele. Ons moet eers naby die Here wandel voor ons die reg het om namens Hom te praat.

    Vraag:

    Wandel jy met die Here?

    Maak jy vordering in jou wandel?

    Wat hou jou terug?

     

    Tiener Bybelstudie Reeks:

    Het jy ‘n Nuwe Lewe

    Hoekom is Bekering nodig?

    Krisisse - How to handle the ‘curve balls’ in Life...?!?

    Secret Ingredient van Verhoudings

    The Bible for Dummies Deel 1

    The Bible for Dummies Deel 2

    The Bible for Dummies Deel 3

    The Good, the Bad and the Ugly Relationships

    Test Your Love Relationship

    Wie is God...?

     

    Hierdie studies is saamgestel deur Just Africa Mission NPC
    Kopiereg: Voel vry om hierdie studie af te laai en te gebruik of te versprei mits daar niks aan verander word nie en erkenning gegee word aan www.jam.org.za.

  • 1. Die Drie-enige God

    Die Drie-enige God

    Die God van die Bybel is ‘n Drie-enige God – God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Hulle bestaan al drie van alle ewigheid af, want die Vader het die wêreld deur die Seun gemaak (Heb. 1:2). Johannes beskryf die pre-geïnkarneerde Seun as die Logos, of die Woord, wat van die begin af bestaan (Joh. 1:1). Hy was nie net by God nie, maar was self ook God. Die derde Persoon is die “ewige Gees” (Heb. 9:14), wat ook as God ‘n ewige selfbestaan het.

    Die drie Persone in die Godheid word só deur Johannes beskryf: “Daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Al drie Persone kan as Here (Heb. Jahweh; Gr. Kurios) en God (Heb. Elohim; Gr. Theos) beskryf en aangespreek word. Paulus het vir Jesus op die pad na Damaskus as Here aangespreek (Hand. 9:5), en ook na Hom as God verwys (Rom. 9:5).

    Die eerste naam vir God wat in die Bybel gebruik word, is Elohim. Hierdie naamwoord word in Hebreeus beide in die enkelvoud én in die meervoudsvorm gebruik, dus dui dit daarop dat die Godheid meervoudig is, maar tóg ‘n saamgestelde eenheid vorm. Dit is drie persone, Vader, Seun en Heilige Gees, wat saam een, ewige God is. Hierdie begrip blyk duidelik uit die persoonlike voornaamwoorde wat vir Elohim gebruik word. In verband met die skepping van die mens word daar gesê: “Laat Onsmense maak na onsbeeld, na onsgelykenis… En God het die mens geskape na sybeeld; na die beeld van God het Hyhom geskape; man en vrou het Hyhulle geskape” (Gen. 1:26-27). Die Drie-enige God kan tereg sê: “Laat Onsmense maak,” en dan daarna: “man en vrou het Hyhulle geskape.”

    Die feit van die Here Jesus se ewige godheid en selfbestaan word in ‘n baie bekende geloofsbelydenis verloën: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en aarde, en in Jesus Christus sy eniggebore Seun...” Die indruk word hierdeur geskep dat God die Vader alleen was toe Hy die aarde geskape het, en dat Jesus eers veel later gegenereer en “as mens” gebore is. Beoordeel hierdie verkeerde indruk in die lig van Heb. 1:1-2; Joh. 1:1-3,10,14; 1 Kor. 8:6; Ef. 3:9 en Kol. 1:16-17.

    God as Skepper

    Die Drie-enige God (Heb. Elohim) het Homself in die Ou Testament (OT) in die eerste plek as die Skepper geopenbaar van alles wat bestaan (Gen. 1:1–2:3).

    God het skeppingskrag in Homself. Deur net ‘n woord te spreek, het Hy alles in aansyn geroep (Ps. 33:6; Heb. 11:3; 2 Pet. 3:5). In Gen. 1 lees ons telkens: “En God het gesê...” So ook is daar in die evangeliewoord ‘n dinamiese krag om ons lewens te herskep (Rom. 1:16).

    Die aanvanklike skepping (Gen. 1:1-2) het geëindig in ‘n situasie waarin die aarde woes, leeg en in duisternis gehul was. Die Here het nie die aarde geskape om woes en onbewoon te wees nie (Jes. 45:18), daarom is dit duidelik dat verwoestingswerk van ‘n groot omvang in die skepping aangerig is. Die enigste Bybelse verklaring hiervoor is die uitwerping van Lucifer uit die hemel (Jes. 14:12-17; Eseg. 28:12-17; Op. 12:3-4). Die aarde was vir ‘n ongespesifiseerde tydperk in ‘n woeste toestand.

    In die daaropvolgende skeppingswerke van die Here het Hy orde in reeds bestaande materie gebring en alle lewensvorme (plante, diere en die mens) volgens hulle soorte geskape. Die mens is nie deel van die natuurlike skepping nie, maar uniek in dié sin dat net die mens na die beeld van God geskape is, en ook die opdrag gekry het om oor die natuurlike skepping te heers (Gen. 1:27-31; Ps. 8:4-9).

    Die skepping lewer getuienis van die feit dat daar ‘n intelligente Skepper is wat alles gemaak het (Ps. 19:2; Jes. 37:16). Sy ewige krag en goddelikheid blyk uit die werke van sy hande (Rom. 1:20). Dit is onmoontlik dat daar sonder God ‘n ordelike skepping kon ontstaan.

    Deur die evolusieteorie word God as Skepper verloën, en word die mens se bestaan aan ‘n natuurlike, evolusionêre ontwikkelingslyn deur die diereryk gekoppel (Rom. 1:23). Mense wat aan hierdie leuen glo, word dwaas in hulle harte (Rom. 1:21-22). Die dwaling van die verwerping van God as Skepper kan ook tot ateïsme lei, en sulke mense het geen absolute geestelike en morele norme in hulle lewe nie (Ps. 14:1).

    Name van God

    God (Heb. Elohim of in verkorte vorm El; Gr. Theos) – Gen. 1:1; 17:1; Rom. 1:1.

    Here (OT) en Here (NT) (Heb. Jahweh; Gr. Kurios) – Gen. 4:1; Matt. 1:20. Die naam Jahweh word dikwels aan sekere werkwoorde of naamwoorde gekoppel om attribute van die Here te beklemtoon, bv. Jahweh-jireh (die Here sal voorsien), Jahweh-nissi (die Here is my banier) en Jahweh-shalom (die Here is vrede).

    Here (Heb. Adonai; Gr. Kurios) – Gen. 18:27; 2 Pet. 2:9.

    Here Here (Heb. Adonai Jahweh) – Gen. 15:2.

    Here [jou] God (Heb. Jahweh Elohim; Gr. Kurios Theos) – Ex. 20:2; Matt. 22:37.

    Ek Is – Ex. 3:14; Joh. 8:58.

    Almagtige God (Heb. El-Shaddai; Gr. Theos Pantokrator) – Gen. 17:1; Op. 16:14.

    Ewige God – Deut. 33:27.

    Die lewende God – Jos. 3:10.

    Here God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde – Gen. 14:22.

    Die God van die hemel – Jona. 1:9.

    Die God van Abraham, Isak en Jakob – Ex. 3:6; Hand. 3:13.

    Die Heilige van Israel – Jes. 43:3.

    Here van die leërskare – Jes. 1:24.

    Die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God – 1 Tim. 1:17.

    Enigste Heerser, Koning van die konings en Here van die here – 1 Tim. 6:15.

    Jahweh en Adonai

    Omdat die oorspronklike Hebreeuse teks van die OT net uit konsonante bestaan, is Jahweh slegs as JHWH geskryf en in ‘n stadium verkeerdelik as “Jehowah” uitgespreek. Die regte uitspraak is Jahweh. In ‘n letterlike navolging van die derde gebod (“Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydelik gebruik nie”) gebruik ortodokse Jode meesal net die naam Adonai. In die OT het slegs die Hoëpriester een maal per jaar, wanneer hy die Allerheiligste betree het om versoening vir die volk se sondes te doen, die Naam Jahweh gebruik. Daar word egter nie oneer aan die Here gedoen as sy Naam in gesprekke, preke en gebede met eerbied gebruik word wanneer ons na Hom verwys of met Hom praat nie. Die ydele  gebruik van sy Naam is wanneer mense dit op ‘n lasterlike wyse as ‘n uitroep van verbasing of ontsteltenis gebruik. Sodoende minag hulle die Here en maak van sy heilige Naam ‘n vloekwoord. Hulle sal nie ongestraf bly nie.

    Natuurlike attribute van God

    God is onvergelyklik (2 Sam. 7:22), onsigbaar (Joh. 1:18), ondeurgrondelik (Jes. 40:28), onveranderlik (Num. 23:19), sonder gelyke (Jes. 40:13-25), onnaspeurlik (Rom. 11:33-34), oneindig (1 Kon. 8:27), ewig (Jes. 57:15), almagtig (Jer. 32:17,27), alomteenwoordig (Ps. 139:7-12), en alwetend wat die verlede, hede én toekoms betref (Hand. 15:18; 1 Joh. 3:20; Jes. 48:3-5).

    Morele attribute van God

    Liefde (1 Joh. 4:8,16), heiligheid (1 Pet. 1:15; Op. 4:8), goedheid en goedertierenheid (Ex. 34:6; Ps. 31:20; 52:3; 145:8-9), geregtigheid (Ps. 89:15), haat sonde en ongeregtigheid (Ps. 5:5-7, 45:8; Heb. 1:9), onpartydigheid (Hand. 10:34-35; 1 Pet. 1:17), barmhartigheid (Ex. 20:6; Jes. 55:7), genade (Rom. 3:23-24; 2 Kor. 9:8) waarheid (Joh. 14:6, 17:17) en toorn (Ps. 2:5,12; 21:10; Op. 6:15-17).

    Gelykvormigheid aan God se beeld

    In Génesis 1:26 sê die Drie-enige God: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” In hierdie woorde waarmee die Skepper die Bybelse geskiedenis van die mens begin, het ons die openbaring van die ewige doel waaraan die mens sy bestaan te danke het, en ook die heerlike, ewige toekoms waarvoor hy bestem is. Die Here het besluit om ‘n wese te maak wat sy beeld en gelykenis sal wees. Toe sonde ingekom en die mens uit sy hoë roeping verval het, het God nie sy doel met hom laat vaar nie. Dit was met hierdie doel in gedagte dat die Vader die Seun na die aarde toe gestuur het as die uitdruklike beeld van Homself. In Hom is die God-gelykvormigheid waarvoor ons geskape is, en wat ons persoonlik moet aanneem om dit ons eie te maak.

    Ons kan net soos God word met betrekking tot sy morele attribute soos liefde en heiligheid, maar nie met betrekking tot sy natuurlike attribute nie, want ons is nie gode nie. Die sentrale gedagte van God se openbaring aan Israel én die kerk is: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44; 1 Pet. 1:15-16). Die skeppingsdoel met die mens kan slegs bereik word as ons die sonde afsterf deur aan die dood van Christus gelykvormig te word, en daarna deur die werking van die Heilige Gees ook aan sy opstandingslewe gelykvormig te word (Rom. 6:5). Deur geloof in Christus se kruisdood kan ons die sondige natuur van die eerste Adam aflê en ons met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:22-24). Christus is die tweede Adam, en net Hy alleen kan aan die mensdom die goddelike lewe teruggee waartoe ons geroep is, maar wat ons deur die sondeval verloor het.

    Persoonlike toewyding

    Ek herbevestig my geloof in die Drie-enige God. Die grote God van die hemel en die aarde het Homself in drie Persone aan my geopenbaar, daarom kan ek getuig van die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees (2 Kor. 13:13). Ek stel myself ten doel om God in al sy wonderlike hoedanighede beter te leer ken, sodat sy beeld wat deur die sondeval in mense se lewens verbreek is, ten volle in my herstel kan word. God het nie net deur Jesus Christus die aarde geskape nie, maar Hom ook as ‘n versoening vir ons sondes na die wêreld gestuur sodat alle gevalle sondaars deur Hom herskep kan word. Watter hoop het daar nie vir die wêreld gekom nie dat in dié mense se lewens waar daar vroeër duisternis en wanorde was, die lig van die Here se teenwoordigheid kan opgaan om alles nuut te maak! Ek wy myself opnuut aan die opdrag om die goeie boodskap van die evangelie van Jesus Christus aan verlore sondaars uit te dra, sodat hulle uit die dood na die lewe kan oorgaan.

     

    Vrae

    1.    Hoe word ons in 1 Joh. 5 aan die Drie-enige God voorgestel?

    2.    Van wanneer af bestaan die Here Jesus as God en as mens?

    3.    In watter opsig is die evolusieleer ‘n aanval op God?

    4.    Noem vyf name vir God en verduidelik die betekenisse daarvan.

    5.    Noem en verduidelik drie natuurlike en drie morele attribute van God.

     

    Prof. Johan Malan

  • 1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe

    Studies in Christelike Heiligheid

    Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)

    Opsomming:Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.

    1.    Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe

    Sleutelteks

    "Die God en Vader van onse Here Jesus Christus… het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees" (Ef. 1:3-4).

    Sentrale waarheid

    Die Bybel leer ons duidelik dat God van sy kinders verwag om heilig te wees.

    Les

    1 Petrus 1:13-25

                13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.

                14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.

                15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,

                16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

                17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;

                18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,

                19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

                20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

                21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

                22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;

                23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

                24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,

                25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

    Uiteensetting van die Les

    Inleiding

    Heiligheid is ‘n onderwerp wat dikwels deur té veel Christene vermy word. Om een of ander rede is dit vir baie mense ongemaklik om daaroor te praat om heilig te wees. Ons het skynbaar min probleme om heiligheid aan God toe te skryf wanneer ons sing: “Heilig, heilig, heilig, Here God, Almagtig...” Wanneer ons egter die oorgang moet maak om oor die heiligheid van ons eie lewens te praat, stel ons dikwels ‘n karikatuur daarvan voor wat nie vir een van ons aanvaarbaar is nie – ‘n skynheilige persoon wat “heiliger-as-jy” is (holier-than-thou). Die Here Jesus het duidelik hierdie soort lewenstyl wat deur die skrifgeleerdes en Fariseërs beoefen is, verwerp.

    In plaas hiervan roep God ons tot ‘n lewe van ware heiligheid. Charles Spurgeon het gesê dat “heiligheid die argiteksplan is wat God gebruik om sy lewende tempel te bou.” Dit is ‘n beeldende opsomming van die onderrig wat Petrus in sy brief oor die belangrike onderwerp van heiligheid gee. Daar is ‘n groot behoefte aan mans en vroue, jongmense en kinders in ons samelewing wat heilige lewens lei.

    1. Ondersteun deur die natuur van God (1 Petrus 1:13-16)

    Daarom, omgord die lendene van julle verstand (v. 13). Ware heiligheid begin by die behoorlike voorbereiding van ons verstand. Ons moet die inisiatief neem om ons verstand en gemoed voor te berei, want dit moet heilig wees as ons begeer dat ons gedrag heilig moet wees. “Want soos [‘n mens] in sy siel bereken, so is hy” (Spr. 23:7). Paulus se onderrig is ook dat ons die dinge moet bedink wat waar, eerbaar, regverdig, rein, lieflik en loflik is (Fil. 4:8). Die woord wat as nugtervertaal is, het die betekenis van om “bestendig” of “besadig” te wees. Dit is belangrik dat ons verstand en gemoed onder die bestendige beheer van die Heilige Gees sal wees. Hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. ‘n Deel van die voorbereidings vir heiligheid is om die lewe van hoop te leef. Baie Christene faal hierin deurdat hulle neig om negatief, pessimisties, veroordelend en selfs fatalisties te wees. Dit behoort nie so te wees nie! Deur ons geloof in Christus het ons ‘n lewende hoop. Die oorwinning is verseker! Die lewe met Jesus Christus is ‘n eindelose hoop, terwyl dit sonder Hom ‘n hopelose einde het.

    Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie (v. 14). Gehoorsaamheid is ‘n grondbeginsel van die Christelike lewe. As ons dissipels van Jesus wil wees, moet ons onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg (Mark. 8:34). Jesus sê dat die persoon wat Hom waarlik liefhet, dié een is wat sy gebooie bewaar (Joh. 14:21). As ons aan Hom gehoorsaam is, sal ons nie ons lewens volgens ons vorige begeerlikhede inrig nie. Hierdie “natuurlike begeertes” bied wel vervulling, maar uiteindelik bring dit ontnugtering en die dood voort. Omdat die hartstogte en begeerlikhede van die vlees in stryd met die lewe van die Gees is, is hulle deel van die gevalle wêreld wat lynreg in stryd met God se doel vir ons én vir die hele skepping is.

    Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook heilig word (v. 15). Daar is slegs een wat volkome heilig is. Volgens Petrus is dit Hy wat ons geroep het. Hy is die ware bron van heiligheid. As ons heilig wil wees, moet ons Hom ken, liefhê en gehoorsaam. Ons moet met Hom wandel. Die essensie van ware heiligheid bestaan uit gelykvormigheid aan die natuur en wil van God.

    Omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig (v. 16). Dit is ‘n direkte aanhaling uit Levitikus 11:44. Die Ou Testamentiese begrip van heiligheid is om rein en afgeskeie van die sonde te wees. Die Griekse woord wat Petrus hier gebruik, beteken ook om sonder sonde te wees, en onberispelik of vry van onreinheid. Die oproep hier is duidelik. Ons moet heilig wees in alles wat ons doen. Ons moet meer en meer soos die Here Jesus word en leef soos wat Hy leef. God verlang daarna om aan ons ‘n rein hart te skenk, net so seker as wat ‘n fisiese hart vir ‘n oorplanting aan iemand geskenk kan word. D.L. Moody het gesê: ”Dit is baie beter om ‘n heilige lewe te leef as om net daaroor te praat. Ligtorings lui nie klokke en skiet ook nie kanonskote af om die aandag daarop te vestig dat hulle skyn nie – hulle skyn net.” Die stil skoonheid van ‘n heilige lewe is, naas die krag van die Heilige Gees, die sterkste invloed in die wêreld.

    2. Geborge in die verlossingsprogram (1 Petrus 1:17-21)

    Wandel in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap (v. 17). Petrus herinner ons daaraan dat ons soos vreemdelinge en bywoners moet leef. Ons hoogste roeping is om ons primêre lojaliteit aan die Koning van die konings te betoon. Hierdie aarde is slegs ‘n tydelike woonplek vir ons, omdat ons burgerskap in die ewige koninkryk van God is. Drie keer in sy brief herinner Petrus ons aan God se rol as regter. Ons word ingelig dat die Here sonder aanneming van die persoon oordeel. Met dit in gedagte, moet ons in eerbied en vrees leef. Dit is die soort vrees wat in Handelinge 2:43 beskryf word. Ons moet in die voortdurende erkenning leef van wie God is en wie ons is.

    Omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge… losgekoop is nie (v. 18). Ons is nie vrygekoop deur die futiele gedrag en tradisies wat van ons vaders geërf is nie. Een geslag kan slegs tydelike dinge aan die volgende geslag nalaat. Ons kom sonder iets in die wêreld in en sal ook sonder iets weer die wêreld verlaat. Petrus sê dat selfs goud en silwer uiteindelik sal vergaan. Ten beste is hierdie dinge ydel en verganklik. Dit verskaf ‘n valse sin van sekuriteit. Ons is van ‘n ydele lewenswandel verlos wat net op die dinge van hierdie lewe ingestel is. Ons verlossing is nie deur tydelike dinge gekoop nie.

    Maar deur die kosbare bloed van Christus (v. 19). Ons is vrygekoop deur die kosbare bloed van Christus, die vlekkelose Lam van God. Hy is die vervulling van die paaslam wat sonder gebrek en vlekkeloos moes wees – die heel beste uit die kudde. Johannes die Doper het Jesus só voorgestel: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Ons redding en heiligheid is inderdaad met die ewige gekoop, met dit wat so kosbaar is dat al die verganklike goud en silwer van die wêreld dit nie kan koop nie – die dood en opstanding van Jesus Christus.

    Wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld (v. 20). Jesus het nie sy bloed per ongeluk aan die kruis gestort nie, ook nie as gevolg van ‘n gruwelike fout wat deur haatdraende en sondige mense begaan is nie. Sy dood en die stort van sy bloed was van die begin van die wêreld af deel van God se plan. Paulus bevestig hierdie wonderlike waarheid oor ons verlossing wanneer hy sê dat God die Vader ons in Christus “uitverkies [het] voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Ef. 1:4). Hoewel Jesus voor die grondlegging van die wêreld verkies is om ons redder te wees, is Hy slegs in hierdie laaste tye as die Verlosser geopenbaar. Die profete het na die Verlosser gesoek, maar in God se volmaakte plan is Hy eers eeue later in Jesus Christus geopenbaar. Petrus sê Hy het verskyn vir diegene wat deur Hom in God sou glo. Hierdie Verlosser is die bron van ons redding en heiligmaking.

    Julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het (v. 21). Deur Jesus Christus glo ons in God. Die evangelieboodskap van Johannes 3:16 is deur geloof in Jesus in ons lewens vervul. Dit is die God wat Jesus Christus uit die dode opgewek het. Die lering oor die opstanding van Christus beklee ‘n sentrale plek in die boodskap van Petrus. Dit was prominent in sy preek op Pinksterdag nadat hy met die Heilige Gees vervul is (Hand. 2:31), en is ook die fokus van sy onderrig in hierdie brief: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1 Pet. 1:3). Die diepste begrip vir die opstanding van Jesus Christus het plaasgevind op Pinksterdag toe Petrus met die Heilige Gees vervul is, soos wat Jesus ook beloof het. Hy was toe in staat om in die krag van die verrese Christus te preek. Die God wat Jesus uit die dood opgewek het, is dieselfde God waarin ons glo. Sy krag is elke dag tot ons beskikking terwyl ons ons vertroue in Jesus stel en die Heilige Gees toelaat om in en deur ons te leef. God het ook heerlikheid aan Christus gegee. Die begrip “heerlikheid” kan ook as “aanbidding” vertaal word. Dit is presies hoe ons teenoor die Here Jesus behoort te leef – ons moet eer, lof, aanbidding en heerlikheid aan Hom bring.

    3. Ontdek in die Verlossingsplan (1 Petrus 1:22-25)

    As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het (v. 22). Liefde is sentraal in ‘n Christelike lewenstyl, want dit is die essensie en karakter van God self (1 Joh. 4:8). Ons liefde moet ongeveinsd wees, en dus suiwer en sonder enige huigelary. Ons moet opreg liefhê – soos God self. Ek kan net vurig liefhê uit ‘n rein hart.Petrus verwys hier na die hartsreiniging wat ons deur die kosbare bloed van die Lam kan verkry – Hy wat sonder gebrek en vlekkeloos is. As ons opreg wil liefhê, moet ons van ons sondes gereinig word deur Jesus Christus. Ons moet dood wees vir onsself en lewend vir God. Ons moet hierdie onvoorwaardelike liefde van God af ontvang sodat ons dit teenoor ander kan uitleef.

    Julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike (v. 23). Petrus sê dat die vermoë om God opreg, vurig en uit ‘n rein hart lief te hê, uit die noodsaaklike en wonderlike ervaring van wedergeboorte voortspruit. Vroeër in hoofstuk 1 het Petrus oor ons erfenis geskryf wat onbesmet en onverwelklik is (v. 3, 4). Dit alles is deur die opstanding van Jesus Christus moontlik gemaak.

    Alle vlees is soos gras (v, 24, 25). Om hierdie punt te illustreer, haal Petrus Jesaja 40:6-8 aan en sê dat alle vlees soos gras is… die gras verdor en sy blom val af. In teenstelling hiermee bly die woord van die Here tot in ewigheid. Vroeër is dit ook reeds gestel dat “die lewende woord van God tot in ewigheid bly” (v. 23). Die Woord van God sal tot in ewigheid stand hou, so ook liefde en heiligheid. Ons moet nie hieroor verbaas wees nie want God is liefde, God is ewig en God is heilig. Liefde en heiligheid bestaan dus ook vir ewig. Die liefde vergaan nooit nie (1 Kor. 13:8). Die liefde bly vir altyd (1 Kor. 13:13). Dit is liefde uit ‘n rein hart wat in heiligheid bevestig is, wat vir altyd sal bestaan.

    Kommentaar oor die Sleutelteks

    Die God en Vader van onse Here Jesus Christus… het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Ef. 1:3-4).

    Ons alwetende God kan nie verras word nie. Voordat die mens in sonde geval het, het God reeds ‘n volledige plan vir sy verlossing uitgewerk. Dit moes slegs in werking gestel word toe die tyd ryp was. Dit is soos wat ‘n argitek die konsep van ‘n gebou op papier vaslê in die vorm van ‘n bloudruk waarin al die besonderhede aangedui word, nog voordat die struktuur self bestaan. Net so het God ook elke detail van die mens wat Hy sou skape, insluitende sy volmaakte verlossingsplan, ten volle beplan. Nog voor die grondlegging van die wêreld het Hy gereël dat sy eniggebore Seun ‘n offer sou word – die volmaakte versoening vir die sonde van die mens. Die verlossingsplan is nie ‘n vinnige idee wat later eers deur God bedink is om ‘n skielike negatiewe ontwikkeling waarmee Hy onkant gevang is, te hanteer nie. Dit is ‘n volmaakte meesterplan deur ‘n alwyse en almagtige God.

    Hy het ons uitverkies. “Die verkiesing en die keuse van God is nie willekeurig sodat sommige vir saligheid en andere vir die verderf bestem is sonder inagneming van die ingesteldheid van die individu nie. Die aanbod van redding word aan alle mense gemaak, soos wat die Bybel dit duidelik stel (Joh. 3:16; Rom. 10:13). Die uitverkorenes word dus nie deur ‘n absolute raadsbesluit bepaal nie, maar deur die aanvaarding van die voorwaardes van God se roeping” (Beacon Bible Comm.). Net soos wat Noag gevra het om genade [guns] in die oë van die Here te vind, en dit ook verkry het, kan jy en ek dit ook doen. Jesus het gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Petrus het die volgende kosbare woorde neergeskryf: “Die Here… wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9).

    Heilig en sonder gebrek. “Heiligheid en vervolmaking is die einddoel met God se uitverkiesende liefde… God kan geen siel vir verlossing verkies sonder heiligheid nie… Die verkiesing is vir heiligheid. So lank as wat ‘n persoon die sonde liefhet en heiligheid haat, het hy geen bevestiging vir enige verkiesing nie… God red niemand sonder dat Hy hom ook heilig maak nie” (Pulpit Comm.).

    Heilig. In Efésiërs 1:1 word na die gemeentelede as “heiliges” verwys. Hierdie woord kom dikwels in die Bybel voor. In Efésiërs 1:4 is God se oproep tot heiligheid ook baie duidelik.

    Sonder gebrek.Die begrip “sonder gebrek” (Ef. 1:4; 1 Pet. 1:19; Kol. 1:22; Judas 1:24; Op. 14: 5) word ook vertaal as “sonder vlek” (Ef. 5:27) en “sonder smet” (Heb. 9:14). Die volmaaktheid wat hier vereis word, sou sekerlik die sterflike mens oorweldig het as dit nie was vir die verdienste van Christus se gestorte bloed nie. Deur daardie offer is ons bevoorreg om deelgenote van God se wonderlike genade te wees. Christus het die keuse van heiligheid in die hemel vír ons gemaak. Stem jy in met hierdie keuse wat vir jou gemaak is?

    Leerstellige Bespreking

    Net soos wat die fondament die belangrikste deel van ‘n fisiese gebou is, is dit ook die geval met ‘n geestelike gebou. Eersgenoemde kan nie op sand gebou word nie, want dan sal dit val. Net so ook kan die geestelike gebou nie op enige ander fondament as God gebou word nie, deur die voorsiening van die God-mens, ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Die bloudruk vir ons heiligheid is aan die natuur van God self ontleen. Die Here Jesus is die verbindingskakel wat die gevalle mens in staat stel om herstel te word tot “heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Die Heilige Gees is die doeltreffende bouer en veilige interpreteerder van die bloudruk [die Bybel] omdat Hy ook God is!

    Net soos wat die Nuwe Testament dit stel dat “God is liefde” (1 Joh. 4:8), so konstateer die Ou Testament dat God heilig is (Lev. 11:45).

    Wat is heiligheid in die Ou Testament? Dit is die onveranderlike natuur van God wat die volle voorstelling van die somtotaal van sy volmaakte karaktertrekke is. Heiligheid in die Here is die toestand waarin ons geen morele onvolmaaktheid in die hele natuur van God vind nie. Liefde is heiligheid in aksie. Uit hierdie handelinge blyk die totale morele volmaaktheid en objektiwiteit in dié groot liefde. Dit is vanselfsprekend dat só ‘n goddelike wese die mensdom kan skape én herstel na die toestand van afgeleide heiligheid wat ons op grond van ons verhouding tot God het.

    “Die geskiedenis van die woord heiligheid in die Ou Testament vertoon die geleidelike oorgang van die idee van afsondering af na dié van heiligheid. Dit volg ‘n koers waarin die kwantitatiewe idee van onthouding verander na die kwalitatiewe idee van aktiewe en absolute reinheid. Godsdienstigheid word eties sodat dit nie alleen meer godsdienstig kan word nie, maar die één godsdiens vir die gewete én vir die wêreld. Die een God kan slegs die heilige God wees” (Exploring Christian Holiness, Vol. 1).

    Aangesien die Ou Testament die Nuwe Testament in verborge vorm is, en die Nuwe Testament die Ou Testament in sy geopenbaarde vorm, kan ons verwag om ‘n duideliker prentjie van die grondslag van heiligheid in die Nuwe Testament te kry. Dit is presies wat ons kry!

    Ons hoef nie verder as Mattheus 3:11 te gaan om ‘n ondervinding te kry wat verder as die doop van Johannes die Doper gaan nie. Sy doop was dieselfde as wat die dissipels voor Pinksterdag gehad het. Jesus het self gesê dat hulle name in die hemel opgeskryf is (Luk. 10:20). Daardie ondervinding van bekering vorm die grondslag vir inisiële heiligheid, wat verder opgehelder word deur die stelling oor die toekomstige doop met die Heilige Gees en met vuur. Geen persoon moet die eerste werk van genade geringskat om die ander een hoër aan te slaan nie. Die tweede werk van genade is gebaseer op die feit dat die eerste een werk!

    In die belangrike bergpredikasie is ‘n verdere grondslag vir heiligheid gelê toe Jesus gesê het: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matt. 5:8). Daar is geen manier waarop ons die eenvoudige teenwoordige tyd kan vermy, waardeur aangedui word dat daardie mense dié reinheid nóú moet besit nie! Die gevolg daarvan kan ook nie betwyfel word nie! Ons glo die impak van: “…hulle sal God sien” het nie slegs ‘n toekomstige verwysing nie, maar is ook die versekering dat ons Hom nou sal sien en met Hom wandel. Die grondslag vir heiligheid word dwarsdeur die Nuwe Testament aangetref.

    In Handelinge 2 word die historiese oorsprong van die vervulling met die Heilige Gees bespreek. Dwarsdeur hierdie boek is die ondervindings van mense opgeteken wat die vervulling van hierdie belofte in hulle lewens ervaar het.

    Romeine 6 toon duidelik aan dat heiligheid deel van God se plan vir ons lewens is. Romeine 12:1-2 dui ook aan dat daar ‘n duidelike basis is vir ‘n huidige ondervinding van heiligmaking vir mense wat reeds “broeders” is.

    Die “meer uitnemende weg” van 1 Korinthiërs 13 is ‘n lewe van suiwer liefde wat die Korinthiërs vroeër nog nie geken het nie. Enigeen wat daardie karaktertrekke het, ondervind beslis ‘n lewe wat met die Heilige Gees vervul is.

    Dit is ‘n moeilike taak om met die grondslae van ‘n tweede werk van genade, of heiligmaking, weg te doen wanneer al die woorde in ag geneem word waardeur aangedui word wat met mense gebeur wat heiligmaking ervaar. Die volgende is ‘n paar van hierdie woorde, asook hulle betekenisse: Romeine 6:6 gebruik ‘n Griekse woord wat aandui dat die liggaam van sonde tot niet gemaakmoet word. In 2 Korinthiërs 7:1 tref ons mense aan wat vermaan word om hulleself van alle besoedeling van die vlees en die gees te reinig. Ook in Handelinge 15:9 word aangedui dat die dissipels se harte op Pinksterdag gereinigis. In Hebreërs 12:14 word ‘n lewe van heiligmaking beskryf. Dit is vanselfsprekend dat ‘n mens eers die ondervinding van heiligmaking moet hê voordat jy ‘n lewe van heiligmaking kan lei. Paulus bid dat die Efésiërs vervul sal word tot al die volheid van God (Ef. 3:19). Die Thessalonicense word tot volkome heiligmaking opgeroep: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23). Here

    Vrae en Antwoorde

    Hierdie les behandel die grondbeginsels van ‘n heilige lewe, met besondere verwysing na 1 Petrus 1:13-25. Om die Bybelse basis vir heiligmaking verder na te speur, kan die volgende vrae oorweeg word, saam met die voorgestelde antwoorde:

    1. Wat sê die Bybel In Génesis 1:26-27 oor die skepping van die mens?

    God het die mens na sy eie beeld geskape en die lewe in hom geblaas.

    2. Hoe is die vrou volgens Génesis 2:21-22 geskape?

    God het Adam aan die slaap gemaak, ‘n rib uit sy sy geneem en die eerste vrou gemaak.

    3. As die man en die vrou na die beeld van God geskape is, hoe is God dan?

    a. Ewig (Ps. 90:2; Jes. 40:28; Deut. 33:27).

    b. Goed, goedertieren en ontfermend (Ex. 33:19; Ps. 100:5; 145:7; Rom. 11:22).

    c. Barmhartig en genadig (Ex. 34:6, 2 Kron. 30:9; Ps. 86:15; 103:8).

    d. Heilig (Lev. 11:44; 19:2; Jes. 6:3; 1 Pet. 1:16).

    e. Regverdig (Jes. 45:21; Ps. 89:15; 1 Pet. 3:18; Op. 15:3).

    f.   Lankmoedig (Ex. 34:6; 2 Pet. 3:9).

    g. Liefde (1 Joh. 4:7-10).

    h. Almagtig (Matt. 28:18; Rom. 13:1; Ef. 1:19).

    i.   Alomteenwoordig (Ps. 139:7-12).

    j.   Alwetend (Ps. 1:6; 44:22; 94:11; 1 Joh. 3:20).

    k. Waar (Joh. 7:28; 14:6; 17:17).

    4. Die mens het ná die skepping ‘n harmonieuse, volmaakte, geestelike verhouding met God gehad. Hoe het sonde in die wêreld ingekom?

    God het Adam en Eva verbied om van die boom in die middel van die Tuin van Eden te eet. Indien hulle dit wél sou doen, sou hulle fisies én geestelik sterf (kyk Gen. 3:3). Hulle is deur die slang [Satan] verlei om God se gebod te verbreek en van die vrugte te eet (Gen. 3:6). Sonde het as gevolg hiervan in die menslike geslag ingekom (kyk Rom. 5:12).

    5. Wat is sommige van die name vir die natuurlike geneigdheid tot sonde waarmee alle mense gebore word?

    Ingebore sonde, ‘n wortel van bitterheid (Heb. 12:15), die vlees (Rom. 8:7; Gal 5:17), vyandskap teen God (Rom. 8:7), die liggaam van hierdie dood (Rom. 7:24), die oue mens (Ef. 4:22), ‘n oorvloed van boosheid (Jak. 1:21), die natuurlike mens (1 Kor. 2:14), vleeslikheid, oorgeërfde verdorwenheid, die Adamiese natuur, en ander.

    6. Aangesien mense met ‘n sondige natuur gebore is, hoe kan ‘n regte verhouding met God verkry word?

    a. Deur die dood en opstanding van Jesus Christus (Rom. 5:8-11; Joh. 11:25-26).

    b. Besef dat jy ‘n sondaar is (Rom. 3:23; Jes. 53:6).

    c. Besef dat Jesus vir jou gesterf het (Joh. 3:16; Rom. 5:8; 1 Joh. 4:9).

    d. Besef dat God jou wil vergewe (1 Joh. 1:9; Joh. 6:37).

    e. Bely en laat staan jou sondes (1 Joh. 1:9; Spr. 28:13).

    f.  Glo dat jy vergewe is (Joh. 3:15; Hand. 16:31).

    Let daarop dat verlossing die vergifnis van dade van sonde is wat jy gedoen het. ‘n Persoon van wie die sonde vergewe is, het nog steeds ‘n natuurlike geneigdheid tot sonde. Dit is die vleeslikheid, of oue mens, waarna vroeër verwys is. Die vleeslikheid kan ontwortel word deur volkome heiligmaking waarvoor daar ook aan die kruis van die Here Jesus voorsiening gemaak is (Heb. 13:12). Volkome heiligmaking stel ons in staat om heilig voor God én die mense te leef.

