Studies in Christelike Heiligheid
Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)
Opsomming: Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.
11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings
Sleutelteks
"Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het" (Ef. 4:32).
Sentrale waarheid
Dit maak ‘n groot verskil in ‘n Christen se houdings wanneer hy met die Heilige Gees vervul is.
Les
Judas 1:20-25
20 Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid
21 en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.
22 En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys;
23 maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.
24 Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25 aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.
Filippense 2:14-16
14 Doen alles sonder murmurering en teëspraak,
15 sodat julle onberispelik en opreg
16 deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ‘n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie.
Romeine 12:9-13
9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;
10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;
11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;
12 verbly julle in die hoop, wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.
13 Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid.
Uiteensetting van die Les
Inleiding
Toe John Wesley ‘n stryd gehad het om sy geestelike verhouding met God en sy intellektuele verstaan van die Bybel op ‘n vaste grondslag te kry, het hy die raad van ‘n meer volwasse Christen oor ‘n lewe van totale afsondering gevra. Hierdie persoon het aan die jong Wesley gesê: “Seun, die Here weet niks van ‘n kluisenaarsgodsdiens nie.” Die Bybel is baie duidelik daaroor dat Christene nie hulle lig onder ‘n maatemmer moet verberg nie, maar die lig van die evangelie deur goeie werke moet laat skyn sodat die Vader verheerlik kan word. As die sout van die aarde moet hulle ook ‘n behoudende invloed op die morele standaard van die gemeenskap hê.
‘n Lig het sy grootste voordelige effek wanneer dit in die mees intense duisternis skyn. Sout is ook die nodigste waar die bederf op sy ergste is. Die heiliges se teenwoordigheid word veral benodig waar sonde en boosheid baie prominent is. Die Here wil nie hê dat Christene deur Fariseëragtige isolasie hulle hoop en pogings moet laat vaar om ‘n korrupte samelewing te evangeliseer en te hervorm nie. Sy begeerte is dat die heiliges, vervul met die goddelike liefde van sy Heilige Gees, aktiewe getuies in die samelewing sal wees. Om hierdie rede moet geesvervulde Christene daarna streef om sleutelposisies in die samelewing te beklee. Die genade van God en die toewyding aan sy wil sal ons in staat stel om voortreflike diensknegte van die samelewing te wees.
1. Ons verhouding teenoor onsself (Judas 1:20-25)
Bou julleself op… en bid in die Heilige Gees (v. 20). As Christene die Here en die samelewing doeltreffend wil dien, moet hulle op hulself ag gee (1 Tim. 4:16). ‘n Mens se eie geestelike toestand moet nie van willekeurige beginsels en toevallige handelinge afhanklik wees nie, maar van doelgerigte, persoonlike toewyding en die gebruik van goddelike genademiddels. Jou geestelike opbouing is daarvan afhanklik dat jy deur die geloof in die Heilige Gees sal bid. Die Here kan ‘n Christen nie sonder sy aktiewe samewerking opbou nie.
Bewaar julleself in die liefde van God (v. 21). Die ewige lewe is uitdruklik ‘n gawe van goddelike genade, en kan selfs nie deur die hoogste toewyding tot heiligheid verdien word nie. Net so seker is egter die feit dat ‘n mens nie in die ewigheid die voordele van Jesus Christus se genade sal geniet as jy nie jou volle samewerking gee om jouself in die liefde van God te bewaar nie. Johannes het gesê: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Joh. 5:3).
Wees barmhartig… en haat die kleed wat deur sonde bevlek is (v. 22-23). Dit sal sekerlik ‘n verskil maak as ons barmhartig teenoor andere is om hulle te red en uit die vuur te ruk. Christene moet beslis poog om die verlorenes te help om die Here te vind deur goed vir hulle te wees. In sy pogings om die behoeftiges te help, moet die Christelike werker versigtig wees dat sy kleed nie deur die sondes van die ongereddes bevlek word nie.
