fbpx
Articles
Articles | Tips & Help for the Daily Christian Life |

Grow in Christ

Die Liefde van God

Johan Malan - Afrikaanse Artikels

Opsomming: Die liefde van God is die groot saak waaroor dit in die Bybel gaan. Dit is ‘n liefde wat ten grondslag van die saligheidsplan lê, en ook van ons verhouding met die Here.

1. Kenmerke van God se liefde

Lees 1 Korinthiërs 13:1-13.

Die basiese elemente van die mens se geestelike lewe word in 1 Korinthiërs 13:13 gedefinieer, waar Paulus sê: “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” Waarom is die liefde groter as geloof en hoop?

Geloof is ‘n uitdrukking van die verhouding waarin ek tot die Here staan. Ek glo in Hom, ek neem Hom in die geloof aan, en ek lewe ook deur die geloof. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb. 11:6) Maar geloof sal ophou wanneer die Here kom – want dan gaan geloof oor in aanskoue.

So ook is hoop deel van die Christen se lewe. Hy stel sy hoop en vertroue vir tydelike én ewige dinge in die Here. Ons het die hoop op die ewige lewe saam met die Here as ‘n anker van sie siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel (Heb. 6:19). Iemand wat nie hierdie hoop het nie, is sonder God en sonder hoop in die wêreld. Maar hoop sal ook eendag in ‘n finale vervulling gaan en daarna as ‘n geestelikie eienskap nie meer beoefen word nie.

Die liefde is egter ewig en onvernietigbaar. Daar is ‘n ewigdurende liefdesband tussen die hemelse Bruidegom en sy bruid. Dit sal vir altyd bestaan, en dít is die groot saak waaroor dit in die Bybel gaan – die agapé liefde van God. Juis omdat God liefde is en ook vir ons in ons sondige toestand liefgehad het, het Hy sy Seun gegee om vir ons te sterwe sodat ons gered kan word. “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16).

Jesus Christus is die sigbare vergestalting van God se liefde en genade vir ‘n sondige mensdom. Dit maak ‘n geloofsverhouding met God moontlik, en dit gee ook aan ons hoop vir hierdie lewe én die toekomstige lewe. Geloof en hoop kan dus slegs beoefen word omdat daar liefde is.

Ons lewens moet ook hiervan getuig. Ons moet in die liefde van God gewortel en gegrond wees. Ons moet daarin opgroei, dit moet sy stempel op ons karakter afdruk en sy goddelike invloed in ons hele lewenswandel laat geld. Ja, ons moet volmaak word in die liefde (1 Joh. 2:5).

Die vyf groot eienskappe van God se liefde is die volgende:

1.1  Dit is ‘n ewige en onveranderlike liefde

God se liefde bestaan van ewigheid tot ewigheid. Dit is nie tydelik en verbygaande van aard nie.

Ons leef in ‘n sondige, gevalle wêreld waarin alle dinge aan die verganklikheid onderworpe is. Niks het ewigheidswaarde nie, daarom kan hierdie wêreld geen blywende geluk aan jou bied nie. Die meeste mense is weens hulle vleeslikheid en sondige natuur onbetroubaar en veranderlik. Goedgesindheid gaan dikwels oor in kwaadgesindheid, aanvaarbaarheid in verworpenheid, toegeneëntheid in afsydigheid, en liefde in liefdeloosheid, veragting of selfs haat.

God se liefde is egter ewig en onveranderlik. Dit gee aan jou iets om voor te lewe waarop jy altyd kan peil trek en wat niemand van jou af kan wegneem nie – selfs nie die dood nie. Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Dit maak die lewe oor en oor die moeite werd omdat dit ‘n saak is wat jou oor die grense van tyd en ruimte aan die ewige lewe van God self verbind.

Die mees verhewe en sinvolle gedagtes wat die mens kán bedink is oor die liefde van God. Aan ‘n professor in Afrikaans is by geleentheid deur ‘n verslaggewer gevra wat die mooiste en mees betekenisvolle woorde is wat sy ooit gelees het. Hierdie dame is ‘n diep gelowige persoon wat benewens die Bybel goed belese in die Afrikaanse, Engelse en Franse letterkunde is. Sonder huiwering het sy die eerste paar woorde van 1 Korinthiërs 13:8 aangehaal: “Die liefde vergaan nimmermeer.”