    7. Wat beteken dit om heilig te wees?

    Dit beteken om geestelik volkome en suiwer te wees, en afgesonder vir die diens van die Here. Dit is ‘n toestand van ons morele en geestelike natuur wat ons soos Jesus maak, omdat ons aan sy morele en geestelike natuur gelykvormig word.

    8. Is dit vir ons nodig om volkome geheilig te wees? Is dit noodsaaklik om heilige lewens in die teenwoordige wêreld te leef?

    Die antwoord is: Ja! Neem die volgende skrifgedeeltes as basis vir hierdie antwoord: Gen. 17:1; Lev. 11:44-45; Ps. 24:3-4; Jes. 6:3-5; Matt. 5:8; Luk. 1:74-75; Joh. 17:17; 2 Kor. 7:1; 1 Thess. 4:3, 7; 5:23; Heb. 12:14; 1 Pet. 1:15-16.

    Die Bybel maak dit baie duidelik dat God ‘n heilige God is. Hy woon in ‘n heilige hemel en verdra nie sonde, of enige neiging tot sonde nie. Ons moet ons sondes vergewe kry en ons harte van enige neiging tot sonde laat reinig sodat ons heilige lewens voor God én die mense kan lei ten einde in die ewigheid saam met die Here in die hemel te kan wees. Ja, die Bybel leer onteenseglik dat heilige lewens ‘n móét is om ‘n heilige God tevrede te stel!

    HEILIGHEID…

    Dit word gesien in oortuiging, begin in wedergeboorte, volmaak in volkome heiligmaking, en gekroon in die koninkryk van heerlikheid.

    Dit is die vyand van die duiwels, die vriend van die heiliges, die metgesel van die engele en die gawe uit die hemel.

    Dit is die bron van Christus se liefde, die saad van sy geboorte, die verhewendheid van sy lewe, die sterkte van sy gehoorsaamheid, die bevrediging van sy dood, die gees van sy opstanding, die skoonheid van sy hemelvaart en die sekerheid van sy wederkoms.

    Dit is die fontein van geloof, die glans van hoop, die kleed van geregtigheid, die pad van reinheid en die lig van liefde.

    Dit is opgeteken in die geskiedenis, dit sal die weerklank van die ewigheid wees, dit is gehul in goddelike misterie en gegee in ‘n oomblik van tyd.                                    – Herald of Holiness

    Inhoud

    1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe

    2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe

    3. Die Betekenis van Heiligmaking

    4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe

    5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe

    6. Hoe om Geheilig te Word

    7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe

    8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk

    9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms

    10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe

    11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings

    12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid

    13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid

  • 10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe

    Studies in Christelike Heiligheid

    Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)

    Opsomming:Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.

    10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe

    Sleutelteks

    "Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring" (2 Kor. 7:1).

    Sentrale waarheid

    Heiligheid van hart berei ‘n mens voor om rein en heilig in ‘n onrein wêreld te leef.

    Les

    2 Korinthërs 6:14-18

                14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?

                15 En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?

                16 Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

                17 Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;

                18 en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.

    1 Johannes 2:15-17

                15 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.

                16 Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

                17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

    1 Timótheus 2:8-10

                8 Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.

                9 So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie,

                10 maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke.

    Uiteensetting van die Les

    Inleiding

    Die verskil tussen die gelowige en die ongelowige, die regverdige en die bose, die heilige en die onheilige, die godvresende en die wêreldsgesinde, is meer as blote name. Die verskil is basies dié van teenoorgestelde en antagonistiese nature.

    Geregtigheid of heiligheid is die wesenlike natuur van God. Dit wat regverdig en heilig is, is in harmonie met die morele natuur van God. Dit wat sondig en onheilig is, is so omdat dit in disharmonie met die heilige, morele natuur van God is, en is dus antagonisties teenoor dit.

    Sonde en wêreldsgesindheid is meer as net die willekeurige besluite van die mens – dit is die morele, etiese en geestelike eienskappe van sy natuur. Die uiterlike manifestasies daarvan is baie ernstig omdat dit die morele toestand van die persoon se natuur aandui, wat in vyandskap met God is (Jak. 4:4; Rom. 8:7).

    Die vyand van God, van die kerk, van heiligheid en van geestelikheid doen alles wat hy kan, en gebruik ook almal wat met hom wil saamwerk, om elke instelling of invloed van die ware godsdiens te neutraliseer, ongeldig te verklaar en te vernietig. Die goddelike oproep gaan egter nog steeds uit vir reinheid en afsondering van die wêreld, wat deur heiligheid en godvresendheid weerspieël sal word, en wat sonde en wêreldsgesindheid as magte sal openbaar wat teen God is.

    1. Afsondering in lewenstyl (2 Kointhiërs 6:14-18)

    Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie (v. 14). Die verwysing hier blyk na die Ou Testamentiese verbod te verwys om ‘n os en ‘n donkie saam in te span, of om klere te dra wat van gemengde stowwe gemaak is. Hierdie verbodsbepalings op vermenging het ‘n dieper betekenis as ‘n blote ritueel of ‘n reël. Dit openbaar die onverenigbaarheid van dubbelhartigheid met die enkelvoudig heilige natuur van God. In hierdie gedeelte bepaal Paulus hoofsaaklik ‘n beginsel vir die huwelik, maar dit het ‘n baie wyer toepassing. Dit is ook net soveel op mans se belange en plesier van toepassing. Watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid? Dié kontras dui op die totaal onmoontlike. Gemeenskap tussen geregtigheid en ongeregtigheid is ‘n morele onmoontlikheid. Hierdie twee magte is inherent en absoluut in ‘n dodelike konflik met mekaar. Watter gemeenskap het die lig met die duisternis? Daar is geen gronde vir ‘n naasbestaan tussen lig en duisternis nie. Die een vernietig die ander een volkome.

    Watter ooreenstemming het Christus met Bélial? (v. 15). Die term “Bélial” het in die Bybel op Satan betrekking. In Génesis 3:15 word die absolute antagonisme tussen Christus en Satan aangetoon. Dit beskryf die geweldige hou wat Satan gee in ‘n poging om die Seun van God wat uit ‘n maagd gebore is, te vernietig, maar dié hou het net die hakskeen van die Seun gewond. Dié hakskeen sal egter die kop van Satan vermorsel en hom doodmaak. Watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Geloof kan so min met ongeloof meng as wat lig en duisternis, of sonde en heiligheid, kan meng.

    Julle is die tempel van die lewende God (v. 16). Die menslike persoonlikheid is basies geestelik. As sodanig is dit in ‘n bondgenootskap met een van die twee teenoorgestelde geestelike koninkryke in die wêreld. Die menslike gees word óf deur God óf deur Satan bewoon en beheer. Dit is ‘n byna ondenkbare eer en voorreg dat die lewende God aanbied om die menslike gees te bewoon (Ef. 3:16-19). Om die inwoning van die Here te hê, is om volkome vervulling te ervaar. Om Satan se afgode as gode te hê, is soos om as te eet en met niks vervul te wees nie (1 Kor. 8:4; Jes. 44:20). Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. Dit is wonderlik dat God gewillig is om met diegene te identifiseer wat vroeër sy vyande was. Die feit is dat Hy die inisiatief geneem het om die mens sy eie te maak deur hom te red en met hom te identifiseer deur die prys te betaal om hom vir Homself vry te koop.

    Daarom, gaan onder hulle uit (v. 17). Dit is die belangrikste gevegsterrein. Indien jy aan die Here behoort en met Hom identifiseer, moet jy innerlik én uiterlik van identiteit verander. Dit is onmoontlik om terselfdertyd met God én met sy vyande te identifiseer wat teen Hom gekant is. Die werklike krisis is dus ‘n identiteitskrisis.

    Julle sal vir My seuns en dogters wees (v. 18). Hier is nie van ‘n universele vaderskap sprake nie. Indien jy God as jou vader wil hê, moet jy eers vir die sonde sterf en volkome daarvan bevry word. Die Here, die Almagtige, kan hierdie wonderwerk vir jou doen.

    2. Afsondering van begeerlikhede (1 Johannes 2:15-17)

    Moenie die wêreld liefhê nie (v. 15). Hierdie vers verbied ons nie om die wêreld van mense lief te hê nie, want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Homself daarvoor gegee het. Ons moet óók die mensdom in die wêreld liefhê en vir God probeer wen. Die stelling om nie die wêreld lief te hê nie, is ook nie ‘n veroordeling  van die regte waardering en bewaring van die natuurlike wêreld nie. Nadat God die aarde geskape het, het Hy gesê dat dit “baie goed” is. Dit is nie verkeerd nie, maar ons plig, om lief te hê wat God liefhet. Die wêreld wat ons as Christene nie moet liefhê nie, is “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4). Dit is die huidige toestand van vervreemding en opposisie teenoor God waarin die menslike lewe verval het. Dit kan verder gedefinieer word as die hele materialistiese en humanistiese stelsel van mense, plekke, instellings, ideale en plesier wat buite God georganiseer is, waarvan Hy uitgesluit is en waarin sy wil en werke geïgnoreer word. As iemand hierdie wêreldse stelsel wat vyandig teenoor God is, liefhet, dan kan hy God nie liefhê nie – en andersom.

    Alles wat in die wêreld is (v. 16) word gedemonstreer deur die begeerlikheid van die vlees, wat die drang na sensuele bevrediging is, die begeerlikheid van die oë, wat die oorheersende passie is om alles te wil hê wat vir jou mooi is,en die grootsheid van die lewe, wat ‘n verhewe sin van jou eie belangrikheid as gevolg van jou rykdom en posisie is. Al hierdie ingesteldhede staan teenoor die natuur van God en dus ook teen ‘n werklike Christelike ondervinding.

    Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig (v. 17). Enigiets wat wêrelds is, is tydelik. Morele en geestelike prestasies hou nie net in hierdie wêreld stand nie, maar ook in die volgende. Daar is geen vreugde wat vergelyk kan word met dit wat deur morele en geestelike dade ervaar word nie. Dit bring hier blydskap in die siel en sal ook die bron van ewige vreugde in die hemel wees.

    3. Afsondering van versierings (1 Timótheus 2:8-10).

    Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef (v. 8). Dit beteken dat oral waar mense saamkom om God te dien, of waar daar menslike behoeftes is, dit paslik is om te bid. Gebede uit groot katedrale en kerke is nie vir God meer aanneemlik as gebede wat in die nederigste kerkie of die armste huis gebid word nie. Gebed bring die hemel en aarde bymekaar en verseker geestelike én materiële seëninge wat nie sonder gebed verkry sou word nie (Matt. 7:7-8). God beperk nie die aanbidder tot een of ander uiterlike houding nie, maar stel besliste standaarde oor die karakter van die een wat bid. Die ophef van heilige hande dui op eerbied, ontsag, afhanklikheid, onderworpenheid en verwagting. Daardie hande moet nie deur onvergeefde sonde besmet wees nie, en die gees moet vry van afkerigheid en ‘n gebrek aan geloof in God wees. Die motiewe van die een wat bid, sowel as sy uiterlike handelinge, moet suiwer wees.

    Die vroue moet hulle versier met behoorlike kleding (v. 9). God het sy houding teenoor naaktheid en onbehoorlikheid in die Tuin van Eden getoon toe Hy vir die eerste menslike paartjie klere gemaak het. Sedert die sondeval was daar ‘n regstreekse verband tussen onbehoorlike kleding en immoraliteit. Dawid se sonde is aangewakker toe hy na die naakte Bátseba gekyk het. Paulus stel die uitdaging dat aangesien die Here so baie in die Christene belê het, hulle Hom moet verheerklik in hulle liggaam én gees wat aan God behoort. Naaktheid en onbehoorlike kleding is ‘n skande vir ‘n persoon wat in dié toestand is, en ‘n belediging vir ‘n heilige God. Enige aktiwiteit waarvoor behoorlike kleding onwaardig is, is ook ‘n onwaardige aktiwiteit. Nie met vlegsels nie, m.a.w. uitspattige en dekoratiewe haarstyle. Hulle skoonheid moet nie deur oordadige hooftooisels en opgesmuktheid met juwele en fyn linne geskep word nie, maar deur hulle innerlike persoonlikheid – die onverwelklike skoonheid van ‘n stille en sagmoedige gees, wat kosbaar in die oë van God is. Christene moet eg wees, en nie kunsmatig deur kunsmatige bedekkings nie.

    Soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely (v. 10). Dit is nie per toeval dat ingetoënheid en basiese skoonheid die kenmerke van Christene in die wêreld is nie. Dit is ‘n eer vir ‘n persoon én vir God indien andere hom vir ‘n Christen aansien. Dit sou beslis nie tot die eer van God of van ‘n Christen wees indien hy weens sy gedrag as ‘n sondaar beskou sou word nie. ‘n Persoon is ‘n verraaier as hy die vyand se kleredrag aan het. Dit is ‘n wonderlike voorreg om met God, die Bybel, heiligheid en heilige mense geïdentifiseer te word.

    Kommentaar oor die Sleutelteks

    Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Kor. 7:1).

    Hierdie belofteswaarvan Paulus praat, word in die laaste paar verse van hoofstuk 6 genoem. Dit word aan weergebore mense gemaak, en is groot en kosbaar. Dit word gegee op voorwaarde dat God se kinders onder die ongelowige, sondige wêreld uitgaan, hulle afsonder, en nie aanraak wat onrein is nie (2 Kor. 6:16-18). “Hierdie beloftes” is: (1) Ek sal in julle woon. (2) Ek sal onder julle wandel. (3) Ek sal julle God wees. (4) Julle sal vir My ‘n volk wees. (5) Ek sal julle in ‘n vader-kind-verhouding aanneem.

    Besoedeling van die vlees.Korinthe was ‘n baie losbandige stad, en die Christene daar is uit ‘n lae, vuil lewe gered. Miskien het sonde nie vir hulle so uitermate sleg gelyk as wat dit werklik is nie. Daar was gruwelike immoraliteit onder hulle (1 Kor. 5). In die lig hiervan is spesiale waarskuwings oor uiterlike sondes gegee waarin ‘n sondige gees van die liggaam gebruik maak, bv. afgodediens, dronkenskap, hoerery, owerspel, lastertaal, bakleiery, bedrog, ens. Deur hierdie vleeslike sondes te doen, word die liggaam én gees besoedel. Hoe meer hulle hierdie sondes gedoen het, hoe groter was die besoedeling. Verder is dit ook so dat hoe meer ‘n mens aan die hartstogte van die sondige vlees toegee, hoe sterker word die versoekings en hoe swakker die weerstand.

    Omdat die liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is, moet sorg gedra word om skadelike gewoontes soos tabak- en alkoholgebruik, asook vraatsugtigheid, te vermy. Let asb. daarop dat die verantwoordelikheid by “ons” geleë is. Moenie van God verwag om alles vir jou te doen nie: “…laat óns ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig.”

    Besoedeling van… die geesvestig die aandag op innerlike sondes. Dit is sondes van die hart of die gees. Dit word dikwels vleeslike neigings genoem. Hierdie toestand is die gevolg van die sondeval en bestaan ná ons bekering voort. Dit is nie soseer iets waarvan ons vergewe moet word nie, maar waarvan ons gereinig moet word. Sondes van die gees sluit in hoogmoed, kwaadwilligheid, toorn, jaloesie, begeerlikheid, wellus, bose gedagtes, ens. Hierdie neigings kan met gedeeltelike sukses beheer word deur ‘n sterk poging om hulle te onderdruk. Elkeen wat hierdie metode probeer het, kan ná ‘n tyd getuig dat dit soms nie moontlik was om die sondige neigings te onderdruk nie. Ons beste pogings om ons gees te reinig, is dus nie suksesvol nie. Ons moet saam met Johannes stem dat net “die bloed van Jesus Christus… reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7). Die bloed is die reinigingsmiddel vir alle sonde. Neem daarvan kennis dat sonde nie ‘n deel van die menslike natuur is nie – dit is slegs ‘n diep vlek op daardie natuur, gevolglik kan dit gereinig word. Die Here Jesus het vir die uitdruklike doel na die aarde gekom om vir Hom ‘n heilige en rein volk te skep. Die reiniging deur sy bloed is die antwoord op Dawid se ernstige gebed: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Here, my rots en my verlosser!” (Ps. 19:15).

    Volbring die heiligmaking.Wanneer ons van ons onheiligheid ontslae raak, dan kan ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. Jy moet eers van alle besoedeling van die vlees en die gees gereinig word voordat jy die heiligmaking kan volbring. Dit sal jou in staat stel om geestelik verder op te groei tot volwassenheid.

    Leerstellige Bespreking

    Afgesonderdheid is beslis een van die betekenisse van die Griekse woord hagiadzo. Dit is ‘n versoeking vir al God se afgesonderde kinders om  met die huidige wêreld vermeng te raak en hulleself sodoende vervolging te spaar. Heiligheidsmense verwerp soms maklik wat ‘n ander heiligheidspersoon sê. Die volgende is enkele uitsprake wat oor ‘n afgesonderde lewe gemaak is:

    In sy boek “Letter to the Hebrews” sê William Barclay die volgende oor Hebreërs 11:13-16:

    “Die vaders het vir altyd as vreemdelinge geleef. Die skrywer aan die Hebreërs gebruik drie duidelike Griekse woorde oor hulle: (a) In 11:13 noem hy hulle xenoi. Xenos is die Griekse woord vir ‘n vreemdeling of ‘n buitelander. In die antieke wêreld was die lotgevalle van ‘n vreemdeling baie moeilik, want hy is met haat en veragting aangesien. (b) In 11:9 gebruik hy t.o.v. Abraham die woord paroikein (vertoef, of tydelik woon, m.a.w. ‘n inwonende vreemdeling). ‘n Paroikos moes vreemdelingebelasting betaal omdat hy ‘n soort gelisensieerde inwoner was. Hy was altyd ‘n buitestaander, en alleen op grond van sy betaling ‘n lid van die gemeenskap. Die vaders het hulle hele lewe lank aan geen samelewings anders as hulle eie families behoort nie. (c) In 11:13 gebruik hy die woord parepidemos, wat ‘n bywoner of pelgrim is. In enige gemeenskap is ‘n bywoner of pelgrim iemand wat tydelik daar bly omdat sy permanente tuiste iewers anders is.”

    Dit is sekerlik ‘n beskrywing van Christene wat vreemdelinge, bywoners en pelgrims op aarde is. Hierdie lewe is soos ‘n brug waaroor ons loop onderweg na ons ewige tuiste. Dit was nooit die bedoeling dat ons ons permanente woning op die brug moet bou nie! Christene is buitestaanders in hulle eie land, en ook in hulle wandel en gesprekke. Dit is waarom hulle afgesonderd lewe.

    W.H. Griffith Thomas het gesê:

    “Wat moet ons deur die uitdrukking die wêreldverstaan? Dit is nie die materiële wêreld nie, maar wêreldse instellings wat in opposisie teen God is (1 Joh. 2:15). Dit is die ekwivalent van wat die apostel Paulus 'die teenwoordige bose wêreld' noem (Gal. 1:4). Alles wat sondig is, word met die begrip 'wêreld' verbind."

    Afgesonderdheid en heiligheid moet egter nooit as ‘n verskoning gebruik word vir ons versuim om in die wêreld vir die redding van siele te werk nie. Die heilige persoon sal, as hy sy heiligheid deur gebed, vas en gehoorsaamheid behou, van die wêreld geïsoleer wees sodat daar nie ‘n kortsluiting tussen hom en die wêreld is wanneer hy daarin beweeg om sy werk te doen nie. Liefde sal hom dring om in die wêreld uit te gaan en verlore sondaars na Christus toe te roep. Heiligheid is ons stand in die Here, en liefde die dinamiese en instaatstellende krag van die Heilge Gees wat ons tot aksie laat oorgaan en ook resultate laat behaal.

    Heiligheid in ons harte is deur genade. Ware heiligheid sal sy eie afsondering van die wêreld bring. In ooreenstemming met die mate waartoe ons geestelik afkoel, sal ons weer liefhebbers en nabootsers van die wêreld word.

    Vrae en Antwoorde

    Hierdie les handel oor die onderwerp van afsondering deur ‘n heilige lewe. Jesus het in sy gebed in Johannes 17:15 gevra dat ons nie uit die wêreld weggeneem word nie, maar dat ons van al die bose dinge rondom ons bewaar sal word. 2 Korinthiërs 6:17 sê dat ons onsself van die wêreld moet afsonder. Die volgende vrae en antwoorde het op afsondering van die wêreld deur ‘n heilige lewenswandel betrekking:

    1. Wat word deur situasionele etiek bedoel?

    Dit is die filosofie dat daar weinig of enige uitdruklik regte of verkeerde antwoorde vir baie van die omstandighede is waarin ons kom. Die situasie of agtergrond van mense help bepaal of hulle aksies en reaksies regverdigbaar of verkeerd is. Daar is geen absolute waarheid nie. Die korrektheid of verkeerdheid van ‘n saak kan van een persoon tot ‘n ander, en van een situasie tot ‘n ander, en van een tydperk tot ‘n ander wissel. Menslike opinies is die belangrikste oorweging wanneer daar ‘n besluit oor iets geneem word.

    2. Hoe pas situasionele etiek in die Christendom in?

    In die hedendaagse kerke is daar baie mense wat deur hulle optrede, houdings en selfs woorde te kenne gee dat daar min, ef enige, voorskrifte in die Bybel is wat deur alle Christene in die wêreld gevolg hoef te word. Hulle houding is: Wie is daardie predikant, vriend of familielid om aan mense te sê wat God se voorskrifte vir spesifieke situasies in die lewe is? Die gevolg is dat daar van min bekeerlinge verwag word om hulleself op verskeie lewensterreine duidelik van die wêreld af te sonder – nie net in die eerste paar weke van hulle Christenskap nie, maar selfs ná maande of jare. Die idee word gehuldig dat ander mense nie die reg het om voorskriftelik op te tree nie. As gevolg van mense se beperkte kennis van die wil van God laat hulle hulself deur omstandighede lei. Ouer, belydende Christene praat selfs van “nuwe lig” wat hulle oor sekere sake gekry het. Hulle beweer dat God se Woord in die veranderde situasies en tye nie meer van toepassing is nie. Omdat die situasie mense se besluite en optrede bepaal, is daar uiteindelik geen verskil meer tussen die sondaar en die heilige nie. Hulle lyk almal dieselfde, en in baie opsigte tree hulle ook dieselfde op.

    Die Bybel het egter duidelike uitsprake oor die saak van afsondering van die wêreld:

    a. 1 Johannes 1:7 sê dat as ons Christene wil bly, ons in die lig moet wandel wat die Here aan ons gegee het. Die lig wat gevolg moet word, kom van God en nie van mense af nie.

    b. 2 Timótheus 3:15-17 en Psalm 119:11 sê dat die Bybel aan ons voorskrifte kan gee oor hoe om voor God én die mense reg te leef. Psalm 119:105 sê dat God se Woord ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad is. Dit is dus duidelik dat God se Woord baie oor die eise vir ‘n heilige lewenswandel te sê het. Dit het ‘n hoër gesag as ons eie opinies (1 Kor. 14:37).

    c. Jakobus 4:17 en 1 Johannes 3:6-10 dui aan dat ons God se reëls vir ons lewe moet volg – die moets én die moenies – anders leef ons in sonde. Ons moet die Bybelse riglyne vir ons lewe eerbiedig.

    d. Romeine 14:10-12 sê dat ons as individue voor die regterstoel van Christus sal staan om geoordeel te word. Waaroor sal ons geoordeel word? Vir die dinge wat ons in ons lewe gedoen het. God se Woord en die lig wat ons gehad het, sal die norm wees waarvolgens ons geoordeel sal word. Argumente dat dit reg gelyk het om iets te doen omdat ander dit ook gedoen het, sal nie op daardie dag goed genoeg wees nie (2 Kor. 10:12).

    e. Romeine 12:2 en 2 Korinthiërs 6:17 sê dat daar afsondering van die wêreld moet wees. Ons moet nie dink, optree, praat en aantrek soos die bose wêreld nie. Ons is anders! Waarom? Omdat God in ons woon en as ‘n heilige God vereis Hy heilige lewens van sy kinders.

    f.   2 Korinthiërs 5:17 sê dat die Christene anders as die sondaars leef. Dit is nie slegs ‘n geval van belydenis nie, maar hierdie lewe moet ook besit en uitgeleef word.

    g. Exodus 23:2 sê: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie.” In werklikheid maak dit nie saak hoeveel mense ‘n sekere ding doen, of dit nie doen nie. As dit reg is, is dit reg; en as dit verkeerd is, is dit verkeerd. Konformisme, of die weiering om te konformeer, maak nie ‘n saak reg of verkeerd nie.

    Dit is klaarblyklik dat indien ‘n persoon heilig voor God én voor mense wil leef, hy God se reëls moet volg en nie die gewoontes en opvattings van mense nie. Vir die kinders van God is situasionele etiek ‘n gevaarlike norm om hulle lewens daarvolgens in te rig. God se Woord is onveranderlik en absoluut (Matt. 24:35; 5:18). Ons moet dit eerbiedig as ons God wil behaag!

    3. Sekere van ons vrae word in die Bybel beantwoord. Op ander vrae is die antwoorde nie baie duidelik nie. Met dit in gedagte, watter riglyne moet ons in die keuses oor ons lewenswyse volg?

    a. Oortree dit die Woord van God?

    b. Oortree dit die lig wat God my gegee het?

    c. Bevorder of benadeel dit my verhouding met God?

    d. Bevorder of benadeel dit my invloed oor ander mense?

    Indien iets God se Woord deur óf die Bybel óf sy lig aan ons oortree, moet ons dit nie doen nie. Ons moet ook weier om iets te doen of ‘n keuse te maak as dit ons verhouding met God sal benadeel of ons Christelike invloed sal laat afneem.

    4. Wat is die verskil tussen algemene oortuigings en persoonlike oortuigings in verband met die regte Christelike leefwyse?

    a. Algemene oortuigings: Dit is godgegewe gedragsreëls wat vir alle mense geld, en word positief of negatief in die Bybel gekonstateer.

    b. Persoonlike oortuigings: Dit is godgegewe gedragsreëls wat net vir die persoon geld aan wie dit gegee is. Daardie persoon moet dit volg om in die regte verhouding tot God te bly. Hierdie oortuigings is nie op ander mense van toepassing nie en moet dus nie as reëls aan andere verkondig word nie.

    5. Om die regte Christelike lewe te kan lei, moet ons die regte houdings, handelinge en voorkoms hê. Noem sommige van die algemene riglyne wat gevolg moet word.

    Houdings

    a. Ons moet God volkome liefhê (Matt. 22:37).

    b. Ons moet ons medemens liefhê (Matt. 22:39).

    c. Ons moet deur die geloof lewe, selfs al voel ons nie geestelik nie (Heb. 11:6; Rom. 1:17).

    d. Ons moet God se vrede toelaat om in ons harte te heers (Kol. 3:15).

    e. Ons moet ‘n ingesteldheid van barmhartigheid, goedheid, nederigheid, lankmoedigheid en vergewensgesindheid hê (Kol. 3:12-13).

    f.   Ons moet die wysheid van God hê wat rein, vredeliewend, vriendelik, onpartydig, vol barmhartigheid en ongeveins is (Jak. 3:17-18).

    g. Ons moenie ‘n vleeslike toorn, woede en boosheid hê nie (Kol. 3:8).

    h. Ons moenie bittere afguns en selfsug hê nie (Jak. 3:14).

    i.   Ons moet vol ontferming wees (1 Pet. 3:8).

    j.   Ons moet hoop en geduld hê (Rom. 12:12).

    k. Ons moenie die wêreld liefhê, of die dinge in die wêreld nie (1 Joh. 2:15).

    l.   Ons moet die vrugte van die Gees hê (Gal. 5:22-23).

    Handelinge

    a. Ons moet bid (Rom. 12:12).

    b. Ons moet gasvry wees en in die behoeftes van die heiliges voorsien (Rom. 12:13).

    c. Ons moet diegene seën wat kwaad aan ons doen (Rom. 12:19-20).

    d. Ons moet in andere se vreugde en leed deel (Rom. 12:15).

    e. Ons moet almal gelyk behandel met betrekking tot redding (Rom. 12:16).

    f.   Ons moenie kwaad vir kwaad vergeld nie (Rom. 12:17).

    g. Ons moet eerlik wees (Rom. 12:17).

    h. Ons moet, sover moontlik, in vrede met alle mense leef (Rom. 12:18).

    i.   Ons moet onsself nie wreek nie (Rom. 12:19).

    j.   Ons moet ons vyande goed behandel (Rom. 12:20).

    k. Ons moet die kwaad deur die goeie oorwin (Rom. 12:21).

    l.   Ons moenie in dieselfde juk saam met ongelowiges trek nie (2 Kor. 6:14).

    m.Ons moet in ons lewenstyl afgeskeie van die wêreld wees (2 Kor. 6:17).

    n. Ons moenie aan die wêreld gelykvormig word nie, maar verander word deur die vernuwing van ons gemoed (Rom. 12:2).

    o. Die woord van God moet ryklik in ons woon (Kol. 3:16).

    p. Ons moet in woord en daad dinge doen wat God behaag (Kol. 3:17).

    q. Ons moet God se wil doen (1 Joh. 2:17) en Christus Jesus navolg (Kol. 2:6).

    r.   Ons moet die oue mens aflê en ons met die nuwe mens beklee (Ef. 4:22-24).

    s. Ons moet aan God gehoorsaam wees en nie aan mense se nukke en grille nie (Hand. 5:29).

    t.   Ons moet nie onder die hoereerders, homoseksualiste, diewe, gierigaards, dronkaards of kwaadsprekers tel nie (1 Kor. 6:9-10).

    u. Ons moenie op die dag van die Here koop of verkoop nie (Neh. 10:31).

    v.  Ons moet die sabbat heilig hou (Neh. 13:15-22).

    w.  Ons moenie steel of moord pleeg nie (Ex. 20:13, 15).

    x. Daar moet niks tussen ons en die Here wees nie (Ex. 20:3).

    y. Ons moenie God se Naam ydelik gebruik nie (Ex. 20:7).

    z. Ons moet ons ouers eer (Ex. 20:12).

    Voorkoms

    a. Die vrouens moet behoorlik aantrek (1 Tim. 2:9)

    b. Die vrouens moet deur hulle goeie karakter gekenmerk word, eerder as deur uitspattige klere (1 Tim. 2:10).

    c. Die vrouens behoort lang hare te hê as ‘n teken van onderdanigheid (1 Kor. 11:15).

    d. Die mans moet kort hare hê (1 Kor. 11:14).

    e. Vrouens moet net vroueklere aantrek, om daardeur duidelik hulle geslag aan te toon (Deut. 22:5).

    f.   Die mans moet om dieselfde rede mansklere aantrek (Deut. 22:5).

    g. Die vrouens word vermaan om deur ‘n stille en sagmoedige gees versier te wees ( 1 Pet. 3:3-5).

    6. Watter houdings moet ons hê om die perke en aard van ons afsondering van die wêreld te bepaal?

    a. Nie my wil nie, maar God se wil moet geskied.

    b. Wees ontvanklik vir enigiets wat God sê. Moet nie jou hart verhard en onleerbaar wees nie.

    c. Streef daarna om naby aan die Here te leef en sy wil so nougeset as moontlik te doen.

    d. Indien daar onsekerheid oor iets is, gee aan die Bybelse riglyn die voordeel van die twyfel.

    7. Waarom is daar so baie wêreldsgesindheid en bloedarmoede in die kerk vandag?

    Dit lyk of mense die fokus om God lief te hê en te dien, verloor het. Baie van hulle is selfsugtig en neem ‘n houding in van: Dit wat my laat goed voel, sal ek doen! Groot getalle is ook plesier-behep. Ander is materialisties. Ongetwyfeld leef baie van die mense hierdie lewe as gevolg van ‘n gebrek aan gebed, Bybelstudie, en ‘n volle oorgawe om God se wil te ken en te doen. Wanneer die fokus weg van God en sy wil af is, is dit maklik om op dinge ingestel te raak wat in stryd met God se wil is. Geestelike swakheid tree in wanneer God deur die mens en sy programme opsygeskuif word. Die kerk waarin die krag van God ontbreek, is nie in staat om sonde-oortuiging oor verlore siele af te bid nie. Dit kan ook nie sterk oortuigings oor die Christelike lewe afbid en deur die prediking skep nie. Die algemene houding is dan dat elkeen sy eie saligheid moet uitwerk, en nie sy opvattings op ander moet afdwing nie. Hierdeur ontstaan daar binne-in kerke lewenstyle wat nie in ooreenstemming met God se Woord is nie. God kan nie, en Hy sal ook nie, sulke mense en kerke seën nie. Geestelike swakheid lei uiteindelik tot geestelike doodsheid.

    Die Bybel moedig ons by herhaling aan om God te behaag (1 Joh. 1:7; Jak. 4:17; 1 Joh. 3:6-8). Ons moenie toelaat dat die beginsels van die wêreld die motiverende krag in ons persoonlike en kerklike lewe word nie. Dit moet ons vooropgestelde doel wees om onsself van die wêreld en van sonde af te sonder en ons met God en sy wil te verenig!

    Die lewenswyse van ‘n Christen

    Terwyl die Christen in die wêreld is, moet hy nie van die wêreld wees nie. Vir hom moet die lewe Christus wees. Of hy eet of drink of enigiets doen, moet hy alles tot die eer van God doen. Jy mag skatte bymekaarmaak, maar net in die hemel. Jy mag daarna streef om ryk te wees, maar dit moet jou doel wees om ryk in die geloof en in goeie werke te wees. Jy mag plesier hê; maar wanneer jy opgewek is, moet jy sing en psalmsing in jou hart tot eer van die Here. In jou gees sowel as in jou ideale moet jy anders as die wêreld wees. In jou dade moet jy afgesonderd van die wêreld wees. As iets reg is, al verloor jy ook daardeur, dan moet jy dit doen. As dit verkeerd is, selfs al kan jy daardeur wen, moet jy die sonde ter wille van die Here se naam verafsku. Wandel waardig van jou hoë roeping.       – C.H. Spurgeon

    DIE DUIWE OP DIE KRAGDRAAD

    Buitekant my venster is ‘n kragdraad waardeur ‘n hoë lading elektrisiteit vloei. Dit is noukeurig geïsoleer van elke paal, en ook buite die gewone bereik van mense. As ek daaraan sou raak, sou die dood vinniger as ‘n tier se sprong of die pik van ‘n giftige slang intree – dit sal so vinnig soos ‘n weerligstraal wees.

    Tóg sit die duiwe op die draad sonder om enige skade te ly. Die geheim is dat, terwyl hulle aan die hoëspanningsdraad raak, raak hulle aan niks anders nie. Hulle is volkome aan die draad alleen oorgegee.

    Vir my is die gevaar daarin geleë dat as ek ver genoeg uit my venster kon leun om die draad te raak, sou ek nog steeds deur die mure van my huis aan die aarde verbind wees. Die krag sou dan deur my liggaam ‘n kortsluiting met die aarde maak, en dit sou my lewe kos. Die duiwe rus egter geheel en al op die draad en verkeer in geen gevaar nie. Hulle is een daarmee en is veilig.

    Die Here wil hê dat ons ons veiligheid in ‘n volle oorgawe aan sy krag en liefde moet soek. Dit is wanneer ons met die een hand aan Hom vashou en met die ander hand aan ‘n verbode ding van die wêreld, dat ons in gevaar verkeer. Christus het ons beveel om die Here onse God met ons hele hart, ons hele siel en met al ons kragte lief te hê. Geen dubbelhartigheid is aanvaarbaar nie. As ons dít doen, is ons veilig. – Pillar of Fire

    Inhoud

    1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe

    2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe

    3. Die Betekenis van Heiligmaking

    4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe

    5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe

    6. Hoe om Geheilig te Word

    7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe

    8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk

    9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms

    10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe

    11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings

    12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid

    13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid

  • 10. Dissipelskap

    Dissipelskap

    Dissipelskap gaan oor veel meer as net redding – dit gaan oor die opleiding en geestelike toerusting van gelowiges sodat hulle volwaardige dissipels kan word wat die Here Jesus dien en sy opdrag vir die evangelisering van die wêreld uitvoer. Hulle hooftaak is om ander mense na Christus toe te lei en ook van hulle dissipels te maak. Alle gelowiges word geroep om dissipels te word, en dan hulle samewerking te gee om van bekeerlinge uit al die volke dissipels te maak (Matt. 28:19).

    Die oorgawe vir dissipelskap

    Tydens die opleiding van sy dissipels het die Here Jesus die basiese vereistes vir dissipelskap baie duidelik aan hulle gestel (Luk. 9:23-26). In Luk. 9:23 is daar vier werkwoorde wat hierdie opdrag vervat: Die voornemende dissipel moet eers ‘n wilsbesluitneem om die Here Jesus te volg; daarna moet hy homself verloën en dan sy kruis opneem en vir Jesus volg.

