Studies in Christelike Heiligheid
Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)
Opsomming: Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.
12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid
Sleutelteks
"Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is" (Matt. 5:48).
Sentrale waarheid
Die krisis van volkome heiligmaking vervolmaak die gelowige in die liefde en stel hom tot effektiewe diens in staat.
Les
Kolossense 1:25-29
25 [die gemeente] waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul,
26 naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges,
27 aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.
28 Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel;
29 waarvoor ek arbei en stry volgens die werking wat in my werk met krag.
1 Johannes 4:15-18
15 Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom, en hy in God.
16 En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
17 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid
18 Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.
Efésiërs 3:14-19
14
15 van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang,
16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens,
17 sodat Christus deur die geloof in julle harte
18 en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is,
19 en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul
Uiteensetting van die Les
Inleiding
Op verskeie terreine van die lewe word volmaaktheid van ons verwag en selfs beveel. Op die terreine van die medisyne en tegnologie is niks minder as volmaaktheid aanvaarbaar nie. Baie mense verwag volmaaktheid op elke lewensterrein behalwe op morele en geestelike gebied. Die apteker moet volmaaktheid in die verskaffing van sy medisyne handhaaf, maar die Christen mag nie van morele of geestelike volmaaktheid praat nie.
Die idee van Christelike volmaaktheid is nie ‘n nuwe idee nie, en word ook nie net deur ‘n paar groepies selfmisleide mense aan die rand van die samelewing verkondig nie. Volmaaktheid is ‘n duidelike Bybelse beginsel. Die term “volmaak” of “volmaaktheid” word verskeie kere in die Bybel gebruik, en in baie gevalle verwys dit uitdruklik na die Christen se karakter.
Volmaaktheid word in Deuteronómium 18:13 en Mattheus 5:48 beveel. In Hebreërs 6:1 word dit as ons ideaal gestel, en in Hebreërs 13:20-21en 2 Kor. 13:9 word hierom gebid. In Filippense 3:15 word hiervan getuig.
Iets word as volmaak beskou as dit aan die doel beantwoord waarvoor dit beplan is. Dit is nie nodig dat ‘n stoof die werk van ‘n koelkas moet kan doen om ‘n volmaakte stoof te wees nie. As dit goed kan bak en kook is dit ‘n volmaakte stoof. Die feit dat Christene nie soos die engele is nie, beteken nie dat hulle onvolmaakte Christene is nie.
Indien God nie ‘n volmaakte werk van verlossing en reiniging kan doen nie, dan kan niemand verwag om volmaak te wees nie. Indien Hy egter wél so ‘n volmaakte werk kan doen, dan moet die Christene Hom toelaat om alles vir hulle te doen wat Hy beplan het. ‘n Christen moet sekerlik so volmaak wees as wat die genade van God, deur die krag van die Heilige Gees, hom in staat kan stel om te wees.
1. ‘n Volmaakte voorstelling (Kolossense 1:25-29)
Waarvan ek ‘n dienaar geword het (v. 25). Paulus was nie net gerieflikheidshalwe of deur sy eie keuse ‘n leraar nie, maar deur oortuiging. Die Here het hom gekies en in staat gestel om ‘n leraar te kan wees, en hom ook in die bediening gestel. In Efésiërs 4:11-12 noem hy die groot doel met sy bediening, naamlik om die heiliges “toe te rus” vir hulle dienswerk – m.a.w. te vervolmaak.
Die verborgenheid wat… nou geopenbaar is aan sy heiliges (v. 26). ‘n Verborgenheid is ‘n waarheid wat nie deur die mens se intellektuele vermoë ontdek kan word nie, maar dit word deur God geopenbaar en in die geloof aanvaar deur diegene aan wie dit geopenbaar is. Die Ou Testamentiese profete het baie dinge geprofeteer wat hulle nie self ten volle verstaan het nie. In die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur en Homself in Hom as die Verlosser van die mensdom geopenbaar. Christus is die lewende selfopenbaring van God aan die mens.
God wou… hierdie verborgenheid onder die heidene bekend maak (v. 27). God se doel om Abraham en sy afstammelinge te kies, was om Homself aan die nasies bekend te maak. Israel het in hierdie doel misluk. Die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid is Christus wat in die Christen woon, die inspirerende hoop van die heerlikheid.