Wat ‘n aangrypende gedagte: “Die liefde van God vergaan nooit nie!”

Dit is ‘n onvervreembare geskenk. Dit bied aan jou oneindig meer as wat dit van jou vra. Al wat dit van jou vra is ‘n bereidwilligheid om deur hierdie liefde herskep te word. Jy moet uit jou lewe van sondigheid, kortsigtigheid en materialisme opstaan, jou tot die lewende God bekeer deur in Hom te glo, en ‘n lewe te lei waarin jy Hom deur die Here Jesus sal liefhê en jou hoop vir tyd en ewigheid in Hom alleen sal stel.

1.2  Dit is ‘n liefde wat gee

God se liefde het ‘n uitwaartse gerigtheid deurdat dit na ‘n wêreld in sy nood uitreik. Dit is waarom Hy die kosbaarste van alle geskenke vir die wêreld kon gee, nl. sy eniggebore Seun wat Homself vir ons sondes geoffer het. “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh. 15:13). Hy is die goeie herder wat sy lewe aflê vir die skape.

Hierdie eienskap van God se liefde is presies die teenoorgestelde as dié van die sondige mens wie se sinne deur Satan verblind is. Die gevalle mens het ‘n verwronge, hebsugtige en selfgerigte liefde. Hy is opgeblase, vol van homself en praat graag groot. Hy het homself ten koste van andere lief. Dit wat hy sien, begeer hy en wil dit vir homself inpalm. Hy wil nie homself verloën en gee nie, want hy het geen ware meegevoel nie en gee nie regtig om as die onheile andere tref nie. Hy het net diegene lief uit wie hy iets kan kry, en vir wie hy kan gebruik en ook misbruik. Hy word verbitterd as hy nie sy sin kry nie, en is sterk op vergelding ingestel.

Hoe anders is die rein, suiwer, herskeppende en onselfsugtige liefde van God nie! Dit is só groot en opreg dat dit alle sondaars insluit. “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Hy het alle mense liefgehad en na hulle neergebuig om hulle uit die kuil van vernietiging op te trek. Hy dra almal se ewige belange op die hart, en wil nie hê dat een verlore moet gaan nie maar dat almal gered moet word (2 Pet. 3:9).

1.3  Dit is ‘n liefde wat kan vergewe en vergeet

God se liefde vergewe totaal en ongekwalifiseerd – só volkome dat Hy nooit weer een keer na die sonde wat vergewe is, verwys nie. Hy werp dit in die see van vergetelheid en dink nie weer daaraan nie. Hy reken die kwaad nie toe nie en verwyt mense nie vir sondes wat bely en laat staan is nie. Selfs al sondig sy kinders weer, dan raak Hy nie teen hulle verbitterd nie, en vergewe maar weer. Jesaja 55:7 sê Hy vergeef menigvuldiglik.

Mense wat teruggeval het, soos bv. die verlore seun in die gelykenis, moet net bereid wees om na hulle Vader terug te keer en hulle saak met Hom reg te maak. Hulle sal in Hom ‘n liefdevolle en vergewensgesinde Vader vind wat opnuut vir hulle ‘n feesmaal in sy koninkryk sal berei. Hy sal hulle nie donker aankyk as hulle met berou na Hom terugkeer nie.

Hoe anders tree die mens nie op nie, hoe onopreg is sy liefde nie, en hoe traag is hy nie om volkome te vergewe en ‘n saak vir altyd te bedek nie. Salomo sê: “Wie ‘n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ‘n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar” (Spr. 17:9).

Nie net vriende skei as gevolg van liefdelose beskuldigings nie, maar ook huweliksgenote. Mense wat nie met die liefde en vergewensgesindheid van God vervul is nie, raak maklik verbitterd teenoor mekaar, grawe ou koeie uit die sloot, en beskuldig mekaar opnuut oor en weer. Waar is die gesindheid van Christus, om dinge wat reggemaak is nooit weer op te haal nie?