Om julle vir struikeling te bewaar en sonder gebrek… te stel (v. 24). Wanneer ons die Here se wil doen deur die soek en redding van hulle wie se lewens deur die sonde besmet is, verkeer ons in gevaar om deur dieselfde sondes besmet te word. Ons het egter die versekering dat die wil van God ons nie sal lei na plekke waar sy genade ons nie kan bewaar nie. Hy kan ons van struikeling bewaar as ons begeer om bewaar te word. Vir die Here om iemand te bewaar, moet dié persoon homself in die liefde van God bewaar, sy eie wil onderworpe hou en homself aan die wil van God oorgee.
Aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid (v. 25). Omdat God die een is wat die sondaar verlos, die gelowige heilig en die een wat versoek word, van struikeling bewaar, kom al die eer en heerlikheid net aan Hom toe vir die groot dade van sy verlossingswerk.
2. Ons verhouding met die wêreld (Filippense 2:14-16)
Doen alles sonder murmurering en teëspraak (v. 14). In die vorige vers is die Filippense daaraan herinner dat dit God is wat in hulle werk om te wil, sowel as om te werk na sy welbehae. In hierdie vers word hulle vermaan om nie oor sy goddelike beskikking te murmureer en te kla nie. Die Here sal die Christene help om teen sonde en boosheid staande te bly, en nie vitterig en foutvinderig te wees nie. Dit is nie ‘n aanbeveling vir ‘n kind van God as hy net kan kritiseer en veroordeel sonder om eer te gee aan dié aan wie eer toekom nie (Rom. 13:7).
Sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God (v. 15). Dit word vertel dat John Wesley en ‘n vriend, terwyl hulle ‘n ete geniet het, deur ‘n jong kelnerin bedien is wie se hand vol juweliersware was. Die vriend het effens neerhalend aan Wesley gevra: “Wat dink u daarvan?” Sy antwoord was: “Dit is ‘n baie mooi hand.” Wesley se doel was nie om wêreldse gedrag goed te praat nie, maar om die kelnerin misnoë en verleentheid te spaar. Christene wat onverskillig oor die gevoelens van andere is, is nie onberispelik en opreg terwyl hulle moet skyn soos ligte in die wêreld nie. Dit is beter om ‘n lig te wees as om net die duisternis te veroordeel en te bestraf. Niks wys die aakligheid van sonde so duidelik uit as ‘n glansende, bekoorlike, oorwinnende en heilige lewe nie.
Deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ‘n roem (v. 16). Lelies wat ontbind, ruik erger as onkruid. Daar is ‘n wyse waarop die Woord van God oorgedra word, waardeur die God van die Woord verloën word. Dr. Harold Hoyt het sy jong teologiese studente soos volg vermaan: “Menere, julle kan die duiwel op só ‘n duiwelse manier beveg dat julle self duiwels word.” Paulus het die Filippense aangemoedig om die Woord só aan andere oor te dra dat dit vir die hoorder én die boodskapper tot seën sal wees. Wanneer dít gedoen word, sal daar rede tot roem wees wanneer die Here Jesus kom.
3. Ons verhouding met die gelowiges (Romeine 12:9-13)
Laat die liefde ongeveins wees (v. 9-13). Die wêreld van vandag word deur nabootsings, plaasvervangers en vervalsings gekenmerk. Daar is ‘n nabootsing of plaasvervanging vir omtrent enigiets. Daar is sekere nabootsings wat selfs beter as die oorspronklike produk is. Wanneer dit egter by die Christelike liefde kom, is plaasvervangers onaanvaarbaar. ‘n Parafrase van vers 9 lui só: “Laat ons geen nagbebootsde liefde hê nie.” Ware Christelike liefde het verskeie vrugte:
1. ‘n Eerlike breek met boosheid, en ‘n ware toewyding aan die goeie.
2. ‘n Warm toegeneëntheid tot mekaar, soos tussen broers.
