Aan Wie Behoort U?
Frikkie Osborne
In 1 Samuel 30 vind ons ’n wonderlike en baie interessante gedeelte. Die Amalekiete het Siklag in Dawid se afwesigheid ingeval, geplunder, verbrand en almal daarin as oorlogsbuit weggevoer. Toe Dawid terugkeer en die verwoesting sien, het hy hulle agternagesit om hulle te straf. Gedurende die tog vind hul een van die invallers in die veld lê, moeg en uitgeput. Nadat hulle hom met voedsel en water versterk het, vra Dawid hom in vers 13: “Aan wie behoort jy?” Hy antwoord: “Ek is ’n Egiptiese seun, die slaaf van ’n Amalekitiese man…” In sy belydenis bevestig hy dat hy ’n vyand van God en Sy mense is, ’n vervloekte van God (Eksodus 17:4).
Liewe leser, wat sal u antwoord op hierdie eenvoudige, dog dringende en eerlike vraag wees? “Aan wie behoort u?” U antwoord hierop is van kardinale belang, want u ewige bestemming hang daarvan af. Die jong Egiptiese seun het op grond van ’n belofte van die koning sy vryheid ontvang. Paulus kon met sekerheid antwoord: “Ek weet in wie ek geglo het …” Hierdie antwoord is nie vanselfsprekend nie. Die blinde man in Johannes 9 getuig in vers 25b: “Een ding weet ek: dat ek blind was en nou kan ek sien.” In Lukas 23:42 sê die kwaaddoener aan die kruis aan Jesus: “Dink aan my, Here…” en Jesus antwoord hom: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Wat het die laasgenoemde drie persone in gemeen gehad? ’n Persoonlike ontmoeting met Jesus, die Koning van die konings. Wat is vandag u belydenis? Het u al so ’n ontmoeting met Jesus gehad? Was daar al so ’n tyd of geleentheid in u lewe? God se Woord verklaar dat ons altyd gereed moet wees om getuienis te lewer oor die hoop wat in ons is. Watter hoop? Kolossense 1:27b: “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.” Is dit u getuienis en hoop of moet u ook soos die jong Egiptiese seun, soos dit in Efesiërs 2:12 baie duidelik uitgedruk word, verklaar: “Dat julle in die tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.” Beskryf dit miskien nou u tragiese toestand?
Die Here Jesus, ons Hoogste Gesag, het by geleentheid in Johannes 8:44 aan mense wat Hom teengestaan het, gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.” Sterk woorde, maar tog die waarheid komende van die Seun van God, want Jesus is God en God kan volgens Titus 1:2 nie lieg nie. Let ook op die sterk bewoording van 1 Johannes 3:8: “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel…” In Efesiërs 2:2 word almal wat die Here Jesus nie liefhet nie “ kinders van die ongehoorsaamheid” genoem. Dit is hul karakter. In vers 3 word hulle “ kinders van die toorn” genoem omdat ’n ewige oordeel op hul wag. In Romeine 3:10 staan ook geskrywe: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” en vers 12: “Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” Vers 23 verklaar onomwonde: “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Die Here Jesus sê in Matthéüs 7:21: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie…” In Matthéüs 22 vind ons as waarskuwing die gelykenis van die bruilof opgeteken. In vers 11 en 12 sien die koning iemand sonder ’n bruilofskleed aan en vra: “Vriend, hoe het jy hier ingekom ...? En hy kon geen woord sê nie.” Dan volg die tragedie van vers 13. Hy is in die buitenste duisternis uitgewerp. Is daar dan geen hoop nie? Kom versuim so ’n oomblik en dink aan God en die ewigheid en aan u kosbare siel, want loof die Here, daar is hoop, heerlike hoop, die blye boodskap van Lukas 2 en Jesaja 9:5! Lees Matthéüs 1:21 en Lukas 4:18,19 asook Lukas 15 en 19:10.
2 Petrus 3:9 stel dit duidelik: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” In Sy onuitspreeklike liefde verklaar God in Handelinge 17:30 deur Paulus: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” Ons is so dankbaar vir die woordjie “maar” in die Bybel. Dink aan Jesaja 53:5: “MAAR Hy is terwille van ons oortredinge deurboor, terwille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel…” en dan vers 6: “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; MAAR die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” – op Jesus die Middelaar wat die middelmuur van skeiding afgebreek het. Daarom verklaar Romeine 3:24,25a: “En hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof…” Romeine 5:8: “ Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Is dit nie die goeie tyding van groot blydskap nie?
In Deuteronomium 28 hou God die seën en die vloek aan Sy volk voor en dan in Deuteronomium 30 volg die belofte van genadige verlossing in geval van berou. In vers 15 staan geskrywe: “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk” en dan in vers 19b: “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.” In Josua 24:15 sê Josua aan die volk: “…kies dan vir julle vandag wie julle wil dien … maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” Dit is nie ’n kans wat u of ek vat nie, maar ’n keuse wat ons moet maak. Volgens Jesaja 1:18 is daar ’n saak om uit te maak. Is u bereid daartoe? Amos 4b verklaar: “…maak jou klaar om jou God te ontmoet …” Jesus sê in Johannes 6:37b: “…en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” Sal u kom ? Doen dit en doen dit GOU. Doen dit en doen dit NOU!