Ons het die volgende duidelike opdrag oor vergewensgesindheid:

“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kol. 3:13-15).

1.4  Dit is die wet van die Nuwe Testament

Om in die liefde van God gewortel en gegrond te wees, is die geheim van ‘n lewe van volkome geestelike vervulling. Dit is waarom ons in die Nuwe Testament net een wet het, en dit is die wet van die liefde. As jy die Here liefhet met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en met al jou kragte, dan sal jy aan Hom getrou bly en nooit die knie voor ander gode buig nie.

As jy jou naaste liefhet soos jouself, dan vervul jy al die ander wette wat die verhouding met jou medemens reël: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:10).

Liefde moet die hoofkenmerk van die Christen se lewe wees. In sy hoëpriesterlike gebed het Jesus aan die Vader gesê: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Joh. 17:26).

Aan die dissipels het Jesus gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal die wêreld weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34-35).

1.5  Dit is grensloos

Ons kan geen grense stel of beperkinge op die liefde van Jesus plaas nie. Ons moet bewus daarvan wees dat dit elke aspek van ons bestaan insluit. Paulus sê in sy gebed vir die Efésiërs: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus… dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens… julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Ef. 3:14-19).

Hoewel ons van die rykdom van God se liefde bewus kan wees, beteken dit nie dat ons dit ten volle kan deurgrond nie. God se liefde in Christus Jesus is onpeilbaar en grensloos. Dit is breër as die wêreld, dieper as die diepste see en hoër as die hoogste hemel.

Ons staan in verwondering voor die onnaspeurlikheid van die Here Jesus se liefde en reddende genade. In Hom is alle skatte van wysheid en kennis verborge. Sy almag en liefde ken geen perke nie. Hy kan in elke behoefte van ons voorsien na die rykdom van sy genade.

Hierdie liefdevolle Verlosser trek ook vir jou en my na Hom toe met koorde van liefde. Hy wil ons nie net red en die ewige lewe aan ons skenk nie, maar ons volmaak en volkome in sy liefde bevestig.  Deur die Heilige Gees stort Hy sy liefde in ons harte uit. Hy maak van ons skynende ligte in ‘n donker en liefdelose wêreld.

Is jou lewe volkome onder die beheer van God se herskeppende, onveranderlike en ewige liefde? Dan sal daar by jou ‘n groot verlange wees dat andere dit ook deelagtig moet wees.

Jou grootste verlange sal egter na die koms van die hemelse Bruidegom wees wat spoedig sy bruid na ‘n hemelse ivoorpaleis sal wegvoer om vir ewig by Hom te wees.

2.  Die ideale liefdesverhouding

‘n Liefdesverhouding tussen ‘n bruid en haar bruidegom word in die boek Hooglied beskryf. In baie opsigte is dit 'n uitbeelding van die wonderlike verhouding tussen die hemelse Bruidegom, Jesus, en sy aardse bruid, die ware kerk, met wie Hy by sy wederkoms verenig sal word. Die skoonheid en voortreflike eienskappe van die bruid en die Bruidegom, die uitnemendheid van hulle liefde vir mekaar, die reinheid van hulle verhouding, die selfopofferende wyse waarop hulle mekaar bemin, en die gedurige verlange na mekaar se teenwoordigheid, is die allesoorheersende passie van hulle siele.

DIE BRUIDEGOM

In Hooglied word die volgende oor die Bruidegom gesê:

·       "U naam is soos salf wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief" (1:3).

Die Bruidegom het 'n uitnemende en begeerlike Naam. Wanneer dit uitgespreek en verkondig word, versprei dit 'n lieflike geur, soos kosbare nardussalf wat uitgegiet word. Dit heel wonde, bring blywende vertroosting en vul die lewe van sy bruid met ‘n diep en innige vreugde.

·       "Trek my agter u aan" (1:4).

