Kerk, Kultes en Sektes
Japie Grobler
Verlede maand het ons kortliks stilgestaan by die misleiding en vals leraars wat van die vroegste tye in die gemeenskappe en selfs die kerk bedrywig was. Ons het ’n idee gekry van hoedat die Kerk standpunt teen die onbybelse siening van Arius oor die Godheid van Jesus moes inneem en wat uitgeloop het op die eerste “sinodale” sitting in 325 v.C. Nou gaan ons vlugtig kyk hoedat hierdie misleiding verder gevoer word en hoedat dit ontwikkel in sektes en kultes.
Eerstens moet ek net gou die vreemde woord Kulte/s verduidelik. Hierdie woord is deur KIES geskep, want ons het gevoel dat dié bekende Kultus/se te wyd getref het en selfs die aanhangers van byvoorbeeld popsangers insluit. Die HAT beskryf kultus as volg: “[Godsdienstige] verering; stelsel van [godsdienstige] oortuigings en meegaande ritueel; gebruik wat mettertyd ’n kultus geword het. [L. cultus].” Ons sien dus dat die woord ook die handelinge, ritueel, insluit en ons wou ’n woord hê wat nader aan die Engelse “Cult/s” kom en op die aanhang, selfs die fanatiese aanhang van ’n spesifieke persoon, groep of ideologie, dui. In Dr Henk Stoker se boek van 1994, Die Jehovah-Getuies: ’n Onchristelike Kulte? is daar op bladsye 2-4 ’n bespreking oor hierdie twee woorde en lees ons: “Die woord ‘kulte’ is volgens die taalkundige professor Hans du Plessis van Potchefstroom, ’n beter vertaling van ‘cult’ as ‘kultus’.” (p.3)
1. Die Kerk van Christus: Die volgende illustrasie is ’n poging om aan te dui wie resorteer almal onder dié Kerk:
Hiervolgens resorteer al die denominasies wat die ortodokse Bybelse leerstellings van die Drie-eenheid, twee Nature van Jesus Christus (God en Mens) die Heilige Gees as Persoon en God, en dies meer aanvaar en bely en ook sektes insluit, onder Kerk van Christus.
2. Sekte: Word gewoonlik en kortliks gedefinieer as ’n groep wat hulleself afgeskei het al dan nie van die Kerk deur die oorbeklemtoning van een of meer van die sekondêre leerstellings wat nie noodsaaklik is vir die verlossing van die mens nie. As voorbeeld kan die doop en die nagmaal hier genoem word. ’n Sekte kan die gevaar loop om die gevaargrens oor te steek en kultariese eienskappe te toon, namate hulle die uniekheid van hulle spesifieke groep beklemtoon. Wanneer hulle byvoorbeeld verkondig dat hulle die ware kerk is omdat byvoorbeeld hulle metode van die nagmaal gebruik hulle as sodanig tipeer en dat dit noodsaaklik is vir die verlossing van die mens.
3. Kulte: Kultes verwerp gewoonlik een of meer van die ortodokse Bybelse leerstellings oor die Drie-eenheid, die twee nature van Jesus, die Heilige Gees as Persoon en God, Verlossing deur genade alleen, die Hel as ’n plek van ewige foltering, die liggaamlike opstanding van Jesus, ensovoorts—veral dié leerstellings wat noodsaaklik is vir die verlossing van die mens. Hulle lê altyd klem op die minder belangrike leerstellings en regverdig gewoonlik hulle hele bestaan rondom die onbenullige.
Kultes ontstaan altyd onder leiding van ’n charismatiese leier wat mense om hom/haar saamtrek met die uitsluitlike direkte opdrag van God dat hy/sy die ware kerk weer moet herstel, want die kerk het dan sedert die Apostels in duisternis verval. Die leier het dan gevolglik ook ’n tolvry direkte lyn na God. Hy/sy alleen kan namens die volgelinge met God praat en God se wil aan die volgelinge deurgee. Namate hierdie psigiese beheer (“mind control”) en die leier se ego toeneem word kritiek of teenstand net eenvoudig nie geduld nie. Lede wat leerstellige of Bybelse verklarings betwyfel, bevraagteken of kritiseer word doodeenvoudig streng gedissiplineer en selfs uitgeskop. In ons volgende artikel sal ons by die baie belangrike aspek van Psigiese Beheer stilstaan.