fbpx

Die Heilige Gees

God se Gees staan onder verskeie name bekend, waaronder die volgende: Die Gees (Joh. 7:39), die Gees van God (Gen. 1:2), die Gees van die Here (Jes. 11:2), die Gees van die Vader (Matt. 10:20), die Gees van Christus (Rom. 8:9), die Gees van die Seun (Gal. 4:6), die Heilige Gees (Ps. 51:13), die ewige Gees (Heb. 9:14), die Trooster (Joh. 14:16), die Gees van genade (Sag. 12:10), die Gees van die waarheid (Joh. 14:17), die Gees van heiligheid (Rom. 1:4), die lewendmakende Gees (Joh. 6:63; Rom. 8:2), die Gees van aanneming tot kinders (Rom. 8:15), die Gees van wysheid (Deut. 34:9), die Gees van raad en sterkte (Jes. 11:2), die Gees van kennis en van die vrees van die Here (Jes. 11:2), die Gees van die heerlikheid (1 Pet. 4:14) en die Gees van die profesie (Joh. 16:13; Op. 19:10).

God openbaar Homself op verskillende maniere deur die Heilige Gees, en dit neem die vorm van ‘n verskeidenheid bedieninge van die Gees aan, waarvan die volgende die belangrikste is:

Die Gees wat van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig

Wanneer die Heilige Gees met ‘n persoon bemoeienis maak, oortuig Hy hom van sy sonde, van Christus se geregtigheid en van die oordeel wat oor Satan en al die goddeloses uitgespreek is (Joh. 16:8-11). Alle mense is sondaars (Rom. 3:10-12). Die grootste sonde is om die Here Jesus as Verlosser en Seun van God te verwerp (Matt. 23:32-38). God se geregtigheid vereis ‘n lewe wat in ooreenstemming met sy heiligheid is (1 Pet. 1:15). Indien mense van hierdie standaard afwyk omdat hulle slawe van sonde is, vereis God se regverdigheid die doodstraf oor sondaars (Rom. 6:23; Eseg. 18:4). Hierdie bepaling maak die hele mensdom doemwaardig voor God (Rom. 3:10). Net die Here Jesus het ‘n volmaakte lewe gelei waarin die geregtigheid van God volkome geopenbaar is. Deur sy kruisdood het Hy die doodstraf namens alle sondaars uitgedien en sodoende aan die eis van God se regverdige straf oor die sonde voldoen. Aan almal wat in Jesus Christus en sy plaasvervangende dood glo, word die geregtigheid van God toegereken (Rom. 5:17). Ons kleed van sonde is op Hom gelê, en sy kleed van geregtigheid word op ons gelê wanneer ons Hom as Saligmaker aanneem. Baie mense probeer steeds om deur ‘n goeie lewe hulle eie geregtigheid op te rig en verwerp sodoende die hart van die kruisevangelie (Rom. 10:3). Sulke mense roem in hulle goeie lewe en selfs kerklidmaatskap, maar weerstaan die Heilige Gees wanneer Hy hulle van die geregtigheid van God deur die geloof in Jesus Christus wil oortuig. Die dood en opstanding van Jesus was ook ‘n oordeel oor Satan (Joh. 12:31). Jesus het oor hierdie duistere magte getriomfeer (Kol. 2:15). Hoewel Satan oorwin is, is hy steeds aktief in die stryd teen alle Christene gewikkel (1 Pet. 5:8), maar hy is ‘n veroordeelde vyand van God wie se lot reeds bepaal is (Op. 20:2,7-10). Almal wat in sy hand speel deur saam met hom teen God te rebelleer, sal sy oordeel in die hel met hom deel (Op. 20:10,15).

Die Gees van genade en smekinge

Die Heilige Gees is werksaam in almal se lewens wat die ware evangelie hoor, en beweeg hulle om in sonde-oortuiging en met berou en gebrokenheid van hart hulleself voor die Verlosser, Jesus Christus, te verootmoedig en om sy reddende genade te bid. Die Here het behae in ‘n gebroke gees en ‘n verslae hart (Ps. 34:19; 51:19). In die komende verdrukking sal die Gees van genade en smekinge opnuut oor Israel uitgestort word (Sag. 12:10).