Die bruid het net een begeerte, en dit is om by die Bruidegom te wees. Die oorsprong van hierdie wonderlike verhouding is by die Bruidegom geleë. Hy het sy bruid kom opsoek, 'n nuwe lewe en blydskap aan haar geskenk, en trek haar met koorde van liefde na Homself toe. Haar heil is net by Hom te vinde.

·       "Ons wil u liefde prys... Met reg het hulle u lief" (1:4).

Die wonderskoonheid van sy liefde is iets om oor opgewonde en bly te wees. Dit is prysenswaardig en lofwaardig bo enigiets wat ‘n mens kan bedink. Met reg moet Hy bemin, geëer en aangehang word. Hy het 'n Naam wat bo alle name is. Om Hom nie lief te hê nie, is die mees jammerlike vorm van geestelike armoede wat daar is.

·       "Sy vaandel oor my was die liefde" (2:4).

Die rede vir sy verskyning is liefde vir 'n verloregaande wêreld. Die opofferende liefde waardeur Hy Homself vir die redding van sy bruid gegee het, is die vaandel en banier van sy hemelse koninkryk. Die bruid besef dat sy geen verdienste of aanspraak op hierdie verhouding het nie. Sy is wat sy is omdat die Bruidegom haar eerste liefgehad het. Hy het sy vaandel oor haar opgehef en haar in sy liefde gewortel en gegrond.

·       "Hoor, my beminde klop" (5:2).

Hy is die een wat by die deur staan en klop. Hy wil sy liefde aan sy toekomstige bruid bekend maak, en ná hulle eerste ontmoeting ook nuwe ontmoetinge met haar hê sodat sy vir altyd in sy wonderlike teenwoordigheid kan wees. Haar lewe moet 'n onafgebroke toewyding aan Hom wees, met 'n diepe begeerte dat Hy altyd baie naby aan haar sal wees.

·       "Kyk, die winter is verby... Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor" (2:11-12).

Waar die Bruidegom kom, bring Hy nuwe lewe. Die winter met sy doodslaap is verby, en bloeisels spruit uit die tuine en wingerde voort. Vrolikheid heers en die gesang van die tortelduif klink op. Die duif is 'n beeld van die Heilige Gees, en wanneer Hy kom, kondig Hy die lente van 'n nuwe lewe aan. Dit is 'n boodskap van blydskap en hoop!

·       "Ek is 'n narsing van Saron, 'n lelie van die dale" (2:1).

Die vlakte van Saron is in die lente een groot blommesee. Die Bruidegom is die versinnebeelding van die lente met al sy prag en lewe. Sy skoonheid en lieflikheid word met die roos van Saron vergelyk, en ook met die lelie van die dale. Selfs Salomo met al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hierdie lelies nie.

·       "Soos 'n appelboom onder die bome van die bos, so is my beminde... Ek verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte" (2:3).

Hy bied beskutting aan sy bruid teen die hitte van die warm woestynson – 'n plek van veiligheid en stille rus. As die boom van die lewe het sy nie alleen haar nuwe lewe aan Hom te danke nie, maar Hy versadig ook elke dag haar geestelike honger en dors. Sy wonderlike beloftes en die woorde uit sy mond is soet vir haar verhemelte. Sy verlustig haarself daarin, bêre dit in haar hart en put inspirasie en vreugde daaruit.

·       "My beminde is myne, en ek is syne wat herder is onder die lelies" (2:16).

'n Baie intieme liefdesband bestaan tussen die twee bemindes. Hulle behoort aan mekaar. Sy sê: Hy is myne en ek is syne. Die Bruidegom is die verpersoonliking van ware liefde. Hy is die herder van sy kudde en sal hulle lei na groen weivelde, na waters waar rus is.

·       "Liefde is sterk soos die dood... Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie" (8:6-7).

Hierdie liefdesband is sterk en die vlam van die liefde onuitbluslik. Die bedreiging van groot watervloede kan dit nie vernietig nie. Dit is sterker as die dood en hou vir ewig stand. Geen dood of lewe, of verdrukking of benoudheid, kan haar skei van die liefde van die Bruidegom nie.

·       "Die koning het my in sy binnekamers gebring" (1:4).