Hom verkondig ons… om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel (v. 28). Paulus se prediking het soms oor “dinge” gegaan, maar dit was basies ‘n boodskap oor “’n Persoon”. Hy het Christus verkondig. Hy het Christus ook met die beste wysheid tot sy beskikking verkondig. Hy het waarskuwings en onderrig in sy prediking met ‘n besliste doel gedoen, naamlik om elke mens by die wederkoms volmaak in Christus Jesus voor te stel. Hy het met ‘n duidelike sin van verantwoordelikheid gepreek.
Waarvoor ek arbei en stry volgens die werking wat in my werk met krag (v. 29). God het met krag deur Paulus gewerk. Hierdie werking het nie daartoe gelei dat Paulus rustig teruggesit en toegekyk het hoedat die Here werk nie. Hy het met ‘n ooreenstemmende persoonlike ywer vir dieselfde saak op God se werking gereageer. Hy het saam met die Here vir die vervolmaking van die heiliges gewerk.
2. ‘n Volmaaktheid wat ontvang is (1 Johannes 4:15-18)
Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is (v. 15). Christus is die sentrale, kardinale skakel tussen mense en God. God sal niemand aanneem wat weier om die Seun van sy liefde te erken en aan te neem nie. Elkeen wat uit die beginsel van ‘n liefdevolle geloof openlik en ten spyte van gevaar en opposisie bely dat Jesus die Seun van God is, bly in Hom.
En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo (v. 16). Hierdie kennis is dit wat deur ondervinding opgedoen is. ‘n Mens mag van die liefde van God gehoor het en dit ook aan ander vertel, sonder om dit self te ken. Jy behoort egter veel van die liefde wat God vir ons het, te weet omdat jy dit self ervaar het. Jy kan nie in die Here woon, of Hy in jou, sonder die teenwoordigheid of bewussyn van sy liefde in jou nie.
Hierin het die liefde by ons volmaak geword (v. 17). God wat in die Christen woon en die Christen wat in God woon, is wat Christelike volmaaktheid beteken. Wanneer die Christen homself volkome aan God toewy, aanvaar God hom en vervul hom met die uitsluiting van alle sondige neigings en morele verdorwenheid wat in stryd met sy liefde is. Volmaakte liefde is die essensie van Christelike volmaaktheid. Die eerste en grootste gebod is volmaakte liefde teenoor God, ander mense én jouself. Dit is volmaakte liefde wat aan jou vrymoedigheid vir die oordeel gee. Volmaakte liefde gee aan die Christen die kalm sekerheid dat ons regter ook ons vriend is, en dat daar vir ons geen veroordeling is nie. Hierdie vrymoedigheid is nie gebaseer op die idee dat daar geen oordeel vir die goddelose is nie, maar deur die vaste wete wat die Gees van God in ons harte gee dat ons versoening met Hom volmaak is. Soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Ons is nie in mag, wysheid en heerlikheid soos die Here nie, maar ons deel sy morele reinheid.
Daar is geen vrees in die liefde nie (v. 18). Die hele verband dui aan dat die vrees wat nie saam met die volmaakte liefde kan bestaan nie, die vrees vir die straf en oordeel van God is. Die liefde wat die bewussyn bring dat ‘ons regter ook ons vriend’ is, verdryf alle vrees oor wat die toekoms vir ons inhou. God het aan die mens ‘n sin van vrees vir die onbekende en vir gevaar gegee. Die vrees wat jou van ‘n giftige slang of ‘n brandende gebou af laat weghardloop, is ‘n gawe van God en as sodanig nie strydig met die volmaakte liefde, of met Christelike volmaaktheid nie.
3. ‘n Volmaaktheid wat ‘n werklikheid is (Efésiërs 3:14-19)
Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader… van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang (v. 14-15). Paulus was oor die Christene in Éfese besorg en wou nie hê dat hulle ontmoedig moes word of wanhopig raak oor die vervolging wat hy ter wille van hulle verduur het nie. Hy het hulle verseker van sy gebede vir hulle as deel van die groot familie van God.
Dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikeid (v. 16-19). Die gawes van God is in ooreenstemming met sy volmaakte karakter. Hy gee nie net “uit” die rykdom nie, maar “na” die rykdom van sy heerlikheid. God kan nie net ‘n bietjie gee, of goedkoop wees in sy gawes nie. Om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens. Paulus deel met die gemeente die gebedsversoeke wat hy op sy knieë vir hulle gemaak het:
1. Dat die Heilige Gees in hulle mag woon om hulle met krag te versterk.
2. Dat hulle in die liefde gewortel, gegrond en bevestig sal wees as gevolg van Christus se inwoning in hulle.
3. Dat hulle deur ervaring van die verstandelik onbegryplike liefde van Christus bewus sal word.
4. Dat God vir hulle volheid en vervulling sal bring. Aan hierdie volheid moet nie as volpropping gedink word nie, maar as versadiging.