    Soos ook by redding (Op. 22:17), moet elke gelowige ‘n wilsbesluit neem of hy heiligmaking en dissipelskap in sy lewe begeer. Indien wel, dan is selfverloëning die volgende stap. Die begeerlikhede van die vlees en die wêreld moet afgelê word as jy die Here Jesus met jou hele hart wil volg. Daar is net een manier om dit te doen, en dit is om jouself ten volle aan die leiding van die Heilige Gees oor te gee en in die kruis van Christus te roem, deur wie die wêreld vir jou gekruisig is en jy vir die wêreld (Gal. 6:14). Die opneem van die kruis moet ‘n daaglikse toewyding en lewenswyse word. As ek dit nie meer doen nie, dan bevry ek as’t ware die vlees van sy gekruisigde posisie af, en sal hy stelselmatig weer homself in my lewe laat geld. Dit sou ‘n baie dwase ding wees om te doen, want dan kan daar geestelike veragtering in my lewe intree (Gal. 3:1,3). In die laaste deel van die teks sê die Here Jesus dat ons Hóm moet volg. Deur Bybelstudie en die aanvaarding van die Here se leiding deur omstandighede, sal jy voortgaan om die Here te volg en jou roeping te vervul. As jy in die wil van die Here is, sal jy teen geen probleem stuit nie. Die Here sal struikelblokke uit die weg ruim en jou paaie gelyk maak.

    Die geestelike toerusting vir dissipelskap

    Nadat die dissipels deur die Here geleer is en die voorwaardes vir dissipelskap aanvaar het, moes hulle ook met die Heilige Gees vervul word voordat hulle as getuies van Christus vir Hom kon begin werk (Luk. 24:45-49; Hand. 1:8). Dit is die deel wat die Here doen nadat die dissipels hulleself verootmoedig en die begeerlikhede van die vlees en die wêreld afgelê het. Die eerste dissipels het hierdie seën op Pinksterdag ontvang. Nadat hulle met die krag van die Heilige Gees toegerus is, het hulle met vrymoedigheid die evangelie begin verkondig. Die dag toe Paulus met die Heilige Gees vervul is, het hy “dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is” (Hand. 9:20). Die dissipels het dikwels daarna nuwe vervullings met die Heilige Gees gehad (Hand. 4:31; 13:52). Dit is ‘n lewe van diepe afhanklikheid van die Here (Joh. 15:5).

    Voortgesette selfverloëning

    Die dissipel se daaglikse lewe en bediening moet steeds in die teken van Christus se kruis wees. Dit vereis voortgesette selfverloëning sodat die vlees nie weer beheer oor sy lewe kry nie. Hy moet nie homself behaag nie, maar die belange van ander soek (Rom. 15:1). Hy moet verdraagsaam te midde van kritiek en teëstand wees en nie moedeloos raak nie (Heb. 12:3). Hy moet nie sy eie opinies verkondig nie, maar ‘n leerbare gees hê en buig voor die gesag van die Woord (Ps. 119:59). Selfverloëning vereis ook getroue diens aan die Here, en nie ‘n lewe wat op eiebelang en winsbejag ingestel is nie (Ps. 119:36).

    Vervolging

    Dissipels van die Here Jesus moet ook bereid wees om vervolging te verduur (Joh. 15:18-21). Ons is volgelinge van die lydende Messias wat deur die wêreld verwerp word, daarom haat die wêreld ons ook (Joh. 16:33). Die vroeë dissipels het geweldige vervolging verduur en mekaar bemoedig deur te sê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hand. 14:22). Paulus sê dat dit “ter wille van Christus genadiglik aan ons gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Fil. 1:29). Die ligte verdrukking, wat vir ‘n kort tydjie is, weeg nie op teen die ewige heerlikheid wat by die wederkoms aan ons geopenbaar sal word nie (2 Kor. 4:17). Wanneer Christus as Koning terugkom, sal ons in sy heerlikheid deel en saam met Hom as konings regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Dan sal die smarte en swaarkry verby wees (Op. 21:4).

    Die verantwoordelikheid van dissipels

    In dissipelskap is daar ‘n duidelike samewerking van twee kante af: die Here gee die krag, maar jy moet waardig voor Hom wandel en planne maak om die krag te gebruik. Dit sal nie sonder jou medewerking in werke omgesit word nie. Ons liggame moet aktief en doelbewustelik as werktuie van geregtigheid in die diens van die Here gestel word (Rom. 6:13). Neem die volgende opdragte in hierdie verband ter harte: Ons moet ons liggaam as ‘n heilige, afgesonderde offer in die diens van God stel (Rom. 12:1-2; 6:22) en vrugte dra wat by die bekering pas (Matt. 3:8). Ons is gestuurdes (Joh. 20:21) wat die Woord tydig en ontydig moet verkondig (2 Tim. 4:2).

    In die uitvoering van hierdie en talle ander opdragte moet ons altyd onthou dat dit die krag van die Here is wat deur ons swak liggame werk. Die eer en die roem vir die oorwinning kom Hom alleen toe. Vir alles wat Paulus in ‘n lewe van diensbaarheid bereik het, het hy die eer aan die Here gegee wat hom daartoe in staat gestel het (1 Kor. 15:10). Hy het besef dat hy sonder die Here niks kon doen nie – dit is alles net genade. Nogtans moes hy as ‘n medewerker van God homself aktief in die diens van die Here beywer (1 Kor. 9:27).

    Mag die Here aan elkeen van ons die genade verleen om te besef wat die hoë roeping van God in Christus Jesus is (Fil. 3:14). Hy wil ons nie alleen uit die duisternis tot sy wonderbare lig trek nie, maar ook van ons Geesvervulde dissipels van Hom maak – bruikbare werktuie in sy reddende regterhand. Is jy bereid om hiervoor bekwaam gemaak te word? Verootmoedig jou dan voor die Here en wag op Hom totdat Hy jou toegerus het met krag uit die hoogte.

    Die voorregte van dissipels

    • Hulle word deur Jesus Christus erken en Hy assosieer ten nouste met hulle (Matt. 12:49-50).
    • Christus verlig hulle lewe sodat hulle nooit in die duisternis hoef te wandel nie (Joh. 8:12).
    • Hulle word deur die Heilige Gees in die hele waarheid van God se Woord gelei (Joh. 16:13).
    • Hulle word só met die liefde van Christus vervul dat die wêreld dit kan sien en glo dat hulle gestuurdes van die Here Jesus is (Joh. 13:34-35).
    • Hulle word deur die Vader geëer omdat hulle Christus dien en die belange van sy koninkryk soek (Joh. 12:26).

    Mislukte dissipels

    Wat gebeur met gelowiges wat nie aan die eise vir dissipelskap voldoen nie? Hulle diskwalifiseer hulleself as dissipels (Luk. 14:27). Iemand wat nog nie hierdie oorgawe gemaak het nie, is vol van homself, van sý planne en sý idees. Hy verkondig ook net sy eie oortuigings en bevorder die saak van sý kerk of organisasie, waarin die koninkryk van Christus nie noodwendig die eerste prioriteit is nie. Hy wil erkenning hê vir alles wat hy bereik, en blaas ‘n trompet voor hom uit om sy goeie dade bekend te maak (Matt. 6:2). Voordat hulle met die Heilige Gees vervul is, was die dissipels ook vol van hulleself en het gewonder wie van hulle die grootste in die koninkryk van God was (Matt. 20:25-28). Die vlees wil altyd voor in die ry staan en deur almal raakgesien word. As sy eer gekrenk word, is hy bitter ongelukkig daaroor. In sy hart verag en verwerp hy almal wat hóm nie wil eer en ophemel as iemand spesiaals nie.

    Waarom is só ‘n persoon met ‘n ongekruisigde vleeslike natuur onbruikbaar in die diens van die Here? Omdat hy ‘n innerlike tweestryd het wat ware Christelike dienswerk onmoontlik maak (Gal. 5:17). Christene wat nog onder die heerskappy van die vlees is, soos dié in 1 Korinthiërs 3:1-3, is selfgesentreerd, vol twis, jaloersheid en tweedrag, en weens hulle geestelike onvolwassenheid nie bruikbaar as dissipels nie. Wanneer hulle wél die Woord verkondig, is dit nie in die betoning van Gees en krag nie, maar in oorredende woorde van menslike wysheid (1 Kor. 2:4). Dit is nutteloos, want dit oortuig mense nie van hulle sonde nie en streel net hulle gehoor (2 Tim. 4:3-4). Een van die metodes waardeur mense se gehoor gestreel word, is om die eise van die evangelie só af te water dat groot massas mense op ‘n maklike manier, sonder sondebelydenis en wedergeboorte, salig gespreek word. Die boodskap van die kruis word nie duidelik verkondig nie, so ook nie heiligmaking en die wederkoms nie.

    Dit is ‘n algemene verskynsel vandag dat mense met vleeslike motiewe die Christendom misbruik om hulle eie doel in die lewe te bereik. Hulle wil hulleself verryk en aansien in die samelewing verkry, en poseer dan as groot geestelike leiers, of profete wat tekens en wonders doen. Die duiwel help sulke mense in hulle vleeslike veldtog omdat hulle duisende ander mislei, op ‘n syspoor plaas en selfs na die verderf sleep.

    Tydens Jesus se aardse bediening het gelowiges om ander redes van ware dissipelskap af weggeskram. Dit was in daardie tyd nie ‘n populêre ding om jouself as ‘n Christen en volgeling van Jesus te bestempel nie. Messiaanse Jode is vervolg en selfs deur hulle ouers onterf. Hulle aansien en finansiële sekuriteit was op die spel, dus was die kosteberekening vir dissipelskap hoog (Luk. 9:24-25). Wat ook al ons omstandighede, daar is altyd 'n prys aan dissipelskap verbonde. Ek moet bereid wees om aansien en regte prys te gee en aan myself te sterf.

    Persoonlike toewyding

    Wat ‘n voorreg om ‘n dissipel vir Jesus Christus te kan wees! Hoewel dit ‘n moeilike pad is waarop ons moet skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag, is dit ‘n groot vreugde om vir ander tot seën te wees. As ons op hierdie pad volhard tot die einde toe, sal die beloning in die koninkryk van Christus wonderlik wees. Ek wy myself opnuut aan die hoë roeping van dissipelskap, en bid vir genade om elke dag my kruis op te neem waaraan ek vir die wêreld en die wêreld vir my gekruisig is, en met volharding die wedloop te loop wat voor my lê (Gal. 6:14; Heb. 12:1). Ek is nie in hierdie wêreld om myself te behaag nie, maar Hom wat my gestuur het (2 Tim. 2:4). Op die pad van wêreldevangelisasie waarop ons uitgestuur is, het ons die wonderlikste belofte van die Here Jesus se daaglikse teenwoordigheid (Matt. 28:20). Spoedig sal die groot oes van sy koninkryk ingesamel wees, dan sal ons onsself in elke geredde siel verbly.

    Vrae

    1.    Wat is die vereistes vir dissipels?

    2.    Wat is die aard van dissipels se afhanklikheid van die Heilige Gees?

    3.    Beskryf die rol van vervolging in die dissipels se lewe.

    4.    Noem drie van die voorregte van dissipels.

    5.    Wat is die kenmerke van mislukte dissipels?

    6.    Hoe water hulle die eise van die evangelie af?

    Prof. Johan Malan

  • 11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings

    Studies in Christelike Heiligheid

    Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)

    Opsomming:Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.

    11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings

    Sleutelteks

    "Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het" (Ef. 4:32).

    Sentrale waarheid

    Dit maak ‘n groot verskil in ‘n Christen se houdings wanneer hy met die Heilige Gees vervul is.

    Les

    Judas 1:20-25

                20 Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid

                21 en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.

                22 En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys;

                23 maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.

                24 Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

                25 aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.

    Filippense 2:14-16

                14 Doen alles sonder murmurering en teëspraak,

                15 sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,

                16 deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ‘n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie.

    Romeine 12:9-13

                9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;

                10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;

                11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;

                12 verbly julle in die hoop, wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.

                13 Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid.

    Uiteensetting van die Les

    Inleiding

    Toe John Wesley ‘n stryd gehad het om sy geestelike verhouding met God en sy intellektuele verstaan van die Bybel op ‘n vaste grondslag te kry, het hy die raad van ‘n meer volwasse Christen oor ‘n lewe van totale afsondering gevra. Hierdie persoon het aan die jong Wesley gesê: “Seun, die Here weet niks van ‘n kluisenaarsgodsdiens nie.” Die Bybel is baie duidelik daaroor dat Christene nie hulle lig onder ‘n maatemmer moet verberg nie, maar die lig van die evangelie deur goeie werke moet laat skyn sodat die Vader verheerlik kan word. As die sout van die aarde moet hulle ook ‘n behoudende invloed op die morele standaard van die gemeenskap hê.

    ‘n Lig het sy grootste voordelige effek wanneer dit in die mees intense duisternis skyn. Sout is ook die nodigste waar die bederf op sy ergste is. Die heiliges se teenwoordigheid word veral benodig waar sonde en boosheid baie prominent is. Die Here wil nie hê dat Christene deur Fariseëragtige isolasie hulle hoop en pogings moet laat vaar om ‘n korrupte samelewing te evangeliseer en te hervorm nie. Sy begeerte is dat die heiliges, vervul met die goddelike liefde van sy Heilige Gees, aktiewe getuies in die samelewing sal wees. Om hierdie rede moet geesvervulde Christene daarna streef om sleutelposisies in die samelewing te beklee. Die genade van God en die toewyding aan sy wil sal ons in staat stel om voortreflike diensknegte van die samelewing te wees.

    1. Ons verhouding teenoor onsself (Judas 1:20-25)

    Bou julleself op… en bid in die Heilige Gees (v. 20). As Christene die Here en die samelewing doeltreffend wil dien, moet hulle op hulself ag gee (1 Tim. 4:16). ‘n Mens se eie geestelike toestand moet nie van willekeurige beginsels en toevallige handelinge afhanklik wees nie, maar van doelgerigte, persoonlike toewyding en die gebruik van goddelike genademiddels. Jou geestelike opbouing is daarvan afhanklik dat jy deur die geloof in die Heilige Gees sal bid. Die Here kan ‘n Christen nie sonder sy aktiewe samewerking opbou nie.

    Bewaar julleself in die liefde van God (v. 21). Die ewige lewe is uitdruklik ‘n gawe van goddelike genade, en kan selfs nie deur die hoogste toewyding tot heiligheid verdien word nie. Net so seker is egter die feit dat ‘n mens nie in die ewigheid die voordele van Jesus Christus se genade sal geniet as jy nie jou volle samewerking gee om jouself in die liefde van God te bewaar nie. Johannes het gesê: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Joh. 5:3).

    Wees barmhartig… en haat die kleed wat deur sonde bevlek is (v. 22-23). Dit sal sekerlik ‘n verskil maak as ons barmhartig teenoor andere is om hulle te red en uit die vuur te ruk. Christene moet beslis poog om die verlorenes te help om die Here te vind deur goed vir hulle te wees. In sy pogings om die behoeftiges te help, moet die Christelike werker versigtig wees dat sy kleed nie deur die sondes van die ongereddes bevlek word nie.

    Om julle vir struikeling te bewaar en sonder gebrek… te stel (v. 24). Wanneer ons die Here se wil doen deur die soek en redding van hulle wie se lewens deur die sonde besmet is, verkeer ons in gevaar om deur dieselfde sondes besmet te word. Ons het egter die versekering dat die wil van God ons nie sal lei na plekke waar sy genade ons nie kan bewaar nie. Hy kan ons van struikeling bewaar as ons begeer om bewaar te word. Vir die Here om iemand te bewaar, moet dié persoon homself in die liefde van God bewaar, sy eie wil onderworpe hou en homself aan die wil van God oorgee.

    Aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid (v. 25). Omdat God die een is wat die sondaar verlos, die gelowige heilig en die een wat versoek word, van struikeling bewaar, kom al die eer en heerlikheid net aan Hom toe vir die groot dade van sy verlossingswerk.

    2. Ons verhouding met die wêreld (Filippense 2:14-16)

    Doen alles sonder murmurering en teëspraak (v. 14). In die vorige vers is die Filippense daaraan herinner dat dit God is wat in hulle werk om te wil, sowel as om te werk na sy welbehae. In hierdie vers word hulle vermaan om nie oor sy goddelike beskikking te murmureer en te kla nie. Die Here sal die Christene help om teen sonde en boosheid staande te bly, en nie vitterig en foutvinderig te wees nie. Dit is nie ‘n aanbeveling vir ‘n kind van God as hy net kan kritiseer en veroordeel sonder om eer te gee aan dié aan wie eer toekom nie (Rom. 13:7).

    Sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God (v. 15). Dit word vertel dat John Wesley en ‘n vriend, terwyl hulle ‘n ete geniet het, deur ‘n jong kelnerin bedien is wie se hand vol juweliersware was. Die vriend het effens neerhalend aan Wesley gevra: “Wat dink u daarvan?” Sy antwoord was: “Dit is ‘n baie mooi hand.” Wesley se doel was nie om wêreldse gedrag goed te praat nie, maar om die kelnerin misnoë en verleentheid te spaar. Christene wat onverskillig oor die gevoelens van andere is, is nie onberispelik en opreg terwyl hulle moet skyn soos ligte in die wêreld nie. Dit is beter om ‘n lig te wees as om net die duisternis te veroordeel en te bestraf. Niks wys die aakligheid van sonde so duidelik uit as ‘n glansende, bekoorlike, oorwinnende en heilige lewe nie.

    Deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ‘n roem (v. 16). Lelies wat ontbind, ruik erger as onkruid. Daar is ‘n wyse waarop die Woord van God oorgedra word, waardeur die God van die Woord verloën word. Dr. Harold Hoyt het sy jong teologiese studente soos volg vermaan: “Menere, julle kan die duiwel op só ‘n duiwelse manier beveg dat julle self duiwels word.” Paulus het die Filippense aangemoedig om die Woord só aan andere oor te dra dat dit vir die hoorder én die boodskapper tot seën sal wees. Wanneer dít gedoen word, sal daar rede tot roem wees wanneer die Here Jesus kom.

    3. Ons verhouding met die gelowiges (Romeine 12:9-13)

    Laat die liefde ongeveins wees (v. 9-13). Die wêreld van vandag word deur nabootsings, plaasvervangers en vervalsings gekenmerk. Daar is ‘n nabootsing of plaasvervanging vir omtrent enigiets. Daar is sekere nabootsings wat selfs beter as die oorspronklike produk is. Wanneer dit egter by die Christelike liefde kom, is plaasvervangers onaanvaarbaar. ‘n Parafrase van vers 9 lui só: “Laat ons geen nagbebootsde liefde hê nie.” Ware Christelike liefde het verskeie vrugte:

    1. ‘n Eerlike breek met boosheid, en ‘n ware toewyding aan die goeie.

    2. ‘n Warm toegeneëntheid tot mekaar, soos tussen broers.

    3. Die bereidwilligheid om die eer aan die ander persoon te gee, en mekaar sodoende in eerbetoning voor te gaan.

    4. Om nie lui te wees nie, maar ywerig in God se werk.

    5. Om die vuur van die Gees aan die brand te hou.

    6. Om jou hoop in Christus te stel.

    7. Om lankmoedig in beproewings en verdrukking te wees.

    8. Om gaste wat behoeftig is, vir etes uit te nooi.

    Daar moet soveel hartlikheid en mededeelsaamheid onder die heiliges wees, dat die sondaars sal begeer om ook Christene te wees. Baie sondaars word van Christus of van redding afgesit deur die onverskilligheid en wreedheid van Christene teenoor mekaar. Laat ons mekaar nie net in woorde liefhê nie, maar in daad en in waarheid. Hierdie vermaning is nie teen die woordelikse verklaring van ons onderlinge liefde nie, maar dat sulke verklarings ook in die praktyk in werking gestel moet word.

    Kommentaar oor die Sleutelteks

    Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het(Ef. 4:32).

    ‘n Heilige godsdiens is die praktiese, alledaagse soort. Die Fariseërs het ‘n seremoniële heiligheid gehad wat hulle van ander mense onderskei het, maar hulle nie van enige praktiese waarde vir die gemeenskap gemaak het nie. Hulle het soos wegwysers langs die lewenspad gestaan, die weg aangewys deur swaar laste op mense te lê, maar self nie die pad bewandel nie omdat hulle dit nie geestelik verstaan het nie. Hulle godsdiens was ongebalanseerd, uiters streng in sekere opsigte, en uiters liberaal in ander opsigte. Daar was geen goedheid of meegevoel vir sondaars nie, slegs veragting en teësin.

    Ware heiligheid plaas ‘n persoon in die regte verhouding tot God, homself, ander gelowiges en die wêreld. Die Christene is nie ván die wêreld nie, maar hulle is sekerlik ín die wêreld en het ‘n verantwoordelikheid teenoor dit. Die invloed wat hulle uitoefen maak die wêreld beter óf slegter. Daar is ‘n duidelike behoefte aan meer goeie beïnvloeding.

    Goedheid kos min, maar dit beteken so baie. Daar word dikwels meer oor goedheid gepraat as wat goedheid bewys word. Soos die barmhartige Samaritaan, moet geleenthede om goed te doen, raakgesien en benut word. Net ‘n vriendelike woord of ‘n ondersteunende daad, en ‘n persoon wat andersins ontmoedig was, kan weer moed skep.

    Neem tyd om heilig te wees, is baie goeie raad. Van net soveel waarde is die opdrag: Neem tyd om goed teenoor andere te doen. Wanneer goedheid van heiligheid af weggeneem word, dan bly daar net ‘n skynheilige Fariseër oor.

    Die teks in Efésiërs 4:32 het basies op persoonsverhoudinge in die kerk betrekking. Heiligheid veroorsaak dat die kinders van God mekaar liefhet en ook dienooreenkomstig optree. Toneelspel sal nie help nie, maar slegs ‘n ware liefde wat in jou lewe sigbaar is. Die effektiewe getuienis van heiligheid het in die meeste gemeenskappe verdwyn as gevolg van strydende faksies in die kerk, of persoonlike rusies tussen kerklidmate. Onvergewensgesindheid en ‘n gebrek aan goedheid is twee van Satan se mees doeltreffende metodes om skade aan siele te berokken.

    Die Here Jesus het die reël bepaal dat om vergewe te kan word, moet jy ook vergewe. Waar laat dit die verontregte broeder of suster wat ‘n wrok en bitterheid as gevolg van seergemaakte gevoelens teenoor iemand anders koester? Dit is net so geseënd om te vergewe as om self vergewe te word. Vergewensgesindheid vereis nederigheid en dalk selfs die prysgawe van jou regte. Hy wat nie vergewe nie, moet seker maak dat hy self nooit oortree nie.

    Tydens Paulus se eerste besoek aan Europa het hy in Filíppi ‘n damesbiduurgroep gekry wat langs die rivier byeengekom het. Jare later het hy aan die gemeente in Filíppi geskryf. In sy brief het hy Euódia en Sintiché vermaan “om eensgesind te wees in die Here” (Fil. 4:2). Hierdie vroue was moontlik lede van daardie eerste biduurgroep. Die duiwel hou daarvan om verdeeldheid tussen ou vriende te bring, en selfs tussen gebedsgenote as hy kan. Paulus was wys om nie kant te kies nie, maar hy het die beëindiging van die verwydering bepleit. Vir ‘n gemeente om sterk te wees, moet daar terselfdertyd ‘n sterk verhouding met God én goeie interpersoonsverhoudinge tussen die lede gehandhaaf word.

    Beoordeel jouself in hierdie opsig deur die volgende vraag te beantwoord: Indien jy God behandel soos wat jy ander mense behandel, sal Hy weet dat jy Hom liefhet?

    Leerstellige Bespreking

    Dit is ‘n fout om te dink dat ‘n rein hart outomaties jou persoonlikheidsafwykings na aanvaarbare sosiale gedrag sal verander. Ons moet ons hele lewe lank aan ons persoonlikheid werk. Romeine 12:2 sê: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Die Griekse woord vir “word verander” ondersteun die gedagte dat ons verander word. Aangesien dit in die passiewe vorm is, dui dit daarop dat ons ‘n verantwoordelikheid in die verandering het om op die leiding van die Heilige Gees te reageer. Hy bring aspekte van ons persoonlikheid onder ons aandag waaraan ons moet werk. Hierdie proses van verandering help om ons te laat besef dat ons verhoudings met ander mense voortdurend na ‘n hoër vlak moet ontwikkel.

    Beginnende by Romeine 12:9, word daar ‘n aantal dinge genoem wat ons in ons verhoudings kan help.

    Die eerste is om toneelspel, of skynheiligheid, uit ons lewens te hou. Dit is die betekenis van die woord “ongeveins”. Ons moet in alle opsigte eerlik optree en geen bymotiewe hê nie. Ons moet ook in alles wat ons van ander mense sê, ‘n rein gewete behou. Stel ‘n saak dadelik reg as die Heilige Gees jou daarvan oortuig.

    William Barclay het gesê: “Daar is so-iets soos vertoonkasliefde wat sy goedkeuring heg aan dié dinge waardeur ‘n persoon bevoordeel kan word. Dit is ‘n selfsugtige liefde waarvan die doel is om veel meer te ontvang as wat daar gegee hoef te word. ‘n Ware Christelike liefde is van die self gereinig. Dit is ‘n suiwer, uitgaande liefde na die harte van andere” (The Letter to the Romans).

    Volgens vers 9 moet ons almal liefhê, want dit is ‘n natuurlike gevolg van Christenskap. In vers 10 word daar meer spesifieke verhoudings aangespreek: “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde.” Die Griekse woord philostorgos beteken “gesinsliefde”. In die gesin van God moet daar ‘n dieper liefde tussen sy kinders wees.

    Ons verhoudings met mede-Christene moet vir ons blydskap bring en ons moet mekaar voorgaan in eerbetoon. Heilige mense moet die belange van ander hoër as hul eie belange stel. Die ouer broer in die verhaal van die verlore seun is ‘n skreinde voorbeeld van mislukking in hierdie soort gesinsliefde. Mens hoef nie in die Christen-wêreld voorbeelde van dieselfde liefdeloosheid te gee wat ‘n duidelike verbreking van die opdrag oor heilige verhoudings is nie, want dit kom dikwels voor. Dié soort gesindheid word deur jaloesie gemotiveer.

    Aangesien ons verhoudings op liefde gebaseer is, word die natuurlike gevolg hiervan in vers 13 gevind: “Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges.” Om liefde te begryp is om te weet dat ons ook moet gee! Liefde soek na die hoogste belang van andere en sluit dus die voorsiening in hulle behoeftes in. Heiligheid en suinigheid is onversoenbaar met mekaar.

    Die laaste verhouding wat bespreek word, word in vers 13 genoem: “streef na gasvryheid”. Daar word op baie plekke gesê dat gasvryheid ‘n goeie eienskap is (Heb. 13:2; 1 Tim. 3:2; Titus 1:8; 1 Pet. 4: 9). In elke geval is die woord wat gebruik word, ‘n kombinasie van twee Griekse woorde waarvan die een liefde en die ander vreemdeling is. Ons het nie net ‘n verantwoordelikheid om die broeders wat ons goed ken, lief te hê nie, maar ook die vreemdelinge. Sommige mense het ‘n gawe om jou in hulle huis te laat tuis voel, sodat daar geen spanning op die besoeker is nie. Van sy kant af moet die besoeker ook nie sy gasheer uitbuit nie. Die nakoming van hierdie reëls sal meebring dat beide die besoeker en die gasheer op hulle gemak voel.

    Vrae en Antwoorde

    Hierdie les handel oor ons verhoudings met ander mense. Verskeie aspekte van ons lewe word deur gesagspersone beïnvloed. Sommige daarvan word in die volgende besprekingsvrae genoem sodat die waarhede oor ons verhoudingslewe beter begryp kan word:

    1. Een aspek van ons verhoudings het met gesag in die algemeen te doen. Daar is baie gesagspersone in ons lewe. Wat behoort ons houding en reaksie teenoor gesag in ons lewe te wees?

    God is ‘n alomteenwoordige, almagtige, genoegsame en ewige Skepper. Hy het bepaal dat beperkte mense binne sekere grense van dit wat Hy geskape het, sal leef, bv. die natuurlike wette.

    Die mens moet ook God se morele wette onderhou om Hom te behaag. God beklee ‘n regmatige gesagsposisie oor die mens. Die waarlik geheiligde persoon is op alle lewensterreine aan die wil van God onderdanig. Hy ontwyk of weerstaan nie God se gesag om elke hoek en draai nie. Sy houding is eerder om God se wil te ken en te doen.

    God het die gesin in die Tuin van Eden ingestel. Dit is sy begeerte dat kinders gehoorsaam aan die gesag van hulle ouers moet wees (want hulle simboliseer God se gesag oor ons). Respek en onderdanigheid aan ouers maak respek en ondanigheid aan ander gesagspersone (insluitende God) baie makliker.

    Daar is ook gesagspersone in die regering. Die Bybel sê: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Matt. 22:21). Ons word verder vermaan om ons te onderwerp aan die magte wat oor ons gestel is (Rom. 13:1). Ons het die verpligting om die regeringsinstellings te respekteer en te gehoorsaam so lank as wat hulle nie God se wette verbreek nie. Wanneer die behoorlike kanale gevolg word, kan ‘n mens ook jou ontevredenheid met die regering se wette of besluite te kenne gee.

    Die mense kyk na ons lewens. Indien ons nie aan gesagspersone in ons huise, kerke, werksplekke, dorpe, stede of die land onderdanig is nie, dan kan die logiese gevolgtrekking gemaak word dat ons ook nie aan God onderdanig is nie. Ons invloed vir dit wat reg is, kan erg geknou word as mense sien dat ons gesagspersone en -instellings verontagsaam of verwerp.

    2. Wat is die regte verhouding wat daar tussen mans en hul vrouens moet wees?

    ‘n Heilige lewe beteken nie dat ‘n man as ‘n diktator oor sy vrou moet heers nie. Dit beteken ook nie dat die vrou die man se gesag mag verwerp nie. Kom ons let op enkele Bybelse riglyne oor hierdie verhouding.

    Die man moet die hoof van die huis wees. Christus is die hoof van die kerk, en die man moet sy leierskapsrol onder Christus se gesag aanvaar (Ef. 5:23-25). Daar is geen regverdiging vir ‘n diktatorskap nie. In vers 25 word gesê dat die man sy vrou moet liefhê soos wat Christus die gemeente liefhet. Christus het sy lewe vir die kerk afgelê. Hy gaan voort om net die beste belange van die kerk te soek deur die nodige genade, krag en hulp vir ‘n suksesvolle lewe te gee. Hoewel die man nie alles kan doen wat Christus doen nie, moet hy nogtans sy bes doen om sy vrou te beskerm, lief te hê, te respekteer en goed te behandel. Hy moet haar beste belange op die hart dra en die lewe vir haar so vervullend as moontlik maak. Selfsugtigheid en dade van mishandeling is totaal uit pas met sy leierskapsrol. Die man moet ten diepste geestelike leierskap aan sy gesin bied, en sal eendag voor die regterstoel van Christus rekenskap hieroor moet gee. Die Gees van God sal hom egter in staat stel om ooreenkomstig God se Woord te leef.

    Die vrou het ook riglyne waaraan sy moet voldoen. Sy moet haar man eer, liefhê en aan hom onderdanig wees (Ef. 5:33; Titus 2:4-5). Soos wat die man homself aan die leierskap van Christus oorgee, moet die vrou haarself aan die leierskap van die man oorgee (Ef. 5:22-24). Die vrou word nie beveel om ‘n passiewe robot te wees nie. Sy dink en handel vir haarself. Sy moet egter daarna streef om haar man te behaag, soos wat hy die voorbeeld stel om God te behaag. Die man en vrou moet 'n span vorm. Onderlinge respek en vertroue moet verdien en gegee word. Goeie kommunikasie en openhartigheid is noodsaaklik vir die span om goed te kan funksioneer. Soms moet vergifnis deur een van die twee gesoek én verkry word. Daar moet baie gegee en geneem word om ‘n huweliksverhouding goed te laat werk.

    3. Wat is die regte verhoudings tussen ouers en hulle kinders?

    Heiligheid van hart lei nie outomaties tot volmaakte ouer-kind-verhoudings nie. Die ouers moet baie vir wysheid en hulp bid sodat hulle die kinders reg kan opvoed en ook die regte verhouding met hulle kan handhaaf. Dit is baie belangrik om nie net vír jou kinders te bid nie, maar ook saam met hulle te bid.

    Die ouers moet verskillende dinge in ag neem om die regte verhouding met hul kinders te handhaaf. Dit moet ‘n sigbare liefde wees. Niks kan ‘n kind se behoefte aan liefde vervang nie. Dit moet altyd met die regte voorbeeld in woorde, houdings en dade gepaard gaan. Daar moet ook deurgaans gepoog word om morele en skriftuurlike waarhede en waardes in die harte en gedagtes van kinders te vestig (Spr. 22:6). Daar moet ook van hulle onderdanigheid, respek en die aanvaarding van hulle verantwoordelikhede verwag word. Vaders moet nie hulle gesag misbruik en daardeur die toorn van die kinders opwek nie (Ef. 6:4). Ouers moet in die behoeftes van hulle kinders voorsien. Let ook daarop dat onvolwassenheid nie as ‘n sonde beskou moet word nie. Die ouer-kind-verhoudings moet op onderlinge respek, vertroue en goeie kommunikasie gebou word.

    4. Wat is die regte verhouding tussen kinders en hulle ouers?

    Heiligheid van hart beteken nie dat die kinders outomaties en ten alle tye die regte verhouding met hulle ouers sal handhaaf nie. Onvolwassenheid lei tot onwyse woorde en dade. Die kinders moet egter daarna streef om God én hulle ouers te behaag. Hulle word beveel om hulle ouers te gehoorsaam (Ef. 6:1). Wanneer ‘n kind leer om sy ouers te gehoorsaam, sal hy dit ongetwyfeld makliker vind om God en ander gesagspersone te gehoorsaam. Die kinders moet hul ouers eer en respekteer (Ef. 6:2). Die kind-ouer-verhouding kan deur openhartigheid, die aanvaarding van verantwoordelikhede, die regte houdings en die gewilligheid om advies te aanvaar, gebou word.

    5. Hoe moet heilige persone se verhoudings met ander mense daar uitsien?

    Ons moet ten alle tye ‘n godvresende lewe lei terwyl ons invloede op ander mense uitoefen. Dit is noodsaaklik om ander mense lief te hê. Mense wil graag behandel word soos ons ook self graag behandel wil word. Die regte behandeling van ander kan soms plofbare situasies ontlont. Eerlikheid in saketransaksies is ook noodsaaklik. ‘n Poging moet aangewend word om in vrede met alle mense te leef. Wanneer daar verskille ontstaan, verskil dan op só ‘n manier dat jy nie van jou kant af toorn verwek nie. Leef in eensgesindheid met ander gelowiges. Vergewe andere, maar moet nooit sonde goedpraat of toesmeer nie. Respekteer die regte van ander. Leef ten alle tye só dat ander kan sien jy is ‘n Christen.

    6. Kan Christene onderling verskil?

    Ja, want hulle is steeds menslik. Hulle het nie ‘n oplossing en ‘n antwoord vir almal se probleme nie. Die Here het aan elkeen van ons ‘n verstand gegee om te gebruik. Hoewel opbouende advies goed kan wees, is dit ook waar dat nie alle aspekte van ‘n saak altyd deur ‘n “kundige” berader geken word nie. Die persoon wat by die probleem betrokke is, besef soms meer daarvan as die kundige raadgewer. In sulke gevalle het ons gronde om van mekaar te verskil en dus nie altyd mekaar se raad te aanvaar nie.

    Dit moet ook in gedagte gehou word dat mense uit verskillende agtergronde, kulture en opvoedkundige vlakke kom, wat alles na verskillende opinies kan lei. Die sinvolle wisseling van idees kan baie help om beter begrip vir mekaar se omstandighede te skep. Ons kán van ander leer!

    Die Bybel is die finale antwoord vir alle vrae oor die lewe. Dit is bokant menslike opinies oor alle sake verhewe. Dit mag soms wees dat mense nie ‘n saak op ‘n bepaalde manier sien nie. Dit is in orde, solank hulle siening nie in stryd met die Bybel is nie. Wanneer ‘n standpunt in botsing met die Bybel is, is dit absoluut verkeerd – dan is dit vir ons geregverdig om van só ‘n opinie te verskil.

    Verskillende opinies oor ‘n saak beteken nie noodwendig dat een van die partye sondig nie. Christene moet leer om “ooreen te kom om oor sekere sake te verskil” en steeds in eensgesindheid met mekaar te leef. Iemand het gesê: “Dit is slegs twee idiote wat altyd sal saamstem.”

