fbpx
Articles
Articles | Tips & Help for the Daily Christian Life |

Grow in Christ

Wie is Jesus?

Johan Malan - Afrikaanse Artikels

Opsomming: In hierdie artikel word die Godheid, name en attribute van Jesus uit ‘n Bybelse perspektief bespreek.

Te midde van al die valse godsdienste wat uit die koninkryk van die duisternis voortkom, die ander Jesusse wat die vyand se subtiele pogings tot die nabootsing van die Here Jesus is, die dooie tradisies en lewelose vormgodsdiens waardeur die waarheid van God se Woord bedek en verduister word, en te midde van ‘n wêreldwye aanslag van verleidende geeste op die kerk van die Here, staan Jesus Christus en sy verlossingsboodskap onmiskenbaar uit soos ‘n helder skynende lig in ‘n donker wêreld. Hy is die enigste oplossing vir ‘n mensdom wat in die mag van die Bose is:

·       Hy is die weg, die waarheid en die lewe vir almal wat hulleself op die dwaalweë van Satan bevind, en weens die verduistering van hulle gemoed steeds op die pad van die dood voortstrompel.

·       Hy is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. Dit is glad nie nodig om jou laste van sonde en ongeregtigheid te dra en tevergeefse pogings aan te wend om self daarvan ontslae te raak nie.

·       Hy is die ewige en onwankelbare Rots van die Eeue waarop ook nasies in hierdie onseker en vervallende wêreld hulle regering, maatskaplike orde, onderwysstelsel en morele beginsels kan bou.

Dit is belangrik dat ons die Here Jesus persoonlik sal ken – nie net as ons Verlosser nie, maar ook as ons Heiligmaking, ons Herder, ons Bruidegom en in al die ander wonderlike hoedanighede waarin Hy Homself aan ons openbaar. Ná die blye dag waarop ons Hom ontmoet en in ons harte en lewens ingenooi het, moet ons voortdurend toeneem in die genade en kennis van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Pet. 3:18).

Dit was die groot doel van Paulus se lewe, en hiervoor het hy alles prysgegee om Christus as wins te verkry, “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:10).

Dit moet die groot dryfkrag in ‘n Christen se lewe wees:

“…totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14).

Die Here Jesus openbaar Homself op ‘n besondere wyse deur al die persoonlike en beskrywende name van Hom wat in die Bybel opgeteken is. Indien ons Hom reeds as Verlosser ontmoet het, dan sal ons deur ‘n studie van die betekenisse van sy wonderlike name vir ‘n nuwe ontmoeting met Hom voorberei word. Nie alleen sal dit ons geestelike lewe meer vervullend en dinamies maak nie, maar nuwe inspirasie sal in ons harte ontspring om Hom meer lief te hê en met ‘n volkome hart te dien.

Voordat die verskillende name van die Here Jesus bespreek word, moet daar eers iets oor die vertaling van Bybelse name gesê word. Bewerings word deur sommige mense gemaak dat die vergriekste name van die Here (waarvan ook ooreenstemmende name vir die Godheid in ander tale afgelei is), ‘n konnotasie met die Griekse mitologie en die Griekse afgode het.

As gevolg hiervan is daar tans verskeie pogings om die oorspronklike Hebreeuse name in ere te herstel. Wanneer daar na God verwys word, word die benaminge El (soos in El Shaddai vir die Almagtige God, en Bet El vir die Huis van die Here), Elohim, Adonai en Jahweh gebruik. Na Jesus word as Jeshua of Jashua verwys en na Jesus Christus as Jeshua Ha Mashiach.

Daar het onlangs ‘n nuwe Engelse vertaling van die Bybel verskyn waarin slegs die Hebreeuse name van Jesus en God verskyn. Die probleem is egter dat die klassieke Hebreeuse grondteks sonder vokale gekryf is, en dat daar nie ooreenstemming onder geleerdes is oor watter vokale gebruik moet word nie. Die verbondsnaam vir God in die Ou Testament is slegs as JHWH (‘Ek Is’) geskryf. Aanvanklik is dié naam as Jehovah uitgespreek, maar later egter meer korrek as Jahweh of Jahwah. Sommiges meen egter dat die woord drie klinkers moet hê en dus Jahuweh behoort te wees. Dieselfde onsekerheid bestaan ook oor Jesus se naam, en dit word as Jeshua (Eng. Yeshua), Jashua en selfs as Jahushua aangedui. As gevolg van hierdie onsekerheid word Jahweh en Jeshua in die genoemde nuwe vertaling in Hebreeuse letters geskryf en kan die leser self besluit hoe hy of sy dit wil uitspreek.

In die Griekse grondteks van die NT word Jeshua as ’Iesous vertaal (die ongeaspireerde ’I word as ‘n J uitgespreek; Afr. Jesus). Die Hebreeuse name vir God en die Here word as Theos en Kurios weergegee.

Daar is hoegenaamd geen taalkundige, historiese of kulturele bewyse dat die vergriekste name (en dus ook die gebruiklike Afrikaanse en Engelse name) van afgode afgelei is en derhalwe tot oneer van die Here gebruik word nie. Die feit is dat sommige van hierdie name as generiese terme in Hebreeus sowel as in alle ander tale na die ware God én na valse gode kan verwys, afhangende van die konteks waarin dit gebruik word. Let bv. op die volgende:

Die eerste woord wat vir God in die Bybel gebruik word, is Elohim: “In die begin het God (Elohim) die hemel en die aarde geskape” (Gen. 1:1). Hierdie selfde woord word egter ook dikwels t.o.v. afgode gebruik: “Ek is die Here jou God (Jahweh jou Elohim)... jy mag geen ander gode (elohim) voor my aangesig hê nie... julle mag naas My geen silwer gode (elohim) en geen goue gode (elohim) vir julle maak nie" (Ex. 20:2-3, 23).

Net so is die name Theos en Kurios in die NT generiese terme wat ook op afgode betrekking kan hê indien die konteks dit vereis (vgl. Hand. 7:40 waar theos gebruik word, en 1 Kor. 8:5 waar theos én kurios afgode aandui). In 2 Kor. 4:4 word gesê dat die god (theos) van hierdie wêreld (Satan) die sinne van mense verblind het. In dieselfde vers word ook van die ware God (Theos) gepraat.

Dit hang dus alles af van die inhoud wat aan ‘n generiese term gekoppel word, soos blyk uit die konteks waarin dit gebruik word. Om hierdie rede kwalifiseer God Homself so dikwels in die Bybel as die Almagtige God, die Skepper van die hemel en aarde, die God van Abraham, Isak en Jakob, die Ewige Ek Is, ens. Jesus word ook gekwalifiseer as Here, Christus, Lam van God, ens.

Wanneer ‘n naam of begrip swak gekwalifiseer word, kan dit van sy oorspronklike betekenis verloor, dan kan selfs Jesus ‘n ander Jesus word, en Christus ‘n valse Christus. Om hierdie rede is dit so belangrik om van al die name en attribute van God en die Here Jesus kennis te neem, want dan kan u teen verskralings en vervalsings daarvan waak.