3. Die bereidwilligheid om die eer aan die ander persoon te gee, en mekaar sodoende in eerbetoning voor te gaan.
4. Om nie lui te wees nie, maar ywerig in God se werk.
5. Om die vuur van die Gees aan die brand te hou.
6. Om jou hoop in Christus te stel.
7. Om lankmoedig in beproewings en verdrukking te wees.
8. Om gaste wat behoeftig is, vir etes uit te nooi.
Daar moet soveel hartlikheid en mededeelsaamheid onder die heiliges wees, dat die sondaars sal begeer om ook Christene te wees. Baie sondaars word van Christus of van redding afgesit deur die onverskilligheid en wreedheid van Christene teenoor mekaar. Laat ons mekaar nie net in woorde liefhê nie, maar in daad en in waarheid. Hierdie vermaning is nie teen die woordelikse verklaring van ons onderlinge liefde nie, maar dat sulke verklarings ook in die praktyk in werking gestel moet word.
Kommentaar oor die Sleutelteks
Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het (Ef. 4:32).
‘n Heilige godsdiens is die praktiese, alledaagse soort. Die Fariseërs het ‘n seremoniële heiligheid gehad wat hulle van ander mense onderskei het, maar hulle nie van enige praktiese waarde vir die gemeenskap gemaak het nie. Hulle het soos wegwysers langs die lewenspad gestaan, die weg aangewys deur swaar laste op mense te lê, maar self nie die pad bewandel nie omdat hulle dit nie geestelik verstaan het nie. Hulle godsdiens was ongebalanseerd, uiters streng in sekere opsigte, en uiters liberaal in ander opsigte. Daar was geen goedheid of meegevoel vir sondaars nie, slegs veragting en teësin.
Ware heiligheid plaas ‘n persoon in die regte verhouding tot God, homself, ander gelowiges en die wêreld. Die Christene is nie ván die wêreld nie, maar hulle is sekerlik ín die wêreld en het ‘n verantwoordelikheid teenoor dit. Die invloed wat hulle uitoefen maak die wêreld beter óf slegter. Daar is ‘n duidelike behoefte aan meer goeie beïnvloeding.
Goedheid kos min, maar dit beteken so baie. Daar word dikwels meer oor goedheid gepraat as wat goedheid bewys word. Soos die barmhartige Samaritaan, moet geleenthede om goed te doen, raakgesien en benut word. Net ‘n vriendelike woord of ‘n ondersteunende daad, en ‘n persoon wat andersins ontmoedig was, kan weer moed skep.
Neem tyd om heilig te wees, is baie goeie raad. Van net soveel waarde is die opdrag: Neem tyd om goed teenoor andere te doen. Wanneer goedheid van heiligheid af weggeneem word, dan bly daar net ‘n skynheilige Fariseër oor.
Die teks in Efésiërs 4:32 het basies op persoonsverhoudinge in die kerk betrekking. Heiligheid veroorsaak dat die kinders van God mekaar liefhet en ook dienooreenkomstig optree. Toneelspel sal nie help nie, maar slegs ‘n ware liefde wat in jou lewe sigbaar is. Die effektiewe getuienis van heiligheid het in die meeste gemeenskappe verdwyn as gevolg van strydende faksies in die kerk, of persoonlike rusies tussen kerklidmate. Onvergewensgesindheid en ‘n gebrek aan goedheid is twee van Satan se mees doeltreffende metodes om skade aan siele te berokken.
Die Here Jesus het die reël bepaal dat om vergewe te kan word, moet jy ook vergewe. Waar laat dit die verontregte broeder of suster wat ‘n wrok en bitterheid as gevolg van seergemaakte gevoelens teenoor iemand anders koester? Dit is net so geseënd om te vergewe as om self vergewe te word. Vergewensgesindheid vereis nederigheid en dalk selfs die prysgawe van jou regte. Hy wat nie vergewe nie, moet seker maak dat hy self nooit oortree nie.