Die Bruidegom berei vir sy beminde 'n woonplek in die paleis van die Koning, omhul met die glansryke heerlikheid van die nuwe Jerusalem. Dit is haar ewige tuiste waarheen Hy haar sal neem wanneer Hy kom.

DIE BRUID

Die skoonheid van die bruid word ook in Hooglied besing:

·       "Mooiste onder die vroue" (1:8).

Deur die aanraking van die Bruidegom het sy 'n hemelse skoonheid wat ander vroue onder die mensekinders nie het nie. Sy is geroepe om onberispelik te wees in heiligheid. Die wêreld moet kan sien dat sy deur die liefde en skoonheid van die Bruidegom omstraal word.

·       "My nardus het sy geur gegee" (1:12).

In die tyd van Salomo, en ook lank daarna, is nardussalf en -olie as een van die kosbaarste parfuums gereken. Die bruid word deur die lieflike geur van nardus omring. Sy is hiermee gesalf, en dit dra ‘n onmiskenbare getuienis uit na almal wat naby aan haar is.

·       "My beminde is vir my 'n tros hennablomme in die wingerde van Éngedi" (1:14).

Die hennastruik met sy lang trosse wit blomme staan ook as die bruidsblom bekend. Dit versprei 'n besonder aangename geur. Die trosse blomme word soms deur vroue om hul nek gedra. Hoe paslik is dit nie om 'n bruid met haar vlekkelose wit kleed en pragtige voorkoms met hennablomme in die wingerde van Éngedi te vergelyk nie!

·       "Soos 'n lelie tussen die dorings, so is my vriendin onder die dogters" (2:2).

Die bruid het 'n hemelse skoonheid en reinheid wat die ongereddes rondom haar nie het nie. Haar geestelike skoonheid en morele reinheid is in skrille kontras met die verdorwe karaktertrekke van ‘n ongeredde mensdom wat deur die sonde oorheers en ontsier word.

·       "Word wakker, noordewind, en kom, suidewind, deurwaai my tuin, laat sy balsemgeure uitvloei! Laat my beminde in sy tuin kom en van sy kostelike vrugte eet" (4:16).

Die lewe van die bruid moet die lieflike geur van die genade en liefde van haar Bruidegom oral versprei. Die noordewind en die suidewind moet die geure uitdra. Benewens die bloeisels moet daar ook vrugte in die bruid se tuin wees. Haar lewe moet soos 'n tuin wees waarin die Bruidegom die kostelike vrug van sy eie handewerk kan sien en geniet.

·       "(My susterbruid) is 'n fontein van die tuine, 'n put met lewende water wat van die Libanon afvloei" (4:15).

Die bruid moet 'n fontein van lewende water hê wat uit haar binneste opborrel. Dit moet ‘n bron van verkwikking vir baie ander mense wees. Hierdie water kom van haar Bruidegom wat self die water van die lewe is, en wat dit deur die Heilige Gees aan sy beminde skenk.

·       "My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans... laat my u stem hoor" (2:14).

Sy skuil in die veilige beskutting van 'n rotsvesting, hoog in die berge. Van hier af moet sy haar roepstem in die klowe daaronder laat hoor, omdat sy ‘n duidelike boodskap aan die wêreld het. Ook wil die Bruidegom haar stem hoor wanneer sy lofliedere tot eer van sy Naam sing en Hom ook in die gebed aanroep. Sy moet nooit ophou om die lof van haar Verlosser te verkondig nie.

·       "Wie is dit wat daar opkom soos die dageraad, mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels?" (6:10).

Die bruid is soos die lig van die môreglans wat die duisternis van die nag verdryf. Sy is mooi soos die volmaan wat 'n donker wêreld verlig – al is dit net 'n floue afskynsel van die Bruidegom wat die son van geregtigheid is. Sy staan tussen 'n verloregaande wêreld en die Bruidegom, en alleen in haar lewe kan hulle Hom sien. Sy is rein soos die son en het geen gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie. As 'n vreemdeling op aarde is sy geroepe om heilig en afgesonderd te leef en onder die vaandel van geregtigheid teen boosheid in al sy vorms stryd te voer.