Die beweringe dat Griekse afgodsname deur die heidene (nie-Jode) in die Bybel ingevoer is, is in elk geval nie histories korrek nie. Hierdie name is reeds in die derde eeu v.C. in die Septuagint gebruik, wat ‘n Griekse vertaling van die Ou Testament is. Dit is in omstreeks 270 v.C. deur 70 Joodse geleerdes in Alexandrië gedoen. Die beweegrede hiervoor was sodat Griekssprekende Jode buite Israel ook toegang tot die Ou Testament kon hê.

‘Septuagint’ is van die Latynse woord vir 70 afgelei, omdat hierdie vertaling deur 70 persone gedoen is. Volgens oorlewering is die vertaling onder die duidelike inspirasie van die Heilige Gees gedoen. Die 70 persone het onafhanklik van mekaar gewerk, en aan die einde was daar geen verskil tussen hulle vertalings nie. Volgens een bron het 72 Joodse geleerdes die vertaalwerk gedoen – ses uit elkeen van die 12 stamme van Israel. Die geloofwaardigheid van die Septuagint, waarin die vergriekste name van God voorkom, kon nog nooit om enige grondige redes bevraagteken word nie. Jesus het self hieruit aangehaal, asook die skrywers van die Nuwe Testament. Dit is dus nie nodig om nou ‘n revolusie oor die name van God te ontketen nie. Ons moet wél seker maak hóé ons hierdie name gebruik en eerbiedig, en dit teen enige semantiese veranderings of vervalsings beskerm.

Name van die Here Jesus Christus

Die name van die Here Jesus kan in die volgende vier kategorieë verdeel word:

·       Sy eienaam as vleesgeworde Verlosser.

·       Die name wat op sy Godheid dui.

·       Sy ampsnaam asook die sewe ampte wat Hy beklee.

·       Sy beskrywende name.

1. Sy Eienaam

Die naam Jesus (Die Here [Jahweh] is Verlossing; Heb. Jeshua) is deur God self aan sy Seun gegee. ‘n Engel het in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:20-21).

Om volgens God se standaarde die Verlosser van die volk Israel én van die hele wêreld te wees, moes Jesus die volmaakte God-mens wees. Hy moes in ‘n menslike geslag (die koninklike linie van Dawid in die stam van Juda) gebore word om Seun van die mens te kan wees. Nogtans moes ‘n man Hom nie verwek nie, sodat Hy nie enige deel aan die menslike ras se erfsonde sou hê nie. Hy moes dus deur die beskikking van God uit ‘n maagd gebore word sodat Hy ook Seun van God kon wees: “...die naam van die maagd was Maria... En die Engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk. 1:27, 35).

In Jesus se hoedanigheid as Seun van die mens is die Vader groter as Hy, en het die Vader Hom gestuur om as mens gebore te word. Jesus het Homself ook uitdruklik aan die wil van sy Vader onderwerp (Matt. 26:39).

2. Sy Naam as God

In sy hoedanigheid as God is Jesus gelyk aan en een met die Vader; daarom kon Hy sê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Aan die dissipels het Hy gesê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:9).

Die profeet Jesaja het die belofte gegee dat vir die volk Israel ‘n Seun gebore sou word wat tegelyk ook God sou wees, en een met die Vader:

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jes. 9:5).

In Johannes 5 word die gelykheid tussen Jesus en die Vader op ‘n sewevoudige wyse bevestig. Hulle is:

– gelyk in werke (v. 19);

– gelyk in kennis (v. 20);

– gelyk in opwekkingskrag (v. 21);

– gelyk in oordele (v. 22);

– gelyk in eerbiedwaardigheid (v. 23);

– gelyk in herskeppingskrag (v. 24); en

– gelyk in selfbestaan (v. 26).

Paulus het die groot omvang van die openbaring van God die Vader deur God die Seun begryp en verklaar: “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9). Dit is belangrik om te weet dat God die Seun van alle ewigheid af saam met God die Vader en God die Heilige Gees bestaan, en beslis nie net van sy menswording af nie. Miga 5:1 sê: “Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” Johannes beskryf Jesus as die vleesgeworde Woord wat van die begin af as God bestaan, en deur Wie alles geskape is:

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God... Alle dinge het deur Hom ontstaan... In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis... En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:1-5, 14).

Paulus sluit hierby aan as hy sê:

“Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17).

Jesus is Here (Kurios – Hand. 10: 36) en God (Theos – Rom. 9:5). Dit is belangrik om Hom in hierdie hoedanigheid aan te spreek wanneer ons bid of oor Hom praat. Voor sy opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees is Jesus as meester (didaskalos, kathegetes, rabbi of epistates) aangespreek, terwyl net enkele van sy dissipels besef het dat Hy die Messias (Christus) is (Matt. 16: 13-17). Met sy verheerliking het ook die volle openbaring van sy Godheid gekom, en word Hy nie meer net as leermeester of meester nie, maar as Here en God aangespreek.

In sy brief skryf Petrus van “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1). Johannes sê: “Ons is in die Waaragtige... Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 oh. 5:20). Paulus laat ook nie na om van die Here Jesus te praat nie (Ef. 1:15).

Ons behoort nie net van Jesus te praat sonder om sy eienaam aan sy Godheid te koppel (Here Jesus) of aan sy ampsnaam (Jesus Christus) of selfs aan albei nie (Here Jesus Christus). As gevolg van die groot aanslag op die maagdelike geboorte en die Godheid van die Here Jesus, moet ons Hom uitdruklik as God of Here aanbid en verkondig.

Dit is ook eensydig om voortdurend nét van Christus te praat, omdat dit Jesus se ampsnaam is wat Gesalfde beteken. Dit is nie verkeerd nie, maar mense praat soms van Christus en ‘n Christelike lewenswyse op ‘n ietwat formele en selfs abstrakte wyse. Mens kry die indruk dat baie van hulle die Here Jesus nie regtig persoonlik ken nie, omdat hulle huiwerig is om sy eienaam te gebruik.

U moet onthou dat daar net een naam onder die hemel gegee is waardeur mense gered kan word, en dit is die naam Jesus (Hand. 4:12). Roep Hom deur hierdie Naam aan en gee ook erkenning aan sy gesag as Christus en Here:

“God (het) Hom uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Fil. 2:9-11).

Ons het die voordeel van ‘n voller openbaring van die Here Jesus. Die dissipels moes ná die storm op die see uitroep: “Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!” (Mark. 4:41). Die Heilige Gees gee aan ons meer insig in die onnaspeurlikheid van sy almag, grootheid, reddende genade, en die volle omvang van sy liefde. Ons hoef dus nie in onkunde oor sy Godheid en al sy ander voortreflike hoedanighede te leef nie.

3. Sy Ampsnaam

Die Here Jesus is ook die Gesalfde [Heb. Mashiach (Messias); Grieks Christos (Christus)] wat vir sy sending na die aarde afgesonder en toegerus is. In ‘n messiaanse profesie stel Jesaja dit só: “Die Gees van die Here HERE [Adonai Jahweh] is op My, omdat die HERE [Jahweh] My gesalf het om die blye boodskap te bring...” (Jes. 61:1).

