fbpx
Articles
Articles | Tips & Help for the Daily Christian Life |

Grow in Christ

Heiligmaking en die Wederkoms

Johan Malan - Afrikaanse Artikels

Heiligmaking bepaal nie net die aard van ons verhouding as dissipels van die Here Jesus hier op aarde nie, maar dit moet spesifiek ook met die oog op sy wederkoms beoefen word wanneer ons as sy bruidsgemeente in heiligheid voor Hom gestel moet word. Dit is die rede waarom heiligmaking en die wederkoms dikwels in die Bybel saam genoem word: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Die eerste reiniging van ons sondes én ons daaropvolgende heiligmaking staan in ‘n noue verband met mekaar, en is daarop ingestel dat ons onberispelik voor Christus kan verskyn.

Dit is belangrik dat die kerk van Christus ‘n duidelike roepingsbewustheid én ook ‘n duidelike bestemmingsbewustheid moet hê. Paulus sê dat ons ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus het (Fil. 3:14). In die huidige bedeling is ons geroep om getuies van Jesus te wees in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Ons is dus ambassadeurs vir Christus in ‘n vreemde koninkryk. As geroepe heiliges moet ons waardige verteenwoordigers van die koninkryk van die hemel wees “sodat [ons] onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie [ons] skyn soos ligte in die wêreld” (Fil. 2:15). Dit is ons roeping om die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde te wees.

Dwarsdeur ons aardse lewe en die taak wat ons hier het, moet ons egter ook deur die vooruitsig op ons hemelse bestemming tot heiligmaking gemotiveer word. Dit moet aan ons moed en deursettingsvermoë gee terwyl ons as vreemdelinge ons taak in hierdie goddelose wêreld uitvoer: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).

Ons roepingsbewustheid hier op aarde versterk dus ons bestemmingsbewustheid eendag in die hemel, omdat ons huidige lewe ‘n voorbereiding vir ons ontmoeting met die Here Jesus en die ewige lewe in die hemel is. Die belangrikheid van heiligmaking word op die volgende maniere telkens ook in verband met die wederkoms aan ons verduidelik:

n Reinigende hoop

Johannes sê dat ons onsself moet reinig in voorbereiding daarop om in die hemel in noue assosiasie met die Here Jesus te leef. Ons sal nét so ‘n opstandingsliggaam soos Hy hê en in sy volmaakte, heilige teenwoordigheid verkeer: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:2-3).

In die lig daarvan dat ons vir altyd in sy heilige teenwoordigheid gaan wees, moet ons nou reeds leer om geestelik in sy teenwoordigheid te leef, Hom innig lief te hê soos ‘n bruid wat na haar bruidegom verlang, en niks te doen wat sy Heilige Gees sal bedroef nie. Die hoop dat ons Hom sal sien en by Hom sal wees, is ‘n reinigende hoop. Ons moet nou daarop voorberei word om aan sy sy gestel te word. Ons sal nie in status aan Jesus gelyk wees nie, omdat Hy die Hoof van die gemeente bly, maar ons sal dieselfde verheerlikte liggaam hê en as sy bruid ten nouste aan Hom verbonde wees.

Die proses van reiniging veronderstel morele én leerstellige reinheid. Ons moet moreel rein en heilig leef, en teen alle besmettinge van die vlees waak. Ons moet egter ook leerstellig getrou aan die Here Jesus bly deurdat ons teen al die geestelike dwalinge en misleiding van Satan sal waak. Paulus verwys hierna as hy aan die gemeente sê:

“Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4).

Onberispelik in heiligheid

Behalwe persoonlike reinheid moet ons ook onberispelik wees in heiligheid teenoor die Here én teenoor ander mense: “…en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal… sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus…” (1 Thess. 3:12-13). Hy brei ook verder hierop uit:

“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24).

In die lig hiervan moet ons waardig wandel voor God wat ons tot sy koninkryk en heerlikheid roep (1 Thess. 2:12). Paulus benadruk die feit dat heiligmaking ‘n werk is wat die Here vir ons doen, maar ons moet onsself hieraan onderwerp en saamwerk deur die heiligmaking in die vrees van God te volbring. Die Here Jesus is ons Heiligmaking en ons moet Hom hiervoor vertrou:

“Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing” (1 Kor. 1:30).