Tydens Paulus se eerste besoek aan Europa het hy in Filíppi ‘n damesbiduurgroep gekry wat langs die rivier byeengekom het. Jare later het hy aan die gemeente in Filíppi geskryf. In sy brief het hy Euódia en Sintiché vermaan “om eensgesind te wees in die Here” (Fil. 4:2). Hierdie vroue was moontlik lede van daardie eerste biduurgroep. Die duiwel hou daarvan om verdeeldheid tussen ou vriende te bring, en selfs tussen gebedsgenote as hy kan. Paulus was wys om nie kant te kies nie, maar hy het die beëindiging van die verwydering bepleit. Vir ‘n gemeente om sterk te wees, moet daar terselfdertyd ‘n sterk verhouding met God én goeie interpersoonsverhoudinge tussen die lede gehandhaaf word.
Beoordeel jouself in hierdie opsig deur die volgende vraag te beantwoord: Indien jy God behandel soos wat jy ander mense behandel, sal Hy weet dat jy Hom liefhet?
Leerstellige Bespreking
Dit is ‘n fout om te dink dat ‘n rein hart outomaties jou persoonlikheidsafwykings na aanvaarbare sosiale gedrag sal verander. Ons moet ons hele lewe lank aan ons persoonlikheid werk. Romeine 12:2 sê: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Die Griekse woord vir “word verander” ondersteun die gedagte dat ons verander word. Aangesien dit in die passiewe vorm is, dui dit daarop dat ons ‘n verantwoordelikheid in die verandering het om op die leiding van die Heilige Gees te reageer. Hy bring aspekte van ons persoonlikheid onder ons aandag waaraan ons moet werk. Hierdie proses van verandering help om ons te laat besef dat ons verhoudings met ander mense voortdurend na ‘n hoër vlak moet ontwikkel.
Beginnende by Romeine 12:9, word daar ‘n aantal dinge genoem wat ons in ons verhoudings kan help.
Die eerste is om toneelspel, of skynheiligheid, uit ons lewens te hou. Dit is die betekenis van die woord “ongeveins”. Ons moet in alle opsigte eerlik optree en geen bymotiewe hê nie. Ons moet ook in alles wat ons van ander mense sê, ‘n rein gewete behou. Stel ‘n saak dadelik reg as die Heilige Gees jou daarvan oortuig.
William Barclay het gesê: “Daar is so-iets soos vertoonkasliefde wat sy goedkeuring heg aan dié dinge waardeur ‘n persoon bevoordeel kan word. Dit is ‘n selfsugtige liefde waarvan die doel is om veel meer te ontvang as wat daar gegee hoef te word. ‘n Ware Christelike liefde is van die self gereinig. Dit is ‘n suiwer, uitgaande liefde na die harte van andere” (The Letter to the Romans).
Volgens vers 9 moet ons almal liefhê, want dit is ‘n natuurlike gevolg van Christenskap. In vers 10 word daar meer spesifieke verhoudings aangespreek: “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde.” Die Griekse woord philostorgos beteken “gesinsliefde”. In die gesin van God moet daar ‘n dieper liefde tussen sy kinders wees.
Ons verhoudings met mede-Christene moet vir ons blydskap bring en ons moet mekaar voorgaan in eerbetoon. Heilige mense moet die belange van ander hoër as hul eie belange stel. Die ouer broer in die verhaal van die verlore seun is ‘n skreinde voorbeeld van mislukking in hierdie soort gesinsliefde. Mens hoef nie in die Christen-wêreld voorbeelde van dieselfde liefdeloosheid te gee wat ‘n duidelike verbreking van die opdrag oor heilige verhoudings is nie, want dit kom dikwels voor. Dié soort gesindheid word deur jaloesie gemotiveer.
Aangesien ons verhoudings op liefde gebaseer is, word die natuurlike gevolg hiervan in vers 13 gevind: “Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges.” Om liefde te begryp is om te weet dat ons ook moet gee! Liefde soek na die hoogste belang van andere en sluit dus die voorsiening in hulle behoeftes in. Heiligheid en suinigheid is onversoenbaar met mekaar.