Christus is ‘n oorkoepelende ampsnaam van die Here Jesus omdat Hy vir sewe ampte of take afgesonder is wat net deur Homself vervul kan word. Die ampte waarvoor Christus gesalf is, asook die besondere titels wat daaraan verbonde is, is die volgende:

3.1  Lam van God

Die heel belangrikste rede waarom die Here Jesus gesalf en afgesonder is om na die aarde te kom, was om ‘n gevalle mensdom uit die mag van die sonde los te koop. Om dit te kon doen, moes Hy die gestalte van ‘n mens aanneem sodat hy Homself as ‘n offer vir ons sondes kon aanbied deur sy bloed te stort en fisies aan die kruis te sterf. Hy moes God se Offerlam word:

“...die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei... Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God... Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10:4-5, 7, 10).

Die Godgegewe wet dat daar “sonder bloedvergieting geen vergifnis plaasvind nie” (Heb. 9:22; Lev. 17:11), is vir 1 500 jaar voor die koms van die Messias by die volk Israel ingeskerp. Duisende offerdiere moes volgens die Ou Testamentiese wette geslag word sodat die Levitiese priesters versoening vir die volk se sonde kon doen.

Dit alles was egter maar net heenwysings na die eenmalige slag van die Lam van God in die volheid van die tyd. Dit was met hierdie belangrike saak in gedagte dat Johannes die Doper vir Jesus só aan die volk voorgestel het: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (Joh. 1:29; Heb. 7:27).

Jesaja het die volk lank tevore reeds op die groot offer van die Lam van God voorberei:

“Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom... Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word...” (Jes. 53:5, 7).

Gee u die nodige erkenning aan die versoeningswerk van die Lam wat Hy deur die aflegging van sy lewe en die stort van sy bloed vir ons bewerk het? Aanvaar u dit volkome in die geloof en het dit u lewe grondig verander? Dink aan wat dié offer vir elkeen van ons behoort te beteken:

By die instelling van die Nagmaal het Jesus gesê dat dit ‘n gedagtemaal is vir sy liggaam wat vir ons gebreek en die bloed van die Nuwe Testament wat vir ons gestort is (Luk. 22:19-20). Ervaar u die Here Jesus met betrekking tot die offer wat Hy gebring en sy bloed wat Hy vir die versoening van u sonde gestort het? Geen voorstelling van Christus sonder die aspek van die bloed is volledig nie. “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof... sodat Hy regverdig (kan) maak wie uit die geloof in Jesus is” (Rom. 3: 25-26).

Ons redding en wedergeboorte is op die bloed gebaseer:

·       Ons is geregverdig deur sy bloed en op grond daarvan van die toorn gered (Rom. 5:9).

·       In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade (Ef. 1:7).

·       Ons is losgekoop deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos (1 Pet. 1: 18-19).

·       Jesus Christus het ons liefgehad en ons van ons sondes gewas in sy bloed (Op. 1:5).

Ons voortgesette reiniging is ook op die bloed gebaseer:

·       As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar, en die bloed van die Here Jesus Christus reinig ons voortdurend van alle sonde en ongeregtighede (1 Joh. 1:7).

·       Die bloed van Christus reinig ons gewete van dooie werke om die lewende God te dien (Heb. 9:14).

·       Toe Jesus Homself as slagoffer vir die sondes gebring het, het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word (Heb. 10:12, 14).

·       'n Bietjie suurdeeg (sonde) maak die hele deeg suur. Suiwer dan die ou suurdeeg uit, want ook ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus (1 Kor. 5:6-7).

Die bloed is ook 'n magtige wapen teen die aanslae van die vyand:

·       Die martelare van die groot verdrukking sal die Antichris oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis (Op. 12:11). Ook vir ons is daar krag in die bloed in die hewige stryd teen die sielevyand.

Die hoedanigheid van Christus as die Lam van God wat sy lewe vir sondaars afgelê het, is die grondslag vir al sy ampte. Omdat Hy die losprys betaal het, kan Hy as Hoëpriester, Middelaar en Herder optree, Hoof van sy vrygekoopte gemeente wees en as Koning oor sy erfdeel regeer. Hy kan ook Regter oor sy diensknegte wees, én daarna oor almal wat nie sy versoeningswerk wou aanvaar nie.

Dit is juis die Lam, wat in Openbaring 26 keer deur hierdie naam bekend gestel word, wat die wêreld in die groot verdrukking sal oordeel omdat hulle teen Hom in rebellie is. Die konings én hul onderdane sal na die berge vlug, in spelonke wegkruip en in hulle benoudheid na die rotse en die berge uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

Aan die ander kant sal daar diegene wees wat aan die Lam gehoorsaam was en in dankbaarheid teenoor Hom sal uitroep: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).

Is die evangelie wat u bely werklik die bloedevangelie van die Lam, of bou u dalk op valse fondamente wat u saligheid betref? Maak baie seker dat u nie u hoop in een van die volgende vier valse evangelies stel nie, want dan sal die Regter u weeg en té lig bevind:

Sakramentsevangelie. Dit het betrekking op mense wat op die doop vertrou vir redding en op die nagmaal vir voortgesette reiniging.

Verbondsevangelie. Dit vloei uit bogenoemde voort, en behels mense wat ‘n verbond met die Here sluit by die doop. Hierna sien die verbondsouers hulle kinders as gered, en dus as verbondskinders. Sulke kinders is egter nie gered nie en in baie kerke hoor hulle ook nie altyd die suiwer kruisevangelie nie. Selfs al hoor hulle dit, dan dink hulle dat hulle nie tot bekering hoef te kom nie omdat hulle reeds verbondskinders is. Indien die verbond reg gesluit is en op die bloed van Christus gebaseer is (nie net as ‘n vorm van lippediens nie) en die kind later formeel na die Here toe gelei word en besef dat hy sy sondes moet bely en weergebore moet word, kan ‘n verbond wél geldig wees. Dit verbind die ouers aan ‘n Christelike opvoeding vir die kind.

Morele evangelie. Dit is die beskouing dat mens op grond van jou goeie lewe gered word. Kerkbesoek bestaan uit voortgesette moralisering om jou te help om op die pad te bly. Jy word geleer dat jy ‘n matige sondaar moet wees en jouself nie te buite moet gaan nie.

Werke-evangelie. Nie alleen in die Rooms-Katolieke Kerk nie, maar ook in baie vervalle Protestantse Kerke word die geloof oor werke-heiligheid gehuldig. Lidmate meen dat hulle hul saligheid kan koop deur groot bydraes aan die kerk te gee en vir die Here te werk. Saligheid kan egter nie deur werke verdien word nie (Ef. 2:8-9). Persone wat rééds deur die geloof gered is, werk uit dankbaarheid vir die Here. Hulle weet dat hulle ‘n lewende God dien en dat geloof ook lewendig moet wees en na ‘n lewe van toewyding aan die Here móét lei (Ef. 2:10). ‘n Geloof sonder werke is ‘n dooie geloof (Jak. 2:14-17).

Dit is tot die eer van die Lam van God as ons aan Hom erkenning vir die vergifnis van sondes gee, en ook ná ons redding die voortgesette reiniging deur sy bloed ervaar.