Die Here Jesus het ons nie net van ons sonde gered nie, maar Hy wil ons ook heilig sodat ons sonder vlek of rimpel voor Hom gestel kan word in heerlikheid. Dit is alleen Hy wat ons só kan heilig en waardig maak dat ons sonder gebrek voor Hom gestel kan word. Dit sal egter nie gebeur as ons passief daarvoor sit en wag nie. Ons moet waak en bid sodat ons waardig geag kan word om in heerlikheid voor Hom gestel te word. Wanneer ons bid, dan leer die Heilige Gees ons om nou reeds van alle ondeug en boosheid in ons lewe afstand te doen. In die lig van die verganklike wêreld waarin ons is, moet ons altyd heiligmaking en godvrugtigheid nastreef:

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas… Daarom… beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Pet. 3:11-12, 14).

Sorg dat jy in ‘n rein toestand bly en voortdurend deur die bloed van die Lam gereinig word. Bely onmiddellik enige sonde wat jy gedoen het, sodat daar nie oor tyd heen ‘n skeidsmuur van sonde tussen jou en die Here Jesus opgebou word nie. Wandel in die lig en bied ten bloede toe weerstand teen die sonde: “As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7).

Vertrou die Here om jou staande te hou, terwyl jy as ‘n medewerker van God ook jou volle samewerking gee. Jesus sê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie” (Joh. 15:4). In sy sendbrief sê Johannes: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Joh. 2:28).

Ons kan, soos die verlore seun, ons gemeenskap met die Vader eensydig verbreek. Moet dit nie doen en jouself met baie smarte deurboor nie! Jy kán weer herstel word, maar jy sal jou sondes en ontrouheid met ‘n gebroke hart moet bely.

Bly liewer ten alle tye in die Here en gaan voort om veel vrug te dra. Onderwerp jou aan die hand van die hemelse Landbouer wat jou wil snoei en skoonmaak sodat jy meer vrug kan dra. Hy vermaan en tugtig jou om jou sy heiligheid deelagtig te maak. As jy getrou aan Hom bly, sal daar nie ‘n knaende vrees diep binne-in jou wees dat jy dalk onwaardig sal wees om in sy heilige teenwoordigheid gestel te word nie. Doen jou plig, en die Here sal sy deel beslis nakom.

Maak soos die wyse maagde seker dat jou lamp vol van die olie van die Heilige Gees is (Matt. 25:1-13). Dit is ‘n uitbeelding van die Geesvervulde lewe. ‘n Rein lewe en die salwing met die Heilige Gees is God se standaard van waardigheid: “Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie” (Pred. 9:8).

Voorbereidings vir die regterstoel en die bruilof

Die wederkomsbelofte, asook die opdrag tot heiligmaking, konfronteer ons met die duidelike feit van rekenskap wat ons oor ons lewe voor die regterstoel van Christus sal moet gee. Paulus sê aan die Christene in Rome: “Ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word… So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10, 12). By die regterstoel sal Christene se hele lewenswandel ná bekering in oënskou geneem word. Ons lees in 1 Korinthiërs 3:9-15 dat sommige Christene se werke soos hout, hooi en stoppels sal wees wat verbrand sal word, en dat hulle met leë hande voor die Here sal verskyn. Dit beteken dat hulle niks gedoen het wat ewigheidswaarde het nie. Hulle lewe ná bekering het geen bydrae tot die uitbreiding van God se koninkryk op aarde gelewer nie. Hulle was marginale Christene wat gered sal word asof deur vuur heen. Die ander Christene wat met goud, silwer en kosbare stene op die fondament Jesus Christus gebou het, sal loon ontvang. Dit is waarna ons moet streef.