Die Gees wat wederbaar

“Dit is die Gees wat lewend maak” (Joh. 6:63). Hy wederbaar berouvolle sondaars wat dood was in hulle sondes en misdade, om van hulle nuwe mense te maak (Rom. 8:2; 2 Kor. 5:17). Ongeredde mense is geestelik dood, daarom word hulle by bekering deur die Gees lewend gemaak. Geredde persone het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24; Ef. 5:14). Die Heilige Gees doop ons by ons wedergeboorte in die liggaam van Christus (1 Kor. 12:13).

Die Gees wat met krag vervul

Nadat ons op grond van die genadewerk van Jesus Christus deur die Gees van God gewederbaar is, moet elke gelowige om drie belangrike redes ook met die krag van die Heilige Gees vervul word:

0.    Dit verleen aan ons krag om Jesus se getuies te wees (Hand. 1:8). Sonder hierdie toerusting met krag uit die hoogte kan ons nie vir die Here werk nie.

1.    Die krag van die Here is nodig om geestelik uit die swak babastadium tot die volwasse man of vrou in Christus op te groei (Ef. 4:13-14). Ons moet insig in die dieper dinge van die Here verkry en die pad van geloof met vaste treë bewandel.

2.    Ons het ook die krag van die Gees nodig om geestelik sterk te word vir die stryd teen die Bose (Ef. 6:10-11). Dit is eers wanneer ons met die Gees vervul is, dat ons sterk sal wees om versoekings te kan weerstaan (Gal. 5:16).

Die Gees wat bekwaam maak vir diens

Vervulling met die Heilige Gees gaan ook met gawes gepaard om gelowiges vir bepaalde bedienings, of dienswerk, in die liggaam van Christus bekwaam te maak (Rom. 12:4-8; 1 Pet. 4:10). Die een mag ‘n gawe van onderrig hê, ‘n ander van voorbidding, bemoediging of hulpverlening, maar alles moet in liefde geskied, want dit is die grootste gawe van almal. Ons moet ons gawes aktief beoefen en nie deur mensevrees verhinder word om dit te doen nie (1 Tim. 4:14; 2 Tim. 1:6-7). Die Heilige Gees besluit self watter gawes om aan mense te gee (1 Kor. 12:4-11). Dit kan wyd uiteenlopend van aard wees, want daar is baie ondersteuningsdienste in die verkondiging van die evangelie nodig.

Die Gees van godsvrug

Alle bekeerdes het ‘n opdrag om geestelike vrugte te dra waardeur die Here verheerlik en sy koninkryk uitgebrei word (Matt. 3:8; Rom. 6:22). Nege vrugte van die Heilige Gees word genoem (Gal. 5:22). Ons verhouding teenoor God moet deur sý liefde gekenmerk word wat deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort word (Rom. 5:5), deur die blydskap van die Here omdat Hy ons siele gered het, en deur sy vrede wat alle verstand te bowe gaan. Teenoor ons medemense moet ons lankmoedig wees deur gedurig vir hulle te bid en stadig te wees om hulle te veroordeel; ons moet ook vriendelik wees en op verskeie maniere aan hulle goed doen. As individue moet ons getrou in die uitvoering van ons pligte wees, ‘n sagmoedige en leerbare gees hê, en altyd selfbeheersing beoefen.

Die Gees wat ons lei en heilig

Die Heilige Gees is by uitstek ‘n Leidsman en Trooster. Hy verleen aan ons die bewussyn van die gedurige teenwoordigheid en inwoning van die Here in ons lewe, sodat ons nooit alleen hoef te voel nie. Ons moet besef dat ons liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is, en dat dit ‘n verpligting op ons plaas om heilige lewens te lei (1 Kor. 3:16-17; 2 Kor. 7:1).

Die Gees van wysheid

Die Heilige Gees is die Gees van wysheid (Jes. 11:2). Hy gee aan ons verligte oë van die verstand (Ps. 13:4; 147:5; Ef. 1:18-19). Indien ons oor enigiets sou twyfel, moet ons om die wysheid van die Here bid (Jak. 1:5). In die Drie-enige God is alle skatte van wysheid en kennis verborge (Kol. 2:3). Deur die Gees wil God jou lei en raad gee (Ps. 32:8).

Die Gees van die waarheid

Ons moet die volle waarheid omtrent die weg van die Here ken en toepas, en daarvoor het ons die Gees van die waarheid nodig wat ons in die hele waarheid van God se Woord sal lei (Joh. 16:13; 1 Joh. 2:27). Hierdie waarheid het ‘n vrymakende krag (Joh. 8:32), maar dan moet ons deur intensiewe Bybelstudie goeie kennis verkry. Dan alleen sal ons in die lig van die Woord en onder die leiding van die Heilige Gees ‘n goed ontwikkelde oordeelsvermoë hê (1 Joh. 4:1-6).

Die Gees van die profesie

Johannes 16:13 sê dat die Heilige Gees ook die toekomstige dinge aan ons sal verkondig. Hy help ons om ‘n wederkomsverwagting te hê, Bybelse profesieë te verstaan en die woord van die waarheid reg te sny (2 Tim. 2:15). Moenie die profesieë verag nie (1 Thess. 5:20), want deur op die vervulling van profesieë ag te slaan, wil die Heilige Gees ons voorberei op dit wat in die toekoms gaan gebeur. As ons hierdie ingesteldheid het, sal ons nie ons wederkomsverwagting verloor en geestelik aan die slaap raak in die middernaguur van hierdie bedeling nie.

Die Heilige Gees self waarsku ons ook teen groot afvalligheid en geestelike misleiding wat in die eindtyd sal voorkom (1 Tim. 4:1). Hierdie misleiding sal deur Satan se gees van dwaling voortgedryf word (1 Joh. 4:6), wat groot hoeveelhede valse profete tot sy beskikking sal hê (1 Joh. 4:1). Opspraakwekkende tekens en wonders sal deur hulle gebruik word, asook buite-Bybelse openbarings oor wat God na bewering vir die “profeet” of “apostel” sê. Hierdeur sal ‘n verdraaide weergawe van Jesus, van die evangelie én van die Heilige Gees aangebied word (2 Kor. 11:4). Die Heilige Gees, wat getroue kinders van die Here in die hele waarheid van die Woord lei, en ook aan ons onderskeidingsvermoë gee, waarsku ons ernstig teen hierdie eindtydse verskynsels (Joh. 16:13).

Persoonlike toewyding

Daar is diepe dankbaarheid in my hart omdat die Heilige Gees my van my sonde en verlorenheid oortuig het, en ook van die vergifnis en geregtigheid wat deur die kruisdood van Jesus Christus aan my gebied word. Hy het my deur die wedergeboorte in die liggaam van Christus gedoop toe ek sy vriendelike aanbod tot verlossing in die geloof aanvaar het. Ek is vol lof vir die Here se genadewerk deur die Heilige Gees, wat ook in al my ander behoeftes voorsien: Hy onttroon die vlees en vul my hart en wese; Hy beklee my met krag uit die hoogte om vir Jesus te kan getuig; Hy gee aan my verligte oë van die verstand om die Bybel te verstaan en alle dinge uit ‘n geestelike perspektief te kan beoordeel; en Hy skenk aan my sy vrede in die hart wanneer ek die regte besluite neem. Ek verbind myself tot gehoorsaamheid aan God wanneer Hy my deur sy Gees lei, en ook tot selfdissipline om nie dinge te doen waardeur ek die Heilige Gees kan bedroef nie. Mag ek daagliks só onder die beheer van die Gees lewe en wandel dat ek nooit die begeerlikheid van die vlees en die sinne sal volbring nie. Ek dank die Here vir hierdie lewe van oorwinning onder die leiding van sy Heilige Gees!

Vrae

1.    Noem en bespreek 5 beskrywende name van die Heilige Gees.

2.    Waarvan oortuig die Heilige Gees ons?

3.    Wat is die rol van die Gees in die werk wat ons vir die Here moet doen?

4.    Wat is die funksie van die Heilige Gees in Bybelse profesieë?

5.    Waar in die NT word melding gemaak van die feit dat die Gees van ewigheid af bestaan?

Prof. Joahn Malan