Ons moet erken dat Paulus die Christelike lewe as ‘n geestelike lewe gesien het wat tot groot dieptes van toewyding en hoë hoogtes van ontwikkeling in staat is.
Die gebed word afgesluit met die versekering dat God in staat is om dit in ons en vir ons te doen, want “Hy het mag om te doen ver bo alles wat ons bid of dink.” Wat Hy wél vir ons sal doen, sal afhang van die krag van die geloof wat in ons werk. Christus sal deur alle ewigheid waardig wees van die eer en heerlikheid wat Hom toekom vir sy groot verlossing en instaatstellende krag vir ons.
Kommentaar oor die Sleutelteks
Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is (Matt. 5:48).
In die voorafgaande verse (v. 43-47) het Jesus oor goddelike liefde gepraat, waarin Hy God se goedheid en liefde beskryf teenoor diegene wat Hom liefhet. In vers 48 roep Hy sy volgelinge op om volmaak te wees soos ons hemelse Vader volmaak is. Hieruit is dit duidelik dat die volmaaktheid wat Jesus van sy volgelinge verwag, volmaaktheid in liefde is. Ons liefde vir andere moet nie afhanklik wees van hoe hulle ons behandel nie, want volmaakte liefde sluit ook liefde vir ons vyande in. Wesley en andere verwys hierna as Christelike volmaaktheid. Die res van hierdie afdeling is ‘n uittreksel uit John Wesley se boek, A plain account of Christian perfection:
1. Daar is so-iets soos volmaaktheid, want dit word oor en oor in die Bybel genoem.
2. Dit vind nie so vroeg as regverdigmaking plaas nie, want geregverdigde persone moet nog “na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 6:1).
3. Dit is nie so laat as die dood nie, want Paulus praat van lewende mense wat volmaak is (Fil. 3:15).
4. Dit is nie absoluut nie. Absolute volmaaktheid behoort nie aan mense en ook nie aan engele nie, maar net aan God alleen.
5. Dit maak die mens nie onfeilbaar nie, want niemand is onfeilbaar terwyl hy nog in sy liggaam is nie.
Die volgende is vrae wat n.a.v. Wesley se leer oor Christelike volmaaktheid deur ander Christene aan hom gestel is. Sy antwoorde word verstrek:
“Wat is Christelike volmaaktheid dan?”
“Dit is om God met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou kragte lief te hê. Dit impliseer dat geen verkeerde temperament of verkeerde liefde in die siel oorbly nie, en dat al die gedagtes, woorde en dade deur ‘n suiwer liefde beheer sal word.”
“Bevestig u dat hierdie volmaaktheid alle swakhede, onkunde en foute uitskakel?”
“Ek bevestig voortdurend net die teenoorgestelde, en het dit nog altyd gedoen.”
“Maar hoe kan elke gedagte, woord en daad deur ‘n suiwer liefde beheer word, terwyl die persoon terselfdertyd aan onkunde en foute blootgestel is?”
“Ek sien geen teenstelling hierin nie. ‘n Persoon kan met suiwer liefde vervul wees en steeds foute maak. Ek verwag nie om van foute bevry te wees voordat hierdie sterflike liggaam met ‘n onsterflike vervang is nie. Foute is ‘n natuurlike gevolg van die siel se inwoning in vlees en bloed. Ons kan nou slegs dink deur die bemiddeling van liggaamlike organe wat saam met ons liggaam gely het as gevolg van die sondeval. Ons kan dit dus nie verhelp om soms verkeerd te dink nie, totdat hierdie verganklike met onverganklikheid beklee sal wees.
“Só ‘n persoon voldoen nie aan my idee van ‘n volmaakte Christen nie, en miskien sal niemand ooit hieraan voldoen nie.”
“U idee gaan dalk verder as die Bybelse weergawe, of ten minste langs dit. U sluit miskien meer daarin as wat die Bybel insluit, of wat die Bybel glad nie as ‘n deel van volmaaktheid bedoel nie. Christelike volmaaktheid is suiwer liefde wat die hart vervul, en ‘n persoon se woorde en dade beheer. Indien u idee enigiets meer of enigiets anders insluit, is dit nie Bybels korrek nie. Geen wonder nie dat ‘n Bybels volmaakte Christen nie aan u idee of beskrywing kan voldoen nie.