Is jy geheilig – dit beteken gereinig en afgesonder vir die diens van die Here? Dan sal jy vir die Here werk en Hom in Gees en waarheid dien. As jy in die vlees is, kan jy God nie behaag nie. Onthou dat die Here ook jou werke aan ‘n vuurproef gaan onderwerp wanneer Hy kom, en Hy kom gou! Dan sal elkeen sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang (1 Kor. 3:8). Wanneer ons die Here onder die leiding van die Heilige Gees dien, dan werk ons terselfdertyd aan ons bruilofskleed. Johannes sê: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). Die regverdige dade van die heiliges is nie dit wat ‘n vleeslike Christen uit eie krag vir die Here doen nie, maar dit wat toegewyde kinders van die Here deur die krag van die Heilige Gees doen. Dit dra verder daartoe by om hulle vir die koms van die hemelse Bruidegom waardig te maak.

Waaksaamheid

Wat moet ons in die donker en goddelose wêreld doen om in afwagting op die koms van die Meester rein en heilig te lewe? Ons moet geestelik wakker bly en nie in passiwiteit verval nie, met toewyding die werk doen wat die Here aan ons gegee het, en voortdurend teen die vyand van ons siele waak omdat hy ons geestelik wil beroof en ontrou aan die Here maak. Jesus het gesê:

“Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ‘n man wat op reis is, wat sy huis agterlaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:33-37).

In hierdie kort gelykenis word van ‘n huisheer vertel wat op reis gegaan het. Dit dui op die hemelvaart van Jesus. Voordat Hy vertrek het, het Hy aan sy diensknegte hulle werk gegee en ook die opdrag om te waak. Ons het dus werk om tydens die afwesigheid van die Here te doen: die hele wêreld moet geëvangeliseer word. Ook moet ons voortdurend waak teen die vyand wat wil insluip om te steel en te slag en te verwoes (Joh. 10:10). Die werk van die Meester moet goed gedoen word en alles moet in orde wees, want enige oomblik kan Hy terugkom en van sy diensknegte rekenskap opeis. Wat sal Hy doen as Hy hulle aan die slaap kry – nie besig om te werk nie en ook nie besig om te waak nie? Hy sal hulle as slegte diensknegte uitwerp en al hulle loon wegneem!

Die betekenis van om te waak is dat ons teen die vyand en sy listige aanvalle moet waak. Die deurwagter moet op die uitkyk vir onwelkome besoekers wees en nie sommer die deur vir enigiemand oopmaak nie. Bewaar en bewaak jy jou hart teen bose invloede?

Die Here Jesus wil hê dat ons in voorbereiding op sy skielike koms vir sy bruidsgemeente waaksaam en biddend sal wees: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom [dit is die groot verdrukking] te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Hy waarsku uitdruklik dat ons harte nie deur swelgery, dronkenskap en die sorge van die lewe beswaar moet word nie (Luk. 21:34).

Mense wat nie in afwagting op die wederkoms heilig leef nie, begin weer met wêreldse genietinge en laat hulle ook deur die sorge van die lewe geestelik aftrek. Hulle koester nie meer die salige hoop op die wederkoms nie (Titus 2:13). Die Here Jesus waarsku baie ernstig teen hierdie gevaarlike tendens van afvalligheid wat voortvloei uit die idee dat Hy dalk nie gou gaan kom nie:

“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matt. 24:45-51).

Dit is uit hierdie gedeelte duidelik dat die slegte, onheilige dienskneg, se probleme begin het toe hy gesê het: “My heer talm om te kom.” Hy het sy wederkomsverwagting verloor, en daarmee saam sy motivering om heilig te leef en sy sake in orde te hou. Hy het ‘n permissiewe, wêreldse lewe begin lei, partytjies bygewoon waar drank gebruik word, en lustig daaraan meegedoen. Ook het hy sy medediensknegte begin slaan. In plaas daarvan dat hy aan hulle geestelike voedsel voorsit en hulle tot diensbaarheid en heiligheid aanmoedig, het hy broedertwiste op tou gesit. Die gruwelikste dinge word deur só ‘n vleeslike Christen van ander Christene gesê wat nie doen en glo presies soos wat hy aan hulle voorskryf nie. Hy verhef sy eie opinie tot die enigste norm van die waarheid en tree arrogant en veroordelend teenoor andere op. In die proses doen hy vernietigingswerk in die koninkryk van God, en leef glad nie in die lig van die naderende wederkoms nie. Hy kan ernstige probleme verwag wanneer die Here kom.