Die laaste verhouding wat bespreek word, word in vers 13 genoem: “streef na gasvryheid”. Daar word op baie plekke gesê dat gasvryheid ‘n goeie eienskap is (Heb. 13:2; 1 Tim. 3:2; Titus 1:8; 1 Pet. 4: 9). In elke geval is die woord wat gebruik word, ‘n kombinasie van twee Griekse woorde waarvan die een liefde en die ander vreemdeling is. Ons het nie net ‘n verantwoordelikheid om die broeders wat ons goed ken, lief te hê nie, maar ook die vreemdelinge. Sommige mense het ‘n gawe om jou in hulle huis te laat tuis voel, sodat daar geen spanning op die besoeker is nie. Van sy kant af moet die besoeker ook nie sy gasheer uitbuit nie. Die nakoming van hierdie reëls sal meebring dat beide die besoeker en die gasheer op hulle gemak voel.
Vrae en Antwoorde
Hierdie les handel oor ons verhoudings met ander mense. Verskeie aspekte van ons lewe word deur gesagspersone beïnvloed. Sommige daarvan word in die volgende besprekingsvrae genoem sodat die waarhede oor ons verhoudingslewe beter begryp kan word:
1. Een aspek van ons verhoudings het met gesag in die algemeen te doen. Daar is baie gesagspersone in ons lewe. Wat behoort ons houding en reaksie teenoor gesag in ons lewe te wees?
God is ‘n alomteenwoordige, almagtige, genoegsame en ewige Skepper. Hy het bepaal dat beperkte mense binne sekere grense van dit wat Hy geskape het, sal leef, bv. die natuurlike wette.
Die mens moet ook God se morele wette onderhou om Hom te behaag. God beklee ‘n regmatige gesagsposisie oor die mens. Die waarlik geheiligde persoon is op alle lewensterreine aan die wil van God onderdanig. Hy ontwyk of weerstaan nie God se gesag om elke hoek en draai nie. Sy houding is eerder om God se wil te ken en te doen.
God het die gesin in die Tuin van Eden ingestel. Dit is sy begeerte dat kinders gehoorsaam aan die gesag van hulle ouers moet wees (want hulle simboliseer God se gesag oor ons). Respek en onderdanigheid aan ouers maak respek en ondanigheid aan ander gesagspersone (insluitende God) baie makliker.
Daar is ook gesagspersone in die regering. Die Bybel sê: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Matt. 22:21). Ons word verder vermaan om ons te onderwerp aan die magte wat oor ons gestel is (Rom. 13:1). Ons het die verpligting om die regeringsinstellings te respekteer en te gehoorsaam so lank as wat hulle nie God se wette verbreek nie. Wanneer die behoorlike kanale gevolg word, kan ‘n mens ook jou ontevredenheid met die regering se wette of besluite te kenne gee.
Die mense kyk na ons lewens. Indien ons nie aan gesagspersone in ons huise, kerke, werksplekke, dorpe, stede of die land onderdanig is nie, dan kan die logiese gevolgtrekking gemaak word dat ons ook nie aan God onderdanig is nie. Ons invloed vir dit wat reg is, kan erg geknou word as mense sien dat ons gesagspersone en -instellings verontagsaam of verwerp.
2. Wat is die regte verhouding wat daar tussen mans en hul vrouens moet wees?
‘n Heilige lewe beteken nie dat ‘n man as ‘n diktator oor sy vrou moet heers nie. Dit beteken ook nie dat die vrou die man se gesag mag verwerp nie. Kom ons let op enkele Bybelse riglyne oor hierdie verhouding.
Die man moet die hoof van die huis wees. Christus is die hoof van die kerk, en die man moet sy leierskapsrol onder Christus se gesag aanvaar (Ef. 5:23-25). Daar is geen regverdiging vir ‘n diktatorskap nie. In vers 25 word gesê dat die man sy vrou moet liefhê soos wat Christus die gemeente liefhet. Christus het sy lewe vir die kerk afgelê. Hy gaan voort om net die beste belange van die kerk te soek deur die nodige genade, krag en hulp vir ‘n suksesvolle lewe te gee. Hoewel die man nie alles kan doen wat Christus doen nie, moet hy nogtans sy bes doen om sy vrou te beskerm, lief te hê, te respekteer en goed te behandel. Hy moet haar beste belange op die hart dra en die lewe vir haar so vervullend as moontlik maak. Selfsugtigheid en dade van mishandeling is totaal uit pas met sy leierskapsrol. Die man moet ten diepste geestelike leierskap aan sy gesin bied, en sal eendag voor die regterstoel van Christus rekenskap hieroor moet gee. Die Gees van God sal hom egter in staat stel om ooreenkomstig God se Woord te leef.