“Stel hierdie volmaaktheid in sy oorspronklike, Bybelse vorm voor, dan kan niemand ‘n woord teen dit sê nie. Wil iemand miskien iets daarteen sê om die Here jou God met jou hele hart lief te hê en jou naaste soos jouself; teen die vernuwing van die hart, nie slegs gedeeltelik nie, maar na die volle beeld van God? Wie kan sy mond oopmaak teen die reiniging van alle besoedeling van die vlees en die gees; of om die sin van Christus te hê en in die dinge wat Hy gedoen het, in sy voetspore te volg? Watter ernstige persoon kan die gee van jou hele hart aan God opponeer, of een begeerte wat al jou temperamente beheer? Ek sê dit weer: laat hierdie Christelike volmaaktheid in sy eie vorm voorgestel word, en wie kan dan teen dit veg?
“Is ons julle vyande omdat ons ‘n volle verlossing verwag van die vleeslike natuur wat in vyandskap teen God is? Nee, ons is julle broeders… Maar ons bely die vereiste dat ons God met ons hele hart moet liefhê, en ons naaste soos onsself. Ja, ons glo dat Hy in hierdie wêreld ons gedagtes en harte só deur die inspirasie en inwerking van sy Heilige Gees sal reinig, dat ons Hom met ‘n volmaakte liefde sal liefhê en op ‘n waardige wyse sy heilge naam sal grootmaak.”
Leerstellige Bespreking
Daar is in baie kringe groot misverstande oor die die begrip “volmaak”. Hierdie vrese is deur sowel die opponente as sekere ondersteuners van ‘n tweede genadewerk geskep. Sommige ondersteuners van hierdie siening het die standaard só hoog gestel dat niemand ooit daaraan kan voldoen nie. Hulle beweer dat jy só volmaak moet wees dat geen dwalende gedagte, geen verkeerde idee of enige ontmoediging oor die geheiligdes kan kom nie. Hulle het heiligmaking met verheerliking verwar! Hulle het vergeet dat die Bybel sê: “Ons het hierdie skat in erdekruike” (2 Kor. 4:7). Hulle siening is dalk net so sleg as dié van die opponente van volmaaktheid, want laasgenoemdes hoef net te bewys hoe menslik die voorstanders is om sodoende hulle leer verkeerd te bewys.
Daar is geen volmaaktheid wat die moontlikheid van oordeelsfoute en begripsfoute uitsluit nie, en selfs ook nie mislukkings en neerlae in menslike pogings nie. Geen geloofwaardige heiligheidsleraar het ooit aanspraak daarop gemaak dat daar só ‘n soort volmaaktheid is nie. Dit is geen weerlegging van die Wesleyaanse leer oor volkome heiligmaking om sulke klaarblyklike onvolmaakthede aan te toon nie. Niemand is meer daarvan bewus as diegene wie se harte waarlik volgens die sin van Jesus Christus funksioneer nie. Die volmaaktheid waarvan ons praat, en wat ons ook aan ‘n verloregaande wêreld probeer toon, is volmaakte liefde (1 Joh. 4:17; 5:3).
Volmaaktheid, of volkome heiligheid, bestaan uit ‘n hart wat só reingemaak is dat die motiewe en bedoelings daarvan moreel rein is. Die gees van die mens word in ‘n oomblik na ‘n hemelse standaard herskep, maar sy verstand reageer nie vinnig op die innerlike geestelike vernuwing nie.
Net soos wat die eerste werk van genade slegs deur genade en slegs deur die geloof is, word die tweede werk ook op dieselfde wyse verkry. Wat die Heilige Gees ook in die vorm van verootmoediging en belydenis mag vereis voordat die vleeslike natuur gekruisig word, is ‘n saak tussen jou en die Here. Dit is belangrik dat ons mense sal hê wat hierdie genade deelagtig geword het, eerder as ‘n groot antal wat net nabootsers daarvan is! Die nabootsers lei ‘n onvervulde lewe omdat die dieper werk van die Here nog nie in hulle gedoen is nie. Daar is ‘n paar algemene stappe en ervarings vir alle mense op pad na volkome heiligmaking:
1. Ons sal van die noodsaaklikheid van hierdie werk oortuig word.
2. Ons sal besef dat dit op grond van Christus se versoening tot ons beskikking is.
3. Ons sal in gebed tot die Here nader om hierdie ondervinding te soek.
4. Ons sal die Here toelaat om ons vleeslike natuur te kruisig en te vernietig, sodat ons harte gereinig en geheilig kan word.