Die getroue dienskneg wat weet dat sy Heer enige tyd kan kom en van hom rekenskap sal opeis oor wat hy gedoen het, vrees die Here, hy is nederig in sy lewenshouding, hy werk hard en gee aan sy medegelowiges hulle voedsel op tyd. Hy sal lof van die Here ontvang.

‘n Gebrek aan heiligmaking

‘n Gebrek aan heiligmaking lei altyd na die gebrek aan ‘n aktiewe wederkomsverwagting, gevolglik verflou jou motivering om onberispelik voor die Here bevind te word. Die plek van ‘n Bybelse toekomsverwagting word dan deur aardse ideale en ‘n vleeslike lewenswyse ingeneem. In ‘n toestand soos hierdie diskwalifiseer ons onsself nie alleen om eendag as rein maagde voor Christus gestel te word nie, maar ons het ook nie die krag, motivering en geestelike insig om hier op aarde vir Hom te werk nie. Paulus sê aan die geredde, maar vleeslike Korinthiërs:

“En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?" (1 Kor. 3:1-3).

Mense groei nie sommer vanself uit hierdie toestand van vleeslikheid nie. Hulle moet 'n volle oorgawe maak waarin die vlees met sy hartstogte, begeerlikhede, eiesinnigheid en soeke na selfverheerliking oorgelewer word om gekruisig te word. Indien dit nie doelbewustelik en nougeset gedoen word nie, dan tree een of meer van die volgende toestande van geestelike verval in:

1. ‘n Vleeslike lewenswyse

Vleeslikheid, veral selfliefde en grootheidswaan, neem in die eindtyd nog veel meer van mense besit. “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards…” (2 Tim. 3:1-2). Wanneer die gevalle, vleeslike natuur van die mens na vore kom en weer beheer oor jou lewe neem, word die Heilige Gees bedroef en van sy beheer oor jou lewe ontneem (Gal. 5:17; Ef. 4:30). Dit het met die Galásiërs gebeur: “O onverstandige Galásiërs... nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees” (Gal. 3:1,3).

2. Die liefde verkoel

Die liefde van God in jou verkoel as gevolg van oormatige blootstelling aan sonde, soos bv. om lang ure voor die verdorwe TV-kassie deur te bring: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Die hele samelewing is in ‘n eindtydse vervalproses waarin dit toenemend boos, gewelddadig, immoreel, liefdeloos en korrup raak. Daar word al hoe meer met sondes geassosieer in plaas daarvan om dit te verwerp: “…en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11). Daar kan nooit enige kompromie met sonde wees sonder dat dit jou geestelik aftrek nie.

3. Depressie

Depressie en die verswakking van geloof tree in as gevolg van al die probleme en ellendes van ons tyd. Baie mense se harte word beswaar deur die sorge van die lewe (Luk. 21:34), tot op dié punt dat hulle alle hoop op uitkoms en beterskap laat vaar. Sulke mense leef nie meer op na die hoë roeping van God in Christus Jesus nie, en besef ook nie dat daar tydens die wederkoms van Christus ‘n kragtige ingryping ten goede in die sake van hierdie wêreld sal wees nie.

4. Louheid

Geestelike louheid en verval tree ook as gevolg van materialisme en selfregverdiging in. Die Here Jesus sê vir die eindtydse kerk: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17). Wêreldse voorspoed lei, ook in kerke, na arrogansie, selfverheffing en selfregverdiging. Sulke mense het die Here nie regtig nodig nie, want hulle sorg vir hulleself en verklaar hulleself ook salig.

5. Wêreldse vermaak

Christene wat geestelik verval, het geen probleem om openlik met sondaars te assosieer en saam met hulle partytjies te hou nie. Hulle steur hulleself nie aan ander Christene se vermanings nie, maar beledig hulle en behandel hulle sleg. Die Here Jesus sê dat só ‘n dienskneg sy medediensknegte begin slaan en saam met die sondaars eet en drink (Matt. 24:48). In Lukas 21:34 word die dissipels van Christus ook gewaarsku dat swelgery en dronkenskap hulle geestelik sal vernietig en onwaardig vir die wegraping maak.