    7. Wat moet gedoen word indien ‘n persoon ‘n slegte verhouding met iemand anders het?

    Verskeie dinge moet gedoen word. As ‘n broer iets teen jou het, moet jy na hom toe gaan en jouself met hom versoen (Matt. 5:23-24). Wanneer ons iemand anders ‘n onreg aangedoen het, moet ons die saak met God én die betrokke persoon regmaak. Wanneer ons voel dat ons benadeel is, moet ons dit in sekere gevalle maar liewer vergeet. Indien nodig, moet ons na die persoon toe gaan en dit met hom bespreek. Daar moet openhartig na sy weergawe geluister word in ‘n poging om die misverstand uit die weg te ruim en die vriendskap te herstel. Vergifnis is ‘n vereiste indien ons behoorlike verhoudings wil skep en gebroke verhoudings wil herstel. Sekere oortredings wat vergewe is, moet ook nog prakties reggestel word.

    Skinderstories kan ook verhoudings benadeel. Dit is meesal wys om dit te ignoreer. Probeer om só te lewe dat jy onder alle omstandighede bo verdenking is, en mense dit moeilik vind om iets te kry om oor te skinder.

    Ons verhouding met ander mense kan net reg wees as ons verhouding met God reg is. Ons moet met die liefde van God vervul wees. Indien ons God met ‘n volkome hart liefhet, is ons in staat om andere lief te hê omdat sy liefde deur ons vloei. Dinge in die praktyk sal nie altyd volgens ons sin verloop nie, maar as ons volkome toegewy aan God leef, sal Hy aan ons die genade gee om altyd oorwinnend te leef.

    Inhoud

    1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe

    2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe

    3. Die Betekenis van Heiligmaking

    4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe

    5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe

    6. Hoe om Geheilig te Word

    7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe

    8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk

    9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms

    10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe

    11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings

    12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid

    13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid

  • 11. Die Gemeente

    Die Gemeente

    Die gemeente van Christus word as sy liggaam beskryf, waarvan elke weergebore Christen ‘n lid is (Rom. 12:4-5; 1 Kor. 12:12-13; Ef. 1:22-23, 2:16, 3:6, 4:12,16, 5:23; Kol. 1:18,24). Hierdie intieme verhouding met Jesus Christus spruit voort uit die feit dat die gemeente deur Hom gered is (Ef. 5:25-27), gekoop is met sy bloed (Hand. 20:28), geheilig is (Ef. 5:26-27), gegrondves is (Ef. 2:19-20), gebou word (Matt. 16:18), bemin word (Ef. 5:25) en aan Hom onderworpe is (Rom. 7:4).

    Die gemeente van Christus word op die plaaslike vlak meesal deur klein gemeentetjies verteenwoordig wat hulle doelwitte nie deur krag of geweld bereik nie, maar deur die werking van God se Gees. Die ware gemeente moet teen menslike vervalsings en bondgenootskappe met die wêreld waak deur getrou aan sy roeping en opdrag te bly. Die volgende is die agt belangrike eienskappe van die gemeente. Christene moet hierdie kenmerke in hulle volste potensiaal en suiwerste vorm uitleef sodat die gemeente geestelik opgebou, siele gered, nuwe gemeentes gestig en dwalings deur onkundige mense en valse profete weerstaan kan word:

    1. Die Uitgeroepenes

    Die Nuwe Testamentiese term vir die gemeente, of kerk, van Christus is die ekklésia– dit beteken letterlik “die uitgeroepenes.” Dit is diegene wat uit die duisternis van sonde en verlorenheid uitgeroep is en oorgekom het tot die wonderbare lig van Christus (1 Pet. 2:9). Deur ‘n geestelike wedergeboorte het die Here van hulle nuwe mense gemaak (Joh. 3:3). Die ware gemeente van Christus bestaan dus slegs uit weergebore Christene. Hulle moet spontaan en openhartig van hulle veranderde lewens kan getuig, anders kwalifiseer hulle nie om lede van die gemeente van Christus genoem te word nie. Die toepassing van hierdie beginsel vir lidmaatskap blyk duidelik uit Handelinge 2:47 – net gereddes word by die gemeente van Christus gevoeg. ‘n Mens móét eers teenoor die Here Jesus jou sondes bely (1 Joh. 1:9) en jou geloof in Hom as Verlosser stel (Hand. 16:31) sodat Hy jou geestelik lewend kan maak (Joh. 5:24). Dán eers behoort jy aan Hom en is ‘n lid van sy liggaam, of gemeente, op aarde.

    So baie mense doen nooit ‘n eerlike sondebelydenis nie en kom dus nie werklik tot bekering nie. Hulle sluit in hulle ongeredde toestand by Christelike gemeentes aan, maar uit ‘n Bybelse oogpunt behoort hulle nie aan die gemeente van Christus nie. Hulle is vormgodsdienstiges wat net ‘n gedaante van godsaligheid het (2 Tim. 3:5; Titus 1:16; Op. 3:1). Die Here sal hierdie vormgodsdienstiges eendag wegwys, al het hulle ook aan kerke behoort en selfs in die Naam van Jesus gepreek (Matt. 7:21-23). Groot verdeeldheid en onmin kan in gemeentes ontstaan as “valse broeders” (2 Kor. 11:26; Gal. 2:4) insluip en voorgee om gelowiges te wees, terwyl hulle in werklikheid totaal deur die sondige vlees oorheers word.

    2. Tempel van die Heilige Gees

    Die gemeente van Christus het die opdrag om heilige, Geesvervulde lewens te lei. Hulle moet die oue mens aflê en hulle met die nuwe mens beklee (Ef. 4:22-24; 1 Thess. 5:22-24). Lede van die gemeente van Christus moet begryp dat die Heilige Gees nie net uitgestort is om hulle van sonde te oortuig en te wederbaar nie – hulle is ook geroepe om ‘n tempel van die Heilige Gees te wees sodat hule God-verheerlikende lewens kan lei (1 Kor. 6:19-20). Die Heilige Gees wil hulle vervul sodat hulle oorwinnend oor sonde, versoekings en die vlees kan leef (Gal. 5:16), en ook diensbaar in die koninkryk van die hemel gemaak kan word (Hand. 1:8; Ef. 5:18).

    3. Die Liggaam van Christus

    Deur die wedergeboorte word ons in die liggaam van Christus gedoop (1 Kor. 12:13). Soos ‘n liggaam ‘n organiese eenheid is waarin die verskillende lede mekaar aanvul, is dit ook die geval met die liggaam van Christus (Rom. 12:4-8; 1 Kor. 12:12-31). Saam met ander lede kan jy jou talente en gawes op ‘n aanvullende wyse tot die uitbreiding van God se koninkryk aanwend (1 Pet. 4:10). Die plaaslike gemeente moet daarna streef om ‘n volwaardige weerspieëling en verteenwoordiger van die korporatiewe liggaam van Christus te wees. Beoefen jou taak en roeping slegs in die krag en onder leiding van die Heilige Gees omdat ons die Here nie deur die krag van die vlees kan behaag nie. Die outoriteit van jou gemeentelike roeping is net in Christus, en die Heilige Gees bekragtig jou om dit uit te voer. Jy staan op oorwinningsgrond wanneer jy jou roeping in diepe afhanklikheid van Hom alleen beoefen. Ons hoof is die Here Jesus wat ons roep, toerus, lei én uitstuur (Ef. 1:17-23).

    4. Klein kuddetjie

    God se koninkryk word deur die klein kuddetjie van sy gemeente geopenbaar (Luk. 12:32). Christus se volgelinge is soos ‘n kudde skape wat deur die Goeie Herder gelei en versorg word. Hulle is diep afhanklik van Hom om hulle na groen weivelde te lei, te beskerm en deur elke gevaarlike situasie te lei (Ps. 23:2-4). Die Herder ken sy skape, voorsien in hulle behoeftes en weet om hulle uit elke benoudheid te verlos – ook van die duiwel self (Matt. 6:13; Joh. 10:14-15). Die Opperherder het ook opsieners aangestel om verantwoordelikheid te neem met die versorging van sy kudde (Hand. 20:28).

    5. ‘n Pilaar en grondslag van die waarheid

    Die gemeente van die lewende God is “’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim. 3:15). Dit moet ‘n kenmerk van die gemeente van Christus wees dat dit die Bybelse leer oor die saligheid in stand hou sodat mense nie in dwalings verval nie. Die gemeente móét dus ‘n apologetiese, of verdedigende, bediening hê waarin die suiwer Christelike leer teen dwaallerings verdedig word. Daar rus ‘n verantwoordelikheid op die herder om toe te sien dat lidmate oor die sektes ingelig is en in staat is om dwalings in die lig van die waarheid van die Woord te kan weerlê (Judas 1:3-4). Die waarheid van die Woord het ‘n vrymakende krag (Joh. 8:32), en in die volle lig daarvan sal elke dwaling geopenbaar word.

    6. Dissipels van Christus

    Alle gemeentelede moet daarna streef om aan die standaard van dissipels van Christus te voldoen, want só alleen kan hulle waardige verteenwoordigers van God se koninkryk wees. Die Here Jesus het sy dissipels geroep (Matt. 4:19), onderrig (Matt. 28:19; Joh. 14:26), toegerus (Luk. 24:49; Hand. 1:8) én uitgestuur (Matt. 28:19; Luk. 10:3; Joh. 20:21). Die opdrag van dissipelskap maak van die gemeente van Christus ‘n aktiewe, uitwaarts-gerigte groep wat op die evangelisering van die nie-Christelike wêreld ingestel is. Oral waar groepe gelowiges tot stand kom, moet nuwe gemeentes gestig word – al is dit ook in die huise van Christene. By hulle byeenkomste moet gelowiges opgelei word om self ook dissipels te wees wat die Woord verder sal uitdra. Op hierdie manier word die koninkryk van Christus op aarde uitgebrei.

    7. Die Bruid van die Lam

    Die gemeente is die Bruid van die Lam. Deur ‘n proses van heiligmaking moet ons voorberei word om eendag op ‘n waardige wyse, sonder vlek of rimpel, voor die hemelse Bruidegom te verskyn (Ef. 5:26-27). Die heiligmaking wat so ‘n noodsaaklike voorbereiding vir ons ontmoeting met Christus is, behels twee duidelike aspekte. Die eerste is persoonlike heiligheid. Ons moet nie onrein, sondige gewoontes hê waardeur ons na gees, siel of liggaam besoedel word nie (2 Kor. 7:1; 1 Thess. 5:23-24). Tweedens moet ons werke doen waardeur die Here behaag word, omdat “heiligmaking” ook as “afsondering vir die diens van die Here” vertaal kan word. Daar moet dus bepaalde werke in ons lewens wees as die vrug van die Heilige Gees wat deur ons werk. Hierdie werke verseker ook dat toegewyde Christene ‘n paslike bruilofskleed sal hê (Op. 19:7-8; kyk ook Ps. 45:10-11,14-16).

    8. Die lig van die wêreld

    Ons is geroepe om die lig van die wêreld te wees (Matt. 5:14-16). God se gemeente moet soos ‘n kandelaar wees wat sy lig te midde van geestelike duisternis laat skyn. Ons verteenwoordig sy koninkryk in ‘n verdorwe wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Ons moet onder geen omstandighede enige kompromie met die skewe en krom weë van die wêreld maak nie, maar streng volgens die Woord van God wandel sodat ons onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie ons skyn soos ligte in die wêreld (Fil. 2:15). As ons in die lig van die Here se aangesig wandel, dan sal sy lig deur ons op die wêreld daarbuite skyn. Maak dus seker dat jy naby aan die Here bly en dat jou voetstappe in sy Woord geanker is. Die psalmis het gesê: “Die opening van u woorde gee lig” (Ps. 119:130). Ons weet wat die bron van geestelike lig is, naamlik die Here Jesus en sy Woord, en dit is ons opdrag om dit in die wêreld te laat skyn. Indien ons sou nalaat om die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde te wees, sal die wêreld nog vinniger versleg en deur boosheid verswelg word. God wil Homself deur sy gemeente aan die wêreld openbaar, en ons het ook ‘n opdrag om dit te doen. Ons moet soos ‘n stad wees wat bo-op ‘n berg is, en wat ter wille van God se koninkryk deur almal gesien kan word (Matt. 5:14). Neem jy ‘n standpunt vir die saak van die Here in, of hou jy dalk ‘n lae profiel ter wille van persoonlike gerief en ‘n lewe van eiebelang?

    Persoonlike toewyding

    Dit is ‘n aangrypende gedagte dat ons lede van die liggaam van Christus op aarde kan wees. Ons moet hierdeur aangespoor word om as geroepe heiliges na hoër vlakke van reinheid, opregtheid en diensbaarheid te streef. Ons moet altyd besef dat Jesus Christus die Hoof van die gemeente is, en nie een of ander menslike ampsdraer nie. Mag ons nooit tot die vlak van die gemeente in Éfese verval nie, aan wie Christus gesê het: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Op. 2:4). Laat dit liewer ons uitdaging wees om soos die gemeente in Filadelfia te wees wat die Woord van die Here bewaar en sy Naam nie verloën het nie (Op. 3:8). Laat ons “kragtig stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 1:3). Ek wy my daaraan toe om ook op leerstellige gebied nie die gebooie van mense te leer nie (Mark. 7:9,13), maar slegs die onvervalste melk van die Woord aan mense te bedien. Dit is ook almal van ons se taak om ander dissipels op te lei, sodat die evangelie sy snelle loop kan neem (2 Thess. 3:1) en die bruilofsaal vol kan word (Luk. 14:23).

    Vrae

    1.    Wie en wat is die uitgeroepenes?

    2.    Is ‘n denominasie noodwendig deel van die liggaam van Christus?

    3.    Wat is die liggaam van Christus en hoe funksioneer dit?

    4.    Hoe word ‘n persoon of gemeente die tempel van die Heilige Gees?

    5.    Beskryf die gemeente in haar hoedanigheid as die bruid van Christus.

    6.    Wat is ons eerste liefde en hoe moet ons dit in stand hou?

    7.    Hoe kan die gemeente die lig van die wêreld en die sout van die aarde wees?

    Prof. Johan Malan

  • 12. Israel

    Israel

    Die volk Israel is van groot betekenis vir almal op aarde omdat die woorde van God aan hulle toevertrou is (Rom. 3:1-2). Volgens Romeine 11:11-15 is Israel nie net tydens hulle geestelike verblinding ‘n seën vir die nasies nie, maar sal dit des te meer wees nadat hulle geestelik herstel is. Dit is baie belangrik om van hierdie volk kennis te neem, omdat hulle as ‘n voorbeeld en waarskuwing aan ons voorgehou word om nie aan God ongehoorsaam te wees nie (1 Kor. 10:1-12).

    Roeping, verstrooiing en herstel

    ‘n Groot deel van die Bybel handel oor die volk Israel. In ‘n baie besondere sin is dit die volk van God. Hy het hulle geroep en vir sy diens afgesonder, hulle weens hulle voortgesette ongehoorsaamheid onder die nasies verstrooi; en dit is dieselfde, onveranderlike Verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob wat die volk nou in die eindtyd weer in hulle land herstel.

    Roeping en volksplanting.Die roeping van Israel het by Abraham begin, wat die stamvader van die volk is (Gen. 12:1-3; 13:14-15). Hierdie belofte is aan Isak en Jakob herbevestig (Gen. 26:3; 28:13). Die afstammelinge van die aartsvaders het eers vir 400 jaar lank in Egipte as vreemdelinge vertoef voordat hulle die Beloofde Land sou beërf (Gen. 15:13-14). Onder die leiding van Moses en Josua het hulle uit Egipteland opgetrek om die land wat die Here aan hulle vaders beloof het, in besit te neem. Dit was die volksplanting van Israel.

    Verstrooiing. Die Here het ‘n geestelike standaard aan Israel gestel vir die voorreg om volk van God genoem te kon word. Indien hulle in gebreke sou bly om hieraan te voldoen, sou hulle die onguns en toorn van die Here op die hals haal. Verlengde tye van nasionale ongehoorsaamheid het daartoe gelei dat die Here sy volk dikwels aan hulle vyande oorgegee het. As gevolg hiervan moes hulle tot besinning kom en besef dat hulle van die Here afgedwaal het. Ná verootmoediging het Hy hulle weer in hulle land herstel (vgl. Lev. 26 en Deut. 28). Die Babiloniese ballingskap van Israel, wat net na een gebied was, was nie die internasionale verstrooiing [diaspora] na alle nasies nie. Die diaspora het eers later, in die eerste eeu n.C. plaasgevind, en is deur Jesus self aangekondig nadat Hy as Messias deur Israel verwerp is (Matt. 23:37-38; Luk. 21:20-24). Die inval in Israel en die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeinse magte, was die begin van die lang internasionale verstrooiing van Israel wat tot diep in die 20ste eeu sou voortduur. In hierdie tyd was daar in een of ander stadium Joodse ballinge in elke land ter wêreld.

    Herstel. Op geen tydstip van Israel se bestaan was daar enige twyfel aan die geldigheid of voortbestaan van die onvoorwaardelike beloftes wat God aan die stamvaders van die volk gemaak het nie (Lev. 26:44-45). Al was hulle ook ontrou, God bly ‘n getroue Verbondsgod wat die nageslag van Israel sekerlik na die land van hulle vaders sal terugbring (Rom. 3:3-4). Die herstel van Israel uit die internasionale ballingskap het in Mei 1948 na die stigting van die moderne Joodse staat gelei. Die einddoel met Israel se fisiese herstel in die land van hulle vaders is die geestelike herstel van die volk uit ‘n vervalle toestand sodat hulle God van harte sal dien (Eseg. 36:22-28). Daar moet dus ‘n geestelike louteringsproses plaasvind nadat Israel in hulle land versamel is, wat in ‘n tyd van groot benoudheid sal gebeur (Eseg. 22:19-20; Jer. 30:7; Matt. 24:15-22). Net ‘n oorblyfsel van die volk sal gered word (Rom. 9:27), omdat die meerderheid van hulle (soos ook in alle nasies) geestelik verhard is.

    Jerusalem

    Jerusalem is die enigste stad ter wêreld wat die Here uitverkies het om sy Naam vir ewig daar te vestig (1 Kon. 9:3, 11:36). In die OT is die tempel as die huis van die Here in Jerusalem gebou. Die grootste openbaring van God aan Israel én die hele mensdom het egter met die koms van sy Seun, Jesus, na die aarde plaasgevind. Hy sou nie net die Verlosser van Israel wees nie, maar van die hele wêreld (Jes. 9:5-6; 49:6). Die Here Jesus het in Jerusalem, daardie unieke stad van godsopenbaring, die boodskap van die ewige lewe verkondig. Hy het ook in die tempel geleer. Hy én sy boodskap is egter deur die groot meerderheid van die leiers en inwoners van die stad verwerp. Hierdeur het hulle groot ellende oor hulleself gebring. Tydens sy intog in Jerusalem op ‘n esel was Jesus baie bewoë oor die stad en sy geestelik verblinde inwoners, wat die Messias tot hulle eie ondergang verwerp het (Luk. 19:41-44).

    Die Here Jesus is nét buite Jerusalem by Gólgota, in die steengroewe van Salomo, gekruisig. Hier is die groot soenoffer vir die sondes van ‘n verlore mensdom aan God betaal. Vir ewig sal Gólgota uitstaan as die uitdrukking van God se neerbuigende liefde en vergewensgesindheid, en as die enigste poort tot die ewige lewe. Daar is geen ander naam onder die hemel gegee waardeur mense gered kan word nie – net Jesus Christus alleen (Hand. 4:12). Jesus is net buite die stadsgebied van Jerusalem begrawe en het drie dae later uit die dood opgestaan. Veertig dae ná sy opstanding het Hy van die Olyfberg af na die hemel opgevaar. Nét voor dit het Hy die opdrag van wêreldevangelisasie aan sy dissipels gegee. Die evangelisering van die wêreld sou egter eers gebeur nadat nóg ‘n belangrike heilsgebeurtenis in Jerusalem plaasgevind het, naamlik die uitstorting van die Heilige Gees (Luk. 24:49; Hand. 1:8). Die Sondag toe dit gebeur het, was die geboortedag van die kerk van Christus in Jerusalem.

    Die groot vraag is: Was die rol van Jerusalem as ‘n plek van godsopenbaring hiermee vervul en uitgedien? Wat van die Here se besluit dat Hy sy Naam vir ewig in Jerusalem sou vestig? Het dit tot ‘n einde gekom toe Israel vir Jesus verwerp en laat kruisig het? Allermins! Die langtermyn toekoms van Jerusalem was nog altyd, en is nog steeds, binne God se raadsplan seker en gewis. Jesus het vir die Jode gesê dat Jerusalem verwoes en sy inwoners oor die hele wêreld verstrooi sou word totdat die tye van die nasies vervul is, m.a.w. tot aan die einde van die kerkdispensasie (Matt. 23:37-39; Luk. 21:20-24). Ná Israel se verstrooiing en fisiese herstel sal hulle ook geestelik herstel word (Rom. 11:25-26). Bybelse Jerusalem (die Ou Stad) is in Junie 1967 van Jordanië verower en in Augustus 1980 tot Israel se hoofstad verklaar. Dit het die laaste geslag van die huidige bedeling ingelui.

    In die laaste sewe jaar van die laaste geslag sal die 70ste jaarweek van Daniël verloop. Israel sal eers, tot hulle eie nadeel, ‘n verbond met die valse messias sluit (Joh. 5:43; Dan. 9:27), en dan ná 3½ jaar hulle verbond met hom verbreek wanneer hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Aan die einde van die verdrukking sal die ware Messias met sy wederkoms sy voete op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5), dan sal die hele oorblyfsel van Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het (Sag. 12:10) en geestelik met Hom versoen word (Sag. 13:1). Hulle sal Hom met die seëngroet van Matt. 23:39 begroet. Die Messias sal die troon van Dawid in Jerusalem herstel (Hand. 15:16-17), dan sal die profesie in Luk. 1:32 ook vervul word. Die vrederyk sal daarna aanbreek met Jerusalem as hoofstad van die wêreld (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17). Dit sal ‘n tyd van groot heerlikheid vir Jerusalem en die geredde Joodse volk wees (Sag. 8:22-23; Jes. 33:20-22; 52:1; 60:3,11-12,14,18; Jer. 31:31-34).

    In die lig van die wonderlike toekoms van Jerusalem moet ons ernstig vir hierdie stad bid (Ps. 122:6; Jes. 62:6-7). Ons moet dit soveel te meer doen omdat die vyande van God, van Israel en van die Christendom alles moontlik sal probeer om Israel uit hulle land te verdryf en ook teen die Messias te veg wanneer Hy na Jerusalem terugkeer. Op dié dag sal die Here met die goddelose wêreldmagte wat onder die leiding van die Antichris na Israel sal optrek, in die gerig tree (Sag. 14:2-3,12-13, Joël 3:1-2; Op. 19:19-21). Volgens Joël 3:2 is die nasies met ‘n oortreding teen Israel én teen God besig omdat hulle die land wat die Here aan Israel gegee het, probeer verdeel om vir ‘n Palestynse staat voorsiening te maak. Hierdeur kry Israel se vyande ‘n vastrapplek in hulle midde, en word die goddelike mandaat wat Israel oor die land het, geminag en geskend.

    Houding teenoor Israel

    Daar is wyd uiteenlopende houdings deur die nasies teenoor Israel. Dit is ‘n belangrike saak hierdie, omdat die oordele van die Here oor Israel se vyande uitgespreek is, en sy seën oor diegene wat hulle ondersteun (Gen. 12:3). Om die seën van die Here te verseker moet ons Israel seën. Moenie haastig wees om Israel te verdoem omdat hulle Jesus verwerp en gekruisig het nie. Dit was wél ‘n daad van ongeloof aan hulle kant, maar dit was deel van God se raadsplan vir die redding van sondaars in die hele wêreld. Sonder die plaasvervangende dood van Jesus sou jy en ek nooit Christene kon word nie, daarom hou Israel se struikeling en wandade tóg vir ons ‘n groot seën in (Rom. 11:11-12).

    Omdat Israel vir Jesus verwerp en gekruisig het, het die saligheid tot ons, die nie-Joodse volke, gekom. Israel is in sy gevalle toestand dus ‘n bron van seën vir ons! Die Here sê dat hulle in hul geestelik herstelde toestand, in die komende vrederyk, nog ‘n groter seën vir die wêreld sal wees (Sag. 8:23). Uit enige oogpunt beskou, is ons nét erkentlikheid, seën, voorbidding en onderskraging aan Israel verskuldig. Ons moet hulle jaloers maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus Christus, dien. Getuienis van hierdie aard het reeds na ‘n klein maar betekenisvolle toename in die aantal Messiaanse Jode gelei. Die toekoms van Israel is in die hande van dié Jode wat vir Jesus (Yeshua Ha Mashiach) aanneem, bely en dien (Rom. 2:28-29).

    Persoonlike toewyding

    Wat ‘n voorreg om Israel te seën en van die ware Messias teenoor hulle te getuig! Die Here het Homself daartoe verbind om hierdie volk na hulle land terug te bring (Jer. 31:10), ‘n oorblyfsel van hulle geestelik lewend te maak (Eseg. 36:25-27), Jerusalem te verhef en die wêreld daarvandaan te regeer (Jer. 3:17). Terwyl die goddelose nasies van die wêreld in hulle dwaasheid teen Jerusalem en Israel saamspan om hulle te vernietig (Ps. 83:3-5; Sag. 12:3), verbind ons onsself daartoe om Jerusalem en sy inwoners te seën deur die beloftes te verkondig wat die Messias aan hierdie stad en volk gemaak het (Jes. 62:6-7; Jer. 31:38; Matt. 23:39). Die Messias is die Heilige van Israel, en die Jode sal geen rus, voorspoed of vrede hê voordat hulle met Hom versoen is nie – Hy is hulle enigste hoop.

    Vrae

    1.    Noem twee Bybelse beloftes oor die eindtydse herstel van Israel.

    2.    Noem drie belangrike gebeurtenisse wat in die toekoms in Jerusalem gaan plaasvind.

    3.    Wat moet ons houding teenoor die ongeredde Joodse volk wees?

    4.    In watter opsig is Israel vir die Christendom tot seën, wat die hede én die toekoms betref?

    5.    Wat sê die Bybel oor nasies wat vir Israel benadeel, vervolg en beveg?

    6.    Wie het Israel se land aan hulle gegee, en vir hoe lank is dit aan hulle gegee?

    7.    Gaan die troon van Dawid herstel word en, indien wel, wie gaan van dié troon af regeer?

    Prof. Johan Malan

  • 12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid

    Studies in Christelike Heiligheid

    Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)

    Opsomming:Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.

    12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid

    Sleutelteks

    "Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is" (Matt. 5:48).

    Sentrale waarheid

    Die krisis van volkome heiligmaking vervolmaak die gelowige in die liefde en stel hom tot effektiewe diens in staat.

    Les

    Kolossense 1:25-29

                25 [die gemeente] waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul,

                26 naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges,

                27 aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.

                28 Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel;

                29 waarvoor ek arbei en stry volgens die werking wat in my werk met krag.

    1 Johannes 4:15-18

                15 Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom, en hy in God.

                16 En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

                17 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.

                18 Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

    Efésiërs 3:14-19

                14 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus,

                15 van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang,

                16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens,

                17 sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,

                18 en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is,

                19 en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

    Uiteensetting van die Les

    Inleiding

    Op verskeie terreine van die lewe word volmaaktheid van ons verwag en selfs beveel. Op die terreine van die medisyne en tegnologie is niks minder as volmaaktheid aanvaarbaar nie. Baie mense verwag volmaaktheid op elke lewensterrein behalwe op morele en geestelike gebied. Die apteker moet volmaaktheid in die verskaffing van sy medisyne handhaaf, maar die Christen mag nie van morele of geestelike volmaaktheid praat nie.

    Die idee van Christelike volmaaktheid is nie ‘n nuwe idee nie, en word ook nie net deur ‘n paar groepies selfmisleide mense aan die rand van die samelewing verkondig nie. Volmaaktheid is ‘n duidelike Bybelse beginsel. Die term “volmaak” of “volmaaktheid” word verskeie kere in die Bybel gebruik, en in baie gevalle verwys dit uitdruklik na die Christen se karakter.

    Volmaaktheid word in Deuteronómium 18:13 en Mattheus 5:48 beveel. In Hebreërs 6:1 word dit as ons ideaal gestel, en in Hebreërs 13:20-21en 2 Kor. 13:9 word hierom gebid. In Filippense 3:15 word hiervan getuig.

    Iets word as volmaak beskou as dit aan die doel beantwoord waarvoor dit beplan is. Dit is nie nodig dat ‘n stoof die werk van ‘n koelkas moet kan doen om ‘n volmaakte stoof te wees nie. As dit goed kan bak en kook is dit ‘n volmaakte stoof. Die feit dat Christene nie soos die engele is nie, beteken nie dat hulle onvolmaakte Christene is nie.

    Indien God nie ‘n volmaakte werk van verlossing en reiniging kan doen nie, dan kan niemand verwag om volmaak te wees nie. Indien Hy egter wél so ‘n volmaakte werk kan doen, dan moet die Christene Hom toelaat om alles vir hulle te doen wat Hy beplan het. ‘n Christen moet sekerlik so volmaak wees as wat die genade van God, deur die krag van die Heilige Gees, hom in staat kan stel om te wees.

    1. ‘n Volmaakte voorstelling (Kolossense 1:25-29)

    Waarvan ek ‘n dienaar geword het (v. 25). Paulus was nie net gerieflikheidshalwe of deur sy eie keuse ‘n leraar nie, maar deur oortuiging. Die Here het hom gekies en in staat gestel om ‘n leraar te kan wees, en hom ook in die bediening gestel. In Efésiërs 4:11-12 noem hy die groot doel met sy bediening, naamlik om die heiliges “toe te rus” vir hulle dienswerk – m.a.w. te vervolmaak.

    Die verborgenheid wat… nou geopenbaar is aan sy heiliges (v. 26). ‘n Verborgenheid is ‘n waarheid wat nie deur die mens se intellektuele vermoë ontdek kan word nie, maar dit word deur God geopenbaar en in die geloof aanvaar deur diegene aan wie dit geopenbaar is. Die Ou Testamentiese profete het baie dinge geprofeteer wat hulle nie self ten volle verstaan het nie. In die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur en Homself in Hom as die Verlosser van die mensdom geopenbaar. Christus is die lewende selfopenbaring van God aan die mens.

    God wou… hierdie verborgenheid onder die heidene bekend maak (v. 27). God se doel om Abraham en sy afstammelinge te kies, was om Homself aan die nasies bekend te maak. Israel het in hierdie doel misluk. Die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid is Christus wat in die Christen woon, die inspirerende hoop van die heerlikheid.

    Hom verkondig ons… om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel (v. 28). Paulus se prediking het soms oor “dinge” gegaan, maar dit was basies ‘n boodskap oor “’n Persoon”. Hy het Christus verkondig. Hy het Christus ook met die beste wysheid tot sy beskikking verkondig. Hy het waarskuwings en onderrig in sy prediking met ‘n besliste doel gedoen, naamlik om elke mens by die wederkoms volmaak in Christus Jesus voor te stel. Hy het met ‘n duidelike sin van verantwoordelikheid gepreek.

    Waarvoor ek arbei en stry volgens die werking wat in my werk met krag (v. 29). God het met krag deur Paulus gewerk. Hierdie werking het nie daartoe gelei dat Paulus rustig teruggesit en toegekyk het hoedat die Here werk nie. Hy het met ‘n ooreenstemmende persoonlike ywer vir dieselfde saak op God se werking gereageer. Hy het saam met die Here vir die vervolmaking van die heiliges gewerk.

    2. ‘n Volmaaktheid wat ontvang is (1 Johannes 4:15-18)

    Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is (v. 15). Christus is die sentrale, kardinale skakel tussen mense en God. God sal niemand aanneem wat weier om die Seun van sy liefde te erken en aan te neem nie. Elkeen wat uit die beginsel van ‘n liefdevolle geloof openlik en ten spyte van gevaar en opposisie bely dat Jesus die Seun van God is, bly in Hom.

    En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo (v. 16). Hierdie kennis is dit wat deur ondervinding opgedoen is. ‘n Mens mag van die liefde van God gehoor het en dit ook aan ander vertel, sonder om dit self te ken. Jy behoort egter veel van die liefde wat God vir ons het, te weet omdat jy dit self ervaar het. Jy kan nie in die Here woon, of Hy in jou, sonder die teenwoordigheid of bewussyn van sy liefde in jou nie.

    Hierin het die liefde by ons volmaak geword (v. 17). God wat in die Christen woon en die Christen wat in God woon, is wat Christelike volmaaktheid beteken. Wanneer die Christen homself volkome aan God toewy, aanvaar God hom en vervul hom met die uitsluiting van alle sondige neigings en morele verdorwenheid wat in stryd met sy liefde is. Volmaakte liefde is die essensie van Christelike volmaaktheid. Die eerste en grootste gebod is volmaakte liefde teenoor God, ander mense én jouself. Dit is volmaakte liefde wat aan jou vrymoedigheid vir die oordeel gee. Volmaakte liefde gee aan die Christen die kalm sekerheid dat ons regter ook ons vriend is, en dat daar vir ons geen veroordeling is nie. Hierdie vrymoedigheid is nie gebaseer op die idee dat daar geen oordeel vir die goddelose is nie, maar deur die vaste wete wat die Gees van God in ons harte gee dat ons versoening met Hom volmaak is. Soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Ons is nie in mag, wysheid en heerlikheid soos die Here nie, maar ons deel sy morele reinheid.

    Daar is geen vrees in die liefde nie (v. 18). Die hele verband dui aan dat die vrees wat nie saam met die volmaakte liefde kan bestaan nie, die vrees vir die straf en oordeel van God is. Die liefde wat die bewussyn bring dat ‘ons regter ook ons vriend’ is, verdryf alle vrees oor wat die toekoms vir ons inhou. God het aan die mens ‘n sin van vrees vir die onbekende en vir gevaar gegee. Die vrees wat jou van ‘n giftige slang of ‘n brandende gebou af laat weghardloop, is ‘n gawe van God en as sodanig nie strydig met die volmaakte liefde, of met Christelike volmaaktheid nie.

    3. ‘n Volmaaktheid wat ‘n werklikheid is (Efésiërs 3:14-19)

    Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader… van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang (v. 14-15). Paulus was oor die Christene in Éfese besorg en wou nie hê dat hulle ontmoedig moes word of wanhopig raak oor die vervolging wat hy ter wille van hulle verduur het nie. Hy het hulle verseker van sy gebede vir hulle as deel van die groot familie van God.

    Dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikeid (v. 16-19). Die gawes van God is in ooreenstemming met sy volmaakte karakter. Hy gee nie net “uit” die rykdom nie, maar “na” die rykdom van sy heerlikheid. God kan nie net ‘n bietjie gee, of goedkoop wees in sy gawes nie. Om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens. Paulus deel met die gemeente die gebedsversoeke wat hy op sy knieë vir hulle gemaak het:

    1. Dat die Heilige Gees in hulle mag woon om hulle met krag te versterk.

    2. Dat hulle in die liefde gewortel, gegrond en bevestig sal wees as gevolg van Christus se inwoning in hulle.

    3. Dat hulle deur ervaring van die verstandelik onbegryplike liefde van Christus bewus sal word.

    4. Dat God vir hulle volheid en vervulling sal bring. Aan hierdie volheid moet nie as volpropping gedink word nie, maar as versadiging.

    Ons moet erken dat Paulus die Christelike lewe as ‘n geestelike lewe gesien het wat tot groot dieptes van toewyding en hoë hoogtes van ontwikkeling in staat is.

    Die gebed word afgesluit met die versekering dat God in staat is om dit in ons en vir ons te doen, want “Hy het mag om te doen ver bo alles wat ons bid of dink.” Wat Hy wél vir ons sal doen, sal afhang van die krag van die geloof wat in ons werk. Christus sal deur alle ewigheid waardig wees van die eer en heerlikheid wat Hom toekom vir sy groot verlossing en instaatstellende krag vir ons.

    Kommentaar oor die Sleutelteks

    Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is(Matt. 5:48).

    In die voorafgaande verse (v. 43-47) het Jesus oor goddelike liefde gepraat, waarin Hy God se goedheid en liefde beskryf teenoor diegene wat Hom liefhet. In vers 48 roep Hy sy volgelinge op om volmaak te wees soos ons hemelse Vader volmaak is. Hieruit is dit duidelik dat die volmaaktheid wat Jesus van sy volgelinge verwag, volmaaktheid in liefde is. Ons liefde vir andere moet nie afhanklik wees van hoe hulle ons behandel nie, want volmaakte liefde sluit ook liefde vir ons vyande in. Wesley en andere verwys hierna as Christelike volmaaktheid. Die res van hierdie afdeling is ‘n uittreksel uit John Wesley se boek, A plain account of Christian perfection:

    1. Daar is so-iets soos volmaaktheid, want dit word oor en oor in die Bybel genoem.

    2. Dit vind nie so vroeg as regverdigmaking plaas nie, want geregverdigde persone moet nog “na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 6:1).

    3. Dit is nie so laat as die dood nie, want Paulus praat van lewende mense wat volmaak is (Fil. 3:15).

    4. Dit is nie absoluut nie. Absolute volmaaktheid behoort nie aan mense en ook nie aan engele nie, maar net aan God alleen.