5. Ons sal in die geloof aanvaar dat hierdie werk gedoen is, terwyl die Heilige Gees ook saam met ons gees getuig dat die werk gedoen is.
6. Reinheid van hart en rein morele beginsels sal die gevolg va hierdie ondervinding wees.
Ons moet onthou dat alhoewel ons harte gereinig is, daar nog ‘n menslike element in ons is wat eers met die opstanding en verheerliking vervolmaak sal word. Dit is waarom ‘n volkome geheiligde persoon oordeelsfoute kan begaan, met gevolge wat smarte aan sy siel kan besorg wanneer hy daarvan bewus word.
Hoewel die hart se motief om iets te doen, suiwer mag wees, het dit slegs die kanaal van ‘n onvolmaakte liggaam om homself aan die wêreld te openbaar. Hoe dikwels wou ons een gedagte of saak oordra, wanneer iets heel anders deur ons hoorders verstaan is. Dit is soos lig wat op ‘n meer skyn en die illusie skep dat ‘n vis op ‘n sekere plek is. Wanneer jy hom met ‘n spies probeer steek, dan mis jy hom! Sulke foute is die deel van geheiligde mense terwyl ons hier op aarde is. Soms doen ons iets met die beste en mees geheiligde bedoelings, net om deur mense volkome verkeerd beoordeel te word. Hulle neem nie in ag dat ons menslike manier van kommunikasie onvolmaak is, en dat ons suiwer motiewe gedeflekteer kan word deur ons persoonlikheid waaraan ons nog steeds met die hulp van die Here werk nie!
Laat ons seker maak van ons eie ondervinding van ‘n tweede werk van genade en dit voortdurend beoefen, terwyl ons altyd onthou dat die beste definisie daarvan “volmaakte liefde” is. Liefde streef na die beste belange van andere, daarom sal ons mense na hoër hoogtes probeer lei, eerder as om hulle deur onnadenkende kritiek af te breek.
Vrae en Antwoorde
Hierdie les handel oor Christelike volmaaktheid. Mattheus 5:48 vermaan ons om volmaak te wees soos wat God volmaak is. Die volgende vrae en antwoorde sal ons help om beter te verstaan wat Christelike volmaaktheid is:
1. Wat is Christelike volmaaktheid?
Hierdie begrip beklemtoon die volkomenheid van die Christelike karakter soos deur die genade van die Here verander. Dit maak van jou geestelik die persoon wat die Here wil hê dat jy moet wees, met die regte begeertes en motiewe ten spyte van menslike beperkings en onvolmaakthede.
2. Wat is sekere dinge wat nie deur Christelike volmaaktheid bedoel word nie?
(1) Dit is nie absolute volmaaktheid nie. Net God is absoluut volmaak. Mense kan steeds foute maak, al is hulle ook volkome geheilig. (2) Ons is nie volmaak in kennis nie. Mense kan foute van oordeel en opvattings maak, gedeeltelik as gevolg van die sondeval. Ons het nie al die antwoorde oor geestelike én ander sake nie. (3) Dit beteken nie dat ons nie versoek kan word en ook nie sonde kan doen nie. Ons kan ten spyte van volkome heiligmaking nog steeds versoek word. Ons kan verkies om aan die versoeking toe te gee, maar ons hoef nie. (4) Christelike volmaaktheid maak ons nie immuun teen menslike beperkings nie. Ons word nog steeds siek, moeg depressief en ontmoedig, en sê en doen verkeerde dinge.
In wese verwyder Christelike volmaaktheid nie die vermoë om te faal, foute te maak en selfs te sondig nie. Meningsverskille, verkeerde oordeel en ander foute mag nog voorkom. Soms is vergifnis nodig om weer situasies reg te stel. Heiligheid van hart neem nie die menslikheid van die lewe weg nie.
3. Waarom is daar die opvatting onder sekere Christene dat hulle ná volkome heiligmaking geen foute kan maak nie?
Die grootste rede hiervoor is onkunde. In Christelike volmaking word die motiewe, houdings, begeertes en toestand van die hart voor God reggestel. Dit beteken glad nie dat die geheiligde persoon as mens bokant foute, verkeerde oordeel en selfs sonde verhewe is nie.