·       "Die wagte wat in die stad rondgaan, het my... geslaan, my gewond; (hulle) het my mantel van my afgeneem" (5:7).

Om van die Bruidegom te praat en Hom te soek, bring die bruid in onguns by die wêreld. Vervolging en selfs berowing spruit hieruit voort maar dit kan haar liefde vir die Bruidegom en haar onvoorwaardelike toewyding aan Hom, nie uitblus nie.

·       "Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei" (2:15).

Die lewe van die bruid word op verskillende maniere bedreig – soms deur klein dingetjies. Sy moet die vyand van haar siel teëstaan en alle bedreiginge en aanvalle in die Naam van die Bruidegom oorwin. Sy moet nie toelaat dat sy geestelik verarm word en verkoel in haar liefde nie.

·       "Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn, wat leun op haar beminde?" (8:5).

Uit die woestyn van 'n geestelik verdorde en sondige wêreld het die Bruidegom sy bruid kom roep en aan haar 'n nuwe lewe geskenk. Sy het soos 'n lentetuin geword wat pragtige bloeisels voortbring, lieflike geure versprei en vrugte dra waardeur haar Beminde verheerlik en 'n honger mensdom gevoed kan word. Nie almal aanvaar die lof van haar Beminde wat sy verkondig nie. In haar lewe van toewyding aan Hom moet sy elke dag swaar op Hom leun. Hy is haar motivering, krag en sterkte om voort te gaan totdat Hy kom om haar na haar ewige tuiste weg te voer.

·       "Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, kom aan, my beminde" (2:17).

Nadat sy haar Beminde ontmoet het, verdwyn Hy weer skielik en verlang die bruid elke oomblik na sy teenwoordigheid by haar. Sy soek die hele dag lank na Hom, totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug. In die stilte van die aanduur, nadat die dag gedaal het, kom Hy na haar toe en ontmoet sy Hom opnuut. Haar siel word versadig van sy liefde, en haar blydskap is volkome. Maar dan is sy weer alleen en sien opnuut na sy fisiese verskyning uit.

·       "Op my bed snags het ek gesoek na my sielsbeminde, ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie. Ek wil dan opstaan en in die stad rondgaan, in die strate en op die pleine wil ek na my sielsbeminde soek" (3:1-2).

Hy is altyd naby, en tóg moet sy Hom soek. Sy liefde is só wonderlik dat sy nooit weer tevrede kan wees met die wrange vrugte van wêreldse geluk nie. 'n Nuwe ontmoeting met Hom is al wat die begeerte van haar siel kan versadig. Die verlange na sy persoonlike teenwoordigheid sal voortduur todat Hy sy bruid, vir wie Hy innig liefhet, vir die bruilof van die Lam kom haal. Dan sal hulle altyd bymekaar wees en sal daar nooit weer 'n uur van skeiding wees wat trane kan bring nie.

·       "Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie" (4:7).

Hierdie skoonheid is deur die Bruidegom aan haar verleen. Deur ‘n verbintenis met Hom het die ou dinge verbygegaan; kyk, dit het alles nuut geword. Hierdie vernuwende aanraking vind noue aansluiting by wat Paulus in Efésiërs 5:25-27 van die hemelse Bruidegom sê: "Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees" (Ef. 5:25-27). Het u al só verander geraak deur die vernuwing van u gemoed, dat die skoonheid van die Here Jesus in u gestalte aangeneem het?

Featured Articles

Monday, July 10, 2023 False Teachers & Doctrine 3842
From Speaking in Tongues to Speaking Truth: Why I Left the Charismatic Church Madelein Wolfaardt My mother’s death broke the spell. After years of prophetic declarations, healing services, and speaking in tongues, I finally saw the charismatic Christian movement for what it was. This is how I learned to distinguish between genuine faith and spiritual manipulation — a journey from blind acceptance to clear-eyed truth.

Questions Answered

Here are some articles on different topics, see what the Bible says.