3.2  Profeet

‘n Profeet is ‘n bekendmaker of aankondiger van die wil en plan van God met die mens, m.a.w. ‘n prediker. Dit was Jesus Christus by uitnemendheid. Van sy bekendste preke is die bergpredikasie, die gelykenisse en die profetiese rede. Baie van die waarhede oor God se heilsplan is tydens genesings verkondig, by ete-afsprake, in onderrig aan sy dissipels, en ook in antwoord op vrae wat mense aan Hom gestel het. Jesus het groot waarhede oor God se raadsplan bekend gemaak, wat nog nooit tevore deur profete gedoen is nie. Hy het gesê: “Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 13:35).

‘n Ou Testamentiese reël vir profete is dat hulle nét woorde uit God se mond aan die volk mag verkondig. Hulle mag niks weggelaat of bygevoeg het nie; daarom is Bybelse profesieë 100% akkuraat en is valse profete gestenig: “Die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe” (Deut. 18: 20).

Jesus het in sy hoedanigheid as profeet nét woorde uitgespreek wat van die Vader kom:

“Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek – net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek” (Joh. 12:49-50; kyk ook Joh. 17:8).

3.3  Hoëpriester en Middelaar

In die Ou Testament was die hoëpriester die middelaar wat tussen die volk en God gestaan het. Hy het een maal per jaar op die Groot Versoendag die Allerheiligste betree om ‘n bloedoffer vir die sondes van die volk te bring. Dit was verbode vir ander mense om agter die voorhangsel tot by die verbondsark in te gaan.

Jesus Christus is die Hoëpriester en Middelaar van die Nuwe Testament (Heb. 8:1-6, 9:15). Om hierdie amp te kon beklee, moes Hy eers mens word en ook versoek word soos mense, sodat Hy met ons medelye kan hê:

“Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees... om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 2:17-18; 4:15-16).

Jesus het nie ‘n Levitiese priesterskap beklee nie, omdat die Leviete sterflik was en mekaar opgevolg het, en ook sondig was omdat hulle eers vir hul eie sondes versoening moes doen en dan vir dié van die volk. Jesus het ‘n ewige en volmaakte priesterskap:

“Die Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek – in sover het Jesus van ‘n beter verbond borg geword. En hulle het wel priesters geword in ‘n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly; maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het” (Heb. 7:21-27).

Ken u hierdie Middelaar, Voorspraak en Hoëpriester wat medelye met u swakhede het en net leef om by God vir u in te tree? Besef u u verantwoordelikheid om in sy voetspore te volg, heilig en afgesonderd te leef en vir ander by die genadetroon in te tree? Tree u deur die bloed van Jesus toe op die nuwe en lewende weg wat Hy deur die geskeurde voorhangsel tot by die genadetroon ingewy het? (Heb. 10: 19-20). Is u ‘n gereelde besoeker aan die genadetroon?

Ons is tot ‘n koninklike priesterdom geroep om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9). ‘n Priester moet namens God met die volk praat (preek) en ook namens die volk met God praat (bid). ‘n Priester moet heilig leef omdat God heilig is, en nougeset teen sonde waak. Indien hy tóg sondig, weet hy waar om genade te vind:

“My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2).

3.4  Kneg

Jesus is die Kneg van die Here wat na die aarde gekom het om ‘n groot verlossingswerk te doen. Messiaanse profesieë in die Ou Testament kondig dit só aan:

“En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees... Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:5-6).

“Wie is daar onder julle wat die Here vrees, wat na die stem van sy Kneg luister?” (Jes. 50:10).

Die eienskappe van ‘n kneg is nederigheid en diensbaarheid. Die Here Jesus het sy dissipels ernstig teen hoogmoed en selfverheffing gewaarsku:

“Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Mark. 10:42-45).

“Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het... Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is” (Fil. 2:5-9).

3.5  Herder

Christus het as die Herder van sy kudde ‘n absolute verbintenis tot hulle welsyn omdat Hy hulle duur gekoop het met sy kosbare bloed. “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (Joh. 10:11). Hy het die vaste versekering gegee: “Ek is die deur van die skape... as iemand deur My ingaan sal hy gered word...” (Joh. 10:7, 9). Dit is te begrype dat as Hy sy lewe vir die skape afgelê het, Hy ook voortdurend na hulle belange sal omsien, daarom het Hy bygevoeg: “Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh. 10:10). Hy sê ook elders: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Heb. 13:5).

Die Herder neem leiding deurdat Hy voor sy skape uit loop, die weg aanwys en hulle Hom getrou navolg (Joh. 10:4). Dit is in hulle eie belang om die Herder te volg en naby Hom te bly, anders dwaal hulle van sy weë af en word dan deur die duiwel uitmekaar gejaag en in wanorde en verwarring gebring (Joh. 10:12).

Uit ‘n toestand van afgedwaaldheid is daar net een pad, en dit is terug na die Here: “Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en opsiener van julle siele” (1 Pet. 2:25). Die Herder bly ten alle tye getrou en Hy sal altyd sy verpligtinge teenoor sy kudde nakom:

“Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen... Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, sal ek geen onheil vrees nie; want U is met my” (Ps. 23:1-4).

Ons moet begryp dat ons in ‘n wêreld woon wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Versoekings, beproewings, aanvegtinge van die Satan, en selfs ook doodsgevare word dikwels op die lewensweg ervaar. Die Here weet watter soort teëspoed vir die toetsing en loutering van ons geloof nodig is, en Hy laat dit toe. Ons moet net in sulke tye ‘n nuwe en volle oorgawe aan “die groot Herder van die skape” maak (Heb. 13:20).

Daar moenie enige bitterheid in ons harte kom as dinge nie altyd volgens ons eie beplanning verloop nie, omdat die Herder se weë hoër as ons weë is. Ons moet weet dat Hy alles, ook die onaangename ervarings, vir ons ten goede sal laat meewerk as ons ons lewens opnuut aan Hom toewy en toevertrou.

Die Here het ook bekwame persone in sy kudde geroep en toegerus om herderlike funksies onder die toesig van die Opperherder te verrig: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars” (Ef. 4: 11).

Die leraar van ‘n gemeente, in medewerking met kerkraadslede en ander ampsdraers, is ook die herder. Hy gee dus nie net onderrig in die Woord van die Here nie, maar hy het ‘n pastorale plig om aan lidmate leiding te gee, berading te doen, vir die siekes te bid, die onordelikes te vermaan, die gemeente te beskerm, en teen die gevare te waarsku waardeur hulle en hul kinders bedreig word:

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang” (1 Pet. 5:2-4).

3.6  Hoof van die kerk

Jesus Christus se amp as Hoof van die gemeente is ‘n verborgenheid wat eers ná die stigting van die kerk geopenbaar is. Dié eenheidsband word in die Bybel met ‘n huweliksverhouding vergelyk:

“Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente... Hierdie verborgenheid is groot maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Ef. 5:23, 32).

Uit Efésiërs 5:25-27 is dit duidelik dat Christus eers die gemeente gereinig en daarna geheilig het, sodat sy rein en sonder vlek of rimpel voor Hom gestel kan word. Hy is ons Hoof en Bruidegom, en ons moet met ‘n rein kleed voor Hom verskyn.