4. Wat moet ‘n geheiligde persoon doen nadat hy ‘n fout gemaak en gesondig het?
a. Moet nooit opgee nie! Die duiwel sal alles probeer om jou te laat faal en van jou oortuigings te laat afsien. Onthou dat ons foute kán maak.
b. Bid om die vergifnis van enige sonde, en vra die Here om jou te help en te lei om in die toekoms nie weer te sondig en foute te maak nie.
c. Erken jou foute en sondes teenoor ander mense, en stel die saak reg. Onthou dat mense ‘n probleem met ‘n “holier than thou” gesindheid het. Wees dus bereid om nederig te wees en jou foute te erken. Deur dit te ontken sal jy die vertroue in jou én jou heiligheidsleer ernstig ondermyn.
d. Onthou dat die beste antwoord soms stilswye is. Ons hoef nie altyd op vrae en kritiek oor ons te reageer nie. Deur ‘n vriendelike glimlag en deur stil te verdwyn, kan jy soms ‘n probleemsituasie ontlont.
e. Bid vir die leiding, krag, genade, wysheid en hulp van die Here.
f. Volg die goue reël van liefde.
6. Sal daar ooit ‘n tyd wees wanneer die heiliges sal kan lewe sonder om foute te maak?
In hierdie lewe sal ons altyd aan versoekings en foute onderworpe wees. Dit is eers by die opstanding en die wegraping dat ons verheerlik sal word en geen foute meer sal maak nie.
7. Hoe moet ons tot daardie tyd in die lig van ons beperkings lewe?
Ons doel moet wees om altyd God se wil en sy leiding te soek en te volg. Omdat ons van ons beperkings bewus is, moet ons grootmoedig genoeg wees om dit te erken en ons foute reg te stel. Van sonde moet ons onsself natuurlik bekeer deur dit te bely en te laat staan. Alle pogings moet aangewend word om binne die grense van ons vermoëns en deur die genade van God, reg te lewe. Ons kán oorwinnend leef tot die einde toe!
DIE VOLMAAKTHEID VAN GOD IN MY
Een nag toe ek die straat oorsteek, het ek skielik die helder gelui van ‘n klok bokant my gehoor. Toe ek opkyk, het ek ‘n toring gesien waarin daar ‘n groot horlosie was wat deur sy klokkespel die middernaguur aangekondig het. Ek het my horlosie uit my sak gehaal, en sy dun wysertjies het presies op 12-uur gestaan.
Dit het skaars moontlik gelyk dat die klein meganisme in my hand presies tyd kon hou met die reuse masjinerie wat ‘n hele toringvertrek gevul het, maar die bewys was voor my. Ek het na die twee pare wysers van sulke uiteenlopende afmetings gekyk. Soos nooit tevore nie het ek verstaan dat die mees onbelangrike mens hier op aarde wat skoon, in ‘n goeie werkende toestand en goddelik beheer is, met God self ingestel kan wees. “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”
WORD VERVUL MET DIE GEES
Ek het te perd tussen Melbourne en my huis gery en dikwels by ‘n trog langs die pad stilgehou sodat die perd water kon drink. Die trog was altyd vol water. Ek het gemerk dat daar aan die een kant ‘n pyp en ‘n vlotterklep was met ‘n bal wat op die water gedryf het. Soos wat die perd gedrink en die watervlak gedaal het, het die bal gesak en die klep oopgemaak. Water het dan van die reservoir af op die rantjie na die trog gevloei om dit vol te hou sodat die dorstige diere kon drink.
Dit is ook so met die siel van die gelowige. Ongeag wat die uitvloei na die omringende leegheid mag wees, of die onttrekking deur dorstige, behoeftige siele, is daar altyd ‘n konstante “volheid”. Die uitvloei is direk van die invloei afhanklik, en ons
‘N DEFINISIE VAN VOLMAAKTHEID
John Fletcher het Christelike volmaaktheid as ‘n konstellasie beskou wat uit die volgende sterre van genade bestaan:
Volmaakte bekering.
Volmaakte geloof.
Volmaakte nederigheid.
Volmaakte selfverloëning.
Volmaakte aflegging van die ou lewe.
Volmaakte hoop.
Volmaakte liefde vir alle mense – ook vir ons vyande.
Volmaakte liefde vir ons onsigbare God.
Inhoud
1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe
2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe
3. Die Betekenis van Heiligmaking
4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe
5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe
7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe
8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk
9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms
10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe
11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings
12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid
13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid