fbpx

Stappe van Redding

Madelein Wolfaardt

Stappe van redding uit die lewe van Saggeüs

Lukas 19:1-10

1.      Verlore in sonde

V2- Hy was 'n tollenaar en ook 'n ryk man → Hy het van mense gesteel, die tollenaars was bekend daarvoor dat hulle meer geld van die mense gevat het as wat hulle moes en dit dan in hul sak gesit het.

V3 – Hy was soekend, hy het besef dat hy iets kortkom ten spyte van al sy rykdom.

V4 – Hy het moeite gedoen om Jesus te sien. Almal het hom geken en geweet wie hy was, as so 'n bekende ryk man moes dit hom gekos het om sy trots in sy sak te steek en homself te verneder – deur voor almal in die boom te klim. → Hy het nie omgegee nie, hy móés Jesus sien! Dit kos 'n prys om die Here te soek en om Sy kind te word – mens moet bereid wees om jouself te verneder deur te erken dat jy 'n verlore sondaar is. Dit kos jou ook om bereid te wees om alles op te gee sodat jy Jesus kan volg.

Net so moet ons as mense ook ons sondige toestand besef en dat hierdie sonde ons skei van God (Rom 3:23). Ons moet besef dat ons verlore is en dat ons verlossing nodig het. Ons moet soos Saggeüs ook 'n soeke hê na Jesus, dat Hy ons lewe moet aanraak en ons Sy kinders maak. Hierdie soeke sal lei daarna dat ons begin moeite doen om die Here te soek.

2.      Die Uitnodiging

V5 – Jesus sal nooit verby 'n soekende siel gaan nie. Hy het ook nie verby Saggeüs gegaan nie, maar Hy het by hom gestop en vir hom 'n uitnodiging gegee. Jesus het vir hom gesê dat Hy in sy huis wil bly. Jesus gee ook hierdie uitnodiging aan almal in Op. 3:20 "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My."

Jesus het nie net by Saggeüs se huis ingestap nie, maar Hy het gewag dat Saggeüs die uitnodiging aanvaar. Hy moes kies om die Here in te nooi – so is dit ook elke persoon se keuse of hulle gaan reageer op hierdie uitnodogning wat Jesus aan almal rig. Jesus vra: “kan Ek vandag in jou huis bly?”

3.      Die Uitnodiging aanvaar

         V6 – Saggeüs het Jesus met blydskap ontvang.

Net so moet ons ook elkeen op 'n dag in ons lewens besef en erken dat ons verlore is en dat ons iets kortkom – Dan kan ons ook vir Jesus met blydskap ontvang in ons harte en lewens. Dit is die dag wat ons Sy kind word, wat ons vergifnis ontvang vir ons sonde en ons weergebore word (Joh. 3:3).

4.      Restitusie en Getuienis

V8Net soos Saggeüs moet ons ook nadat ons gered is, en Jesus in ons harte en lewens ingenooi het, daarvan getuig en vir andere vertel dat Jesus ons siele kom red het en al ons sonde vergewe het. Dit is ook baie belangrik om restitusie te doen oral waar dit mag nodig wees. Dit dien ook tot 'n getuienis van ons geloof.

5.      Belofte van Redding

V9 – Saggeüs was nie gered omdat hy 'n seun van Abraham was nie, daar het eers redding vir hom gekom die dag wat hy Jesus met blydskap aanvaar het deur sy sonde te bely.

Ons kan ook op niks anders staatmaak vir ons redding nie behalwe Jesus Christus. Baie wil staatmaak daarop dat hulle ouers Christene was en dat hulle hul lewe lank in die kerk grootgeword het, ander wil roem in al die goeie dade wat hulle doen en ander lewe hoë morele lewens. Dit red 'n mens nie, elke persoon moet op 'n dag in sy lewe kom wat hy sy sonde en verlorenheid besef en wat hy die Here aanneem en sy sonde bely. Elke persoon moet weergebore word.

6.      Voorwaarde van Redding

V10 – 'n Mens moet eers besef dat hy verlore is, voordat hy gered kan word – dis 'n duidelike besef dat jy 'n sondaar is en geskei is van God as gevolg van hierdie sonde. Wanneer mens dit besef en erken kan hy gered word. Jesus het gekom om te soek en te red die wat verlore is.

God se reddende genade is daar vir elkeen, die mens moet dit net aanvaar.