    5. Dit maak die mens nie onfeilbaar nie, want niemand is onfeilbaar terwyl hy nog in sy liggaam is nie.

    Die volgende is vrae wat n.a.v. Wesley se leer oor Christelike volmaaktheid deur ander Christene aan hom gestel is. Sy antwoorde word verstrek:

    “Wat is Christelike volmaaktheid dan?”

    “Dit is om God met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou kragte lief te hê. Dit impliseer dat geen verkeerde temperament of verkeerde liefde in die siel oorbly nie, en dat al die gedagtes, woorde en dade deur ‘n suiwer liefde beheer sal word.”

    “Bevestig u dat hierdie volmaaktheid alle swakhede, onkunde en foute uitskakel?”

    “Ek bevestig voortdurend net die teenoorgestelde, en het dit nog altyd gedoen.”

    “Maar hoe kan elke gedagte, woord en daad deur ‘n suiwer liefde beheer word, terwyl die persoon terselfdertyd aan onkunde en foute blootgestel is?”

    “Ek sien geen teenstelling hierin nie. ‘n Persoon kan met suiwer liefde vervul wees en steeds foute maak. Ek verwag nie om van foute bevry te wees voordat hierdie sterflike liggaam met ‘n onsterflike vervang is nie. Foute is ‘n natuurlike gevolg van die siel se inwoning in vlees en bloed. Ons kan nou slegs dink deur die bemiddeling van liggaamlike organe wat saam met ons liggaam gely het as gevolg van die sondeval. Ons kan dit dus nie verhelp om soms verkeerd te dink nie, totdat hierdie verganklike met onverganklikheid beklee sal wees.

    “Só ‘n persoon voldoen nie aan my idee van ‘n volmaakte Christen nie, en miskien sal niemand ooit hieraan voldoen nie.”

    “U idee gaan dalk verder as die Bybelse weergawe, of ten minste langs dit. U sluit miskien meer daarin as wat die Bybel insluit, of wat die Bybel glad nie as ‘n deel van volmaaktheid bedoel nie. Christelike volmaaktheid is suiwer liefde wat die hart vervul, en ‘n persoon se woorde en dade beheer. Indien u idee enigiets meer of enigiets anders insluit, is dit nie Bybels korrek nie. Geen wonder nie dat ‘n Bybels volmaakte Christen nie aan u idee of beskrywing kan voldoen nie.

    “Stel hierdie volmaaktheid in sy oorspronklike, Bybelse vorm voor, dan kan niemand ‘n woord teen dit sê nie. Wil iemand miskien iets daarteen sê om die Here jou God met jou hele hart lief te hê en jou naaste soos jouself; teen die vernuwing van die hart, nie slegs gedeeltelik nie, maar na die volle beeld van God? Wie kan sy mond oopmaak teen die reiniging van alle besoedeling van die vlees en die gees; of om die sin van Christus te hê en in die dinge wat Hy gedoen het, in sy voetspore te volg? Watter ernstige persoon kan die gee van jou hele hart aan God opponeer, of een begeerte wat al jou temperamente beheer? Ek sê dit weer: laat hierdie Christelike volmaaktheid in sy eie vorm voorgestel word, en wie kan dan teen dit veg?

    “Is ons julle vyande omdat ons ‘n volle verlossing verwag van die vleeslike natuur wat in vyandskap teen God is? Nee, ons is julle broeders… Maar ons bely die vereiste dat ons God met ons hele hart moet liefhê, en ons naaste soos onsself. Ja, ons glo dat Hy in hierdie wêreld ons gedagtes en harte só deur die inspirasie en inwerking van sy Heilige Gees sal reinig, dat ons Hom met ‘n volmaakte liefde sal liefhê en op ‘n waardige wyse sy heilge naam sal grootmaak.”

    Leerstellige Bespreking

    Daar is in baie kringe groot misverstande oor die die begrip “volmaak”. Hierdie vrese is deur sowel die opponente as sekere ondersteuners van ‘n tweede genadewerk geskep. Sommige ondersteuners van hierdie siening het die standaard só hoog gestel dat niemand ooit daaraan kan voldoen nie. Hulle beweer dat jy só volmaak moet wees dat geen dwalende gedagte, geen verkeerde idee of enige ontmoediging oor die geheiligdes kan kom nie. Hulle het heiligmaking met verheerliking verwar! Hulle het vergeet dat die Bybel sê: “Ons het hierdie skat in erdekruike” (2 Kor. 4:7). Hulle siening is dalk net so sleg as dié van die opponente van volmaaktheid, want laasgenoemdes hoef net te bewys hoe menslik die voorstanders is om sodoende hulle leer verkeerd te bewys.

    Daar is geen volmaaktheid wat die moontlikheid van oordeelsfoute en begripsfoute uitsluit nie, en selfs ook nie mislukkings en neerlae in menslike pogings nie. Geen geloofwaardige heiligheidsleraar het ooit aanspraak daarop gemaak dat daar só ‘n soort volmaaktheid is nie. Dit is geen weerlegging van die Wesleyaanse leer oor volkome heiligmaking om sulke klaarblyklike onvolmaakthede aan te toon nie. Niemand is meer daarvan bewus as diegene wie se harte waarlik volgens die sin van Jesus Christus funksioneer nie. Die volmaaktheid waarvan ons praat, en wat ons ook aan ‘n verloregaande wêreld probeer toon, is volmaakte liefde (1 Joh. 4:17; 5:3).

    Volmaaktheid, of volkome heiligheid, bestaan uit ‘n hart wat só reingemaak is dat die motiewe en bedoelings daarvan moreel rein is. Die gees van die mens word in ‘n oomblik na ‘n hemelse standaard herskep, maar sy verstand reageer nie vinnig op die innerlike geestelike vernuwing nie.

                Net soos wat die eerste werk van genade slegs deur genade en slegs deur die geloof is, word die tweede werk ook op dieselfde wyse verkry. Wat die Heilige Gees ook in die vorm van verootmoediging en belydenis mag vereis voordat die vleeslike natuur gekruisig word, is ‘n saak tussen jou en die Here. Dit is belangrik dat ons mense sal hê wat hierdie genade deelagtig geword het, eerder as ‘n groot antal wat net nabootsers daarvan is! Die nabootsers lei ‘n onvervulde lewe omdat die dieper werk van die Here nog nie in hulle gedoen is nie. Daar is ‘n paar algemene stappe en ervarings vir alle mense op pad na volkome heiligmaking:

    1. Ons sal van die noodsaaklikheid van hierdie werk oortuig word.

    2. Ons sal besef dat dit op grond van Christus se versoening tot ons beskikking is.

    3. Ons sal in gebed tot die Here nader om hierdie ondervinding te soek.

    4. Ons sal die Here toelaat om ons vleeslike natuur te kruisig en te vernietig, sodat ons harte gereinig en geheilig kan word.

    5. Ons sal in die geloof aanvaar dat hierdie werk gedoen is, terwyl die Heilige Gees ook saam met ons gees getuig dat die werk gedoen is.

    6. Reinheid van hart en rein morele beginsels sal die gevolg va hierdie ondervinding wees.

    Ons moet onthou dat alhoewel ons harte gereinig is, daar nog ‘n menslike element in ons is wat eers met die opstanding en verheerliking vervolmaak sal word. Dit is waarom ‘n volkome geheiligde persoon oordeelsfoute kan begaan, met gevolge wat smarte aan sy siel kan besorg wanneer hy daarvan bewus word.

    Hoewel die hart se motief om iets te doen, suiwer mag wees, het dit slegs die kanaal van ‘n onvolmaakte liggaam om homself aan die wêreld te openbaar. Hoe dikwels wou ons een gedagte of saak oordra, wanneer iets heel anders deur ons hoorders verstaan is. Dit is soos lig wat op ‘n meer skyn en die illusie skep dat ‘n vis op ‘n sekere plek is. Wanneer jy hom met ‘n spies probeer steek, dan mis jy hom! Sulke foute is die deel van geheiligde mense terwyl ons hier op aarde is. Soms doen ons iets met die beste en mees geheiligde bedoelings, net om deur mense volkome verkeerd beoordeel te word. Hulle neem nie in ag dat ons menslike manier van kommunikasie onvolmaak is, en dat ons suiwer motiewe gedeflekteer kan word deur ons persoonlikheid waaraan ons nog steeds met die hulp van die Here werk nie!

    Laat ons seker maak van ons eie ondervinding van ‘n tweede werk van genade en dit voortdurend beoefen, terwyl ons altyd onthou dat die beste definisie daarvan “volmaakte liefde” is. Liefde streef  na die beste belange van andere, daarom sal ons mense na hoër hoogtes probeer lei, eerder as om hulle deur onnadenkende kritiek af te breek.

    Vrae en Antwoorde

    Hierdie les handel oor Christelike volmaaktheid. Mattheus 5:48 vermaan ons om volmaak te wees soos wat God volmaak is. Die volgende vrae en antwoorde sal ons help om beter te verstaan wat Christelike volmaaktheid is:

    1. Wat is Christelike volmaaktheid?

    Hierdie begrip beklemtoon die volkomenheid van die Christelike karakter soos deur die genade van die Here verander. Dit maak van jou geestelik die persoon wat die Here wil hê dat jy moet wees, met die regte begeertes en motiewe ten spyte van menslike beperkings en onvolmaakthede.

    2. Wat is sekere dinge wat nie deur Christelike volmaaktheid bedoel word nie?

    (1) Dit is nie absolute volmaaktheid nie. Net God is absoluut volmaak. Mense kan steeds foute maak, al is hulle ook volkome geheilig. (2) Ons is nie volmaak in kennis nie. Mense kan foute van oordeel en opvattings maak, gedeeltelik as gevolg van die sondeval. Ons het nie al die antwoorde oor geestelike én ander sake nie. (3) Dit beteken nie dat ons nie versoek kan word en ook nie sonde kan doen nie. Ons kan ten spyte van volkome heiligmaking nog steeds versoek word. Ons kan verkies om aan die versoeking toe te gee, maar ons hoef nie. (4) Christelike volmaaktheid maak ons nie immuun teen menslike beperkings nie. Ons word nog steeds siek, moeg depressief en ontmoedig, en sê en doen verkeerde dinge.

    In wese verwyder Christelike volmaaktheid nie die vermoë om te faal, foute te maak en selfs te sondig nie. Meningsverskille, verkeerde oordeel en ander foute mag nog voorkom. Soms is vergifnis nodig om weer situasies reg te stel. Heiligheid van hart neem nie die menslikheid van die lewe weg nie.

    3. Waarom is daar die opvatting onder sekere Christene dat hulle ná volkome heiligmaking geen foute kan maak nie?

    Die grootste rede hiervoor is onkunde. In Christelike volmaking word die motiewe, houdings, begeertes en toestand van die hart voor God reggestel. Dit beteken glad nie dat die geheiligde persoon as mens bokant foute, verkeerde oordeel en selfs sonde verhewe is nie.

    4. Wat moet ‘n geheiligde persoon doen nadat hy ‘n fout gemaak en gesondig het?

    a. Moet nooit opgee nie! Die duiwel sal alles probeer om jou te laat faal en van jou oortuigings te laat afsien. Onthou dat ons foute kán maak.

    b. Bid om die vergifnis van enige sonde, en vra die Here om jou te help en te lei om in die toekoms nie weer te sondig en foute te maak nie.

    c. Erken jou foute en sondes teenoor ander mense, en stel die saak reg. Onthou dat mense ‘n probleem met ‘n “holier than thou” gesindheid het. Wees dus bereid om nederig te wees en jou foute te erken. Deur dit te ontken sal jy die vertroue in jou én jou heiligheidsleer ernstig ondermyn.

    d. Onthou dat die beste antwoord soms stilswye is. Ons hoef nie altyd op vrae en kritiek oor ons te reageer nie. Deur ‘n vriendelike glimlag en deur stil te verdwyn, kan jy soms ‘n probleemsituasie ontlont.

    e. Bid vir die leiding, krag, genade, wysheid en hulp van die Here.

    f.   Volg die goue reël van liefde.

    6. Sal daar ooit ‘n tyd wees wanneer die heiliges sal kan lewe sonder om foute te maak?

    In hierdie lewe sal ons altyd aan versoekings en foute onderworpe wees. Dit is eers by die opstanding en die wegraping dat ons verheerlik sal word en geen foute meer sal maak nie.

    7. Hoe moet ons tot daardie tyd in die lig van ons beperkings lewe?

    Ons doel moet wees om altyd God se wil en sy leiding te soek en te volg. Omdat ons van ons beperkings bewus is, moet ons grootmoedig genoeg wees om dit te erken en ons foute reg te stel. Van sonde moet ons onsself natuurlik bekeer deur dit te bely en te laat staan. Alle pogings moet aangewend word om binne die grense van ons vermoëns en deur die genade van God, reg te lewe. Ons kán oorwinnend leef tot die einde toe!

    DIE VOLMAAKTHEID VAN GOD IN MY

    Een nag toe ek die straat oorsteek, het ek skielik die helder gelui van ‘n klok bokant my gehoor. Toe ek opkyk, het ek ‘n toring gesien waarin daar ‘n groot horlosie was wat deur sy klokkespel die middernaguur aangekondig het. Ek het my horlosie uit my sak gehaal, en sy dun wysertjies het presies op 12-uur gestaan.

    Dit het skaars moontlik gelyk dat die klein meganisme in my hand presies tyd kon hou met die reuse masjinerie wat ‘n hele toringvertrek gevul het, maar die bewys was voor my. Ek het na die twee pare wysers van sulke uiteenlopende afmetings gekyk. Soos nooit tevore nie het ek verstaan dat die mees onbelangrike mens hier op aarde wat skoon, in ‘n goeie werkende toestand en goddelik beheer is, met God self ingestel kan wees. “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”

    WORD VERVUL MET DIE GEES

    Ek het te perd tussen Melbourne en my huis gery en dikwels by ‘n trog langs die pad stilgehou sodat die perd water kon drink. Die trog was altyd vol water. Ek het gemerk dat daar aan die een kant ‘n pyp en ‘n vlotterklep was met ‘n bal wat op die water gedryf het. Soos wat die perd gedrink en die watervlak gedaal het, het die bal gesak en die klep oopgemaak. Water het dan van die reservoir af op die rantjie na die trog gevloei om dit vol te hou sodat die dorstige diere kon drink.

    Dit is ook so met die siel van die gelowige. Ongeag wat die uitvloei na die omringende leegheid mag wees, of die onttrekking deur dorstige, behoeftige siele, is daar altyd ‘n konstante “volheid”. Die uitvloei is direk van die invloei afhanklik, en ons kan alleen gee soos wat ons ontvang. Ons plig is net om toe te sien dat die verbinding tussen ons en die oneindige reservoir van genade op die berg van Here deur geloof, Bybelstudie en gebed skoon en in ‘n goeie werkende toestand gehou word. Dan sal ons altyd met die volheid van God vervul wees, ongeag wat die geestelike dreinering op ons is. Dit gaan nie oor ons vermoë om te behou nie, maar oor God se oneindige voorsiening in elke behoefte van ons.   – John MacNeil

    N DEFINISIE VAN VOLMAAKTHEID

    John Fletcher het Christelike volmaaktheid as ‘n konstellasie beskou wat uit die volgende sterre van genade bestaan:

    Volmaakte bekering.

    Volmaakte geloof.

    Volmaakte nederigheid.

    Volmaakte selfverloëning.

     Volmaakte aflegging van die ou lewe.

    Volmaakte hoop.

    Volmaakte liefde vir alle mense – ook vir ons vyande.

    Volmaakte liefde vir ons onsigbare God.

    Inhoud

    1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe

    2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe

    3. Die Betekenis van Heiligmaking

    4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe

    5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe

    6. Hoe om Geheilig te Word

    7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe

    8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk

    9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms

    10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe

    11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings

    12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid

    13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid

  • 13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid

    Studies in Christelike Heiligheid

    Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)

    Opsomming:Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.

    13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid

    Sleutelteks

    "Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie" (2 Pet. 1:10).

    Sentrale waarheid

    Die ontwikkeling van ‘n heilige karakter is ‘n daaglikse proses.

    Les

    1 Korinthiërs 3:1-3

                1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.

                2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,

                3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?

    2 Petrus 1:3-8

                3 Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,

                4 waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

                5 En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,

                6 en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug,

                7 en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.

                8 Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie.

    Efésiërs 4:13-16

                13 Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus;

                14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die berdieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;

                15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,

                16 uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.

    Uiteensetting van die Les

    Inleiding

    Heiligheid van hart en lewe is ‘n krisis én ‘n proses. Dit is beide oombliklik en progressief. Die werk van die reiniging van sonde wat “die God van die vrede” doen, word op ‘n sekere tydstip voltrek. Die ontwikkeling van ‘n karakter en gedrag wat in ooreenstemming met hierdie toestand van reinheid is, word nie in ‘n oomblik of in ‘n dag gedoen nie. Dit is ‘n proses wat jou hele lewe lank sal duur.

    Sekere mense dink verkeerdelik dat Christelike volmaaktheid, wat die liefde van God in ‘n hart is wat deur die Heilige Gees vervul is, enige moontlikheid van geestelike groei uitskakel. Die reiniging en vervulling met die Heilige Gees rus ‘n mens in werklikheid net toe en berei jou vir ‘n vinnige groei in genade voor. Dit kan vergelyk word met die herstel van ‘n liggaam se gesondheid as ‘n vereiste vir fisiese groei, of die verwydering van onkruid uit ‘n tuin as ‘n voorwaarde vir vinniger groei.

    Die mees heilige persoon moet voortgaan om in die genade te groei en ‘n karakter en lewe te bou wat die goddelike natuur binne-in hom weerspieël. Ons kan nie verbeter op wat God gedoen het nie, maar dit kan meer getrou gedemonstreer word in on ons uiterlike gedrag en voortgesette groei “in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).

    1. Die dilemma van geen groei nie (1 Korinthiërs 3:1-3)

    En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus (v. 1). Indien die vleeslike natuur wat in vyandskap teenoor God is, toegelaat sou word om in ‘n mens se hart voort te bestaan, sal dit alle groei in genade dwarsboom. Die vleeslike natuur wat teen die Heilige Gees in die gelowige stry, sal die einde van die persoon se geestelike lewe meebring as hy nie vernietig word nie (Rom. 6:6 en 8:6-7).

    Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie (v. 2). Een van die simptome van ‘n aangetaste liggaam is die verlies aan eetlus vir goeie, sterk, voedsame kos. Verdorwenheid in die hart sal die begeerte aan geestelike voedsel neutraliseer.

    Omdat julle nog vleeslik is (v. 3). Gelowiges is vleeslik totdat hulle hulself verootmoedig, hulle vleeslike toestand bely, en hulle geloofsvertroue in die reinigende werk van die versoeningsbloed van Christus stel. Hierdie vleeslike Christene het baie goeie eienskappe gehad wat in 1 Korinthiërs 1 genoem word. Hulle het egter ook besliste vleeslike eienskappe gehad, waaronder jaloersheid, twis en tweedrag. Paulus het gesê dat dit aanduidings van geestelike verdorwenheid is. Hy het nie gesê dat hierdie toestand as normaal aanvaar moes word omdat daar niks meer vir ‘n Christen is nie. Hy het het hulle geestelike toestand erg betreur, en in 2 Korinthiërs 1:15 die vertroue uitgespreek dat hulle tydens sy voorgenome besoek “’n tweede genade” sou ontvang.

    2. Die volgorde van groei in genade (2 Petrus 1:3-8)

    En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug… (v. 3-7). Adam Clarke skryf oor hierdie gedeelte: “Deug. Die moed en vasberadenheid om jou geloof in tye van verdrukking voor ander mense te bely. Kennis. Die ware wysheid waardeur jou geloof sal toeneem en jou moed op die regte wyse toegepas sal word sonder om na onbesonnenheid te degenereer. Selfbeheersing. Die korrekte en beperkte gebruik van aardse genietinge, terwyl die sinne onder beheer gehou word en die dierlike deel daarvan nie toegelaat word om die rede te oorheers nie. Lydsaamheid. Om alle toetse en probleme in dieselfde gesindheid te verdra en deur dit alles te volhard. Godsvrug. Liefde teenoor God – ‘n diep, eerbiedige, godsdienstige vrees waarin die dien van die Here nie net ‘n uiterlike daad is nie, maar ‘n innerlike toewyding om Hom in jou te hart te bewonder, lief te hê en groot te maak. Broederliefde. Dit is ‘n sterk band met die gemeente van die Here, waarin Christene mekaar onderling as lede van dieselfde liggaam ervaar. Naasteliefde. Liefde teenoor almal, selfs jou vervolgers. Die ware godsdiens is nooit selfsugtig of geïsoleerd nie. Waar die liefde van God is, kan daar geen bekrompenheid wees nie. Eng, selfsugtige mense wat ‘n partyskap vorm en skaars enige hoop vir die redding van diegene het wat nie glo soos wat hulle glo nie, het nouliks enige godsdiens. In hulle eie oë is niemand egter so behoudend en godsdienstig as hullself nie.”

    Petrus moedig ons dus aan om een gesindheid ná die ander in ‘n wonderlike orde by te voeg totdat dit volledig is en die Christelike lewe met alle deugde toegerus is. Elke genade wat verkry is, help ons om ander genades te vervolmaak.

    Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem (v. 8). Indien iemand in hierdie toevoegings of ontwikkelingsproses toeneem kan hy nie, wat homself én andere betref, ledig en onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus wees nie.

    3. Die doel met groei (Efésiërs 4:13-16)

    Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God (v. 13). Die uiteindelike geestelike doel van die kerk begin by die eenheid van die geloof. Die geloof wat hier bedoel word, is die inhoud van die evangelieboodskap in sy volledigste vorm. Die eenheid van gelowiges is onmoontlik tensy dit op die fondament van ‘n gemeenskaplik aanvaarde waarheid gebaseer is. God se waarheid is nie gefragmenteerd en teen homself verdeeld nie. Wanneer die kinders van God verdeeld en gefragmenteerd is, beteken dit bloot dat hulle tot dieselfde mate van sy waarheid afgewyk het.

    Sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word (v. 14). Die onvolwasse Christen is baie naïef en onbestendig in sy oortuigings. In die geskiedenis van die kerk is daar nie ‘n groep gelowiges wat in die naam van die Christendom in meer dwaashede verval het as vandag se kerk nie. Ten spyte van ons ongeëwenaarde onderwys, gesofistikeerdheid, vryheid, toegang tot God se Woord en goeie Christelike opleiding, lyk dit of enige godsdienstige misleier en bloedsuier ‘n geredelike gehoor én finansiële ondersteuning onder Christene kan kry. Die aantal dwase, verdwaalde, korrupte en selfs ketterse leiers aan wie baie kerkmense bereid is om hulle geld en lojaliteit te gee, is verstommend en hartverskeurend. Die Christen wat behoorlik toegerus is, sal nie sulke misleiding, bedrog en sluheid ten prooi val nie.

    Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom (v. 15). Dit is ‘n beginsel wat op elke aspek van ‘n Christelike lewe en bediening betrekking het. Volwasse gelowiges wie se lewe deur liefde gekenmerk word, sal nie die slagoffers van valse leringe wees nie. Hulle geestelike lewe sal eg wees en hulle sal die ware evangelieboodskap aan ‘n misleiende en misleide wêreld verkondig. Die kerk se werk van evangelisasie en geestelike opbouing sal voortgaan totdat die Here kom. Die geestelik toegeruste kerk, waarvan die lede leerstellig suiwer is en volwasse in hulle denke en lewe, is die kerk wat in liefde sal uitreik om die boodskap van God se reddende genade te verkondig. Die Here rus ons nie toe om te stagneer nie, maar om te dien.

    Uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee (v. 16). Elke uitdrukking in hierdie vers is uiters belangrik om die waarheid oor die doeltreffende funksionering van die liggaam oor te dra. Christus hou die liggaam bymekaar en laat dit funksioneer volgens die gawes wat in elke lid aanwesig is. Die geestelike bronne en gawes van die Heilige Gees vloei van die een lid na die ander, daarom moet hulle goed saamgevoeg en saamverbind wees sodat die vloei in die bediening van die hele liggaam tot groei kan lei. Waar kinders van die Here noue verhoudings in ‘n geestelike bediening het, werk die Here. Waar hulle nie intiem met mekaar saamwerk en getrou in die bediening van hulle genadegawes is nie, kan die Here nie werk nie. God verlang nie kreatiwiteit of slim planne nie, maar ‘n gewillige en liefdevolle toewyding tot diensbaarheid. Die somtotaal van hierdie waarhede is dat elke gelowige naby aan die Here Jesus moet bly, en sy geestelike gawes getrou moet gebruik in noue assosiasie met ander gelowiges met wie hy in kontak is. Deur toewyding en diens van hierdie aard sal die krag van die Here ongehinderd vloei om die liggaam van Christus in liefde op te bou.

    Kommentaar oor die Sleutelteks

    Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie (2 Pet. 1:10).

    Daarom… des te meer. Eerder as om vir hierdie geestelike genades (v. 5-7) blind te wees, moet ons ywerig daarna streef. Deur dit te doen, word ons verkiesing vasgemaak. Hierin sien ons voorwaardelike ewige sekerheid. Diegene wat nalaat om toegewyd die genades tot hulle geestelike lewe toe te voeg waarvan Petrus praat, verloor hulle verkiesing. Vroeër of later sal hulle vind dat sonde weer die oorhand oor hulle gekry het (kyk v. 9). Maar “as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.”

    In sy onderrig het Jesus van ‘n bruilofsgas gepraat wat nie nougeset aan sy gasheer se vereistes voldoen het nie (Matt. 22:11-14). Hy was tussen die genooides, hy het op die uitnodiging gereageer, en hy sou tot finale goedkeuring verkies gewees het indien hy aan die koning se standaard vir ‘n bruilofskleed voldoen het. Met die aanvaarding van die uitnodiging was daar ‘n duidelike verstandhouding dat die gaste die aanvaarbare drag moes aanhê. Daar is diegene wat glo dat God só groothartig is dat Hy enigeen wat probeer het om ‘n goeie lewe te lei en dus nie té sleg is nie, sal aanvaar. Die Bybel bied geen hoop van hierdie aard aan nie. Jesus het gesê: “Baie is geroep, maar min uitverkies.” Die duidelike implikasie hier is dat diegene wat nie uitverkies is nie, die mense is wat nie toegewyd God se wil gedoen het nie.

    Ja, daar ís die gevaar om geestelik tot ‘n val te kom. Judas het deur sy oortreding geval, en hy was ‘n apostel. In 1 Korinthiërs 10 beskryf Paulus die mislukkings van Israel, en rig dan die vermaning: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (v. 12). Selfs al is daar die gevaar van val, is dit glad nie nodig om dit te doen nie. Dit is nie ‘n vraag of jy in staat sal wees om staande te bly of nie, maar of jy God se genademiddels aanvaar waardeur Hy sy dienskneg in staat stel om staande te kan bly, want “God is magtig om hom staande te hou” (Rom. 14:4).

    Die Here roep ‘n mens, en dit is jou plig om daardie roeping ywerig te volg. Hy roep alle mense tot die ewige lewe, maar dit beteken nie dat jou persoonlike verhouding met Hom onvoorwaardelik vir ewig is nie. Om hierdie rede het Petrus nougesetheid in die bou van ‘n Christelike karakter bepleit nadat ‘n persoon die krisisondervinding van wedergeboorte en heiligmaking deelagtig geword het. Getrouheid hierin verseker aan jou die finale verkiesing tot heerlikheid. Soos wat ons deug by kennis voeg, ens., sal die Here genade en vrede vir ons vermeerder (v. 2). Sy vermeerdering oortref by verre die mens se byvoeging.

    Leerstellige Bespreking

    Die noodsaaklikheid van groei in genade sou nie so onduidelik gewees het as dit nie was dat mense die begrippe “genade” en “groei” verkeerd verstaan nie. ‘n Eenvoudige illustrasie sal help om dié probleem te verduidelik. Niemand verwag ooit van ‘n volmaakte, pasgebore baba om ‘n boek te kan skryf oor sy toetrede tot die wêreld, of om volwasse gevoelens daaroor te hê nie. Tóg lyk dit of baie mense van ‘n pas geheiligde persoon verwag om onmiddellik dieselfde volwasse etiek, getrouheid in toewyding, en idees oor kultuur en gebruike te hê as wat hulle het. Die Here sê vir ons in Romeine 12:2 dat ons “verander” moet word, maar daar is nêrens in die Bybel ‘n maatstaf om ‘n persoon se geestelike groei te meet nie. Dit is baie beter om ons ervaring van volkome heiligmaking op die getuienis van geloof en vrugte te baseer. Dit is die essensie van wat Wesley hieroor gesê het.

    Een strik waarin geheiligde persone soms beland, is om hulle doeltreffendheid te meet aan dit wat andere bereik het nadat hulle met die volheid van God vervul is. In sy boek, Love Enthroned, sê dr. Daniel Steele dat die vervulling met die Heilige Gees en die doeltreffendheid van die gelowige ‘n onderwerp van intense belang vir alle Christene is. Dit word soms aanvaar dat die oorvloedige uitstorting van die Gees op die gelowige aan hom iets soos ‘n elektriese lading sal gee. Dit sal dan skokgolwe na die sondaars laat uitgaan wat hulle sal laat bewe, platval en om genade laat roep soos wat duisende mense onder die prediking van Petrus op Pinksterdag gedoen het. Steele sê dat sulke verskynsels baie seldsaam is, en noem in sy boek enkele gevalle waar dit gebeur het, bv. onder die prediking van Charles Finney en “Father” Carpenter van New Jersey.

    Hy voeg by dat dit meer verg om ‘n siel in die liefde van Christus te bevestig as om hom tot bekering te lei. Predikers wat só ‘n bediening het, het ‘n hoër gawe as evangeliste wat sondaars tot bekering lei.

    Ons moet aanhou om in ál die gawes van die Gees te groei nadat ons met die Heilige Gees vervul is. Dit beteken dat baie mense wat volkome heilig gemaak is, sal moet leer dat liefde ons getrouheid in die kleiner detail van ons lewe vereis, soos stiptelikheid, om stil te bly oor vertroulike inligting wat aan ons meegedeel is, en om ons pligte getrou uit te voer. Selfbeheersing is ook ‘n vrug van die Heilige Gees. Ons moet ons lewens ondersoek om vas te stel of ons vordering in die beheer van ons eetgewoontes, slaapgewoontes, gesprekke, ontspanning en ander sake maak waarop die Heilige Gees ons aandag vestig. Dit help nie om een deug sterk te beklemtoon as ‘n verskoning vir ander terreine waarop ons faal nie. Mag die Here ons help om in liefde te groei en op alle lewensterreine die vrug van die Gees te dra!

    Dit is onmoontlik om al die aspekte op te noem waarin ons in liefde moet opgroei. Daar is bv. die terreine van etiek, genade vir die regte sosiale verkeer met mense, nougesetheid, ens. Liefde maak ons nie wetteloos nie, maar dit verleen aan ons die vryheid om alle Christelike genades binne die perke van die wet van die liefde te kan beoefen. u

    Vrae en Antwoorde

    As mense is daar baie dinge in die lewe wat ons nie weet nie. Die verlossing van sonde verander nie hierdie feit nie. ‘n Persoon kan ook die ervaring van hartsreiniging kry sonder dat dit met geestelike volwassenheid gepaad gaan. Daar moet eers oor tyd heen ‘n proses van geestelike groei wees voordat geestelike volwassenheid bereik sal word.

    1.  Noem sekere dinge wat geestelike groei sal bevorder.

    a.   Bybelstudie. Die gereelde omgang met God se Woord is noodsaaklik.

    b.   Gebed. Gereelde kommunikasie moet in gebed met God gemaak word.

    c.   Wandel in die lig. God se weg moet gevind en bewandel word.

    d.   Bediening. Om ‘n kanaal te wees waardeur God se liefde na ander toe vloei, bevorder ook geestelike groei.

    2.  Gee advies oor hoe om Bybelstudie effektief vir geestelike groei te maak.

    Dit is belangrik om te onthou dat Bybellees nie opsioneel is nie, maar ‘n voorreg en ‘n vereiste (Ps. 119:11). Die Bybel is ‘n bron van geestelike kennis, leiding, bemoediging en hulp. Dit het antwoorde op die probleme waarmee ons te doen het. Dit verleen insig oor God se wil vir ons lewe. Dit lig ons oor toekomstige gebeure in, bied hoop aan die kind van God en waarskuwings aan sondaars.

    Elke persoon moet ‘n vaste en gereelde Bybelleesprogram hê. Mense verskil in baie opsigte van mekaar. Sommige is oggendmense en ander is aandmense. Elkeen moet in sy besondere omstandighede vir hom die beste tyd bepaal om Bybel te lees. ‘n Ernstige poging moet aangewend word om die Bybel daagliks in ‘n tyd te lees wanneer jy goed kan konsentreer en helder kan dink.

    Die lengte van die gedeeltes wat gelees word, mag van tyd tot tyd verskil. Dit sou wys wees om te begin deur verskeie verse per dag te lees en ‘n vaste patroon te vestig. Dit sou bv. beter wees om gemiddeld 10 verse per dag te lees, as om vir twee dae 100 verse te lees en daarna vir dae lank niks nie. Dit mag moeilik wees om 100 verse per dag te lees, en dit kan daartoe lei dat jy heeltemal ophou om Bybel te lees. Sommige mense lees maklik en kan sonder moeite ‘n paar hoofstukke per dag lees. Ander mag sukkel om net ‘n paar versies onder die knie te kry. Ongeag wat jou eie situasie is, vestig net vir jou ‘n vaste, daaglikse program van Bybellees.

    Gebed, afgewissel deur Bybellees, kan jou ook help om geestelik te groei. Vra aan die Here om dinge uit sy Woord aan jou te openbaar. Lees die Bybel met ‘n oop, ontvanklike gemoed terwyl jy na God se wil soek.

    Lees die Bybel in die verband waarin dit geskryf is. Dit sal soms nodig wees om ‘n hele hoofstuk, of ‘n hele verhaal, te lees voordat ‘n betrokke vers goed verstaan sal word. Die Bybel kan baie dinge “sê” as dit buite verband aangehaal word. Daar sal altyd teen verkeerde vertolkings gewaak moet word.

    Dit is altyd goed om Bybelgedeeltes te memoriseer. Hierdie gedeeltes mag handig te pas kom om ons deur probleme te help wanneer daar nie ‘n Bybel byderhand is nie.

    Dit is noodsaaklik om toe te pas wat die Here se Woord ons leer. Baie hartseer en probleme kan vermy word, en veel wat goed is kan bereik word as ons aan die Bybel gehoorsaam is.

    3.  Hoe kan ons gebed in ons geestelike groei effektief maak?

    Gebed is kommunikasie met God. Dit behels praat én luister. Vir ‘n beperkte mens met al sy tekortkominge, swakhede en versoekings is gebed ‘n belangrike skakel met ‘n onbeperkte God wat gewillig is om hom te help. God ken ons behoeftes, maar Hy wil hê dat ons ons afhanklikheid van Hom moet bely.

    Die beoefening van ‘n gereelde gebedslewe is baie belangrik. Dit is maklik vir jong bekeerlinge om baie ongeestelik te voel omdat ouer bekeerlinge twee of drie ure per dag bid, terwyl hulle self net tien minute bid. Die duiwel wil hê dat só ‘n persoon ontmoedig sal voel en heeltemal ophou om te bid. Streef daarna om die tien minute oor tyd heen tot 20 of 30 minute per dag, of selfs meer, te verleng. Dit is beter om elke dag ‘n bietjie te bid as om vir ‘n dag of twee baie te bid en dan vir dae lank glad nie te bid nie. Die lengte van die gebed is ook nie die kritieke saak nie, want dit moet vir jou gaan om met God te praat en van Hom te hoor.

    Wanneer jy bid, moet jy openhartig en eerlik met God praat. Niks is vir Hom bedek nie, daarom is die erkenning van probleme en behoeftes heeltemal in orde. Bespreek alle aspekte van jou lewe met God, en slaan ook ag op die antwoorde wat jy van Hom af kry.

    Verskeie sake kan in gebed aangespreek word. In ‘n gedeelte van die gebed behoort God geëer te word vir wie Hy is. Hy is ons eer waardig. ‘n Ander deel van gebed is die belydenis van sonde aan God, sodat sy vergifnis verkry kan word. ‘n Deel waarmee ons baie goed bekend is, is om ons gebedsversoeke aan God te rig. Hy kan en wil ons help. ‘n Gebed moet ten laaste ook danksegging insluit vir dit wat God gedoen het en nog sal doen.

    Geloof moet beoefen word om ‘n gebed effektief te maak. Dit is een ding om te glo dat God gebed kan verhoor, maar heeltemal iets anders om te glo dat Hy dit sál doen! Daar is baie beloftes in die Bybel wat in die geloof aangeneem kan word. As God iets beloof het, kan ons dit vra indien ons aan sy voorwaardes voldoen.

