Studies in Christelike Heiligheid
Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)
Opsomming: Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.
3. Die Betekenis van Heiligmaking
Sleutelteks:
"Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan" (Heb. 6:1).
Sentrale waarheid
Volkome heiligmaking word as ‘n tweede genadewerk ná wedergeboorte ervaar.
Les
Mattheus 3:11-12; 5:8
11 Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.
12 Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.
Matt. 5:8 Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
Handelinge 8:14-17
14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.
15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,
16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus.
17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.
Titus 2:11-14
11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn
12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,
13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,
14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.
Uiteensetting van die Les
Inleiding
Die werk van die Heilige Gees in die redding van die siel is beide ‘n proses en ‘n krisis. Die Heilige Gees begin hierdie proses deur die sondaar van die afskuwelikheid van sy sonde te oortuig en hom tot bekering op te roep deur die sonde te versaak. Hierdie oortuigingswerk en roeping mag ‘n kort of ‘n lang proses wees. Wanneer die sondaar homself aan die Heilige Gees se bemoeienis onderwerp en hom van sy sonde bekeer, vind die krisiswerk van redding plaas, waarna dikwels as wedergeboorte of die nuwe lewe verwys word. Die Bybel praat daarvan as “die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5).
Die Heilige Gees stel die geredde, nuutgebore Christen in staat om in die lig te wandel en op die bloed van Jesus Christus te vertrou om hom van alle sondes te reinig. Die prosesse wat na regverdigmaking en heiligmaking lei is albei geleidelik. Regverdigmaking en heiligmaking self is egter dade van God waardeur sondes vergewe en die geestelike natuur van die gelowige gereinig en van alle sonde gewas word. Die vroeë dissipels het die Here Jesus in gehoorsaamheid gevolg totdat die Heilige Gees “skielik” oor hulle gekom het en “hulle harte gereinig het deur die geloof” (Hand. 15:9).
Sonde is van só ‘n aard dat die hart nie geleidelik of gedeeltelik daarvan gereinig kan word nie. As die hart sondig is, is dit nie rein nie. As dit rein is, is dit nie sondig nie. Dit is in die krisisondervinding van heiligmaking dat die hart van morele én geestelike verdorwendheid gereinig word.
1. ‘n Leerstelling wat geglo moet word (Mattheus 3:11-12; 5:8)
Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom… sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur (3:11). Hierdie is een van die mees betekenisvolle verse in die Evangelie van Mattheus. Die implikasies van Johannes die Doper se stelling word té dikwels geïgnoreer. Daar is niks uitdruklik Christelik omtrent die waterdoop nie. Die Jode het nie-Joodse proseliete as ‘n teken van die wegwas van hulle seremoniële onreinheid gedoop. Ander godsdienste het ook die waterdoop beoefen. Die enigste unieke Christelike doop is die doop van die Heilige Gees. Dit is nodig om die uitdrukking en met vuur as ‘n aanduiding te neem dat die koms van die Heilige Gees ‘n vurige, reinigende doop van die menslike hart is. Reiniging is ‘n belangrike deel van die verlossing van sonde (vgl. 1 Joh. 1:7, 9). Daar word in die Ou én Nuwe Testamente baie daarvan gemaak dat God sy volk sal reining. Hierdie reiniging vind nie plaas deur die uiterlike ritus van die waterdoop nie, maar deur die innerlike ondervinding van die doop met die Heilige Gees, wat ook die hart vervul nadat Hy dit gereinig het.
Sy skop is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak (3:12). Christus word hier voorgestel terwyl Hy sy dorsvloer skoonmaak. Dit was ‘n gladde area op ‘n rots of harde grond buitekant die woongebiede, verkieslik op ‘n hoë plek sodat dit aan die wind blootgestel was. Op hierdie vloer is die koring gedors totdat die korrels van die kaf geskei is. Die man het dan ‘n wangaffel gevat [wat hier ‘n skop genoem word] en die koring hoog in die lug opgegooi. Die korrels het reguit afgeval terwyl die ligter kaf deur die wind weggewaai is. Johannes die Doper sê dat Jesus Christus die kaf met onuitbluslike vuur sal verbrand. Dit sal Hy tydens die finale oordeel doen. Die sekerheid van God se oordeel vereis dat ons onsself van ons sonde bekeer en van alle ongeregtigheid in ons lewe verlos word.
Salig is die wat rein van hart is (5:8). Die hart word meer as 800 keer in die Bybel genoem. Daar word meesal hierna verwys as die setel van die mens se gedagtes, begeertes en motiewe. Net soos wat die fisiese hart die sentrum van die lewe is wat die hele liggaam van lewegewende bloed voorsien (Lev. 17:11), is die geestelike meganisme, wat in ‘n figuurlike sin die hart genoem word, die setel waar alle geestelike en morele besluite van die mens geneem word (Spr. 4:23). Dit is waarom die Here gesê het: “Salig is die wat rein van hart is.” Let daarop dat dit in die teenwoordige tydsvorm gesê word. Die implikasie hiervan is dat sommige mense in die huidige wêreld rein harte het. Hierdie karaktereienskap kan slegs deur die Heilige Gees voortgebring word – dit is heiligmaking. ‘n Rein hart is ‘n hart waarin daar niks is wat teen die liefde van God indruis nie. Wesley het van die heiliges gesê: “Dit is hulle wie se harte deur God gereinig is soos wat Hy rein is. Hulle is deur geloof in die bloed van Christus van elke onheilige begeerlikheid gereinig. Hulle het hulleself van alle besoedeling van die vlees en die gees gereinig, en volbring die heiligmaking in die vrees van die Here.” Hulle sal God sien. As die hart rein is, is die oë in ‘n geestelike sin helder. Wanneer die hart en die gewete deur besprinkeling gereinig is, is daar lig om God te sien – nie alleen in hierdie wêreld nie maar ook in die toekomstige. Dawid het gesê: “Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word” (Ps. 17:15).
2. ‘n Ondervinding wat geniet moet word (Handelinge 8:14-17)
Samaria het die woord van God aangeneem (v. 14). In vers 5 staan daar dat Filippus na Samaria gegaan het om Christus daar te verkondig. In verse 6 en 12 word vertel dat hulle die goeie nuus wat Filippus verkondig het, geglo het. Volgens vers 14 het die apostels in Jerusalem, nadat hulle die nuus oor dié herlewing ontvang het, vir Petrus en Johannes na hulle gestuur. Hierdie twee is afgevaardig om deur hulle pogings en gesag vir Filippus in sy werk te ondersteun. Hulle bediening was daarop toegespits dat die mense wat reeds geglo en hulle laat doop het, die ondervinding van die vervulling met die Heilige Gees kon verkry.
Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang (v. 15). Ons sien dat hierdie mense in Samaria nie sondaars was nie, maar gelowiges. Sondaars kwalifiseer nie om die gawe van die Heilige Gees te ontvang nie. Hierdie gedeelte alleen behoort vir altyd die monde te snoer van dié mense wat beweer dat “ons by ons bekering alles kry wat daar is.” ‘n Noukeurige studie van die Nuwe Testament toon aan dat daar in daardie dae altyd ‘n tweede werk van bevestiging was waarop die kerk aangedring het nadat ‘n groep mense tot bekering gekom het. Dit is inderdaad vreemd dat enigeen met ‘n oop Bybel voor hom, die tweede genadewerk van volkome heiligmaking kan ontken.
Want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus (v. 16). Hierdie vers staan in ‘n direkte verband met Petrus en Johannes se bediening. Dit impliseer dat daar geen verband tussen die doop en heiligmaking deur die vervulling met die Heilige Gees is nie. Die ondervinding van vervulling met die Heilige Gees was nie alleen algemeen onder die apostels nie, maar is ook geniet deur ‘n groot menigte gehoorsame, toegewyde mense van Pinksterdag af tot nou toe.
Hulle het hul toe die hande opgelê (v. 17). Hierdie stelling is nie bedoel om ons te leer dat geestelike lewe of genadegawes noodwendig deur die oplê van hande kom nie. In die geval van Cornelius en sy vriende het die gawe van die Heilige Gees sonder handoplegging gekom. Voor dit het die Heilige Gees op ‘n groep dissipels in die bovertrek gekom sonder dat daar hande op hulle gelê is. Die oplê van hande is die formele, uiterlike uitrdrukking van ‘n seën wat die Here aan diegene in die kerk gegee het wat waardige kandidate daarvoor was. Sommige persone gaan deur die uiterlike handeling, maar ontvang niks nie omdat hulle nie in die wil van God is nie, en dus nie in hul harte kwalifiseer om ‘n geestelike seën te ontvang nie. Die Here sien dus die hart van die mens aan.
3. ‘n Lewe wat uitgeleef moet word (Titus 2:11-14)
Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn (v. 11). Die genade van God kan in sy goedheid en liefde vir alle mense gesien word. Sy grenslose genade reik na alle mense uit. Dit is deur die menswording van Jesus geopenbaar, en kan ook in sy sigbare gevolge waargeneem word. Dit kan dus gehoor én gesien word. Hierdie genade word aan mense gegee om ook aan andere te gee. Diegene wat nie daarop reageer nie, benadeel hulleself ernstig, want “hoe sal ons ontvlug as ons só ‘n groot saligheid verontagsaam?” (Heb. 2:3).
[Die genade van God] leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe (v. 12). Hierdie vers mag ook só vertaal word: “Dit leer ons om ‘Nee’ te sê vir goddeloosheid en wêreldse hartstogte, en om selfbeheerste, eerlike lewens in die teenwoordige wêreld te leef.” ‘n Heilige karakter, wat heilige gedrag verseker, is die produk van ‘n heilige hart. Dit is ‘n wesenlike deel van die natuur van ‘n geheiligde persoon om homself van “elke vorm van die kwaad te onthou” (1 Thess. 5:22), en om ingetoë, regverdig en vroom te leef. Drie perspektiewe van die Christelike lewe word in hierdie voorskrif ingesluit: ons moet ingetoë met betrekking tot onsself leef, met die nodige selfbeheersing, regverdig teenoor ons medemense op alle verhoudingsvlakke, en vroom en vol liefde teenoor ons Skepper.
Terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag (v. 13). Die heilige lewe van die gelowige, wat ingetoë, regverdig en vroom moet wees, moet verder ook deur die “salige hoop” gekenmerk word. Hierdie hoop is vir ons in die hemel weggelê (Kol. 1:5). Dit is die hoop van heerlikheid wat ons in die Seun van God het, wanneer ons Hom sal sien soos Hy is. Vir ons is die hoop van heerlikheid direk aan die wederkoms van die Here Jesus gekoppel. Diegene wat die Here liefhet, moet gedurig op die vooruitsig van die wederkoms van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, ingestel wees. Die heerlikheid van die eniggebore Seun van God word op ‘n verhewe wyse beklemtoon. Die Godheid van die Ewige Seun word bevestig deur sy beskrywing as die grote God en ons Verlosser.
Wat Homself vir ons gegee het (v. 14). Hy het Homself gegee – die grootste geskenk wat ooit gegee is, om ons te verlos van alle ongeregtigheid. Dit is die doel van die heiligmakende effek van sy versoeningswerk. En vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig. Hy bevry die gelowiges nie net van die bande van wetteloosheid nie (vgl. 1 Joh. 3:4), maar Hy reinig hulle ook só dat hulle waardig is om sy eie volk te wees. Heiligheid is die einddoelwit van die versoening (vgl. Heb. 13:12-13). Die koste vir die mens se volmaakte verlossing is só hoog dat hy nie langer sy eie belange moet dien nie, maar vir die heerlikheid van die Here moet leef (vgl. 1 Kor. 6:19-20). Wat Christus vir die mensdom gedoen het, toon sy liefde vir mense en die groot waarde wat hulle vir Hom het. As gevolg van die goddelike belegging in die lewens van verloste en gereinigde mense, moet hulle ywerig in goeie werke wees. Paulus was uitermate [en met goeie rede] bekommerd oor die beeld wat deur Christene se openbare én private lewens aan die kerk in Kreta [en op ander plekke] gegee sou word. Dit is waarom hy aangedring het op goeie werke as die uiterlike bewys van die innerlike werk van God se herskeppende genade.