6. Onkunde en valse leerstellings

‘n Baie algemene oorsaak van vleeslikheid en teruggevallenheid in Christene se lewens is onkunde oor die Bybel en ook beïnvloeding deur valse leerstellings. As gevolg van hulle lae geestelike standaarde en gebrek aan kennis het hulle ‘n voorliefde vir predikante wat hulle op die dwaalweg van geestelike leuens en valse hoop sal voorgaan: “Want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer vand ie waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4).

7. Gebrek aan ‘n toekomsverwagting

Christene wat geestelik veragter, het nie ‘n aktiewe wederkomsverwagting nie. Die vyf dwase maagde het op ‘n baie kritieke oomblik toe hulle moes gewaak en vir die Bruidegom gewag het, aan die slaap geraak. Toe die tyd van sy koms hulle skielik oorval, het hulle té laat agtergekom dat hulle nie genoeg olie in hulle kanne gehad het nie. Die Bruidegom het gekom en hulle het agtergebly (Matt. 25:6-10). As jy vleeslik is, het jy ook té min van die olie van die Heilige Gees in jou lewe en voer jy ‘n kwynende geestelike bestaan. In dié toestand is jy nie wederkomsgereed nie omdat jou lewe nie deur waaksaamheid en gebed gekenmerk word nie. Dit is met goeie redes dat die Here sê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Die oplossing

Die oplossing vir ‘n teruggevalle, vleeslike toestand is ‘n volle oorgawe waarin die vlees vir die eerste maal of by hernuwing oorgelewer word om gekruisig te word. Die Here Jesus sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Is jy bereid om die eie-ek met sy verdorwe neigings te verloën en af te lê om gekruisig te word? Indien nie, dan diskwalifiseer jy jouself om ‘n ware dissipel van Jesus te wees (Luk. 14:27). Vleeslikheid, mislukking, geestelike onvrugbaarheid en onwaardigheid sal dan jou voorland wees. Dit sal van jou ‘n “slegte en luie dienskneg” (Matt. 25:26) maak.

Wat is die groot probleem wat deur die vlees veroorsaak word? Dit neig weg van die dinge van God af en blokkeer jou geestelike groei heeltemal, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Wanneer die vlees egter onttroon en gekruisig is, kan die Gees volle beheer oor jou lewe neem en jou ongehinderd lei. Slegs dan kan jy wandel deur die Gees sonder om die begeerlikhede van die ongekruisigde vlees te volbring (Gal. 5:16).

Het jy al die getuienis van die Heilige Gees ontvang dat Hy jou hart gereinig en in die volle sin van die woord daarvan ‘n tempel van God gemaak het waar net Hy geëer en gedien word? Hy sal ‘n vrede in jou hart uitstort wat alle verstand te bowe gaan, asook ‘n nuwe, dieper liefde vir God, vir jou broeders en susters in die Here én vir ‘n verloregaande wêreld. Hierdie liefde sal vloei soos ‘n rivier en aanhoudend uit die Bron gevoed word – veral in tye van stil gebed en ernstige Bybelstudie. Mag die Here ons hiertoe help, en ook die verwagting van sy spoedige koms in ons harte lewendig hou.

Featured Articles

Monday, July 10, 2023 False Teachers & Doctrine 1257
Why I Left the Charismatic Church Madelein Wolfaardt I grew up in “happy-clappy” churches. My family church-hopped a bit when I was in primary school. In high school, we got more and more involved in churches that followed the Word of Faith movement. They often invited big names from overseas. We would attend these prophetic or healing and miracle services. We also watched tapes of their so-called ‘Revival meetings’.

Questions Answered

Here are some articles on different topics, see what the Bible says.

/Eienskappe%20van%20God
DIE NATUURLIKE EIENSKAPPE VAN GOD WAT VERBAND HOU MET GOD SE WESE SOOS HY IN HOMSELF IS. Alwetend – God weet alles. Hy het volledige kennis van alles in die verlede, hede en die toekoms. (Job 37:16; Ps. 139:1-6). Almagtig – God…
One has only to examine the Bible to find abundant references condemning the use of alcoholic beverages. In fact, if the preacher is to stick to his Bible, preach the whole truth, and be…
Twee van die sondes waarteen mense ‘n baie verdraagsame houding inneem, is drink en rook. Wat sê die Bybel hiervan, en wat is die gevare wat daaraan verbonde is? Drankgebruik Een van die algemeenste argumente waardeur mense drankgebruik wil regverdig,…
Hell:%20What%20the%20Bible%20Says
An exposition of the doctrine of eternal punishment in a burning hell for all the unsaved people of all ages. 1. How Can We Know About Hell? “There was a certain rich man, which was clothed in purple and fine…
It is important that one understands the phenomenon of apostatising, or backsliding, as every believer should be able to identify and counter this backward course in his or her spiritual life whenever it occurs. If you wish to determine the…
Die onderwerp van die doop is baie kontroversieel met baie misverstande. Baie mense dweep met die doop en dit raak 'n obsessie by hulle. Dit veroorsaak baie keer ongebalanseerde en dwase strydvrae met die gevolg dat Christene twis oor die…
Vergifnis
Vergifnis is ‘n opdrag in die Woord van God (Matt 6:14, 15; Mark 11:25, 26; Luk 6:37; Efes 4:32 en Kol 3:13). Sonder vergifnis is daar geen bevryding van die seer en pyn wat ander jou aangedoen het nie. Die…

Lees meer

Loose Lips Sink Ships
I know this has been used as a catchphrase by the military in referring to ships. However, I believe it could be applied to each one of us today. Loose lips can sink more than naval ships. They can…

Read more

Questions Answered

Questions Answered

Being a Christian and drinking alcohol, what does the Bible say?
The Dangers of Moderate Drinking
John B. Gough (1817-1886) Born in Sandgate, Kent, England in 1817, Gough immigrated to the United States when he was only twelve years old. His mother and sister also came to America. His mother died of a stroke and Gough,…

Read more

Beer and Wine: The Bible’s Counsel
Doesn't the Bible refer in a number of places to wine and strong drink? Don't we quite often find people drinking alcohol in the Bible? Can't we assume, then, that Scripture generally does not condemn drinking alcoholic beverages? It's true that…

Read more

A collection of articles written by FB Meyer. Practical advice for the daily Christian life.

A NEW YEAR is opening before us, and there is some satisfaction in feeling that an opportunity will be afforded of making a really new start. Each true heart in which there is a spark of the Divine life turns eagerly towards the unblemished page, the untrodden way, of the…
BENEATH all exaggeration there is a basis of truth. When an American said that the whey which flowed from the making of a large cheese in his country was sufficient to run three sawmills; and when another affirmed that the soil of his farm was so prolific that the tendrils…
To be straight is to be true. There is no more important exhortation on the page of Scripture, than where the Apostle says, "Whatsoever things are true . . . think on these things." A friend of mine, educated in one of our great English schools, says that the most formative words of…
WHAT a shadow is cast over lives and homes by bad tempers! It is Sunday morning, God's day of rest and peace, when the worry and rush of the world should be quiet, and the voices of newspaper boys and hawkers of small wares should be still. A family of…
No flirting, young people, please! You cannot flit around the flame without the risk of burning your wings; and remember, if these are lost, you cannot get another pair; you may be able to crawl or limp, but you will never again bask in the sunbeams or dance with merry-hearted…
LONGFELLOW'S village blacksmith felt that "something accomplished, something done," had earned a night's repose; and I suppose that he did little else than shoe the farmers' horses, or put new shares to their ploughs; yet he had the perpetual consciousness that he was doing something in the world, contributing to…
No wonder that the common people hung on Christ's words. He was a Master of the Art of Illustration, because he sought his emblems, not from remote corners of creation, or its recondite processes, but from the common incidents of ordinary human experience. Salt and light, birds and lilies, gates…
Everyone needs some guidance on where to start reading and how to read their Bible. Below are Afrikaans & English printables - give it to every young believer that you give a Bible to.
Tips on reading your Bible

Where should I start?

Start by reading a chapter in the morning and evening. Mark in your Bible and write in a notebook everything that stands out in the chapter you read.

Read more

Wenke om jou Bybel te lees

Waar moet ek begin?

Lees jou Bybel in orde, moet nooit rondspring tussen boeke en hoofstukke nie. Hou by jou lees skedule, as jy laas Markus 1 gelees het lees jou nou Markus 2.

Lees meer

Heiligmaking

'n Rein hart gevul met die Heilige Gees

/Volkome%20Heiligmaking
Met die ondervinding van wedergeboorte (Joh. 3:3) én die bevestiging daarvan deur die getuienis van die Heilige Gees (Rom. 8:16), vind ‘n radikale verandering van lewenswyse plaas (2 Kor. 5:17). Hierna volg ‘n proses van selfontdekking wat lei tot die behoefte aan ‘n dieper innerlike verlossing (vrymaking) en reiniging van die inwonende sonde asook die vervulling met die Heilige Gees.
/Gaan
aan%20na%20Volwassenheid
In Heb 3 & 4 wys die skrywer vir ons die wonderlike belofte van God se rus, wat ‘n rein en oorwinnende lewe in Christus is. Hy vertel van hierdie belofte, en dan vermaan hy die Hebreërs in hoofstuk 5:12-14 dat hulle moet voortgaan na volwassenheid want hulle is nog kinders in die geloof.
/Die%20pad%20na%20Heiligmaking
Hier besef die weergebore Christen dat ‘n dieper werk in sy hart benodig word. Dat daar dinge is waaraan hy dalk nog vasklou of sonde wat hy nie wil laat staan nie of hy twyfel en vertrou God nie volkome nie. Hier gaan ons kyk na wat die stryd in ons binneste is en hoe om die pad na heiligmaking te begin.
deur Marius Wolfaardt Christen Leefstyl
Kol 2:6: Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, 1. Watookal die Here vir jou sê, doen dit. Joh 2:5 “Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.” - Moenie meer of minder doen nie, doen net dit wat Hy gesê het. Matt 28:20 “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” – As ek doen wat Hy sê sal Hy met my wees. Doen wat Jesus sou gedoen het. Meet alles altyd hieraan.
by Marius Wolfaardt Christian Lifestyle
Col 2:6 As therefore ye received Christ Jesus the Lord, so walk in him, 1. Whatever the Lord tells you to do, do it. Joh 2:5 “His mother saith unto the servants, Whatsoever he saith unto you, do it.” Don't do more or less, but, just that which He tells you to do. Mat 28:20 “teaching them to observe all things whatsoever I commanded you: and lo, I am with you always, even unto the end of the world.” If you do what He tells you to do, He will be with you unto the end of the world. Always do what Jesus would do, measure everything according to this rule.
deur Marius Wolfaardt Christen Leefstyl
Hoe hanteer ek dit?

Mat 5:4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.
Binne in die moeilike tye is die Here reeds besig om iets nuuts te maak, al sien jy dit nie raak terwyl jy in die vuur is of deur die rivier gaan nie. God het ‘n plan. Rou is natuurlik en is iets wat moet gebeur, dit is ‘n proses om deur te werk, maar daarna moet jy ook aan beweeg en nie hier vasval nie.

Assurance of Salvation

Seker</p>heid
Is jy weergebore?

Seker

heid

Om te WEET DAT JOU SONDE VERGEWE IS en dat Jesus nou in jou hart woon.
Lees meer
Rebirth
What Why How..?

Rebirth

What the Bible teaches us about being born again.
Read More
 Weer</p>gebore
Wat Hoekom Hoe..?

Weer

gebore

Wat die Bybel ons leer van wedergeboorte.
Lees meer
English Sermons

English Sermons

Here is a link if you would like to listen to audio sermons by various preachers. Promoting Genuine Biblical Revival.

Go to website