Die begrip heilig beteken ook afgesonder vir die diens van die Here. In hierdie opsig word die gemeente as die lede van die liggaam van Christus voorgestel. Hulle vervul almal aanvullende funksies in die verwesenliking van die oorhoofse doelwit van die kerk van Christus op aarde:

“Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is” (Rom. 12:4-6). [Vir ‘n uiteensetting van die funksies van die lede, kyk Rom. 12:7-8 en 1 Kor. 12:12-31].

Beoefen u taak en roeping slegs in die krag en onder leiding van die Heilige Gees, omdat ons as lede van die liggaam van Jesus Christus almal deur een Gees deurdronge is (1 Kor. 12:13). U moet ook begryp dat die outoriteit van u geestelike roeping in Christus gesetel is, en dat u op oorwinningsgrond staan wanneer u dit beoefen:

“Hy [God, die Vader van die heerlikheid] het gewerk in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef. 1:17-23).

3.7  Koning

Omdat die Here Jesus alle mag in die hemel en op aarde het, beklee Hy ook die amp van Koning. Binne sy toelatende wil rebelleer die nasies van die wêreld egter in hierdie bedeling teen sy gesag. Dié toedrag van sake is te wyte aan die feit dat alle mense op aarde ‘n vrye wil het oor wie hulle wil dien. Die praktyk het bewys dat die meeste van hulle die duisternis liewer het as die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19). Die god van hierdie wêreld [die duiwel] het hulle sinne verblind (2 Kor. 4:4), daarom is die groot meerderheid van die aarde se bevolking in die mag van die Bose en leef in geestelike duisternis (1 Joh. 5:19).

As Christene is ons in ‘n bose wêreld waarin ons gehaat, verdruk en verwerp word ter wille van ons geloof (Joh. 15:18-19; 16:33; Luk. 6:22-23, 26). Ons is vreemdelinge en bywoners in ‘n goddelose wêreld (Heb. 11:13; 1 Pet. 2: 11), daarom het ons ‘n duidelike opdrag om te skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Ons is lede van ‘n verborge koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie. Die Here Jesus is Koning van ons lewens en ons ervaar sy vrede in ons harte. Ons lewe in die wêreld word egter deur stryd gekenmerk (Matt. 10:34). In ons verhoudinge met wêreldlinge is daar konflik omdat ons radikaal verskillende norme en beginsels as hulle het.

Hierdie toestand gaan spoedig drasties verander wanneer Jesus Christus se verborge koninkryk fisies en sigbaar op aarde geopenbaar sal word by sy wederkoms aan die einde van die groot verdrukking:

“En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15).

  Uit die oogpunt van Jesus se koningskap gaan daar drie belangrike gebeurtenisse tydens sy wederkoms plaasvind:

Verdelging van die vyande van God tydens die slag van Armagéddon

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone... En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here... En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:11-21).

Die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem

“Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).

Vestiging van die duisendjarige Vrederyk op aarde

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:1-3).

“En hy [‘n engel] het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie.... Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:2-3, 6).

Om in die vrederyk as konings saam met Christus te regeer, moet ons Hom nóú as die Lam van God aanvaar en in sy verborge koninkryk op aarde dien.

3.8  Regter

Hierdie amp van die Here Jesus is in die eerste plek ter sake vir die Christene, omdat ons almal voor die regterstoel van Christus moet verskyn om loon vir ons arbeid in die Here te kry (2 Kor. 5:10; kyk ook Rom. 14:10).

Die eerste opstanding is slegs vir die gelowiges; dan kom die hemelse Bruidegom om sy bruidsgemeente [die ware kerk van Christus] te kom haal om met Hom verenig te word (1 Thess. 4:16-17). Ons eerste afspraak ná hierdie ontmoeting is voor die regterstoel (Grieks bema). Die bema was in Bybelse tye die rostrum by die atletiekbyeenkomste soos die Olimpiese Spele, waarop die beoordelaars gesit het wat lourierkranse aan die oorwinnaars toegeken het.

Wanneer gelowiges voor die regterstoel verskyn, gaan die Here Jesus hulle lewens beoordeel en krone toeken. Almal wat dan voor Hom sal verskyn, is uit genade gered sonder eie verdienste, en staan dus as gelowiges daar wat aan Hom behoort. Hy gaan hulle dus nie oor geloof en redding uitvra nie, maar oor hoedanig hulle hul talente gebruik en die werk gedoen het wat Hy aan hulle gegee het.

Sommige mense huldig die siening dat omdat ons uit genade gered is, ons nie onder die verpligting is om vir die Here te werk nie. Die feit is dat ons duur gekoop is deur die bloed van die Lam, dat ons aan Hóm behoort en die opdrag het om God te verheerlik deur onder die leiding van die Heilige Gees ‘n diensbare lewe te lei (1 Kor. 6:19-20).

Die Here sal hoegenaamd nie daarmee tevrede wees as ons ná ons redding ‘n doellose en onaktiewe bestaan in sy koninkryk voer, terwyl ons onsself met ‘n aardse lewe van eiebelang besig hou in afwagting van die tyd wanneer ons hemel toe gaan nie. Gelowiges wat hulleself ná hulle redding hoofsaaklik met tydelike en verganklike dinge besig hou, sal bedroë daarvan afkom voor die regterstoel. Werke van dié aard sal verbrand word:

“Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus [dit is redding uit genade, sonder werke]. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur [van Christus se regterstoeloordeel] sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:11-15).

Kom ons neem die volgende opdragte van die Here aan sy kerk op aarde ernstig op, en streef sodoende na ‘n lewe van gehoorsaamheid en godsvrug:

·       Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle ook (Joh. 20:21).

·       Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees (Hand. 1:8).

·       Word met die Gees vervul (Ef. 5: 18).

·       Bid sonder ophou (1 Thess. 5:17).

·       Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf en vermaan (2 Tim. 4:2).

·       Julle is die sout van die aarde en die lig van die wêreld... Laat julle lig dan skyn (Matt. 5:13-16).

·       Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie (Matt. 26:41).

Hierdie en talle ander Bybelse opdragte is in die bevelsvorm [imperatief] geskryf en is dus nie opsionele ekstras vir Christene nie. Behalwe dat ons in elk geval die Here moet verheerlik in alles wat ons doen, is dit ook in ons eie belang om aktief in die diens van die Here te wees. Dit maak ons lewens vrugbaar en gelukkig, dit maak vir ons ‘n skat in die hemel bymekaar sodat ons nie met leë hande voor die Here hoef te verskyn nie, en vir die eerste keer besef ons dat ons werklik iets sinvols vir ons medemens kan beteken sonder om iets terug te verwag.

Dit plaas ons ook op oorwinningsgrond omdat die krag en genade van die Here aan almal beloof word wat Hom met ‘n onverdeelde hart wil dien. Verder laat dit alle bekommernis oor ons aardse behoeftes verdwyn. Die Here het beloof dat as ons die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, Hy al die ander dinge vir ons sal byvoeg.

Die Here het nie slawe of huurlinge in sy diens nie, maar diensknegte wat bevoorreg is om Hom te kan dien. As die gesindheid van u hart nog nie reg is nie, moet u die vlees kruisig en ‘n volle oorgawe maak sodat die Heilige Gees absolute beheer oor u lewe kan kry.

Die Here kan ons harte reinig en van ons skoon kanale maak waardeur Hy kan werk. Geen vleeslike werke is vir Hom aanvaarbaar nie – slegs die vrug van die Heilige Gees in ‘n oorgegewe lewe. Dan sal ons ook met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus kan verskyn!

  Die krone wat by die regterstoel aan oorwinnaars toegeken sal word, is:

·       Die kroon van roem vir mense wat deur hulle getuienis en prediking siele gewen het (1 Thess. 2:19).

·       Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewenswandel (1 Kor. 9:24-27).

·       Die kroon van die lewe vir Christenmartelare en ander swaar beproefdes (Op. 2: 10; Jak. 1:12).

·       Die kroon van heerlikheid vir getroue herders en opsieners oor die Here se kudde (1 Pet. 5:2-4).

·       Die kroon van geregtigheid vir ‘n wederkomsgerigte lewe wat op die hemel ingestel is (2 Tim. 4:8).

Christus se amp as Regter het ook verskeie ander implikasies. Ná sy wederkoms sal Hy die nasies oordeel:

“En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei” (Matt. 25:31-32).

Aan die einde van die vrederyk wanneer die tweede opstanding plaasvind, sal al die knieë van die verlorenes van alle eeue ook voor Jesus moet buig en sal hulle moet erken dat hy die Lam van God is wat deur hulle verwerp is. Dan sal die goddeloses die ewige straf tegemoet gaan en die regverdiges die ewige hemelse koninkryk beërf.

‘n Ontmoeting met die Here Jesus kan deur geen mens op aarde ontwyk word nie. Óf jy ontmoet en aanvaar Hom nou as jou Verlosser, óf jy sal eendag voor Hom moet verskyn as jou Regter wat jou na die plek van ewige verdoemenis sal stuur. Die keuse is joune!

4. Beskrywende name

Daar is verder ook ‘n groot aantal beskrywende name van die Here Jesus in die Bybel. Hierdeur word die klem op bepaalde aspekte van sy Persoon en werk geplaas, sodat ons Hom nóg beter kan ken, verstaan en liefhê.

  Die volgende is nie ‘n volledige lys beskrywende name nie, maar slegs ‘n aantal van die bekendstes:

4.1  Lig van die wêreld

Een van die mees sprekende simbole van die koninkryk van die hemele is dié van lig. God self bewoon ‘n ontoeganklike lig wat deur geen mens aanskou kan word nie (1 Tim. 6:16). In sy volmaakte heiligheid is Hy baie ver bo die sondige en verganklike orde van die gevalle mens op aarde verhewe.

Jesus het as “die opgaande Lig uit die hoogte” (Luk. 1: 78) van die hemel af na ‘n geestelik donker aarde neergedaal en ons op ons dwaalweë kom opsoek; daarom kon Hy sê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8:12).

4.2  Brood en water van die lewe

“Die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (Joh. 6:33-35).

Ons is nie net vir die wedergeboorte van Jesus afhanklik nie, maar ook vir die daaglikse versterking en opbouing van die nuwe lewe. Hy self wil vir ons dag na dag soos vars manna uit die hemel wees, sodat ons opgebou kan word in die allerheiligste geloof. Geestelike voedsel is om die wil te doen van ons Vader in die hemel. Die kennis van sy wil kry ons onder die leiding van die Heilige Gees in die Bybel. Soek daarna en word vervul met die kennis van sy wil.

4.3  Rots en fondament

Christus is die ewige rots wat vir ons geklief is. Sy gebroke liggaam het die stroom van God se genade na ons toe laat vloei. Hierdie Rots is ook die enigste fondament waarop ons ons lewens kan bou (1 Kor. 3:11). Dit gee aan ons vastigheid en onwankelbaarheid in die storms van die lewe wat op ons mag toesak (Matt. 7:24-27).

Kan u saam met die psalmis getuig dat die Here u lewe van ondergang en vernietiging gered en ook op hierdie vaste rots geanker het? “Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ‘n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak” (Ps. 40:3).

4.4  Die weg, die waarheid en die lewe

Jesus is die enigste weg na die hemel, omdat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie (Joh. 14: 6). Hy is die waarheid, sy woord is die waarheid, en die Gees van die waarheid getuig van Hom. Hy is ook die opstanding en die lewe (Joh. 11:25-26). Slegs deur Hom kan iemand wat dood is in sy sonde en misdade in ‘n nuwe lewe opgewek word (Ef. 5:14). Alle sondaars is die straf van die ewige dood skuldig (Rom. 6:23), en net Jesus het hierdie doodstraf namens sondaars gedra, daarom kan net Hy aan hulle die ewige lewe skenk. Hy het gesterwe sodat ons kan lewe.

4.5  Die ware wynstok

“Ek is die ware wynstok en my Vader die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra... Wie in My bly en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:1-2, 5). Uit hierdie gedeelte is ‘n paar sake oor ons verhouding met die Here Jesus baie duidelik:

·       Die loot het geen ware lewe in homself nie en moet alles van die wynstok kry. Sy begin én voortbestaan is van hierdie verbintenis afhanklik.

·       ‘n Loot het geen bestaansreg as dit geen vrug dra nie. As bekeerdes word ons tot ‘n lewe van godsvrug opgeroep. Die Here is met niks minder as dit tevrede nie.

·       Indien ons wél vrug dra, word ons skoongemaak sodat ons meer vrug kan dra. ‘n Loot wat wil rank en nie sy groeikrag vir die produsering van vrugte aanwend nie, moet teruggesnoei word. Ons kan dus minder of meer vrug dra, en het dikwels nodig om ons prioriteite weer reg te kry.

·       Sonder die Here kan ons niks doen nie. ‘n Saak moet sy oorsprong by Hom hê, anders is dit ‘n nuttelose en futiele oefening waarmee ons besig is.

4.6  Heiligmaking

Die Here Jesus is nie net ons verlossing nie, maar ook ons geregtigheid en heiligmaking (1 Kor. 1:30). Israel is sedert die uittog uit Egipte al geleer dat hulle ná die Pasga vir ‘n week lank die fees van die ongesuurde brode moes vier, wat ‘n tydperk van heiliging en selfondersoek is. Paulus sê: “Ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:7-8).

Ons moet gereeld onsself ondersoek om vas te stel of daar nie moontlik suurdeeg van sonde in ons lewe ingekom het nie. “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1).

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking... hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 8).

Terwyl ons toeneem in kennis van onse Here en Saligmaker, moet ons ook in genade en heiligmaking toeneem. Ons lewenspad moet ál helderder word tot die volle middag toe. Daar moet geen skaduwees van sonde wees nie.

4.7.   Die wortel en geslag van Dawid

Jesus het gesê: “Ek is die wortel en die ge­slag van Dawid" (Op. 22:16). Die ‘wortel’ van Dawid bevestig Jesus se Godheid – Hy is die Here van Dawid! Deur die ‘geslag’ van Dawid word sy mensheid aangedui (Luk. 20:41-44). Hy is die be­loofde Messias wat in die huis van Dawid uit die stam van Juda gebore is, die saad van Abraham deur wie al die nasies geseën sou word. Deur die eeue heen het Satan die volk Israel gehaat en vervolg oor die beloftes van die komende Messias wat aan hulle gemaak is. In die lig hiervan moet Herodes se kinder­moord in Israel gesien word. Dit was een van die eerste pogings van Satan om Jesus dood te maak en sodoende die vestiging van sy koninkryk te probeer ver­ydel. Verskeie demonies-geïnspireerde pogings is ook daarna aangewend.