Die vrou het ook riglyne waaraan sy moet voldoen. Sy moet haar man eer, liefhê en aan hom onderdanig wees (Ef. 5:33; Titus 2:4-5). Soos wat die man homself aan die leierskap van Christus oorgee, moet die vrou haarself aan die leierskap van die man oorgee (Ef. 5:22-24). Die vrou word nie beveel om ‘n passiewe robot te wees nie. Sy dink en handel vir haarself. Sy moet egter daarna streef om haar man te behaag, soos wat hy die voorbeeld stel om God te behaag. Die man en vrou moet 'n span vorm. Onderlinge respek en vertroue moet verdien en gegee word. Goeie kommunikasie en openhartigheid is noodsaaklik vir die span om goed te kan funksioneer. Soms moet vergifnis deur een van die twee gesoek én verkry word. Daar moet baie gegee en geneem word om ‘n huweliksverhouding goed te laat werk.
3. Wat is die regte verhoudings tussen ouers en hulle kinders?
Heiligheid van hart lei nie outomaties tot volmaakte ouer-kind-verhoudings nie. Die ouers moet baie vir wysheid en hulp bid sodat hulle die kinders reg kan opvoed en ook die regte verhouding met hulle kan handhaaf. Dit is baie belangrik om nie net vír jou kinders te bid nie, maar ook saam met hulle te bid.
Die ouers moet verskillende dinge in ag neem om die regte verhouding met hul kinders te handhaaf. Dit moet ‘n sigbare liefde wees. Niks kan ‘n kind se behoefte aan liefde vervang nie. Dit moet altyd met die regte voorbeeld in woorde, houdings en dade gepaard gaan. Daar moet ook deurgaans gepoog word om morele en skriftuurlike waarhede en waardes in die harte en gedagtes van kinders te vestig (Spr. 22:6). Daar moet ook van hulle onderdanigheid, respek en die aanvaarding van hulle verantwoordelikhede verwag word. Vaders moet nie hulle gesag misbruik en daardeur die toorn van die kinders opwek nie (Ef. 6:4). Ouers moet in die behoeftes van hulle kinders voorsien. Let ook daarop dat onvolwassenheid nie as ‘n sonde beskou moet word nie. Die ouer-kind-verhoudings moet op onderlinge respek, vertroue en goeie kommunikasie gebou word.
4. Wat is die regte verhouding tussen kinders en hulle ouers?
Heiligheid van hart beteken nie dat die kinders outomaties en ten alle tye die regte verhouding met hulle ouers sal handhaaf nie. Onvolwassenheid lei tot onwyse woorde en dade. Die kinders moet egter daarna streef om God én hulle ouers te behaag. Hulle word beveel om hulle ouers te gehoorsaam (Ef. 6:1). Wanneer ‘n kind leer om sy ouers te gehoorsaam, sal hy dit ongetwyfeld makliker vind om God en ander gesagspersone te gehoorsaam. Die kinders moet hul ouers eer en respekteer (Ef. 6:2). Die kind-ouer-verhouding kan deur openhartigheid, die aanvaarding van verantwoordelikhede, die regte houdings en die gewilligheid om advies te aanvaar, gebou word.