    4.  Hoe kan ons geestelik groei deur in die lig te wandel?

    Geestelike lig kan as godgegewe leiding aan die mens gedefinieer word. Dit kan deur Bybelstudie verkry word, of in tye van gebed. Hierdie lig kom nie van die mens af, soos sommige dink nie. God kan predikers of ander mense gebruik om deur hulle te praat wanneer Hy lig gee, maar die lig self kom van Hom af.

    Hierdie lig moet begeer word. Dit help nie om vooraf te besluit wat jy wil doen, en dan om die Here se lig of leiding te bid nie, want dan sal dit min of geen invloed op jou lewe hê nie. God is lig en ook die bron van lig. Hy weet hoe om elke mens te lei, sy voetstappe te rig en hom te ondersteun. Baie van hierdie voorskrifte word in sy Woord gegee, en is ‘n verdere rede vir Bybelstudie. Hy skep ook oortuigings in jou hart tydens gebed, en dit is nóg ‘n rede om te bid.

    Wanneer God aan ‘n persoon lig oor ‘n sekere saak gee, moet hy besluit hoe om daarop te reageer. Hy kan dit verwerp en teen die lig wandel, dan sal hy uiteindelik deur die lig verblind word en in die duisternis wandel. Wat dan in ‘n stadium verkeerd was, sal as gevolg van sy gebrek aan geestelike insig nie meer vir hom verkeerd lyk nie. Elkeen moet net onthou: reg is reg en verkeerd is verkeerd, ongeag hoe ons daaroor redeneer. Aan die ander kant kan lig aanvaar en gevolg word. Dit moet elke persoon se doel wees om God se wil vas te stel en dit te doen.

    Dit mag soms moeilik wees om God se wil oor ‘n sekere saak te bepaal. Spreuke 3 sê dat ons God in al ons weë moet ken, dan sal Hy ons paaie gelyk maak. Volg altyd God se wil. Wanneer daar onsekerheid en verwarring is, moet jy nie belangrike besluite neem nie, want Satan is die outeur van verwarring. Hou aan om God se wil te soek, want Hy sal elke ware kind van Hom lei. Volg die lig tree vir tree en moenie oor môre, volgende week of volgende jaar bekommerd wees nie.

    5.  Hoe kan ‘n bediening aan ander my geestelik laat groei?

    Geestelike groei kan ervaar word deur God se liefde en sy verlossingsplan met ander te deel. Die tweede gebod wat Jesus gegee het, is om jou naaste soos jouself lief te hê. Pogings moet aangewend word om vriende te wen, maar, meer belangrik nog, om mense vir die Here te wen. Soos wat Bybelstudie en gebed gedoen word om ‘n boodskap aan ander te bring, groei ons self ook geestelik op.

    ‘n Ander terrein wat in ag geneem moet word in verband met ‘n meer doeltreffende bediening, is geestelike gawes. Elkeen moet met die Here se hulp bepaal wat sy gawe(s) is, en hoe dit in ‘n bediening teenoor ander gebruik kan word. Tegniese kennis en ander vaardighede kan ook gebruik word om mense te help en ter wille van Christus vriendskappe te sluit.

    Probeer om altyd positief te wees. Daar ís sekere situasies in die lewe wat negatief is, maar ‘n algemene positiewe gesindheid is baie meer oortuigend van die regte verhouding met Christus.

    Streef altyd daarna om reg voor ander mense te leef. Een swak plek in jou mondering kan groot probleme en ‘n beskadigde geloofwaardigheid tot gevolg hê, wat moeilik reggestel sal word. Wees getrou in alle take wat aan jou opgedra is, ongeag hoe klein hulle is. Aan ‘n persoon wat in geringe take getrou is, sal later groter take opgedra word. Indien hy in kleiner take faal, dan verdien hy nie om met groteres vertrou te word nie.

    ‘n Kind groei nie oornag tot ‘n volwassene op nie. ‘n Jong bekeerling groei ook nie oornag tot ‘n geestelik volwasse Christen nie. In beide gevalle neem dit tyd en toewyding. Vir hulle wat volkome aan God se wil en weg toegewy is, sal groei volg!

       MEER HEILIGHEID

    Meer heiligheid gee my,

    Meer gloed in my hart,

    Meer troos in beproewing,

    Oor sonde meer smart!

    Meer steun op my Heiland,

    Meer trou op Hom let,

    Meer vreugde in arbeid,

    Meer krag in gebed!

    Meer dankbaarheid gee my,

    Meer rus in die Heer,

    Meer drang tot sy glorie,

    Meer roem in sy eer.

    Meer smart oor sy droefheid,

    Meer heil uit sy wet,

    Meer moed in beproewing,

    Meer lof waar Hy red!

    Meer reinheid, o skenk my,

    Meer krag om te win,

    Meer vryheid van bande,

    Meer hemelse sin!

    Meer vrug in u diens, Heer,

    Meer werk vir u ryk,

    Meer werksaam en heilig,

    U, Heer, meer gelyk!

                – Hallelujalied 314

     

    Inhoud

    1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe

    2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe

    3. Die Betekenis van Heiligmaking

    4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe

    5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe

    6. Hoe om Geheilig te Word

    7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe

    8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk

    9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms

    10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe

    11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings

    12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid

    13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid

  • 13. Geestelike Dwalings

    Geestelike Dwalings

    Waarom is daar so baie Christelike kerke en sektes in die wêreld wat leerstellig in ‘n mindere of meerdere mate van die Bybel afwyk, en in sekere gevalle selfs die waarheid totaal verloën? Dit is alles die gevolg van onkunde en misleiding. Hierdie probleem is besig om verder in omvang toe te neem. In die lig hiervan is dit meer as ooit tevore nodig dat ons ons kennis van die Woord verbreed, ons geestelike insig verdiep, ons toewyding aan die Here Jesus verhoog en ons waaksaamheid teen die misleiding van Satan en sy valse profete verskerp. Vervalsings van die Christelike geloof neem in die eindtyd geweldig toe omdat dit die finale voorbereiding vir die verskyning van die valse Christus en die valse profeet is, wat deur hulle leuens die hele wêreld sal mislei (Matt. 24:4-5; 2 Thess. 2:6-10; Op. 13:11-14).

    Hoewel geestelike misleiding in die Tuin van Eden al begin en onafgebroke deur die eeue heen voortgeduur het, is dit nou besig om die grootste afmetings in die geskiedenis van die mensdom aan te neem. Dit is van die uiterste belang dat elke persoon seker sal maak dat hy nie op ‘n dwaalspoor beland het nie, want daar is baie valse profete (1 Joh. 4:1).

    Sedert die vroegste tye het die meeste Christelike kerke ‘n betreurenswaardige onvermoë getoon om tussen die waarheid van God se Woord en die baie vervalste weergawes daarvan te kan onderskei (Gal. 1:6-8; 2 Kor. 11:2-4). Uit laasgenoemde teks is dit duidelik dat daar drie sake is wat deur die sielevyand vervals word om Christene op ‘n dwaalweg van verleiding te laat beland, naamlik die leer oor die Here Jesus, oor die Heilige Gees, en oor die evangelie van verlossing. In die proses word ‘n ander Jesus, ‘n ander gees en ‘n ander evangelie verkondig.

    ‘n Ander Jesus

    Die volgende is die sewe algemeenste vervalsings of namaaksels van Jesus wat aan die wêreld gebied word. Dit word gedoen in ‘n poging om die verlossingswerk van die ware Lam van God te verdoesel en te verloën deur aan die mense net ‘n gedaante of skewe beeld daarvan voor te hou:

    Jesus die profeet.In baie gelowe, byvoorbeeld Islam en die Jehovasgetuies, word Jesus se godheid ontken en word Hy net as ‘n profeet en menslike leermeester voorgehou. Hy word ook as die Seun van God en as Christus geloën (1 Joh. 2:22-23). In verskeie teologiese kweekskole word die godheid en maagdelike geboorte van die Here Jesus ook geloën.

    Jesus die voorbeeld. Daar word dikwels in swak prediking net na Jesus se lewe as ‘n voorbeeld verwys wat nagevolg moet word. In afgewaterde boodskappe van dié aard word die kruis en die bloed van Christus wat vir sondaars gestort is, verswyg. Die eis van wedergeboorte word ook nie genoem nie, en mense word net aangemoedig om soos Jesus ‘n mooi lewe te lei. In prediking van dié aard word mense nie gered nie – hulle word net intellektueel en emosioneel gemotiveer.

    Jesus die gewer van gawes. Baie mense dien ‘n Jesus wat net gawes en voordele aan hulle bied. Hy moet hulle gesond maak, ryk maak en kragte aan hulle gee om wonderwerke te doen. Hy moet sy volgelinge ook konings maak en sy koninkryk nóú deur hulle openbaar.

    Jesus die politieke verlosser. In die Derde Wêreld word dikwels ‘n Jesus verkondig wat met die onderdruktes assosieer en vir hulle ‘n vryheidsvegter is. Nie net verbreek hy die kettings van politieke onderdrukking en slawerny nie, maar hy hef die miskendes ook sosiaal en ekonomies op. Dié Jesus is net by die sekulêre lotgevalle van die mens betrokke. Hy bevry hulle nie van sonde nie, maar van ander onaangename omstandighede. Hy help hulle in hulle bevrydingstryd teen die onderdrukking van ander mense, maar nie regtig in hulle stryd teen die sonde nie.

    ‘n Jesus wat in die hel gesterf het. Nog ‘n ernstige verdraaiing van Jesus se verlossingswerk wat baie veld wen, word deur sekere Word of Faithpredikers verkondig. Volgens hulle siening is die fisiese kruisdood van Jesus nie van belang nie omdat Hy glo geestelik in die hel vir die sondes van die wêreld gesterf het. Vir hulle is die kruis ‘n plek van swakheid en mislukking.

    Jesus die sondaar. Die Jesus wat in verskeie Hollywood films uitgebeeld word, is ‘n sondaarmens wat, soos enige ander gevalle mens, deur sondige hartstogte oorheers word. Hierdie hoogs lasterlike voorstelling van Jesus is die tema van films soos Jesus Christ Superstar, The last temptation of ChristenJesus of Montreal. In laasgenoemde film leef Jesussaam met ander jongmense in ‘n woonstel. Hulle drink en lei ‘n onsedelike en losbandige lewe.

    Die kosmiese Jesus. Die groot eindtydse vervalsing van Jesus is daarop gemik om die verskyning van die Antichris en sy misleidende meelopers moontlik te maak (Matt. 24:4-5). Die Nuwe Era Beweging propageer ‘n universele Jesus wat die verpersoonliking van die messiaanse verwagtinge van alle godsdienste ter wêreld is. Daar word gesê dat hy aan die hoof van ‘n hiërargie van messiasse is, en dat Boeddha, Krishna, Mohammed, Jesus van Nasaret en ander geestelike leiers as lede van dieselfde familie almal aan hom ondergeskik is. As die kosmiese Jesus van al die godsdienste op aarde sal hy die mensdom finaal kom verenig.

    ‘n Ander gees

    Gepaard met die verkondiging van ‘n ander Jesus is daar ook ‘n ander gees werksaam om mense te mislei en hulle onder die krag van die dwaling te bring. Ons word hierteen gewaarsku (1 Joh. 4:1-6). Mense wat nie in die waarheid gefundeer is nie, sal die sataniese gees van dwaling ten prooi val en as gevolg daarvan die Antichris aanvaar (2 Thess. 2:8-12).

    Die geweldige beheptheid met bonatuurlike geestelike kragte wat op ‘n skouspelagtige wyse as tekens en wonderwerke manifesteer, is besig om oral op aarde pos te vat. Die Nuwe Era Beweging en sy geassosieerde valse godsdienste gebruik dit as klimaatskepping vir die openbaring van die kosmiese Christus (die Antichris).

    Daar is vandag ‘n gees waarneembaar in die wêreld wat as die Heilige Gees bestempel word, maar wat nie die egte kenmerke van die Heilige Gees openbaar nie. Dit is ‘n gees wat veral die klem op homself laat val, in plaas van op die Here Jesus. Dit is ‘n gees wat die uitsprake van die Bybel verontagsaam ter wille van die verwesenliking van sy eie doelwitte. Hierdie gees maak ook voorsiening vir diegene wat nie vir Jesus as Middelaar tussen God en die mens aanvaar het nie. Dit is ‘n gees wat al die uiterlike manifestasies van die Heilige Gees naboots, maar hy oortuig nie van sonde nie. Hy het inteendeel geen probleem om met leuens, bedrog en halwe waarhede saam te leef nie en deins nie daarvoor terug nie. Dit is die “ander gees” waarteen die Bybel ons waarsku (2 Kor. 11:4; 1 Tim. 4:1).

    ‘n Ander evangelie

    Om begryplike redes sal die verkondiging van ‘n ander Jesusonder die beïnvloeding van ‘n ander gees ook ‘n ander evangelie tot gevolg hê (2 Kor. 11:4). Baie van hierdie wolwe in skaapsklere (2 Kor. 11:13-15; 2 Tim. 4:3-4; Hand. 20:29-30) staan vandag op kansels en verkondig valse evangelies soos die volgende:

    ‘n Dooie vormgodsdiens. ‘n Evangelie waarin die kruisboodskap en die bloed van die Lam wat vir ons sondes gestort is, asook dieeis van wedergeboorte, nie absolute voorrang geniet nie, lei na ‘n dooie vormgodsdiens waarin die Here net met die lippe gedien word (Mark. 7:6-13). Omdat hierdie soort godsdiens geestelik sulke lae standaarde het, is dit baie populêr en word dit tereg ‘n “verbruikersvriendelike godsdiens” genoem. Dit pas die meeste mense om salig verklaar te word sonder om regtig met hulle sonde te breek en hulle saak met die Here reg te maak.

    Israelvisie. Die Israelvisie (British Israelism oorsee) is ‘n onbybelse siening dat die wêreld se blanke nasies van die tien stamme van Israel afstam. Dié mense beweer dat God Hom net met ‘Israel’ bemoei en dat alle ander rasse verdoemdes is. Die evangelie is egter vir elke volk, stam en nasie in die hele  wêreld bedoel (Matt. 28:19; Hand. 13:46-48; Kol. 3:11; Op. 7:9).

    Koninkryksteologie.Hierdie teologie is een van die gevolge van ‘n verkeerde verwagting by mense wat dink dat die koninkryk van Christus wat met sy wederkoms geopenbaar sal word, in die kerkbedeling reeds moet realiseer. Hulle wil nóú konings wees wat saam met Christus regeer, en ook groot mag, aansien en rykdom hê. Hulle probeer om die wêreld nou deur mensgemaakte herlewings en transformasie-prosesse te verander sodat die koninkryk kan kom.

    Kerkeenheid. Die ekumeniese vereniging van die Christendom het as doelstelling die post-denominasionele wêreldkerk van die 21ste eeu. Dit sal onder leiding van profete en apostels staan wat openbarings en spesiale magte van die Here sal ontvang. In dié nuwe kerk gaan dit nie om leerstellige suiwerheid nie, maar om eenheid en ‘n groot kragvertoon aan die ongeredde wêreld.

    Multigodsdienstige ekumene. Die eindbestemming van alle valse en verdraaide evangelies is die universalistiese evangelie van die nuwe wêreldorde en die Nuwe Era Beweging, waarin hulle almal saam as ‘n alliansie van wêreldgodsdienste hegte aansluiting by mekaar vind. Hulle wag vir ‘n enkele godsdiensleier wat die hele wêreld sal verenig (Op. 13:3-4) Soos verskillende vertakkings van ‘n rivier sal al die gelowe op aarde saamvloei en hande vat om hulle gemeenskaplike ekumeniese doelstelling van eenheid op aarde te verwesenlik.

    Persoonlike toewyding

    Ek glo dat die Heilige Gees my in die hele waarheid sal lei, en ook aan my die kennis en onderskeidingsvermoë sal gee om die waarheid van alle vervalsings daarvan te kan onderskei. As ek die vrymakende krag van die Gees van die waarheid ken, God se Woord wat die waarheid is, én die Here Jesus wat die weg, die waarheid en die lewe is, dan sal ek van die subtiele dwalings van Satan gevrywaar wees en nooit my lewe op die sand van misleiding bou nie. Die waarheid hou vir ewig stand omdat dit gesetel is in Hom wat die Bron van alle waarheid is, terwyl die leuens hulle diepste oorsprong by die vader van die leuen het. Ek neem die belangrike waarskuwing van die Here Jesus in sy profetiese rede ter harte, toe Hy gesê het: “Pas op dat niemand julle mislei nie... want daar sal valse... profete opstaan en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:4,24). Met my voetstappe geanker in die Woord, sal ek nie links of regs van hierdie pad afwyk nie. Ek lê myself daarop toe om, met die Here se hulp, die woord van die waarheid reg te vertolk (2 Tim. 2:15) en mense teen alle verdraaide weergawes daarvan te waarsku (2 Tim. 4:2-5).

    Vrae

    1.    Noem en bespreek drie valse Jesusse.

    2.    Beskryf twee verskille tussen ‘n valse gees en die Heilige Gees.

    3.    Wat is vormgodsdiens en waarom is dit baie verbruikersvriendelik?

    4.    Wat is die dwaling van koninkryksteologie?

    5.    Wie sal die uiteindelike hoof van die multigodsdienstige organisasie op aarde wees?

    Prof. Johan Malan

  • 14 Eienskappe van Die Woord van God

    14 Eienskappe van Die Woord van God

    In hierdie artikel word 14 eienskappe van die Woord van God beskryf. Dit word in antwoord op die toenemende aanvalle op die Bybel aangebied.

    Ons leef in die tyd van die grootste en omvattendste aanslag wat daar ooit in die geskiedenis teen die Woord van God gemaak is. Dié keer kom die aanslag nie net van ‘n ongelowige, heidense wêreld en sy leiers nie, maar ook van ‘n groot skare valse teoloë en hulle volgelinge binne-in Christelike kerke en kweekskole. Die eindtydse skrifgeleerdesen fariseërshuiwer nie om die Bybel hewig aan te val deur dit as ‘n menslik-geïnspireerde boek vol mitologie, foute en weersprekings te beskryf nie. Boonop bestempel hulle dit as ‘n tyd- en situasiegebonde boek wat eeue gelede al uitgedien is. Die Bybel is vir hulle ‘n historiese geskrif wat slegs in die periode toe dit geskryf is, toepaslik was omdat dit die denke en bygeloof van daardie tyd weerspieël, bv. die bygeloofdat daar ’n duiwel en ‘n brandende hel is. Die duiwel word volgens hulle in mitologiese terme as ‘n slang en ‘n draak met sewe koppe beskryf. Volgens liberale teoloë word die moderne mens nie hierdeur aangespreek of gebind nie omdat sy lewens- en wêreldbeskouing, soos deur die sielkunde, die filosofie en die evolusionistiese natuurwetenskappe bepaal, baie ver ontwikkel en in werklikheid die Bybel vervang het. Die mens het dus sy eie god geword, met die wetenskap as sy bybel en ‘n humanistiese manifes oor menseregte as sy morele kode vir persoonlike regte en vryhede.

    Saam met die verwerping van die Bybel, en as ‘n wesenlike deel van die proses, word die Godheid van Jesus Christus uitdruklik ontken en verwerp. Daar word beweer dat die skrywers van die Nuwe Testament – net soos die heidense volke van destyds – ‘n God wou hê om te aanbid. In reaksie op dié begeerte het hulle Jesus glo eensydig tot God verklaar. Volgens hierdie dekadente “teoloë” het Jesus nie gesê dat Hy God is nie. Dié valse siening tas nie net die Persoon en integriteit van die Here Jesus aan nie, maar ook die geloofwaardigheid van die Bybel as ‘n betroubare weergawe van God se Woord. Sienings van hierdie aard wen vinnig veld in die wêreld, en verskeie gereformeerde teoloë in SA huldig dit ook.

    Hierdie verwikkelings is deel van ‘n duiwels-geïnspireerde geestelike vervalproses in die laaste dae. Die Bybel self waarsku ons hierteen: “Die Gees sê uitrduklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). In reaksie hierop sal baie mense onder die leiding van valse predikers die waarheid van die Woord verwerp: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar… vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Hierdie leraars sal die Woord verdraai en ook vir Jesus verloën deur sy Godheid te ontken. Petrus sê: “Daar [sal] onder julle valse leraars wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën… en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2). Hulle sal dus die ware gelowiges bespot, vervolg en minagtend na evangeliese leerstellings oor wedergeboorte en heiligmaking verwys.

    Aanslae van hierdie aard teister gelowiges al deur die eeue heen: “As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? … Die Here toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose… Hy sal op die goddelose… vuur en swael laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees. Want die Here is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien” (Ps. 11:3-7). Ons leef nou in die groot, eindtydse rebellie teen God, sy Woord, sy Seun, sy Gees en sy koninkryk. Die Here toets en louter die mensekinders terwyl die koring en kaf op die dorsvloere van mekaar geskei word. Die regverdiges sal sy aangesig sien wanneer Hy hulle kom haal, maar oor die goddelose sal Hy spoedig in die groot verdrukking sy toorn en oordele uitstort.

    Alle evangeliese Christene moet opnuut hulle verbintenis tot die handhawing en eerbiediging van die Bybel as God se Woord herbevestig. Die Woord van die Here is ‘n kosbare skat wat aan ons gegee is. Dit is dinamies en lewend, en vervul ‘n verskeidenheid geestelike funksies in ons lewe. Die Woord het, volgens sy eie uitsprake, die volgende duidelike kenmerke en unieke eienskappe:

    Dit is ‘n openbaring van God en sy werke

    Ten eerste moet begryp word dat die Bybel nie mense se woordeis nie, maar God se Woord. Hierin word die Drie-enige God geopenbaar, die oorsprong van die mens en die natuurlike skepping, die ellende en geestelike doodsheid van die mens as gevolg van die sondeval, die teenwoordigheid en planne van ‘n vyandige koninkryk onder die leiding van Satan, God se reddende genade deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding, die wederkoms van Christus en die openbaring van sy koninkryk, asook God se toekomstige raadsplan met die mens in die nuwe hemel en op die nuwe aarde.

    ‘n Groot deel van die Bybel is op die geestelike groei en toerusting van diegene toegespits wat hulle tot God bekeer het en Hom te midde van al die goddelose mense en valse leerstellings wil dien: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17). Die Bybel is dus nie menslike versinsels oor God nie, maar ‘n boek wat deur God self “ingegee” is. Petrus sê: “…deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:21). Die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel soos dit in die oorspronklike tale geskryf is, staan bo alle twyfel vas.

    Die openbaring van Jesus as God die Seun staan ook vas, en is ver bo alle teologiese redenasies en opinies verhewe. “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9); daarom kon Petrus ook na Hom verwys as “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1). Jesus self het gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Hierdie eenheid is egter meervoudig, daarom het Jesus ook na Homself en die Vader as “Ons” verwys (Joh. 14:23). So ook het die Vader in die tweede persoon na Jesus verwys toe Hy gesê het: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” (Matt. 17:5). Die derde Persoon in die Godheid is God die Heilige Gees. “Want daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Die openbaring van die Godheid vind deur Jesus Christus plaas, daarom kan niemand die Vader ken of in die gebed nader behalwe deur Jesus nie (Joh. 14:6), en getuig die Heilige Gees ook van dit wat Jesus gesê en gedoen het omdat ons saligheid daarvan afhanklik is (Joh. 14:26; 16:14).

    Dit is aan ‘n Persoon gekoppel

    Alle beloftes van God in die Bybel moet herlei word na ‘n Persoon, die Here Jesus Christus. Hy is die vleesgeworde Woord: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God… In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense… En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van ‘n Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:1, 4, 14). Die gesproke en geskrewe Woord van God getuig van die Verlosser, Jesus Christus, daarom staan dit in so ‘n noue verband met Hom.

    Johannes beklemtoon ook in Openbaring Christus se identifikasie met die Woord van God by sy wederkoms: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone… En sy Naam is: Die Woord van God” (Op. 19:11-13). Hy is getrou en waaragtig om al God se beloftes ten goede oor die gelowiges te vervul, en ook regverdig in sy oordele oor die sondaars wat nie God se liefde en sy aanbod van vergifnis wou aanvaar nie. In Hom is elke belofte in die Bybel ja en amen omdat Hy deur sy kruisdood die prys vir die vervulling daarvan betaal het (2 Kor. 1:20; Ef. 1:7).

    Weens die noue assosiasie tussen Christus en die Woord kan ons nie die Here Jesus volkome liefhê as ons die bestudering van sy Woord afskeep of nalaat nie: “As iemand My liefhet, sal hy my Woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Joh. 14:23). Dit is onmoontlik om Bybelse norms en beginsels sonder Christus en die krag van sy Gees volkome te handhaaf en uit te leef.

    Dit het skeppingskrag

    Die Woord van God het skeppingskrag. Die Here kan net ‘n woord spreek om dinge in aansyn te roep. “En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig” (Gen. 1:3). Petrus sê dat die hemel en die aarde “deur die Woord van God ontstaan het” (2 Pet. 3:5). Hierdie Woord het in Jesus Christus sigbare gestalte aangeneem: “Hy is die Beeld van die onsienlike God… want in Hom is alle dinge geskape… Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17). Die evangeliewoord, wat die boodskap van die Here Jesus Christus se reddende genade vir almal is wat glo,  het skeppingskrag in die lewens van mense wat dood was in hulle sonde en misdade: “Die evangelie van Christus… is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Rom. 1:16). Alle ware gelowiges weet van die krag wat daar in die Woord is. ‘n Gelowige Romeinse owerste het vir Jesus gesê: “Spreek net ‘n woord, en my kneg sal gesond word” (Matt. 8:8).

    Dit is gelouterd en suiwer

    Die foutloosheid en volmaaktheid van die Woord word verbind met die feit dat dit absoluut suiwer en gelouter is. Dit is geheel en al beproef as God se onveranderlike en betroubare Woord. Die psalmis sê: “U Woord is deur en deur gelouter” (Ps. 119:140). “Die woorde van die Here is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes van die aarde, gesuiwer sewe maal” (Ps. 12:7). As jy die Woord van God betwyfel, opsyskuif, diskrediteer of verwerp, sal hierdie Woord op die laaste dag tot jou veroordeling strek. Ook almal wat deur vergeesteliking en allegorisering afbreuk aan die waarheid en toepaslikheid van die Woord maak, insluitende diegene wat dit reduseer tot die vlak van menslike mitologie, sal ‘n ontsettende duur prys vir hulle ongeloof betaal. Daniël sê dat hulle smaadheid vir ewig afgryslik sal wees (Dan. 12:2). Glo liewer hierdie suiwer en gelouterde Woord, want dit sal tot jou redding strek: “Dit is ‘n betroubare Woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red” (1 Tim. 1:15).

    Dit is soos ‘n hamer en ‘n vuur

    “Is my Wood nie só, soos ‘n vuur, spreek die Here, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?” (Jer. 23:29). Die Woord van die Here kan die hartste hart sag maak en elke muur van weerstand afbreek indien ons net met ‘n oop en ontvanklike gemoed daarna sou luister en dit aanvaar. Baie mense verwerp egter dit wat hulle hoor en verhard sodoende hulle harte vir die Woord. Die Here sê: “Vandag as julle my stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb. 3:7). Die mens is nie ‘n robot wat eensydig deur die Here geprogrammeer en gemanipuleer word nie, maar ‘n denkende wese met ‘n vrye wil. Ons kan dus die Woord van die Here aanvaar of verwerp. Tydens Jesus se eerste koms na die aarde het die meeste mense Hom verwerp omdat hulle die duisternis liewer gehad het as die lig (Joh. 3:19). Hy wou hulle red, maar hulle wou nie (Matt. 23:37).

    Indien ons egter ‘n leerbare gees het en die Woord ingang in ons gedagtes en harte vind, sal dit soos ‘n verterende vuur wees wat alle menslike teorieë en valse persepsies oor die lewe sal vernietig. In die plek van ons verdraaide sienings van vroeër sal ons goddelike wysheid en insig ontvang, m.a.w. verligte oë van die verstand. Die geestelike verhardheid, ongebondenheid en eiesinnigheid wat deur die sonde veroorsaak is, sal deur sagmoedigheid, selfbeheersing en ‘n honger en dors na die Woord van die Here vervang word.

    Dit red sondaars se siele

    “Ontvang met sagmoedigheid die ingeplante Woord, wat in staat is om julle siele te red” (Jak. 1:21). “Want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Pet. 1:23). Mense wat hierdie groot waarheid begryp, is angstig om die woorde van die ewige lewe by die Here Jesus te verneem: “Toe die skare by Hom aandring om die Woord van God te hoor …het Hy hulle geleer” (Luk. 5:1, 3). “En Hy sê: …salig is hulle wat die Woord van God hoor” (Luk. 11:28). Jesus het die dissipels intensief onderrig: “En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is… vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan” (Luk. 24:44-45).

    Ons moet seker maak dat ons glo in die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, en in die Woord wat van sy Seun getuig, want dan alleen sal ons die ewige lewe in Hom ontvang. Vir die ongelowige Jode het Jesus gesê: “Die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig… En julle het sy Woord nie as iets blywends in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die ewige lewe te hê nie” (Joh. 5:37-40). “As julle nie glo dat dit Ek [die Seun van God] is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24). Jesus het hulle verwyt omdat sy Woord geen ingang by hulle gevind het nie (Joh. 8:37). In die plek daarvan het hulle aan hul eie godsdienstige oorlewerings (mensgemaakte teologie) vasgehou en sodoende die Woord van God kragteloos gemaak: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou… So maak julle dan die Woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het” (Mark. 7:9, 13).

    Die dissipels het egter die suiwer Woord ontvang, en daarmee saam ook vir Jesus Christus van wie die Woord getuig dat Hy die Redder van die wêreld is. Jesus het in sy hoëpriesterlike gebed vir hulle gebid en vir die Vader gesê: “Ek het hulle u Woord gegee… Heilig hulle in u waarheid; u Woord is die waarheid… Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir dié wat deur hulle woord in My sal glo” (Joh. 17:14, 17, 20). Het jy al die lewendmakende Woord van God in die geloof ontvang en is jy ‘n getuie vir Jesus oral waar jy gaan?

    Dit is gees en lewe

    Die Here Jesus het gesê: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh. 6:63). Ná ons wedergeboorte moet ons onsself ook daagliks met hierdie Woord voed, sodat ons geestelik kan opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus: “…en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die Woord, dat julle daardeur kan opgroei” (1 Pet. 2:2; Ef. 4: 13-14). Hierdie geestelike voedsel is noodsaaklik, want “die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Luk. 4:4). Is hierdie Woord aktief werksaam in jou lewe?

    Paulus het homself verbly in die Christene wat die Woord van die Here ontvang het en geestelik daardeur verryk is: “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die Woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit werklik is, as die Woord van God wat ook werk in julle wat glo” (1 Thess. 2:13). Daar is inderdaad geestelike lewe in die Woord, daarom moet ons onsself “voed met die woorde van die geloof” (1 Tim. 4:6). “Laat die Woord van Christus ryklik in julle woon” (Kol. 3:16). ‘n Toename in kennis van die Woord gaan ook met ‘n toename in genade gepaard indien hierdie kennis nie net in ons verstand vassteek nie, maar ook in die geloof aanvaar word. Sodoende word dit hartskennis wat ons geestelike lewe verryk: “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).

    Bid om die vervulling met die Heilige Gees, want net Hy kan jou leer en in die volle waarheid van die Woord van God lei (Joh. 14:26; 16:13; 1 Kor. 2:10). Hy maak die Woord lewend in jou hart. Bybelstudie is nie net ‘n intellektuele oefening nie, maar deel van jou geestelike groeiproses en verootmoediging voor die lewende God. Jy moet die vaste voorneme hê om vervul te wees met die kennis van sy wil (Kol. 1:9) en ook net sy wil te doen (Matt. 7:21). Hierdie kennis word nie deur buite-Bybelse openbarings soos drome en visioene verkry nie, maar deur ernstige Bybelstudie.

    Dit is ‘n tweesnydende swaard

    “Want die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Heb. 4:12). Die Woord is soos ‘n tweesnydende swaard wat indring tot in ons diepste wese waar dit die gedagtes en houdings van ons harte openbaar. Dit is in staat om te kan onderskei tussen dit wat geestelik is en dit wat bloot uit die siel [die intellek, wil en emosies] van die mens afkomstig is.

    Die swaard van die Woord dring deur tot by die skeiding van die siel en die gees, en doen dit selfs wanneer hierdie dikwels weersprekende elemente só met mekaar verenig is soos die gewrigte en die murg. Die innerlike lewe van ‘n Christen is soms ‘n vreemde mengsel van motiverings waarvan sommige opreg geestelik en ander volkome menslik is. ‘n Bonatuurlike hulpmiddel soos die Woord van God is nodig om onderskeid te tref en te openbaar wat geestelik en wat vleeslik is. Mense verkeer soms onder die indruk dat hulle sekere stappe uit suiwer geestelike oorwegings beplan terwyl dit, soos die Woord van God hulle sal wys, uit ongeloof gebore mag wees. Het die Woord van God al diep in jou hart weerklank gevind? Het jy die verkeerde gedagtes en sondige motiewe wat in die lig daarvan aan jou geopenbaar is, bely en laat staan, en die beloftes van reiniging deur die bloed van die Here Jesus in die geloof aanvaar? Dan alleen kan jy van die Woord van God wat lewend en kragtig is, in jou lewe getuig.

    Paulus sê dat die swaard van die Woord ook deel van ons geestelike wapenrusting is: “En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die Woord van God” (Ef. 6:17). ‘n Swaard is die simbool van uitvoerende gesag en versinnebeeld die outoriteit van die wetgewer. Omdat God die oppergesag in die heelal het, staan die outoriteit van sy Woord ook vas. Alle verlostes kan hierdie swaard opneem deur hulle in die stryd teen die sonde, die wêreld en die duiwel op die beloftes in God se Woord te beroep. Satan en sy magte is weerloos teen die gesag hiervan.

    Dit is ‘n vaste rigsnoer vir ons lewe

    Die psalmis het gebid: “Maak my voetstappe vas in u Woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie (Ps. 119:133). Ons moet nooit van die pad van die Woord afwyk nie, want dan sal ons onsself met baie smarte deurboor: “Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u Woord kan bewaar” (Ps. 119:101). Die Here het aan Josua gesê dat hy nie regs of links van die Woord moet afwyk nie, sodat hy met goeie gevolg kan handel oral waar hy gaan (Jos. 1:7).

    Deur die beloftes in die Bybel te memoriseer en in die geloof te aanvaar, bêre ons die Woord van God in ons harte sodat ons teen Hom nie sal sondig nie (Ps. 119:11). Sodoende word die onveranderlike Woord ‘n rigsnoer vir ons lewe. Die Woord is ook ‘n vaste rots wat aan ons geestelike stabiliteit verleen, asook bestandheid teen die storms van die lewe. Die Here Jesus het gesê dat elkeen wat na Hom toe kom en na sy woorde luister, sal wees soos ‘n man wat sy huis op ‘n rots gebou het. Wanneer die storms teen hom losbreek, sal hy staande bly omdat sy huis op die rots gebou is. Paulus sê dat hierdie Rots (of Fondament) Jesus Christus is (1 Kor. 3:11). Sy liggaam is aan die kruis “geklief” sodat dit ‘n geestelike toevlug en tuiste kan word vir almal wat glo; daarom kan ons sing: “Ewige Rots geklief vir my, laat my veilig by U bly…” Uit die gekliefde Rots vloei die stroom van God se seëninge en genade (Joh. 7:37-39; Ex. 17:6; 1 Kor. 10:4). Almal wat nie in Christus en sy Woord veranker is nie, se lewens is op sand gebou. Hulle sal sekerlik tot ‘n val kom en vir ewig beskaamd staan wanneer die storms van God se oordele oor die sondaars hulle tref. Niemand het ‘n toekoms buite Jesus Christus nie!

    Dit verlig ons lewe

    Alle Christene moet die lig van God se Woord in die wêreld laat skyn. Die Here Jesus het vir Paulus gesê: “Ek [stuur jou na die heidene] om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:18). Elke ongeredde mens is in die duisternis van sonde vasgevang, en moet deur die wedergeboorte uit die duisternis van Satan na die Here se wonderbare lig oorkom.

    Die psalmis het gesê: “Die opening van u Woord gee lig” (Ps. 119:130). In die lig van God se Woord besef ons ons sondigheid en behoefte aan verlossing. “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn” (Ef. 5:14). Jesus Christus is die waaragtige lig wat elke mens verlig (Joh. 1:9). Hy het gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8:12). Deur Hom en sy Woord te aanvaar, sal ons nooit in geestelike duisternis voortstrompel nie, want sy Woord is soos ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad (Ps. 119:105). “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig” (Ef. 5:8).

    “Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Rom. 13:12). Onder die wapens van die lig tel geloof, die Woord, gebed, getuienis en die bloed van die Lam. Die vlam van geloof, ondersteun deur ‘n aktiewe gebedslewe, moet hoog brand in ons lewe, terwyl ons die lamp van die Woord deur ons getuienis omhoog hou en onsself in die stryd teen die Bose op die bloed van die Lam beroep – dit is sy kruisdood waar Hy Satan oorwin het (Heb. 2:14). Deur sy Woord en sy Gees gee die Here aan ons verligte oë van die verstand om geestelike sake reg te kan verstaan, en in die lig daarvan altyd die regte te besluite te neem (Ef. 1:18).

    Individue, groepe én regerings wat nie hulle besluite (en beleid) in die lig van God se Woord bepaal deur die beginsels daarvan te eerbiedig nie, wandel in die duisternis en leef in doelbewuste rebellie teenoor God. Vir hulle wag daar groot probleme, want hulle is soos iemand wat in die nag sonder ‘n lig in gevaarlike terrein probeer loop: “Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans wat al helderder word tot die volle dag toe, is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie” (Spr. 4:18-19). Kom na Hom toe wat alleen die lig van die wêreld is, en laat Hy jou deur sy Woord onderrig soos wat ‘n vader sy seun onderrig. Dan kan jy ook jou Christelike opdrag vervul om die lig van die wêreld te wees (Matt. 5:14).

    Dit verskaf inligting oor die toekoms

    ‘n Belangrike deel van die Woord van God is profesieë wat lig werp op die toekoms. Omdat Jesus Christus die vleesgeworde Woord is, moet die profetiese Woord ook direk met Hom in verband gebring word: “Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:11). Alle mense se toekoms word op grond van hulle verhouding teenoor Jesus bepaal. In terme daarvan sal hulle óf die ewige lewe óf die ewige dood deelagtig word. Neem dus kennis van Bybelse profesieë binne die verband van jou verhouding tot Christus.

    Petrus sê: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” (2 Pet. 1:19). Moenie die profesieë verag nie (1 Thess. 5:20), maar bestudeer dit onder die leiding van die Heilige Gees, wat jou in die volle waarheid sal lei (Joh. 16:13). Daar word ‘n spesiale seën aan ons belowe as ons die profetiese Woord bestudeer en ter harte neem: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Op. 1:3).

    Daar is ongelukkig baie Christene wat meen dat hulle sonder hierdie kennis hulle weg deur die lewe sal vind. Die noodwendige gevolg van dié houding is dat hulle oriëntasie en toekomsverwagting van geestelik (Bybels-gefundeerd) na sekulêr (polities- of ideologies-gefundeerd) verander. Hulle maak nie gereed om deur middel van die wegraping met Christus verenig te word en ook die groot verdrukking te ontvlug nie, maar hulle werk aan ‘n nuwe wêreldorde waardeur hulle ‘n mensgemaakte vrede op aarde probeer vestig. ‘n Groot ontnugtering wag egter op hulle: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle” (1 Thess. 5:3).

    Christene weet egter uit die profetiese Woord dat die huidige wêreld in die eindtyd ál hoe slegter en gevaarliker word, en uiteindelik sal verbygaan. Met die oog hierop tref hulle in Christus vir ‘n beter toekoms voorbereidings en maak in die hemel skatte bymekaar deur onder die leiding van die Heilige Gees werke te doen wat ewigheidswaarde het.

    Dit veroordeel die ongelowiges

    Die Woord red nie alleen diegene wat hulle geloof in die beloftes daarvan stel nie, maar veroordeel al die miljoene mense wat dit verwerp. Dit is die rede waarom die Heilige Gees ons aan die Woord herinner (Joh. 14: 26) en ons oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel (Joh. 16:8). Elke verlore sondaar moet besef dat hy die sonde wat tussen hom en die Here Jesus staan, moet bely en laat staan om in die geloof die geregtigheid van Jesus Christus deelagtig te word. Vir al die sondaars wag die ewige oordeel van God in die poel van vuur.

    Elkeen wat die Woord van God aantas deur dinge by te voeg of weg te laat, word deur die Woord self veroordeel: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18-19). “Elke woord van God is gelouter… Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ‘n leuenaar openbaar word nie” (Spr. 30:5-6). Almal wat die Bybel probeer verander en dit skeef voorstel deur die boodskap daarvan te verdraai, maak dit kragteloos by hulle hoorders of lesers, en bring sodoende ‘n oordeel oor hulleself. Paulus het baie ernstig teen hulle gewaarsku: “Daar is sommige mense wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Gal. 1:7-8).

    Vir die ongelowiges sal dit verskriklik wees om in die hande van die lewende God te val (Heb. 10:31), “want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal. 6:7). Die straf van die Here word vervul wanneer Hy woorde van veroordeling spreek. Op die dag van sy wederkoms sal Jesus Christus die Antichris “met die asem van sy mond verdelg” (2 Thess. 2:8). Op daardie dag sal Hy ook woorde spreek wat by die slag van Armagéddon tot die verdelging van die Antichris se volgelinge sal lei: “En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit” (Op. 19:21; vgl. ook Sag. 14:12-13).

    Dit keer nie leeg tot God terug nie

    Die Woord van die Here strek óf tot die redding en geestelike opbouing van mense, óf tot hulle veroordeling weens ongeloof. Dit sal dus nie leeg tot God terugkeer nie: “Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my Woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jes. 55:10-11).

    Die Woord van God sal in alle opsigte volbring word (Op. 17:17) – vir gelowiges én ongelowiges. “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Num. 23:19). Met sy volmaakte voorkennis weet God wat in die toekoms gaan gebeur, daarom kon Hy vooraf vir elke behoefte voorsiening maak en ook ‘n behoorlike straf vir die sondaars aankondig. Sy Woord is betroubaar en nodig, en ‘n ware bron van geestelike seën vir diegene wat dit in die geloof aanvaar. Vir hulle is dit soos manna uit die hemel, en ook soos die reën en die sneeu wat uit die hemel op ‘n dorre aarde neerdaal. Dit vervul in ‘n lewensbelangrike behoefte.

    Dit hou vir ewig stand

    “Die Woord van die Here bly tot in ewigheid” (1 Pet. 1: 25). Jesus het gesê: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Matt. 24:35). Dit bly altyd van krag, raak nooit irrelevant nie en sal selfs ná die huidige hemel en aarde nog steeds voortbestaan. Alles daarvan sal vervul word. Saam met die psalmis kan ons ook die ewigdurendheid van die Here, sy Woord en sy goedertierenheid besing:

    “Die bevele van die Here is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die Here is suiwer: dit verlig die oë; die vrees van die Here is rein: dit bestaan tot in ewigheid” (Ps. 19:9-10).

    “Die Here sit as Koning tot in ewigheid” (Ps. 29:10).

    “Die Here ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly” (Ps. 37:18).

    “U Naam sal ons loof tot in ewigheid” (Ps. 44:9).

    “God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid” (Ps. 73:26).

    “U is hoog verhewe tot in ewigheid, Here!” (Ps. 92: 9).

    “U geregtigheid bestaan tot in ewigheid” (Ps. 111:3).

    “Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak” (Ps. 119:93).

    “Al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid” (Ps. 119:160).

    “O Here, u Naam is tot in ewigheid” (Ps. 135:13).

    “Israel word verlos deur die Here met ‘n ewige verlossing; julle sal nie beskaamd staan of in die skande kom tot in ewigheid nie” (Jes. 45:17).

    “Die Here sal Koning wees oor hulle op die berg Sion, van nou af tot in ewigheid” (Miga 4:7).

    ‘n Uitnodiging tot redding

    Die Here het nie behae in die ondergang van die goddelose nie, maar eerder daarin dat hy hom bekeer:

    “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jes. 55:6-7).

    Paulus het hierdie uitnodiging tot bekering aan alle nasies herhaal: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waardeur Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31). “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie… en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Fil. 2:9-11). In die lig hiervan, sê Paulus, moet ons “die Woord van die lewe vashou” (Fil. 2:16).

    Aan die getroue gemeente van Filadelfia sê die Here Jesus: “Jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Die erkenning van die Bybel as God se Woord en die belydenis van Jesus se Godheid is ten nouste aan mekaar verbonde. Hiermee saam gaan ‘n belofte van ontvlugting uit die oordele van die groot verdrukking: “Omdat jy die Woord van my lydsaamheid bewaar het, sal ek jou ook bewaar in [buite] die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Op. 3:10; vgl. die King James-vertaling van dié teks – Christene sal nie in die verdrukking bewaar word nie, maar buite dit, deur middel van die wegraping).

    Die kerk van menseregte (Laodicéa) word egter deur die Here verwerp en uit sy mond gespuug omdat hulle eie woorde (nie God se Woord nie) hulle norm was: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:17). Israel het hulleself ook deur hul eie tradisiessalig gespreek (Mark. 7:9). Vir alle sondaars is daar net één oplossing: “As iemand mý stemhoor en die deur oopmaak” (Op. 3:20) sal hy gered word. Die Here Jesus is die enigste Redder van die wêreld, en sy Woord die enigste beproefde bron van die waarheid.

    Buite-Bybelse openbarings

    In die lig van hierdie artikel moet die groot dwaling van buite-Bybelse openbarings van God se wil opnuut beklemtoon word. Daar is baie mense wat die Bybel probeer aanvul deur te beweer dat die Here verdere inligting deur middel van drome, visioene, tale, boodskappe deur engele, en selfs deur ’n hoorbare stem, aan hulle oorgedra het. Sulke mense se buite-Bybelse leerstellings en profesieë word egter telkens as vals bewys.

    Nadat die Bybel in die eerste eeu met die voltooiing van die Nuwe Testament se 27 boeke klaar geskryf is, het ons nie meer buite-Bybelse openbarings nodig nie (Heb. 1:1). Die Here Jesus praat met ons deur sy Woord, en maak die Woord deur die Heilige Gees lewend in ons harte. Die Heilige Gees gee aan ons verligte oë van die verstand om die Woord te kan verstaan (Ef. 1:17-19; 1 Kor. 2:10), Hy herinner ons aan alles wat die Here Jesus gesê het en verkondig ook die toekomstige dinge aan ons (Joh. 14: 26; 15:26; 16:13-14).

    Spreek die Here deur sy Woord tot jou, of wag jy dalk dat Hy op ander maniere, buite sy Woord om, met jou moet praat? Oswald Chambers het in sy dagboek, “My Utmost for His Highest” (bl. 3) geskryf:

    “Jesus het gesê: ‘Die woorde wat Ek tot julle spreek [nie ‘die woorde wat Ek gespreek het nie’], is gees en is lewe’ (Joh. 6:63). Skielik word sy woorde lewend en werklik soos wat Hy dit in ’n besondere situasie opnuut deur sy Gees tot ons harte laat spreek. Dit is die manier waarop God met ons praat – nie deur drome en visioene nie, maar deur woorde. Wanneer ons tot God nader om met Hom te kommunikeer, vind dit deur die eenvoudige manier van woorde plaas.”

    Ons kan onsself van baie dwalings vrywaar as ons die beginsel van Sola Scriptura(net die Woord) eerbiedig. Selfs al is ons onder die versoeking om waarde aan drome en visioene te heg, mag ons dit steeds nie as ’n openbaring van God se wil oorvertel nie. Ons het net een duidelike opdrag wat God se wil betref: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig” (2 Tim. 4:2).

    Indien ’n droom met die Bybel ooreenstem, het dit nog steeds geen geloofwaardigheid nie omdat die Here nie sy Woord deur drome hoef te bevestig nie. Indien ‘n droom by die Bybel aanvul of daarvan afwyk, het dit niks met God se wil te doen nie omdat Hy reeds sy volle raad aan ons geopenbaar het (Hand. 20:27). Rig jou voetstappe nét volgens die Woord! (Ps. 119:133).

    Deur prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde

  • 14. Die Wet en Genade

    Die Wet en Genade

    Dit is vir baie Christene moeilik om tussen God se wet en sy genade te kan onderskei. Soms word daar in die Nuwe Testament geen verdere bestaansreg aan wetsnakoming verleen nie, maar in ander gevalle word die verhewe en tydlose beginsels van God se wet aan ons voorgehou as ‘n riglyn vir ons lewe en iets waaraan ons onsself moet verbind. Hierdie twee uiteenlopende standpunte blyk duidelik uit Paulus se briewe. Enersyds sê hy dat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade (Rom. 6:14), en ook dat deur die werke van die wet geen vlees voor God geregverdig sal word nie, omdat die wet die hele wêreld as sondaars brandmerk en doemwaardig voor God maak (Rom. 3:19-20). Vir die Galásiërs sê hy dat die wet vir ons ‘n vloek geword het (Gal. 3:13) omdat ons nie deur wetsnakoming gered kan word nie (Gal. 5:4).

    Andersyds sê Paulus dat die wet heilig, regverdig en goed is (Rom. 7:12) en dat die relevansie daarvan as ‘n goddelike riglyn vir ons lewens steeds vas staan (Rom. 3:31). Die Here Jesus sê ook dat Hy nie gekom het om die wet en die profete te ontbind nie, maar te vervul. Niemand mag geleer word om hierdie gebooie te verbreek nie (Matt. 5:17-19). Hoe moet ons dan die wet beoordeel en wat is die verband tussen die wet en genade?

    Die wet en sy NT toepassing

    Die wette van die Here word in die eerste vyf boeke van die Bybel beskryf en in Hebreeus die Torah genoem. Torah beteken om te onderrig en behels God se riglyne waarvolgens sy volk Israel moes lewe. Daar is 613 voorskrifte in die Torah, wat ook as die Pentateug bekend staan. Sommige van die wette is tydlose, universele reëls wat vir almal geld, terwyl baie daarvan slegs ‘n voorbereidende funksie met die oog op die koms van die Messias gehad het. In Hom is hulle finaal vervul en sou nie daarna in hulle oorspronklike vorm voortgesit kon word sonder om die Messias te verloën nie. Hieronder is die offers en baie van die feeste. Selfs die tydlose reëls is ook in die Messias vervul omdat net Hy die hele wet volmaak kon nakom. Deur sy genadewerk aan die kruis en die krag van die Heilige Gees stel Hy gelowiges in staat om die geestelike en morele beginsels van God se wet (‘n rein hart, ‘n rein lewe en opregte diens aan die Here) te eerbiedig en uit te leef. Hy maak dit vir ons moontlik om die verhewe geestelike doelstellings van die wet te kan uitleef (Miga 6:8).

    Hoe moet ons weet watter aspekte van God se wet nog steeds in die Nuwe Testament geld? Die Here Jesus het dit alles vir ons in die wet van die liefde saamgevat (Matt. 22:36-40). In hierdie opsomming het Christus Skrif aangehaal wat die Tien Gebooie in twee dele verdeel, naamlik liefde tot God (Deut. 6:5) en liefde tot ons naaste (Lev. 19:18,34). In die nakoming van die wet van die liefde sal ons alle wette vervul wat op ons verhouding met God en ons naaste betrekking het. As ons God waarlik liefhet, sal ons Hom eer deur heilig voor Hom te leef en nooit ander gode voor sy aangesig te bring nie (2 Kor. 6:14-18). Dieselfde beginsel van liefde geld vir ons verhouding met ander mense (Rom. 13:8-10).

    Nege van die Tien Gebooie word in die Nuwe Testament herhaal, in die wet van die liefde saamgevat en op alle gelowiges van toepassing gemaak. Die eerste drie gebooie vereis liefde tot God (Ex. 20:2-7) en die laaste ses bepaal ons menseverhoudings (Ex. 20:12-17). Die vierde gebod het op die onderhouding van die sabbat op die sewende dag van die week betrekking (Ex. 20:8-11). Dit is die enigste van die Tien Gebooie wat nie in Christus se opsomming weerspieël word nie, omdat Hy dit doelbewus uitgelaat het. Waarom? Omdat dit slegs aan Israel gegee is as ‘n teken tussen hulle en God (Ex. 31:16-17). Die onderhouding van die sabbat moes die volk se aandag op die uittog uit Egipte vestig (Deut. 5:15) en hulle daaraan herinner dat die Here hulle verlos, heilig en afsonder vir sy diens (Eseg. 20:12).

    Die sabbat was een van die seremoniële wette wat net ‘n skaduagtige betekenis in die Ou Testament gehad het, hangende die koms van die Messias (Kol. 2:16-17). Ons is nie meer onder die verpligting van wette oor kos (behalwe dit wat deur afgode besoedel is: Hand. 15:20), feeste en sabbatte nie, omdat die nuwe lewe in Christus nie van die onderhouding daarvan afhanklik is nie. In Hom het ons die rus van die Here betree, en behoort elke dag ‘n dag van toewyding aan Hom te wees. Of ons spesiale dae vir toewyding aan die Here het of nie, is ‘n saak van persoonlike oortuiging in die lig van ons omstandighede (Rom. 14:5). Ons het nie rigiede wetsbepalings wat dit betref nie, slegs ‘n lang Christelike tradisie van Sondag-aanbidding. Dit het begin by Jesus se opstanding uit die dood op ‘n Sondag en sy prediking aan die dissipels op dieselfde dag (Joh. 20:1,19-22,26), hulle ontmoeting ‘n week later weer op ‘n Sondag, en die uitstorting van die Heilige Gees op die sewende Sondag ná Jesus se opstandingsdag. Dit het met die Joodse Pinksterfees saamgeval, wat altyd op ‘n Sondag gevier is (Hand. 2:1-4; vgl. Lev. 23:15-16). Daarna het die Here Jesus se dissipels spontaan op Sondae byeengekom om sy opstandingsdag te vier (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:1-2), en hulleself ook duidelik van wettiese byeenkomste deur die ortodokse Jode op die sewende dag te distansieer.

    Nuwe Testamentiese gelowiges uit die nasies moet daarop bedag wees dat hulle nooit deel van Israel en sy verbonde en wette was nie, en dit ook nie ná hulle bekering word nie. ‘n Belangrike deel van God se verbond met die Jode sluit die reg tot die bewoning van die land Israel in. Hierdie reg, sowel as ander aspekte van hulle verbonde met die Here, is nie op die kerk oordraagbaar en dus ook nie op hulle van toepassing nie.

    Kenmerke van die wet

    Hoewel die wet verby is, het dit ‘n belangrike doel gedien:

    • Die wet bring kennis van die sonde – Rom. 3:20, 4:15; 5:13,20; 7:7; 1 Kor. 15:56.
    • Die wet is ‘n noodsaaklike voorbereiding op die koms en genadewerk van die Messias, maar die onvolmaakte moes vir die volmaakte plek maak – Heb. 7:27-28; 10:1-12.
    • Deur die wet is Israel in bewaring gehou totdat die Messias gekom het om vir hulle te doen wat die wet nie kon doen nie – Gal. 3:23-24.
    • Die wet moes die weg na ‘n beter verbond baan – Heb. 7:22; 8:6-7.

    Die beëindiging van die bedeling van die wet

    Met die koms van die Messias, en spesifiek sy kruisiging, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees, het die bedeling van die wet as ‘n geïntegreerde sisteem heeltemal tot ‘n einde gekom. Nie net het die offerdiens en die bemiddeling deur onvolmaakte priesters vir gelowiges verval nie, maar die slawerny aan sondes wat deur die wet geïdentifiseer en as ‘n swaar juk op mense geplaas is, is deur die verlossingswerk van Christus beëindig (Rom. 10:4).

    Die wet van Christus

    Ons is wél onder die wet van Christus (Joh. 13:34; Gal. 6:2), waaronder die tydlose beginsels van die OT wet vervat is. Ons kan egter nooit ons saligheid buite Christus in futiele pogings tot wetsnakoming soek nie, want as ons deur die wet geregverdig wil word, het ons van die genade verval (Gal. 5:4). Wat die tydlose bepalings oor liefde tot God betref, is die standaard aansienlik hoër in die NT. As gelowiges moet ons almal deur die vervulling en instaatstellende krag van die Heilige Gees met die Here Jesus beklee word (Rom. 13:14; Gal. 4:19) wandel soos Hy gewandel het (1 Joh. 2:6) en medewerkers van God deur Jesus Christus word (1 Kor. 3:9). Wat ons verhouding met ons naaste betref, word die standaard ook gelig: Dit is nie meer net sonde om die daad van owerspel te pleeg nie, maar selfs net om sulke gedagtes te bedink (Matt. 5:27-28). Wraaklus moet deur vergewensgesindheid en mededeelsaamheid vervang word (Matt. 5:38-42) en haat deur liefde (Matt. 5:43-47). Ons moet na hoër hoogtes op die leer van goddelike volmaaktheid uitstyg (Matt. 5:48) deur in ons hele lewenswandel heilig te word soos wat die Drie-enige God heilig is (1 Pet. 1:15-16).

    As die beginsels van goddelike liefde deur die Heilige Gees op die tafels van ons weergebore harte geskryf is (2 Kor. 3:3), het ons waarlik ‘n boodskap van liefde, hoop en vergewensgesindheid vir ‘n wêreld in sy nood en kan ons die lieflike geur van Christus se kennis oral versprei (2 Kor. 2:14). Dit sal ons in staat stel om die kwaad deur die goeie te oorwin (Rom. 12:21) en sodoende toonbeelde van Christus se liefde, vergewensgesindheid en reddende genade te wees. Ons is ook geroepe om die ortodokse Jode jaloers te maak deur die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien (Rom. 11:11). Hulle moet geleer word om die Here in die nuwigheid van die Gees te dien (Rom. 7:6). As sulke verlostes dán feeste vier, moet dit eg Messiaanse feeste soos die Nagmaal wees, of die opstandingsfees van die Messias op Sondae. Ook die pinksterfees en die loofhuttefees kan as Messiaanse feeste gevier word waarin die eerste koms van die Messias, die uitstorting van die Heilige Gees, en die hoop op die Here Jesus se wederkoms uitdruklik erken word. Wanneer dit gedoen word, is die betrokke fees nie meer ‘n blote skaduwee van toekomstige dinge nie, maar het dit ‘n konkrete gestalte en vervulling in die Messias verkry (Kol. 2:16-17). Daardeur sal die deelnemers aan die fees vir Israel én die hele wêreld sê dat hulle viering nie binne die raamwerk en bepalings van die wet is nie, maar binne die raamwerk van die Messias se NT heilsplan vir alle nasies.

    Persoonlike toewyding

    Ek dank die Here vir sy onuitspreeklike genade wat Hy deur die Messias aan Israel én die hele wêreld geopenbaar het. Deur hierdie genade is ons nie alleen gered nie, maar die beginsels van goddelike liefde waarop die wet berus, “leer ons om die goddelooshede en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:12-13). Sy wet van die liefde dring ons om die boodskap van redding en heiligmaking aan alle nasies te verkondig. Ortodokse Jode moet geleer word om, soos Paulus, nie hulle geregtigheid in menslike pogings tot wetsnakoming te soek nie, maar in ‘n geloofsverhouding met die Here Jesus (Fil. 3:9). Dan sal die liefde van God deur die Heilige Gees in hulle harte uitgestort word (Rom. 5:5), en sal hulle die innerlike motivering en krag hê om te wandel soos Hy wat die wet volmaak nagekom het (1 Joh. 2:6).

    Vrae

    1.    Wat is die NT vervulling van die wet van God?

    2.    In watter opsig is die liefde die vervulling van die wet?

    3.    Hoe word die beginsels van God se liefde in ons harte gevestig?

    4.    Noem drie kenmerke van die OT wet, waaruit die doel daarvan duidelik sal blyk.

    5.    In watter opsigte is morele standaarde in die NT hoër as in die OT?

    6.    Wat moet die Jode doen om saligheid te kan verkry?

    Prof. Johan Malan

  • 15. Dispensasies in die Bybel

    Dispensasies in die Bybel

    Die openbaring van God aan die mens word in die Bybel binne die raamwerk van die volgende agt dispensasies, of bedelings, beskryf. In die agt dispensasies vind daar ‘n progressiewe openbaring van die kennis van goed en kwaad plaas. Dit vorder deur verskillende stadiums en eindig in ‘n toestand van volmaaktheid waarin ons ten volle sal ken soos ons ook ten volle geken is (1 Kor. 13:12). In hierdie proses vind daar nie net ‘n toename in die kennis van God en sy geregtigheid plaas nie, maar ook ‘n toename in die kennis en werke van die opponerende koninkryk van die duisternis. Die belangrikste kenmerke van hierdie dispensasies is:

    1. Die bedeling van onskuld

    Die heel eerste bedeling waarin Adam en Eva in die paradys was, was die bedeling van onskuld. Hulle het geen kennis van goed en kwaad gehad nie, daarom was hulle nie eers van hulle naaktheid bewus nie. Die Here het aan hulle sekere opdragte gegee, wat ook ‘n verbod op die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad ingesluit het. As hulle hiervan eet, sou hulle sekerlik sterwe (Gen. 2:17). Satan het vir Adam en Eva op ‘n listige wyse verlei om God se opdrag te oortree en van die boom se vrugte te eet (Gen. 3:1-5). Hulle het hierdeur nie net van die onderskeid tussen goed en kwaad bewus geword nie, maar self slagoffers van die kwaad geword. Omdat hulle teen God gerebelleer en na die duiwel geluister het, het hulle ‘n sondige natuur gekry en geestelik gesterwe. Ook het hulle fisies sterflike mense geword. Die bedeling van onskuld is deur die sondeval beëindig en Adam en Eva is uit die paradys verdryf.

    2. Die bedeling van die gewete

    Vir ‘n lang tyd ná die sondeval het die mens deur middel van die stem van sy gewete tussen goed en kwaad onderskei. Hy het geen ander voorskrifte gehad om na te volg nie. Kain het ten spyte van hierdie kennis steeds die sonde verkies en dit gedoen (Gen. 4:7-8). Verskeie mense het na aanleiding van hulle innerlike oortuigings geregtigheid nagestreef, en ook getuienis ontvang dat hulle God behaag het. Die Here het Homself aan hierdie mense geopenbaar en selfs met hulle gepraat. Baie van hulle het predikers van geregtigheid geword wat die wil van God aan ander bekend gemaak het, bv. Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef.

    3. Die bedeling van menslike regerings ná die vloed

    Die Here het ná die vloed ‘n verbond met Noag gesluit (Gen. 9:1-9), en daarna die leiers van familiegroepe of volke vir hulle besluite en die welsyn van hulle volgelinge verantwoordelik gehou. Volgens Romeine 13:1 is hierdie magte, of menslike regerings, deur God ingestel. In Genesis 10 is daar ‘n lys afstammelinge van Noag deur Sem, Gam en Jafet, wat almal familiehoofde en later hoofde van volke geword het. Wanneer hierdie regerings in afgodediens verval het, is hulle deur die hele groep hierin nagevolg. Abraham was ook só ‘n patriarg met ‘n groot gevolg, maar hy het in God geglo en sy volgelinge geleer om God te dien. Die konsolidering van menslike magte het by die vestiging van die Babiloniese ryk tot ‘n wêreldregering en uiterste vorm van rebellie teen die koninkryk van God gelei. Dit het die grondslag vir talle goddelose volksregerings en wêreldregerings daarna gelê, maar ook die moontlikheid vir godvresende regerings ingehou.

    4. Die bedeling van die wet

    Die bedeling van die wet het by Sinai aangebreek, waarin die onderskeid tussen goed en kwaad baie meer eksplisiet uitgespel is. God het nie net in die Tien Gebooie nie, maar ook deur ‘n groot aantal verordeninge en insettinge, aan sy volk opdragte gegee oor wat hulle móés doen en nié mag doen nie. Sodoende moes Israel God se ryk én Satan se ryk beter leer ken. Ten spyte van ernstige waarskuwings het hulle herhaaldelik die afgode van die heidennasies rondom hulle aanbid, omdat hulle innerlike motivering om die Here te dien, swak was. Hulle het hul harte verhard en geweier om hulle tot die Here te bekeer en sy wette te gehoorsaam (Jer. 5:3; 23:14; 44:5).

    5. Die bedeling van genade (kerkbedeling)

    Die bedeling van genade word ook die kerkbedeling of die bedeling van die Heilige Gees genoem. Ná die kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus is die Heilige Gees uitgestort om mense te wederbaar en in die hele waarheid te lei. Omdat Hy hulle van sonde en geregtigheid oortuig, verkry hulle nog veel dieper insig in die onderskeid tussen goed en kwaad. Die goeie sluit ‘n dieper kennis van God deur Jesus Christus in, soos in die boeke van die NT vervat. Die duiwel en sy werke word ook tot ‘n groot mate in hierdie bedeling geopenbaar (Kol. 2:15). Ons weet veel meer van Satan, sy demone en hoe hulle te werk gaan om mense te verlei. Ons ken egter nog nie ten volle nie (1 Kor. 13:9) hoewel ons verligte oë van die verstand het (Ef. 1:18) om veel meer as in vorige dispensasies oor lig en duisternis te kan verstaan.

    6. Die bedeling van die Antichris se regering

    Wanneer die teëhouer, naamlik die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees, deur middel van die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris geopenbaar word (2 Thess. 2:6-12). Dit sal ‘n hele nuwe bedeling inlui waarin die mensdom wêreldwyd deur die krag van die dwaling mislei sal word om die Antichris na te volg en te aanbid. Die kwaad sal dan tot sy volle ontplooiing kom en dit sal ‘n tyd van ongekende demoniese aktiwiteit wees (Op. 12:12). In teenstelling hiermee sal die kerk wat weggeraap is, met verheerlikte opstandingsliggame beklee word om die goeie ten volle te ken. Hulle sal Jesus Christus van aangesig tot aangesig sien en nooit weer van Hom geskei word nie (1 Thess. 4:16-17).

    7. Die bedeling van die koninkryk

    In die duisendjarige vrederyk sal die ware gelowiges van alle tye saam met Christus in sy koninkryk regeer (Op. 5:10; 20:6). As verheerlikte wesens sal hulle nie meer aan pyn, droefheid, ellende en die dood onderworpe wees nie, en ook nie meer deur ander vorms van onvolmaaktheid geteister en beperk word nie. Hulle kennis van God sal volmaak wees. In daardie tyd sal die geestelik herstelde Israel die lof van die Here oral verkondig, en die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Jes. 11:9). Die duiwel sal gebind wees (Op. 20:2-3) en die Here se vrede en geregtigheid oral op aarde heers.

    8. Die bedeling van die ewigheid

    In die ewigheid, in die nuwe hemel en op die nuwe aarde, sal daar nooit weer iets inkom wat verontreinigend of sondig is nie (Op. 21: 27). Volmaakte vrede en vreugde sal heers wanneer die gelowiges vir altyd in die teenwoordigheid van God leef. Die poel van vuur sal ook vir ewig bestaan waar Satan, sy demone, en alle misleides van alle eeue vir ewig die straf vir hulle rebellie teen God sal ondergaan (Op. 14:9-11; 20:15; Dan. 12:2). Daar sal nooit weer in die dieselfde plek, soos tans op aarde, ‘n naasbestaan van die koninkryke van die lig en die duisternis wees, waar hulle in ‘n stryd teen mekaar gewikkel is nie. Satan se koninkryk sal totaal vernietig word, en hy en die miljoene gevalle engele, asook die ongeredde sondaars, sal vir ewig in die poel van vuur gestraf word.

    Dispensasionele kennis

    Dit is nodig dat ons as Christene die aard van die verskillende dispensasies in die Bybel goed sal ken. Dit was vir die mense van elke bedeling noodsaaklik om die grootste moontlike kennis van goed en kwaad te hê sodat hulle God kon behaag en die regte besluite kon neem om geestelik in die stryd teen sonde en boosheid te oorwin. Die Here het reeds vroeg in die bedeling van die gewete die aard van hierdie stryd, en die noodsaaklikheid om die regte dinge te doen, aan Kain verduidelik (Gen. 4:7). Hy het egter tot sy eie nadeel en ondergang die kennis van die Here verwerp, nie in sy weë gewandel nie en as gevolg hiervan noodwendig die verkeerde dinge gedoen. Omdat hy, soos alle ander mense, ‘n vrye wil gehad het, was alle opsies vir hom oop.

    In die bedeling van die wet het die Here Homself op ‘n besondere manier aan Israel geopenbaar (Ex. 20). Israel het egter gou die insettinge van die Here vergeet en geestelik op die dwaalweë van Satan beland. Hierdie afdwalings was die direkte gevolg van ‘n gebrek aan die kennis van God en sy heilige wil (Hos. 4:1,6). Uit hierdie toestand van afvalligheid is hulle telkens tot bekering opgeroep (Jer. 4:1; 18:11; Hos. 14:2).

    In die kerkbedeling is dit ook van kardinale belang dat ons vervul moet wees met die kennis van God se wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat ons waardig voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en in elke goeie werk vrug te dra en in die kennis van God te groei (Kol. 1:9-10; Joh. 8:31-32). God self is waarheid, Jesus is waarheid, die Heilige Gees is die Gees van waarheid en Hy sal ons in die hele waarheid van die Woord lei (Joh. 17:17; 14:6; 16:13). Hoe goed ken jy hierdie waarheid? Sonder ‘n deeglike kennis van goddelike waarhede sal jy nie volkome daarin kan wandel nie en derhalwe nie in alle opsigte die wil van God in jou lewe volbring nie.

    In die komende verdrukking sal die kennis van God en sy Woord só skaars op die aarde wees (Amos 8:11-12) dat mense verkeerdelik die Antichris vir Christus sal aansien en hom sal dien en aanbid (Op. 13:4,8). As ons nie in die genade en kennis van Christus toeneem nie (2 Pet. 3:18), sal ons ook slagoffers van Satan se gees van misleiding word.

    Persoonlike toewyding

    Wat ‘n voorreg om ‘n Bybelse perspektief op God se raadsplan te hê. In die lig daarvan besef ek dat ons nou in die tyd van die groot afval leef, waarin alles in die stryd gewerp moet word om teen die dwalings van Satan staande te bly. Ek dank die Here dat sy Woord en Gees tot ons beskikking is om aan ons insig te gee en in die kennis van God te laat groei (Ef. 1:17-18; Kol. 1:9-10) Dit is ons eie skuld as hierdie kennis en geestelike krag in ons lewe ontbreek (Matt. 22:29). In ‘n tyd soos hierdie, wanneer ons baie naby aan die einde van die kerkbedeling is, moet ons duidelike kennis oor ons tydsomstandighede hê, sodat ons nie in ons liefde verkoel wanneer die ongeregtigheid toeneem nie (Matt. 24:12). Ons moet ook van die verborgenheid van Satan se ongeregtigheid kennis dra omdat ons dit aktief moet teëstaan (2 Thess. 2:7). Mag die Here ons waaksaam en biddend aantref wanneer Hy kom (Luk. 21:36), en ook besig met die werk van evangelisasie wat Hy aan al sy dissipels opgedra het.

    Vrae

    1.    Hoe het die mense voor die bedeling van die wet tussen reg en verkeerd onderskei?

    2.    Wat behels die bedeling van die wet?

    3.    Wat is die bedeling van genade en waarom weet ons meer as in die OT?

    4.    Hoe verskil die kerkbedeling en die koninkryksbedeling van mekaar?

    5.    Wat is die belangrikste kenmerke van die Antichris se regering?

    6.    Waar gaan mense die ewigheid deurbring, en het hulle enige keuse hieroor?

    Prof. Johan Malan

  • 16. Die Hemel en die Hel

    Die Hemel en die Hel

    In die Bybel is daar baie duidelike uitsprake oor die hemel én die hel.

    Die hemel

    Daar is drie hemele. Daar is in die Bybel verwysings na drie hemele: (1) Die atmosfeer rondom die aarde, waarin die voëls van die hemel vlieg (Jer. 4:25; Eseg. 38:20; Hos. 2:17; Matt. 6:26; 13:32). (2) Die sterrehemel (Ps. 8:4; Eseg. 32:7; Matt. 24:29; Op. 8:10). (3)Die derde hemel, wat die hoogste hemel is waar God woon (Luk. 2:14; 2 Kor. 12:2-4; Ef. 4:10).

    Dit is die woonplek van die Drie-enige God: God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.(Deut. 26:15; Pred. 5:1; Matt. 5:16; Luk. 24:51; Hand. 7:55-56; Ef. 6:9; Kol. 4:1; 1 Thess. 1:10, 4:16; 2 Thess. 1:7; Heb. 8:1; 1 Pet. 1:12; 1 Joh. 5:7).

    Dit is ook die woonplek van die engele. (Matt. 22:30; Luk. 2:15, 22:43).

    Die koninkryk van die hemel. Hierdie koninkryk heers oor die ganse heelal, en word beheer van die troon van God af wat in die hemel is (Ps. 103:19; Hand. 7:49). Die Here Jesus sit aan die regterhand van die Vader (Mark. 16:19; Rom. 8:34; Ef. 1:20; Kol. 3:1; Heb. 1:3; 1 Pet. 3:22).

    Seën én oordeel kom uit die hemel. Die Here verskaf aan sy kinders geestelike voedsel uit die hemel in die vorm van sy Seun, en sy Woord (Joh. 6:31-35; Luk. 4:4). Christene wat die goddelike voorskrifte van die Woord oortree, sondig teen die hemel (Luk. 15:18,21). Oordele word ook uit die hemel op die goddeloses uitgestort (Luk. 17:29; Rom. 1:18).

    Die Christene het ‘n hemelse bestemming. Ons burgerskap is in die hemel (Fil. 3:20) omdat ons name ook daar opgeskryf is (Luk. 10:20). Die Here Jesus het in sy vaderhuis, die hemelse stad wat die nuwe Jerusalem genoem word, vir ons ‘n ewige tuiste gaan berei (Joh. 14:2-3; Op. 3:12; 21:1-2). Dit is deel van ons hemelse erfenis (1 Pet. 1:4), en is onbeskryflik mooi (1 Kor. 2:9).

    Hemelse skatte. Loon sal in die hemel aan diegene gegee word wat op aarde verdrukking ter wille van Christus verduur het (Luk. 6:22-23). Hulle word aangemoedig om ook op ander maniere vir hulle skatte in die hemel bymekaar te maak deur die werk van die Here finansieel te ondersteun en dinge te doen wat ewigheidswaarde het (Luk. 12:21,33; 18:22; 2 Kor. 8:9; 9:6-7).

    Blydskap in die hemel. Daar is blydskap in die hemel oor elke persoon wat gered word en sodoende ‘n lid van hierdie wonderlike koninkryk word (Luk. 15:7). Die blydskap van die heiliges sal volkome weeswanneer hulle met hemelse opstandingsliggame beklee sal wees, wat ver bokant die beperkings van hulle aardse bestaan verhewe is (2 Kor. 5:1-2; Fil. 3:21).

    Die hel

    Die Here Jesus het meer oor die hel gesê as enige ander prediker in Bybelse tye. Sy waarskuwings oor die verskriklike gevolge van sonde is die reguitste en skerpste in die hele Bybel. Lees stellings deur Jesus oor die hel in: Matt. 5:22; 10:28; 13:40-42,49-50; 23:33; 25:41,46; Mark. 9:43-49; Luk. 16:19-31.

    Jesus praat van die hel as ‘n plek waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie (Mark. 9:48). Ons word ook meegedeel dat die hel ‘n ewige vuurpoel is wat met swawel brand (Op. 14:10-11; 19:20). Die ryk man in die hel het geweet dat hy nie net in een of ander geestelike toestand verkeer nie, want hy wou sy broers laat waarsku dat hulle nie ook “in hierdie plek van pyniging kom nie.” Die hel is dus nie ‘n toestand nie, dit is ‘n plek. Dit word duidelik as ‘n plek van liggaamlike smarte beskryf (Luk. 16:22-28). Die ongeredde dooies sal met die tweede opstanding uit hulle grafte opstaan, in veroordeling voor God verskyn, en dan vir ewig in die poel van vuur gewerp word (Dan. 12:2; Op. 20:11-15). Die ongereddes sal dus net so seker as die gereddes uit die dood opgewek word (Joh. 5:28-29).

    Dit is van fisiese liggame in die hel wat die Here Jesus gepraat het toe Hy gesê het dat sondaars in die helse vuur gewerp sal word (Matt. 18:8-9), daarom moet ons God vrees omdat Hy mense tot die hel sal veroordeel (Matt. 10:28). Die duiwel het egter mense wat God se Woord nie ken nie, mislei om te glo dat die hel ‘n onwerklike, spookagtige plek is waar daar wél ‘n bietjie ongerief verduur sal word, maar nie bewuste lyding en fisiese smarte nie. Sodoende word alle vrees vir die oordele van God by mense weggeneem. Mag die Here ons help om te besef dat die geweldigste marteling op die verdoemde siele wag wat Christus as Verlosser verwerp het en as gevolg daarvan hel toe sal gaan.

    Die woorde wat in die Bybel oor die hel en die verdoemenis van verlore mense gebruik word, is nie woorde met ‘n betekenis van tydelikheid nie. Hulle dui almal ‘n ewigheid van smarte aan (Dan. 12:2; Mark. 3:29; Op. 14:10-11). Hoe diep moet ‘n Christen nie geraak wees wanneer hy aan die hel dink, en al die miljoene wat daarheen op pad is nie! Dit is geen wonder dat die moderne Christendom hulle passie vir die redding van sondaars verloor het nie: hulle het die Bybelse leer oor die hel vergeet. Predikers het die foltering van die verdoemdes wegverklaar! Hoe sterk moet ons motivering vir gebed, prediking en sielewenning nie wees nie wanneer ons daaraan dink dat elke verantwoordelike mens wat hierdie aarde sonder ‘n besliste hartsverandering verlaat, sy oë in die ryk van die verdoemdes sal oopmaak, onderweg na die ewige poel van vuur.

    Ongelowiges sê graag dat hulle wat swak, sondige mense is, nie hulle kinders hel toe sal stuur nie, en dat as God sy kinders liefhet, Hy hulle ook nie hel toe sal stuur nie. Die ongeredde sondaars is egter nie God se kinders nie. Niemand is ‘n kind van God voordat hy weergebore is nie. Die ongeredde mense is die kinders van die toorn. Jesus het aan die Fariseërs gesê: “Julle het die duiwel as vader” (Joh. 8:44). God se kinders gaan nooit hel toe nie, maar die duiwel se kinders gaan wél. Hoe dwaas is dit nie om God van verkeerde optrede te beskuldig omdat mense hel toe gaan. Die hel is die gevolg van mense se sonde. Hulle gaan hel toe omdat hulle behoort te gaan, en nie omdat God hulle haat nie. Sonde is ‘n gehate onderwerp vir diegene wat nie van die Bybelse leer oor die hel hou nie, omdat sonde die oorsaak van die hel is (Rom. 6: 23; Eseg. 18:4).

    Die Here Jesus het gesê dat ‘n mens se siel meer werd is as al die skatte van die wêreld (Mark. 8:36-37). Sondaars het alles verloor as hulle hul siele verloor het. Ongelukkig is die meeste mense na hierdie grusame bestemming op pad (Matt. 7:13-14). Die vormgodsdienstiges en valse profete sal baie verbaas wees om hulle oë hier oop te maak (Matt. 7:21-23).

    Ongeredde mense is altyd boos, maar bestempel graag mekaar as baie goed en opreg. Die Bybel beskryf egter die verdorwe toestand van die natuurlike mens in duidelike terme (Jes. 53:6; Jer. 17:9; Mark. 7:21-22; Rom. 3:10,23). Die ryk man het verdien om hel toe te gaan. Hy was ‘n sondaar. Uiterlik mag hy ordentlik, opreg, intelligent en aangenaam gewees het. In sy hart, waar net die Here kan sien, was hy egter ‘n opsetlike, slegte, hardkoppige, aanhoudende en onbekeerlike sondaar teen God. Onthou dat dit verfynde, geleerde, beskaafde, godsdienstige en biddende manne was wat Christus oorgelewer het om gekruisig te word. Hulle was wolwe in skaapsklere. Wat die Here Jesus van hulle gesê het, beskryf die hart van die beste morele mens wat nie sy vertroue vir redding in Christus gestel het nie (Matt. 23:13,27-28).

    Mense wat nie ‘n hartsverandering ondergaan het nie, mag vir ons moreel, skoon of goed lyk, maar dit is net uiterlik so. Die Here, wat die harte van mense ken, weet van die ongeredde hart wat daar in só ‘n mens skuil. Dit was om hierdie rede dat Hy vir Nikodémus, een van die ongeredde godsdiensleiers van Israel, gesê het dat hy weergebore moet word (Joh. 3:3). Jesus het verduidelik waarom sondaars tot bekering moet kom as hulle nie op ‘n ewige verdoemenis wil afstuur nie (Joh. 3:19-20). Die beste bewys van ’n persoon se bose hart is die feit dat hy nog nie na Christus gekom het nie. Die enigste eerlike rede wat enige persoon kan gee waarom hy nog nie na Jesus gekom het nie, is dat hy die sonde liefhet en nie na die Lig wil kom sodat sy sonde bestraf kan word nie. Mense sonder God mag aangename en fyn beskaafde mense wees, maar wat die innerlike mens betref, is hulle beslis nie goed nie. Hulle is sleg omdat hulle dit verkies.

    Die verlore persoon se hart is boos genoeg om vir Christus, die Lig van die wêreld, te haat. Mense verwerp Christus doelbewus omdat hulle sonde liefhet. As hulle nie tot bekering kom nie, gaan sulke bose sondaars hel toe. Jesus het gesê dat dit ‘n tevergeefse poging is om God én die sondige wêreld lief te hê, omdat niemand twee here kan dien nie (Matt. 6:24). Die ryk man is nie hel toe omdat hy uiterlik ‘n slegte lewe gelei het nie. Die Bybel sê nie dat hy owerspel of moord gepleeg het, gedobbel, gedrink of gevloek het nie. Sy probleem was innerlik. Soos alle ongeredde mense het hy ‘n bose hart gehad. In sy verborge hart was hy teen God. Onthou dat hy nie hel toe gegaan het omdat hy ryk was nie. Daar is meer arm mense as ryk mense in die hel. Hy is daar omdat hy nie gered is nie! Hy het geweet dat sy broersgered moes word om die hel vry te spring. Hy het dus geweet dat hy in die hel is omdat hy ongered is (Luk. 16:30). Die Here wil nie hê dat enige sondaar verlore gaan nie (Joh. 3:17; 2 Pet. 3:9; 1 Tim. 2:3-4; Eseg. 33:11; Joh. 3:16). Bekeer jou vandag nog tot die Here Jesus en ontvlug sodoende die oordeel van die hel!

    Persoonlike toewyding

    Ek besef opnuut dat die ewige hemelse vreugde op die gereddes wag, en die ewige straf van die hel op al die ongereddes. Die smal pad lei na die hemel, terwyl die breë pad onwrikbaar op die poel van vuur afstuur. Ek verbind myself by hernuwing aan die groot opdrag om die boodskap van die Here Jesus se reddende genade aan ‘n verloregaande wêreld te verkondig, sodat meer mense uit die koninkryk van die duisternis na die koninkryk na die lig kan oorkom. Hoeveel vormgodsdienstiges is daar nie, wie se lewens op valse fondamente gebou is. Ook hulle moet die waarskuwing aan Nikodémus ernstig ter harte neem dat geen mens die koninkryk van God sal sien as hy nie weergebore is nie. As ons die goddeloses nie waarsku nie en hulle gaan verlore, sal die Here hulle bloed van ons hand eis (Eseg. 33:7-9). Laat ons die Woord van die Here só verkondig dat mense sal besef wat in die ewigheid op hulle wag. Dit is ondenkbaar om ‘n ewigheid in die poel van vuur deur te bring, terwyl die Here Jesus se reddende genade aan almal gebied word.

    Vrae

    1.    Van hoeveel hemele praat die Bybel?

    2.    Wie kan daarvan seker wees dat hulle ‘n huis in die hemel het?

    3.    Watter soort straf sal sondaars in die hel ondergaan, en hoe lank sal dit duur?

    4.    Waarom sal ‘n liefdevolle God mense hel toe stuur?

    5.    Hoe kan mense uit die hel gehou word?

    Prof. Johan Malan

  • 17. Tekens van die Tye

    Tekens van die Tye

    Daar is baie profetiese inligting in die Bybel oor gebeurtenisse wat gedurende en voor die wederkoms van Jesus Christus sal plaasvind. Hierdie tekens van die tye help ons om die ontvouing van God se raadsplan vir die mensdom te kan verstaan, sodat ons beter vir die toekoms gereed kan wees. Die Here verwag van ons om op hierdie tekens ag te slaan, omdat hulle boodskap net so duidelik soos dié van tekens in die natuur is (Luk. 12:54-56). Die Israeli’s weet dat wanneer wolke uit die weste van die Middellande See af opkom, dit gaan reën. Wanneer ‘n warm suidewind van die Negef-woestyn se kan af waai, weet hulle dat dit ‘n baie warm dag gaan wees. Diegene wat nie die tekens van die tye in ag neem nie, word skynheiliges genoem – geestelik verblinde mense wat onkundig is oor dit wat die Here deur die baie duidelike vervulling van Bybelse profesieë aan hulle meedeel.

    Daar is nogtans ‘n verrassingselement aan die wegraping verbonde omdat die meeste tekens hulle finale vervulling in die sewe jaar van die verdrukking, tussen die wegraping en die wederkoms van Christus, sal hê. Hierdie tekens sal nogtans meer prominent begin raak namate ons nader aan die tyd van die wegraping kom, wat die geheime koms van die hemelse Bruidegom is om die ware gelowiges van die aarde af weg te neem (Luk. 21:36; Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17). Ons moet dus in staat wees om die vroeë begin van hierdie tekens te kan raaksien, omdat dit daarop dui dat die tyd vir ons vertrek op hande is (Luk. 21:28). Die volgende is die belangrikste tekens van die eindtyd:

    1. Die herstel van Israel

    Die Here het beloof dat Hy Israel in die laaste dae uit die nasies sal versamel waarheen hulle getrek het, en na hulle eie land bring (Hos. 3:5; Jer. 23:8; 31:8-11; Eseg. 36:22-25; 37:21). ‘n Baie belangrike aspek van hulle herstel is die status van die stad Jerusalem. Volgens Lukas 21:24 sou Jerusalem deur die nasies vertrap word totdat die tye van die nasies vervul is. Die fisiese verowering van Bybelse Jerusalem (die Ou Stad) het in 1967 in die Sesdaagse Oorlog plaasgevind. Dit was die voorspel tot die stad se politieke herstel as Israel se ewige en onverdeelbare hoofstad in Augustus 1980. Laasgenoemde gebeurtenis het die laaste geslag van die huidige bedeling ingelui (Luk. 21:32). Volgens die Bybel sal daar ‘n hewige eindtydse stryd vir die beheer oor Jerusalem wees (Sag. 12:2-3; 14:2), omdat Jesus Christus met sy wederkoms na hierdie stad toe terugkeer (Sag. 14:4-5). Sy vyande sal Hom hier inwag, maar in die daaropvolgende oorlog sal hulle vernietig word (Sag. 14:12-13). Gebeure in Israel is baie belangrike tekens van die tye.

    2. Die Russies-Arabiese inval in Israel

    In Esegiël 38 en 39 word ‘n Russies-Arabiese inval in Israel beskryf. Die vors van Rusland word Gog genoem en sy land Magog. Dit is ‘n antieke naam vir moderne Rusland, omdat dit na die groot gebied noord van die Kaukasiese Berge en die Swartsee verwys. Die belangrikste bondgenote van Rusland word geïdentifiseer as Persië (die huidige Iran), Kus (die huidige Ethiopië), Put (die huidige Libië) Gomer (die huidige Duitsland) en Togarma (die huidige Turkye). Dit word duidelik gestel dat hulle Israel in die laaste dae sal binneval (Eseg. 38:4-8,16). In Esegiël 39 word die vernietiging van Gog en sy menigtes beskryf.

    3. Die herstel van Babilon

    Openbaring 18 verwys na ‘n stad met die naam van Babilon. Dit is dieselfde stad wat in antieke tye bestaan het, en wat in die eindtyd weer herbou en na sy eertydse roem herstel sal word. As die geboorteplek van die Ou Wêreld se heidense gelowe, moet hierdie stad weer as die vesting van ‘n valse wêreldgodsdiens na vore tree. Babilon is op die walle van die Eufraatrivier in Irak geleë. Dit is geen toeval dat twee van die laaste ses hoofstukke in die Bybel aan Babilon gewy word nie. In Openbaring 17 word verborge Babilon beskryf en as die moeder van die hoere geïdentifiseer. Dit is ‘n aanduiding dat al die valse gelowe wat in Babilon ontstaan het, in die eindtyd in ‘n enkele ekumeniese liggaam gestalte sal aanneem (Op. 17:1-6). Die herstelde stad Babilon sal hulle finale tuiste wees. Die herstelde handelstad, Babilon, word in Openbaring 18 beskryf. Die stad móét herbou word, sodat dit in die komende verdrukking finaal vernietig kan word (Jes. 13:19-22; Jer. 51:61-64; Op. 18:1-2, 8-10, 17-21).

    4. Die herstelde Romeinse ryk

    Die antieke Romeinse ryk moet in die eindtyd ook as ‘n magsbasis van die Antichris opgebou word. In die beeld van Daniël (Dan. 2:31-45) word die Romeinse ryk deur die bene en tien tone voorgestel. In die naggesigte van Daniël is die wreedaardige dier met die tien horings op sy kop ook ‘n aanduiding van die Romeinse ryk, waaruit die Antichris sal kom (Dan. 7:7-8,19-26). Die simboliek van die dier met die tien horings word ook in Openbaring 13:1-2 aangetref, waar die Antichris beskryf word. Uit hierdie profesieë is dit duidelik dat die Romeinse ryk weer sal herleef. Dit sal lande uit Wes-Europa, Oos-Europa, die Midde-Ooste en Noord-Afrika insluit. Die Europese Unie is besig om vinnig uit te brei en sal die herstelde Romeinse ryk wees.

    5. Die nuwe wêreldorde

    Die Antichris sal die hoof van ‘n nuwe wêreldorde wees wat alle lande sal insluit. Hy sal ‘n wêreldryk instel wat op politieke, godsdienstige én ekonomiese magsbasisse sal berus (Op. 13:2,4,7,16-18). Die huidige nuwe wêreldorde wat op globalisasie ingestel is, baan die weg na hierdie toekomstige dispensasie.

    6. Godsdienstige misleiding

    In die laaste dae sal valse leerstellings wat deur duiwels bevorder word, rampspoedige gevolge in baie Christelik kerke hê (1 Tim. 4:1). Godsdienstige dwalings sal geweldig toeneem (2 Tim. 4:3-4; Matt. 7:21-23; 24:11,24; 2 Kor. 11:2-4; Gal. 1:6-9; 1 Joh. 4:1). Dit is duidelik dat valse profete baie populêr sal wees en beheer oor die meeste kerke sal kry (Matt. 24:4-5; 2 Pet. 2:1-2). Dit berei die weg voor vir ‘n tyd waarin die hele wêreld in verwondering agter ‘n valse godsdiensleier sal aangaan en hom as die hoof van ‘n wêreldregering sal aanstel (Op 13:3-4,11-15).

    7. Morele verval

    Ernstige morele verval sal in die eindtyd voorkom (2 Tim. 3:1-5). Baie Christene sal ook negatief deur hierdie golf van immoraliteit  beïnvloed word (Matt. 24:12). Dit sal soos die tyd van Noag en Lot wees, toe boosheid, geweld en homoseksaulisme aan die orde van die dag was (Matt. 24:37).

    8. Natuurrampe

    In die eindtyd sal daar ‘n groot toename in natuurrampe soos aardbewings , droogtes, lug- en waterbesoedeling, hittegolwe, ongekende haelstorms, brandende brokstukke van hemelliggame wat op die aarde en in die see sal val en groot golwe sal veroorsaak (Matt. 24:7; Op. 6:12-13; 8:8-12; 11:6; 16:4,8,18-21). Die tsunami in Suidoos-Asië op 26 Desember 2004 was een van die ergste natuurrampe tot op datum. Dit is deur ‘n geweldige aardbewing op die seebodem veroorsaak. In die komende verdrukking sal natuurrampe grootliks toeneem en paniek onder mense veroorsaak (Luk. 21:25-26).

    9. Hongersnood en pessiektes

    Hongersnood en pessiektes sal in die verdrukking algemeen voorkom (Matt. 24:7) en baie sterftes tot gevolg hê. Kos sal baie skaars en duur wees. Pessiektes verwys na epidemies wat buite beheer sal toeneem. HIV/vigs kan een daarvan wees.

    10. Oorloë

    Die verdrukking sal ‘n tyd van ongekende oorloë wees, wat uiteindelik op die slag van Armageddon sal uitloop (Matt. 24:6-7; Op. 6:4,8; 16:13-14,16; 19:19-21; Sag. 14:2-3,12-13). ‘n Groot invalsmag uit die Ooste, waarskynlik Sjina en sy bondgenote, word ook beskryf (Op. 9:13-19).

    11. Wêreldevangelisasie

    Een teken van die eindtyd wat van ‘n positiewe aard is, is wêreldevangelisasie. Voordat die einde kom, moet die evangelie oral in die wêreld verkondig word (Matt. 24:14). Alle Christene moet hulleself aan die uitvoering van hierdie taak wy (Luk. 14:23).

    Die toorn van God

    Die tekens van die tye toon duidelik aan dat die God van liefde wat alle mense wil red (1 Tim. 2:3-4), ook ‘n God van toorn is wat onbekeerlike sondaars swaar sal straf (Heb. 2:3; 1 Thess. 1:10). Ons moet nie net sekere attribute van God ten koste van ander beklemtoon nie, want dan kan ons by ‘n “ander Jesus” uitkom wat ‘n uitvindsel van mense is (2 Kor. 11:4) en gevolglik nie getrou aan die Bybel nie. God wil nie hê dat sommige mense moet vergaan nie, maar dat almal gered sal word (2 Pet. 3:9). Hy sal egter sondaars oordeel wat weier om tot bekering te kom.

    In die komende verdrukking wanneer die toorn van God oor die wêreld uitgestort sal word, sal die meeste van die geharde sondaars nóg boser word en selfs vir God laster oor die plae (Op. 9:20-21). Hulle sal aan God geen keuse laat as om hulle te oordeel nie. Ons opdrag is om op die tekens van die tye ag te slaan, wat aantoon dat die meerderheid van die wêreldbevolking in die eindtyd boser, selfsugtiger, meer immoreel, gewelddadig, onbetroubaar en God-verwerpend sal raak. Ons moet daarteen waak om nie by hierdie ongebonde groepe van die eindtyd in te skakel nie (Rom. 13:12-14). Die wêreld stuur op sy donkerste uur af, en ook ‘n groot verdrukking soos daar nog nooit was nie (Matt. 24:21-22). Soos in die tyd van Noag en Lot, bly die beginsel egter vasstaan dat God se toorn nooit oor ware gelowiges uitgestort word nie (Luk. 21:36).

    Persoonlike toewyding

    Die tekens van die tye spreek my aan om vir die koms van die hemelse Bruidegom gereed te maak. Deur sy genade sal ek die oordele oor ‘n sondige wêreld ontvlug, net so seker as wat Noag en Lot die oordele oor die goddeloses van hulle tyd ontvlug het. Ek hou aan hierdie belofte vas, daarom het ek ‘n Christus-verwagting en nie ‘n Antichris-verwagting nie. Wanneer die ware kerk van Christus (die wyse maagde) weg is, sal die Antichris sonder teëstand geopenbaar kan word om sy massamisleiding en skrikbewind op aarde te vestig. Ek besef dat ek in ‘n tyd soos hierdie meer as ooit tevore teen geestelike afvalligheid en morele sondes moet waak (Matt. 24:12), omdat die krag van misleiding baie sterk is. Die gees van misleiding is daarop ingestel om Christene van die geloof afvallig te maak (1 Tim. 4:1). Deur die tekens van die tye waarsku die Here ons om getrou aan Hom te bly, vir sy skielike koms gereed te maak, en die oorblywende tyd ten beste te benut om andere te waarsku teen die oordele van God wat aan die kom is. Die Here wil ons met sy werk besig vind (Matt. 24:45-47).

    Vrae

    1.    Wat is die betekenis van Israel as ‘n teken van die eindtyd?

    2.    Wie is die vyande wat Israel volgens Esegiël 38 sal inval?

    3.    In watter opsig speel die Europese Unie ‘n rol in die vervulling van Bybelse profesieë?

    4.    Wat is die nuwe wêreldorde en wat is die drie magsbasisse daarvan?

    5.    Beskryf die morele en geestelike standaarde wat in die eindtyd sal heers.

    Prof. Johan Malan

  • 18. Die Wederkoms van Christus

    Die Wederkoms van Christus

    Om die wederkoms reg te kan verstaan moet die twee fases daarvan duidelik onderskei word, naamlik Christus se koms vir sy heiliges en sy koms met sy heiliges. Gedurende die eerste fase kom die hemelse Bruidegom baie onverwags, soos ‘n dief in die nag, om sy bruid te kom haal. Hy ontmoet haar in die lug en voer haar vinnig na hemelse plekke weg (Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17; 1 Thess. 5:2). Tydens hierdie ontmoeting word die ware Christene weggevoer of weggeraap, die Here tegemoet in die lug (1 Thess. 4:17). Gedurende die tweede fase kom Christus in die openbaar sodat elke oog Hom sal sien. Hy word vergesel van sy bruid, asook ‘n hemelse leërskare, en sit by daardie geleentheid sy voet op die Olyfberg neer (Sag. 14:4-5; Op. 19:11-15).

    Verheerliking en wegvoering

    Die verheerliking van Christene begin op daardie oomblik wanneer die basuin van God sal blaas. Die ontslape heiliges sal dan uit die dode opgewek en die lewende heiliges in ‘n oomblik verander word om almal saam hulle verheerlikte liggame te ontvang (1 Kor. 15:51-53). Wanneer dit gebeur, sal ons met betrekking tot ons verheerlikte liggame aan Christus gelyk wees (1 Joh. 3:2) – in rang bly Hy steeds by verre ons meerdere omdat Hy die Hoof van die gemeente is (Ef. 5:23). Wanneer Hy skielik in ons midde verskyn, word ons in ‘n oomblik met onverganklike hemelse liggame beklee en sodoende in onsterflike hemelse wesens verander. ‘n Nuwe dimensie van bestaan word dan betree (Fil. 3:20-21).

    Onmiddellik nadat die ontslape én lewende heiliges met verheerlikte liggame beklee is, word hulle van die aarde af weggevoer na die hemel toe om vir ewig in die teenwoordigheid van die Here Jesus te wees (1 Thess. 4:15-18). Let daarop dat hierdie ontmoeting in die lug sal plaasvind en dat slegs Christene daarby betrokke sal wees. Die Here Jesus sit nie in hierdie stadium sy voet op die Olyfberg neer nie, maar keer onmiddellik met sy bruid wat Hy kom haal het, na sy Vaderhuis in die hemel terug. Die woord “weggevoer” in 1 Thess. 4:17 (Gr. harpazo) beteken “om vinnig weggeruk” of “weggeraap” te word.

    ‘n Begrip wat baie nou met die wederkoms in verband staan, is dié van die eerste opstanding. Tydens die wegraping kom die Here Jesus net om die regverdiges te kom haal (1 Thess. 4:16). Hier word hoegenaamd niks van die opstanding van die goddeloses gesê nie. Aangesien ‘n eerste opstanding ook ‘n tweede impliseer, en aangesien ons weet dat die regverdiges én onregverdiges opgewek sal word, is dit duidelik dat die goddeloses eers tydens ‘n latere opstanding opgewek sal word. In Openbaring 20 word gesê dat die twee opstandings ‘n duisend jaar uitmekaar is. Johannes verwys na Christenmartelare wat in die eerste opstanding opgewek sal word om in die duisendjarige vrederyk op aarde as konings saam met Jesus Christus te regeer (Op. 20:4-6).

    Ontvlugting

    Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ‘n ontvlugting uit dreigende oordele wees. Dit sal ‘n donker tyd van geweldige geestelike misleiding wees. Die evangeliese Christene sal as onbybels en liefdeloos bestempel en geminag word. Hulle sal as doemprofete beskou word omdat hulle die naderende oordele van God verkondig, wat in die groot verdrukking oor die aarde sal kom. Hulle sal nie as “polities korrek” beskou word nie omdat hulle nie die hervormings van die nuwe wêreldorde sal aanvaar nie; maar hulle sal wél volgens die Bybel “profeties korrek” in hulle siening wees. Namate die dag vir die openbaring van die Antichris nader kom, sal hierdie mense aan geweldige druk, intimidasie en dreigemente onderwerp word. Indien hulle egter getrou aan hulle beginsels bly, sal die Here Jesus hulle saam met die ander ware gelowiges kom haal en sodoende die oordele op aarde en verdrukking onder die bewind van die Antichris laat ontvlug (Luk. 21:36).

    Die Here bied duidelik aan jou ontvlugtinguit die komende oordele op aarde. Die groot verdrukking is beslis ‘n tyd van goddelike toorn. Wanneer die kragte van die hemele geskud word en mense se harte beswyk van vrees en verwagting, sal hulle paniekbevange na die berge toe vlug en om hulp na die rotse uitroep (Op. 6:16-17). As jy waak en bid en geestelik waardig is, sal jy hierdie oordele ontvlug (Luk. 17:34-36). God het nog nooit in die geskiedenis sy oordele oor die gelowiges uitgestort nie.

    Hoewel die wegraping as gevolg van sy aard en omvang uniek sal wees, was daar al verskeie goddelike ingrypings vir die behoud van gelowiges in tye van oordeel. In die dae van Noag het God sy oordele oor ‘n bose, gewelddadige en moreel verdorwe geslag mense aangekondig (Gen. 6:5-14). Pas voor die uitstorting van goddelike toorn is die gelowiges deur middel van die ark in ‘n plek van veiligheid gestel. Die Here het self die deur agter hulle toegesluit voordat Hy Homself in oordeel tot die sondaars gewend het (Gen. 7:16-23). Daar was eers uitredding en daarna oordele.

    In die tyd van Lot het daar ook ‘n uitreddingsaksie plaasgevind. Hulle het in die nag voordat Sodom en Gomorra vernietig is, ‘n dringende opdrag gekry om die rampgebied te ontruim. Die twee engele het ook gesê dat hulle niks kon doen solank Lot en sy gesin nog daar was nie. Kort nadat hulle vertrek het, het vuur en swawel op die goddeloses gereën (Gen. 19:13-17, 22-25). Daar is ‘n duidelike korrelasie tussen hierdie gebeure en God se handelswyse met die eindtydse gelowiges nét voor die sewe jaar lange verdrukking (Luk. 17:26-30).

    Nadat Christus die ware gemeente in die geheim weggevoer het, sal Hy van die troon af oordele oor ‘n goddelose wêreld uitstort (Op. 6 tot 19). Die verheerlikte kerk sal dan rondom sy troon vergader wees (Op. 4:4, 5:9-10). Aan die einde van die sewe jaar van verdrukking sal Jesus Christus mét sy verheerlikte kerk terugkeer aarde toe en hier ten aanskoue van almal geopenbaar word (Sag. 14:4-5; Kol. 3:4). Dit sal die tweede fase van sy koms wees.

    Sy sigbare verskyning

    Tydens die slag van Armagéddon, op die laaste dag van die groot verdrukking, sal Jesus Christus op ‘n wit perd op aarde verskyn, gevolg deur ‘n hemelse leër en al sy heiliges, en tot die stryd teen sy vyande toetree (Op. 19:11-21). Sy wederkoms sal soos die weerlig van oral af gesien kan word, maar fisies kom Hy na Jerusalem terug (Sag. 14:4-5). By daardie geleentheid sal die duisternis van God se oordele oor die aarde toesak. Die Here sal sy vyande tref met die swaard wat uit sy mond uitgaan. Hy sal net ‘n woord spreek wat tot hulle ondergang sal lei. In die verwarring en duisternis sal hulle mekaar begin doodmaak (Sag. 14:2-4, 12-13). Dan sal hulle ervaar dat dit vreeslik is om te val in die hande van die lewende God (Jes. 13:9-12; Joël 2:1-2,11, 3:1-2), omdat hulle dwaas genoeg was om teen Hom oorlog te verklaar (Op. 19:19).

    Die Antichris en die valse profeet sal op die dag van Christus se wederkoms gevang en lewendig in die hel gewerp word (Op. 20:19-20). Hierdie konfrontasie sal volgens Joël 3 in die dal van Jósafat plaasvind, wat die Kidronvallei tussen die Olyfberg en die Tempelberg is. Hierna sal Satan vir 1000 jaar in ‘n put gebind word (Op. 20:1-3). Die beskrywing van die binding van die duiwel vorm ‘n eenheid met die gebeure in Openbaring 19, en is dus een van die gevolge van die wederkoms van Jesus. Dit vind net ná die finale oordeel oor die Antichris en die valse profeet plaas, en is nie ‘n gebeurtenis wat van hierdie konteks losgemaak, duisende jare teruggeskuif en op die bedeling van die kerk van toepassing gemaak kan word nie.

    Die Bruilofsmaal van die Lam

    Ná die wederkoms sal die bruilofsmaal van die Lam op aarde plaasvind (Op. 19:7-9). Tydens die wederkoms sal Jesus reeds met sy bruid verenig wees, omdat sy sewe jaar tevore na Hom weggeraap is. Die huweliksbevestiging in die hemel sal dan al afgehandel wees, maar die onthaal ná die troue, die bruilofsmaal van die Lam, sal op aarde plaasvind.

    Met die wederkoms sal die bruid in die oomblik van Christus se grootste triomf deel wanneer Hy as Koning van die konings na hierdie aarde terugkeer, die mag van die vyand verbreek en ‘n regering van geregtigheid tot stand bring waarin sy diensknegte saam met Hom sal regeer. Die bruilofsmaal sal ‘n luisterryke geleentheid wees wat deur baie genooide gaste bygewoon sal word, onder andere die bekeerde oorblyfsel van die volk Israel wat kort tevore die Here Jesus as Messias aanvaar het. Hulle blydskap en vreugde in die Here sal volkome wees.

    Hierna sal Jesus, die Messias-Koning, die troon van Dawid herstel en die lank verwagte Messiasryk vestig (Hand. 15:16-17), waarna tereg as die duisendjarige vrederyk verwys word. Sy getroue diensknegte sal saam met Hom as konings regeer. Aan diegene wat as getuies en gestuurdes van Christus in hierdie bedeling getrou bevind is, sal verskillende posisies in sy koninkryk toegeken word (Luk. 19:17,19). Ons het nóú die geleentheid om onsself aan die Here toe te wy en vir Hom te werk (2 Kor. 5:10). By die wederkoms sal Hy ons hiervoor beloon deur genadeloon aan ons toe te ken, en in sy vrederyk sal ons saam met Hom regeer. Hy verwag van sy diensknegte om nie doellose lewens te lei en met leë hande voor Hom te verskyn nie (Luk. 19:20-23), maar om getrou bevind te word sodat Hy hulle verder in sy koninkryk kan aanwend.

    Persoonlike toewyding

    My groot doel in die lewe is om die werke te doen van Hom wat my gestuur het, terwyl dit dag is. Die nag van God se oordele kom, wanneer niemand kan werk nie. Mag die Here Jesus my met die uitvoering van sy opdragte besig vind wanneer Hy ons kom haal en na ons tuiste in die hemel wegvoer. As ons in Christus is, hoef ons nie die komende oordele te vrees nie, want daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie – vir die wat nie na die vlees wandel nie maar na die Gees (Rom. 8:1). Ons kom nie in die oordeel nie, want ons het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24). Wat ‘n blye dag om na uit te sien, dat Jesus Christus sy bruid kom haal, sodat sy al die oordele wat oor die sondaars gaan kom, kan ontvlug en voor die Seun van die mens staan. Onbeskryflike heerlikheid sal aan haar geopenbaar word – wat die oog nie gesien, die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat die Here gaan berei het vir dié wat Hom liefhet (1 Kor. 2:9).

    Vrae

    1.    Noem die twee fases van Christus se koms en dui aan wat in die tydperk tussen hulle gaan gebeur.

    2.    Beskryf die wegraping as ‘n ontvlugting uit die komende oordele van God.

    3.    Waar sal Jesus Christus met sy sigbare koms op aarde verskyn?

    4.    Wat sal Hy hierna doen?

    5.    Wie sal Jesus Christus tydens sy wederkoms na die aarde toe vergesel?

    6.    Waarom moet ons waak en bid om vir die wegraping waardig te wees?

    Prof. Johan Malan

Evang<br />elism
Tools, tips & guidance

Evang
elism

Reach out to your community. There are many ways to spread the Gospel of Jesus Christ, we show you how and equip you with the necessary tools.
Go to page
Bible<br />Study
Material & Guides

Bible
Study

A growing range of Bible studies and study guides is available for group or individual study. Make disciples!
Go to page
Arti<br />cles
English & Afrikaans

Arti
cles

We offer a large collection of written material on various topics. These can be used as sermon notes, for Bible study and group studies as well as your own edification.
Go to page
Mis<br />sion
Africa Mission

Mis
sion

Church planting, growth, and leadership training. We support church communities in Malawi and Mozambique.
Go to page

Evangelism

Reach out to your community
Many people today say, "Why should I win souls?" "Isn't the preacher supposed to do that?" Yes! He is but so is every Christian.
Order Gospel Tracts
eBooks

eBooks

All eBooks are FREE, there are English as well as Afrikaans books available. Click the button below to browse the available electronic books.

eBooks

End Times

Bible prophecies show us exactly the predicted direction today’s events are taking. And for those who make time to study Bible prophecies, you can see that developments in our world today point in only one direction – the Second Coming of our Messiah, the Lord Jesus Christ, to establish His Kingdom on earth.

Featured Articles

Monday, July 10, 2023 False Teachers & Doctrine 3842
From Speaking in Tongues to Speaking Truth: Why I Left the Charismatic Church Madelein Wolfaardt My mother’s death broke the spell. After years of prophetic declarations, healing services, and speaking in tongues, I finally saw the charismatic Christian movement for what it was. This is how I learned to distinguish between genuine faith and spiritual manipulation — a journey from blind acceptance to clear-eyed truth.