4.8  Blink môrester

Jesus sê: “Ek is die… blink môrester” (Op. 22:16). Petrus voeg hierby:

“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet. 1:19). 

Die môrester is by uitstek die simbool van hoop – die verwagting van ‘n nuwe dag wat weldra sal aanbreek. In Jesus Christus het ons ‘n hoopvolle toekoms. Ons kan verby die spanning van die huidige lewe kyk na die strale van ‘n helder nuwe dag wat met sy wederkoms oor hierdie donker wêreld sal aanbreek. Deur die tekens van sy koms kan ons ook in die ontwrigtende omstandighede van die huidige tyd sy naderende voetstappe verneem. Diegene sonder ‘n Christelike toekomsverwagting is nie in staat om wêreldgebeure geestelik te vertolk nie, en word deur al die slegte nuus en donker vooruitsigte tot wanhoop gedryf.

4.9  Heiland

Die benaming Heiland kom net in die Ou Testament voor (Hebreeus Jasha), en die ekwivalent daarvan in die Nuwe Testament is Verlosser (Grieks Soter: om te verlos, uit te red, te genees, behoue te laat bly of heel te maak). Dit vind noue aansluiting by die naam Jesus. In die Ou Testament beloof die Here aan Israel dat Hy hulle uit doodsgevare sal red, en baseer sy versekering onder andere op hierdie Naam: “Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland” (Jes. 43:3).

In die Nuwe Testament word Soter soms as Saligmaker vertaal (Luk. 1: 47, 2:11; Joh. 4:42) en andersins as Verlosser (Hand. 5:31; Fil. 3:20; Tit. 2:13). Dit is belangrik om te weet dat een van die baie benoudhede waaruit Jesus as ons Heiland of Verlosser ons red, siektes is. Dit is ‘n voortsetting van wat die Here in die Ou Testament gedoen het: “Ek is die Here wat jou gesond maak” (Ex. 15:26). Jesus het ook hiervoor gesterf: “Hy het óns krankhede op Hom geneem... Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:4-5; kyk ook Matt. 8:16-17).

4.10  Wysheid

Alle wysheid buite God is dwaasheid en nietige misleiding (Kol. 2:8). Vir ‘n mensdom wat vervlak het in sy denke en dwaas geword het in die oorlegginge van sy hart, het Christus met sy koms ‘n nuwe bron en dimensie van kennis gebring en daardeur vir ons geword “wysheid uit God” (1 Kor. 1:24, 30). Hy het nie alleen aan die mens sy onkunde en die verduisterde toestand van sy hart geopenbaar nie, maar deur sy kruisdood die weg vir almal gebaan om tot wyse en verstandige kinders van God herskep te word.

Ná ons redding moet ons toeneem in genade en kennis van ons Saligmaker, Jesus Christus (2 Pet. 3:18). Daar is geen probleem wat vir Hom té moeilik is om op te los nie, want in Hom is alle skatte van wysheid en kennis verborge (Kol. 2:3). Hy is ‘n wonderbare Raadsman (Jes. 9:5) wat die regte raad vir elke probleem het.

“As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid… en dit sal aan hom gegee word” (Jak. 1:5).

Raadpleeg eers die Here en ken Hom in al jou weë voordat jy ‘n besluit neem. Hy sal jou deur sy Woord en Gees onderrig soos ‘n vader sy seun onderrig. Moenie eers volgens eie insig handel en ernstige foute maak voordat jy ‘n saak aan die Here voorlê en sy leiding afbid nie.

Ons moet die Bybel deursoek vir riglyne en dit toepas, want “die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand” (Spr. 9:10). Hy sal jou antwoord en jou paaie gelyk maak! Eers as jy vrede in jou hart oor ‘n saak het, dan weet jy dat jy in die geloof daarmee kan voortgaan. Anders mislei jy jouself en die waarheid is nie in jou nie.

4.11  Bruidegom

Die koms van die hemelse Bruidegom is voor die deur! Is u hiervoor gereed? Paulus begeer dat die gemeente as ‘n rein maagd aan Christus voorgestel moet word, maar hy vrees dat hulle sinne weens sonde bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus (2 Kor. 11:2-3).

Aan ‘n ander gemeente sê hy: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24).

Johannes sê dat elkeen wat die hoop op Jesus se wederkoms het, homself reinig soos wat Hy rein is (1 Joh. 3:3).

Dit is ‘n ernstige maar uitdagende gedagte dat ons tydens ons kort aardse bestaan keuses moet maak en dinge doen wat ons toekoms vir alle ewigheid bepaal.

4.12  Oorwinnaar

Jesus Christus het die duiwel, die dood en die hel oorwin! Hy het “die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kol. 2:15). Hy is ‘n magtige Verlosser wat elke sondaar se bande kan verbreek en hom van die mag van die vyand kan bevry. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:36).

Word jy nog deur sondes, swakhede en vuil gewoontes geteister? Kom na die enigste Verlosser vir vergifnis en vrymaking (1 Joh. 1:8-9). Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus jou vrygemaak het, en laat jou nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie (Gal. 5:1). Stap as oorwinnaar weg en gee aan die Here die eer vir wat Hy in jou lewe gedoen het. Reken volkome op sy krag en genade om staande te kan bly teen die liste van die duiwel:

“Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei” (2 Kor. 2:14).

Featured Articles

Monday, July 10, 2023 False Teachers & Doctrine 3842
From Speaking in Tongues to Speaking Truth: Why I Left the Charismatic Church Madelein Wolfaardt My mother’s death broke the spell. After years of prophetic declarations, healing services, and speaking in tongues, I finally saw the charismatic Christian movement for what it was. This is how I learned to distinguish between genuine faith and spiritual manipulation — a journey from blind acceptance to clear-eyed truth.

Questions Answered

Here are some articles on different topics, see what the Bible says.