5. Hoe moet heilige persone se verhoudings met ander mense daar uitsien?
Ons moet ten alle tye ‘n godvresende lewe lei terwyl ons invloede op ander mense uitoefen. Dit is noodsaaklik om ander mense lief te hê. Mense wil graag behandel word soos ons ook self graag behandel wil word. Die regte behandeling van ander kan soms plofbare situasies ontlont. Eerlikheid in saketransaksies is ook noodsaaklik. ‘n Poging moet aangewend word om in vrede met alle mense te leef. Wanneer daar verskille ontstaan, verskil dan op só ‘n manier dat jy nie van jou kant af toorn verwek nie. Leef in eensgesindheid met ander gelowiges. Vergewe andere, maar moet nooit sonde goedpraat of toesmeer nie. Respekteer die regte van ander. Leef ten alle tye só dat ander kan sien jy is ‘n Christen.
6. Kan Christene onderling verskil?
Ja, want hulle is steeds menslik. Hulle het nie ‘n oplossing en ‘n antwoord vir almal se probleme nie. Die Here het aan elkeen van ons ‘n verstand gegee om te gebruik. Hoewel opbouende advies goed kan wees, is dit ook waar dat nie alle aspekte van ‘n saak altyd deur ‘n “kundige” berader geken word nie. Die persoon wat by die probleem betrokke is, besef soms meer daarvan as die kundige raadgewer. In sulke gevalle het ons gronde om van mekaar te verskil en dus nie altyd mekaar se raad te aanvaar nie.
Dit moet ook in gedagte gehou word dat mense uit verskillende agtergronde, kulture en opvoedkundige vlakke kom, wat alles na verskillende opinies kan lei. Die sinvolle wisseling van idees kan baie help om beter begrip vir mekaar se omstandighede te skep. Ons kán van ander leer!
Die Bybel is die finale antwoord vir alle vrae oor die lewe. Dit is bokant menslike opinies oor alle sake verhewe. Dit mag soms wees dat mense nie ‘n saak op ‘n bepaalde manier sien nie. Dit is in orde, solank hulle siening nie in stryd met die Bybel is nie. Wanneer ‘n standpunt in botsing met die Bybel is, is dit absoluut verkeerd – dan is dit vir ons geregverdig om van só ‘n opinie te verskil.
Verskillende opinies oor ‘n saak beteken nie noodwendig dat een van die partye sondig nie. Christene moet leer om “ooreen te kom om oor sekere sake te verskil” en steeds in eensgesindheid met mekaar te leef. Iemand het gesê: “Dit is slegs twee idiote wat altyd sal saamstem.”
7. Wat moet gedoen word indien ‘n persoon ‘n slegte verhouding met iemand anders het?
Verskeie dinge moet gedoen word. As ‘n broer iets teen jou het, moet jy na hom toe gaan en jouself met hom versoen (Matt. 5:23-24). Wanneer ons iemand anders ‘n onreg aangedoen het, moet ons die saak met God én die betrokke persoon regmaak. Wanneer ons voel dat ons benadeel is, moet ons dit in sekere gevalle maar liewer vergeet. Indien nodig, moet ons na die persoon toe gaan en dit met hom bespreek. Daar moet openhartig na sy weergawe geluister word in ‘n poging om die misverstand uit die weg te ruim en die vriendskap te herstel. Vergifnis is ‘n vereiste indien ons behoorlike verhoudings wil skep en gebroke verhoudings wil herstel. Sekere oortredings wat vergewe is, moet ook nog prakties reggestel word.
Skinderstories kan ook verhoudings benadeel. Dit is meesal wys om dit te ignoreer. Probeer om só te lewe dat jy onder alle omstandighede bo verdenking is, en mense dit moeilik vind om iets te kry om oor te skinder.
Ons verhouding met ander mense kan net reg wees as ons verhouding met God reg is. Ons moet met die liefde van God vervul wees. Indien ons God met ‘n volkome hart liefhet, is ons in staat om andere lief te hê omdat sy liefde deur ons vloei. Dinge in die praktyk sal nie altyd volgens ons sin verloop nie, maar as ons volkome toegewy aan God leef, sal Hy aan ons die genade gee om altyd oorwinnend te leef.
Inhoud
1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe
2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe
3. Die Betekenis van Heiligmaking
4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe
5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe
7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe
8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk
9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms
10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe
11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings
12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid
13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid