Maak jou klaar om jou God te Ontmoet
Deur Marius Wolfaardt
Is jy dan Werklik Bekeerd?
Matthéüs 4:17
“Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Lukas 19:1-10
“En Hy het in Jérigo gekom en daar deurgegaan. En daar was ‘n man met die naam van Saggéüs, ‘n hoof van die tollenaars en ‘n ryk man. En hy het probeer om Jesus te sien, wie Hy was; maar vanweë die skare kon hy nie, omdat hy klein van persoon was. En hy het vooruit gehardloop en in ‘n wildevyeboom geklim, sodat hy Hom kon sien, want Hy sou daarlangs verbygaan. En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly. Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang. En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by ‘n sondige man tuisgegaan. Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug. Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ‘n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.”
“‘n Soekende siel en ‘n soekende Herder sal makaar nooit mis nie.”
Nou in die tye waarin ons lewe is daar baie onsekerheid… Gaan ek more nog ‘n werk hê of ‘n dak oor my gesin se koppe kan bekostig? die Jeug is onseker of daar vir hulle werk sal wees of nie. Van baie min dinge is ons van verseker, nie eens die lewe is ons van verseker nie. Die eendag lyk alles mooi en vrolik en dan die volgende dag tref hartseer die familie. Maar, daar is wel een ding waarvan elke mens verseker kan wees! Almal kan verseker wees van die dood. Niemand kan dit vryspring nie, dit gebeur met almal. Nou, hoekom is dit dat die een ding waarvan elke mens verseker kan wees – die dood – dat so min mense daarvoor voorberei?
Een van die grootste redes daarvoor is onkunde. Die Satan bedrieg die mens deur hulle in duisternis te los aangaande die waarheid van God se Woord.“Die Werklikheid van die Ewigheid word nooit ‘n Realiteit nie.” Die gedagte kom nie op om klaar te maak (gereed te maak) en gehoorsaam te raak aan God en Sy gebod nie. Dit kom by soveel mense vandag nooit op nie, want die mens lewe vir homself. Maar, wat so baie mense nie besef nie: hoe jy nou jou lewe leef op aarde, sal bepaal waar die ewigheid in sal deurbring, die hemel of hel. Wat jy nou met Jesus Christus die gekruisigde doen, sal bepaal waar jy die ewigheid in sal deurbring.
In hierdie lewe nou, is jy besig om klaar te maak om jou God te ontmoet? Of is jy besig om jou lewe weg te gooi deur aan die sonde gehoorsaam te wees?
Romeine 6:16
“Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?”
Daar is ongelukkig vele mense wat dink: “ek hoef nie klaar te maak nie.” Daars vele mense wat hulleself bedrieg. Daars verskeie redes hoekom. Hulle dink: ons glo mos, ons gaan mos kerk toe, ons is mos gedoop as babas en ons is mos redelike goeie mense.
Jeremia 17:9-10
“Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.”
Niks wat die mens uit homself doen, is goed genoeg om die hemel te verdien nie! Geen morele goeie lewe – niks nie.