/Eienskappe%20van%20God
DIE NATUURLIKE EIENSKAPPE VAN GOD WAT VERBAND HOU MET GOD SE WESE SOOS HY IN HOMSELF IS. Alwetend – God weet alles. Hy het volledige kennis van alles in die verlede, hede en die toekoms. (Job 37:16; Ps. 139:1-6). Almagtig – God…
One has only to examine the Bible to find abundant references condemning the use of alcoholic beverages. In fact, if the preacher is to stick to his Bible, preach the whole truth, and be…
Twee van die sondes waarteen mense ‘n baie verdraagsame houding inneem, is drink en rook. Wat sê die Bybel hiervan, en wat is die gevare wat daaraan verbonde is? Drankgebruik Een van die algemeenste argumente waardeur mense drankgebruik wil regverdig,…
Hell:%20What%20the%20Bible%20Says
An exposition of the doctrine of eternal punishment in a burning hell for all the unsaved people of all ages. 1. How Can We Know About Hell? “There was a certain rich man, which was clothed in purple and fine…
It is important that one understands the phenomenon of apostatising, or backsliding, as every believer should be able to identify and counter this backward course in his or her spiritual life whenever it occurs. If you wish to determine the…
Die onderwerp van die doop is baie kontroversieel met baie misverstande. Baie mense dweep met die doop en dit raak 'n obsessie by hulle. Dit veroorsaak baie keer ongebalanseerde en dwase strydvrae met die gevolg dat Christene twis oor die…
Vergifnis
Vergifnis is ‘n opdrag in die Woord van God (Matt 6:14, 15; Mark 11:25, 26; Luk 6:37; Efes 4:32 en Kol 3:13). Sonder vergifnis is daar geen bevryding van die seer en pyn wat ander jou aangedoen het nie. Die…

Lees meer

Loose Lips Sink Ships
I know this has been used as a catchphrase by the military in referring to ships. However, I believe it could be applied to each one of us today. Loose lips can sink more than naval ships. They can…

Read more

Questions Answered

Questions Answered

Being a Christian and drinking alcohol, what does the Bible say?
The Dangers of Moderate Drinking
John B. Gough (1817-1886) Born in Sandgate, Kent, England in 1817, Gough immigrated to the United States when he was only twelve years old. His mother and sister also came to America. His mother died of a stroke and Gough,…

Read more

Beer and Wine: The Bible’s Counsel
Doesn't the Bible refer in a number of places to wine and strong drink? Don't we quite often find people drinking alcohol in the Bible? Can't we assume, then, that Scripture generally does not condemn drinking alcoholic beverages? It's true that…

Read more

A collection of articles written by FB Meyer. Practical advice for the daily Christian life.

A NEW YEAR is opening before us, and there is some satisfaction in feeling that an opportunity will be afforded of making a really new start. Each true heart in which there is a spark of the Divine life turns eagerly towards the unblemished page, the untrodden way, of the…
BENEATH all exaggeration there is a basis of truth. When an American said that the whey which flowed from the making of a large cheese in his country was sufficient to run three sawmills; and when another affirmed that the soil of his farm was so prolific that the tendrils…
To be straight is to be true. There is no more important exhortation on the page of Scripture, than where the Apostle says, "Whatsoever things are true . . . think on these things." A friend of mine, educated in one of our great English schools, says that the most formative words of…
WHAT a shadow is cast over lives and homes by bad tempers! It is Sunday morning, God's day of rest and peace, when the worry and rush of the world should be quiet, and the voices of newspaper boys and hawkers of small wares should be still. A family of…
No flirting, young people, please! You cannot flit around the flame without the risk of burning your wings; and remember, if these are lost, you cannot get another pair; you may be able to crawl or limp, but you will never again bask in the sunbeams or dance with merry-hearted…
LONGFELLOW'S village blacksmith felt that "something accomplished, something done," had earned a night's repose; and I suppose that he did little else than shoe the farmers' horses, or put new shares to their ploughs; yet he had the perpetual consciousness that he was doing something in the world, contributing to…
No wonder that the common people hung on Christ's words. He was a Master of the Art of Illustration, because he sought his emblems, not from remote corners of creation, or its recondite processes, but from the common incidents of ordinary human experience. Salt and light, birds and lilies, gates…
Everyone needs some guidance on where to start reading and how to read their Bible. Below are Afrikaans & English printables - give it to every young believer that you give a Bible to.
Tips on reading your Bible

Where should I start?

Start by reading a chapter in the morning and evening. Mark in your Bible and write in a notebook everything that stands out in the chapter you read.

Read more

Wenke om jou Bybel te lees

Waar moet ek begin?

Lees jou Bybel in orde, moet nooit rondspring tussen boeke en hoofstukke nie. Hou by jou lees skedule, as jy laas Markus 1 gelees het lees jou nou Markus 2.

Lees meer

Heiligmaking

'n Rein hart gevul met die Heilige Gees

/Volkome%20Heiligmaking
Met die ondervinding van wedergeboorte (Joh. 3:3) én die bevestiging daarvan deur die getuienis van die Heilige Gees (Rom. 8:16), vind ‘n radikale verandering van lewenswyse plaas (2 Kor. 5:17). Hierna volg ‘n proses van selfontdekking wat lei tot die behoefte aan ‘n dieper innerlike verlossing (vrymaking) en reiniging van die inwonende sonde asook die vervulling met die Heilige Gees.
/Gaan
aan%20na%20Volwassenheid
In Heb 3 & 4 wys die skrywer vir ons die wonderlike belofte van God se rus, wat ‘n rein en oorwinnende lewe in Christus is. Hy vertel van hierdie belofte, en dan vermaan hy die Hebreërs in hoofstuk 5:12-14 dat hulle moet voortgaan na volwassenheid want hulle is nog kinders in die geloof.
/Die%20pad%20na%20Heiligmaking
Hier besef die weergebore Christen dat ‘n dieper werk in sy hart benodig word. Dat daar dinge is waaraan hy dalk nog vasklou of sonde wat hy nie wil laat staan nie of hy twyfel en vertrou God nie volkome nie. Hier gaan ons kyk na wat die stryd in ons binneste is en hoe om die pad na heiligmaking te begin.
deur Marius Wolfaardt Christen Leefstyl
Kol 2:6: Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, 1. Watookal die Here vir jou sê, doen dit. Joh 2:5 “Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.” - Moenie meer of minder doen nie, doen net dit wat Hy gesê het. Matt 28:20 “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” – As ek doen wat Hy sê sal Hy met my wees. Doen wat Jesus sou gedoen het. Meet alles altyd hieraan.
by Marius Wolfaardt Christian Lifestyle
Col 2:6 As therefore ye received Christ Jesus the Lord, so walk in him, 1. Whatever the Lord tells you to do, do it. Joh 2:5 “His mother saith unto the servants, Whatsoever he saith unto you, do it.” Don't do more or less, but, just that which He tells you to do. Mat 28:20 “teaching them to observe all things whatsoever I commanded you: and lo, I am with you always, even unto the end of the world.” If you do what He tells you to do, He will be with you unto the end of the world. Always do what Jesus would do, measure everything according to this rule.
deur Marius Wolfaardt Christen Leefstyl
Hoe hanteer ek dit?

Mat 5:4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.
Binne in die moeilike tye is die Here reeds besig om iets nuuts te maak, al sien jy dit nie raak terwyl jy in die vuur is of deur die rivier gaan nie. God het ‘n plan. Rou is natuurlik en is iets wat moet gebeur, dit is ‘n proses om deur te werk, maar daarna moet jy ook aan beweeg en nie hier vasval nie.

Assurance of Salvation

Seker</p>heid
Is jy weergebore?

Seker

heid

Om te WEET DAT JOU SONDE VERGEWE IS en dat Jesus nou in jou hart woon.
Lees meer
Rebirth
What Why How..?

Rebirth

What the Bible teaches us about being born again.
Read More
 Weer</p>gebore
Wat Hoekom Hoe..?

Weer

gebore

Wat die Bybel ons leer van wedergeboorte.
Lees meer
English Sermons

English Sermons

Here is a link if you would like to listen to audio sermons by various preachers. Promoting Genuine Biblical Revival.

Go to website