/Eienskappe%20van%20God
DIE NATUURLIKE EIENSKAPPE VAN GOD WAT VERBAND HOU MET GOD SE WESE SOOS HY IN HOMSELF IS. Alwetend – God weet alles. Hy het volledige kennis van alles in die verlede, hede en die toekoms. (Job 37:16; Ps. 139:1-6). Almagtig – God…
One has only to examine the Bible to find abundant references condemning the use of alcoholic beverages. In fact, if the preacher is to stick to his Bible, preach the whole truth, and be…
Twee van die sondes waarteen mense ‘n baie verdraagsame houding inneem, is drink en rook. Wat sê die Bybel hiervan, en wat is die gevare wat daaraan verbonde is? Drankgebruik Een van die algemeenste argumente waardeur mense drankgebruik wil regverdig,…
Hell:%20What%20the%20Bible%20Says
An exposition of the doctrine of eternal punishment in a burning hell for all the unsaved people of all ages. 1. How Can We Know About Hell? “There was a certain rich man, which was clothed in purple and fine…
It is important that one understands the phenomenon of apostatising, or backsliding, as every believer should be able to identify and counter this backward course in his or her spiritual life whenever it occurs. If you wish to determine the…
Die onderwerp van die doop is baie kontroversieel met baie misverstande. Baie mense dweep met die doop en dit raak 'n obsessie by hulle. Dit veroorsaak baie keer ongebalanseerde en dwase strydvrae met die gevolg dat Christene twis oor die…
Vergifnis
Vergifnis is ‘n opdrag in die Woord van God (Matt 6:14, 15; Mark 11:25, 26; Luk 6:37; Efes 4:32 en Kol 3:13). Sonder vergifnis is daar geen bevryding van die seer en pyn wat ander jou aangedoen het nie. Die…

Lees meer

Loose Lips Sink Ships
I know this has been used as a catchphrase by the military in referring to ships. However, I believe it could be applied to each one of us today. Loose lips can sink more than naval ships. They can…

Read more

Questions Answered

Questions Answered

Being a Christian and drinking alcohol, what does the Bible say?
The Dangers of Moderate Drinking
John B. Gough (1817-1886) Born in Sandgate, Kent, England in 1817, Gough immigrated to the United States when he was only twelve years old. His mother and sister also came to America. His mother died of a stroke and Gough,…

Read more

Beer and Wine: The Bible’s Counsel
Doesn't the Bible refer in a number of places to wine and strong drink? Don't we quite often find people drinking alcohol in the Bible? Can't we assume, then, that Scripture generally does not condemn drinking alcoholic beverages? It's true that…

Read more

A collection of articles written by FB Meyer. Practical advice for the daily Christian life.

A NEW YEAR is opening before us, and there is some satisfaction in feeling that an opportunity will be afforded of making a really new start. Each true heart in which there is a spark of the Divine life turns eagerly towards the unblemished page, the untrodden way, of the…
BENEATH all exaggeration there is a basis of truth. When an American said that the whey which flowed from the making of a large cheese in his country was sufficient to run three sawmills; and when another affirmed that the soil of his farm was so prolific that the tendrils…
To be straight is to be true. There is no more important exhortation on the page of Scripture, than where the Apostle says, "Whatsoever things are true . . . think on these things." A friend of mine, educated in one of our great English schools, says that the most formative words of…
WHAT a shadow is cast over lives and homes by bad tempers! It is Sunday morning, God's day of rest and peace, when the worry and rush of the world should be quiet, and the voices of newspaper boys and hawkers of small wares should be still. A family of…
No flirting, young people, please! You cannot flit around the flame without the risk of burning your wings; and remember, if these are lost, you cannot get another pair; you may be able to crawl or limp, but you will never again bask in the sunbeams or dance with merry-hearted…
LONGFELLOW'S village blacksmith felt that "something accomplished, something done," had earned a night's repose; and I suppose that he did little else than shoe the farmers' horses, or put new shares to their ploughs; yet he had the perpetual consciousness that he was doing something in the world, contributing to…
No wonder that the common people hung on Christ's words. He was a Master of the Art of Illustration, because he sought his emblems, not from remote corners of creation, or its recondite processes, but from the common incidents of ordinary human experience. Salt and light, birds and lilies, gates…
Everyone needs some guidance on where to start reading and how to read their Bible. Below are Afrikaans & English printables - give it to every young believer that you give a Bible to.
Tips on reading your Bible

Where should I start?

Start by reading a chapter in the morning and evening. Mark in your Bible and write in a notebook everything that stands out in the chapter you read.

Read more

Wenke om jou Bybel te lees

Waar moet ek begin?

Lees jou Bybel in orde, moet nooit rondspring tussen boeke en hoofstukke nie. Hou by jou lees skedule, as jy laas Markus 1 gelees het lees jou nou Markus 2.

Lees meer

Heiligmaking

'n Rein hart gevul met die Heilige Gees

/Volkome%20Heiligmaking
Met die ondervinding van wedergeboorte (Joh. 3:3) én die bevestiging daarvan deur die getuienis van die Heilige Gees (Rom. 8:16), vind ‘n radikale verandering van lewenswyse plaas (2 Kor. 5:17). Hierna volg ‘n proses van selfontdekking wat lei tot die behoefte aan ‘n dieper innerlike verlossing (vrymaking) en reiniging van die inwonende sonde asook die vervulling met die Heilige Gees.
/Gaan
aan%20na%20Volwassenheid
In Heb 3 & 4 wys die skrywer vir ons die wonderlike belofte van God se rus, wat ‘n rein en oorwinnende lewe in Christus is. Hy vertel van hierdie belofte, en dan vermaan hy die Hebreërs in hoofstuk 5:12-14 dat hulle moet voortgaan na volwassenheid want hulle is nog kinders in die geloof.
/Die%20pad%20na%20Heiligmaking
Hier besef die weergebore Christen dat ‘n dieper werk in sy hart benodig word. Dat daar dinge is waaraan hy dalk nog vasklou of sonde wat hy nie wil laat staan nie of hy twyfel en vertrou God nie volkome nie. Hier gaan ons kyk na wat die stryd in ons binneste is en hoe om die pad na heiligmaking te begin.
deur Marius Wolfaardt Christen Leefstyl
Kol 2:6: Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, 1. Watookal die Here vir jou sê, doen dit. Joh 2:5 “Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.” - Moenie meer of minder doen nie, doen net dit wat Hy gesê het. Matt 28:20 “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” – As ek doen wat Hy sê sal Hy met my wees. Doen wat Jesus sou gedoen het. Meet alles altyd hieraan.
by Marius Wolfaardt Christian Lifestyle
Col 2:6 As therefore ye received Christ Jesus the Lord, so walk in him, 1. Whatever the Lord tells you to do, do it. Joh 2:5 “His mother saith unto the servants, Whatsoever he saith unto you, do it.” Don't do more or less, but, just that which He tells you to do. Mat 28:20 “teaching them to observe all things whatsoever I commanded you: and lo, I am with you always, even unto the end of the world.” If you do what He tells you to do, He will be with you unto the end of the world. Always do what Jesus would do, measure everything according to this rule.
deur Marius Wolfaardt Christen Leefstyl
Hoe hanteer ek dit?

Mat 5:4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.
Binne in die moeilike tye is die Here reeds besig om iets nuuts te maak, al sien jy dit nie raak terwyl jy in die vuur is of deur die rivier gaan nie. God het ‘n plan. Rou is natuurlik en is iets wat moet gebeur, dit is ‘n proses om deur te werk, maar daarna moet jy ook aan beweeg en nie hier vasval nie.

Assurance of Salvation

Seker</p>heid
Is jy weergebore?

Seker

heid

Om te WEET DAT JOU SONDE VERGEWE IS en dat Jesus nou in jou hart woon.
Lees meer
Rebirth
What Why How..?

Rebirth

What the Bible teaches us about being born again.
Read More
 Weer</p>gebore
Wat Hoekom Hoe..?

Weer

gebore

Wat die Bybel ons leer van wedergeboorte.
Lees meer
English Sermons

English Sermons

Here is a link if you would like to listen to audio sermons by various preachers. Promoting Genuine Biblical Revival.

Go to website