Kommentaar oor die Sleutelteks
Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan (Heb. 6:1).
Die jong Christen moet verby die beginpunt van die leer oor Christus vorder, net soos wat hy ook die aard en behoeftes van sy kinderjare ontgroei. Hy het nie aanhoudend nodig om hom van sy vorige sondes te bekeer nie, en hy hoef ook nie weer na ‘n saligmakende geloof te soek nie omdat hierdie elementêre sake afgehandel is. Hierna moet sy geestelike ontwikkeling voortgaan.
Die Pulpit Commentary sê: “Let daarop dat die stelling dat ons ‘nie moet bly by die begin van die prediking nie’, nie beteken dat ons hierdie eerste beginsels moet verwerp nie. Dit is eerder ‘n geval dat ons dit agterlaat soos wat ‘n boom sy wortels in die grond agterlaat en opgroei, maar hy verwerp nooit sy wortels nie. So ook het ‘n volwasse man lankal melkkos met vaste voedsel vervang, en ‘n gebou verrys bokant sy fondament hoewel hy nog altyd daarop staan.”
Voortgaan na volmaaktheid. Die oorspronklike woord hier beteken letterlik dat ons “gebring” of “gedra” moet word na ‘n toestand wat beskryf word as volmaaktheid, volkomenheid of volvoering. Dit is duidelik dat ‘n geleidelike volwassewording van die Christelike karakter nie hier bedoel word nie, hoewel dit progressief deur ‘n mens se lewe ontvou. Hier is sprake van ‘n besliste krisisondervinding wat nie deur ‘n mens se eie pogings realiseer nie, omdat dit ‘n werk van genade is. Dit is die hart, of die liefde in die hart, wat volmaak moet word (1 Joh. 4:17-18), en nie die lewe nie. Nadat die hart volmaak in liefde gemaak is, word dit ‘n baie ryker ontwikkelingsterrein vir die vorming van ‘n Christelike karakter. Hierdie ontwikkeling is geleidelik en sal eers afgehandel wees wanneer die heiliges verheerlik word.
Dit verg drie werke van genade, elk volmaak in sy eie sfeer, om ‘n mens vir die hemel voor te berei. Jy word vryelik geregverdig voor God wanneer elke sonde deur die bloed van Jesus Christus bedek word; jy word volkome geheilig wanneer jy van alle ongeregtigheid in jou hart gereinig word; en jy sal vir ewig verheerlik word wanneer jy ‘n nuwe, sondelose liggaam sal kry en jy sonder enige tekortkominge in die gelykvormigheid van God se volmaakte beeld voor Hom sal kan staan.
In verband met Christelike volmaaktheid haal ons die volgende stelling deur John Wesley aan:
Wat word bedoel met iemand wat volmaak is? Dit is iemand wat “die sin van Christus het,” wat “wandel soos wat Christus gewandel het,” wat “rein hande en ‘n suiwer hart het” omdat hy “van alle besoedeling van die vlees en die gees gereinig is;” iemand in wie daar “geen geleentheid vir struikeling is nie,” en wat as gevolg daarvan “nie sondig nie.” Om dit nóg duideliker te stel: Ons verstaan deur die Bybelse uitdrukking “’n volmaakte man” iemand in wie God sy betroubare woord vervul het: “Van al julle onreinhede en van al julle drekgode sal Ek julle reinig.” Ons verstaan daardeur iemand wat “volkome heilig gemaak is na gees, siel en liggaam;” iemand wat “in die lig wandel soos Hy in die lig is, in wie daar geen duisternis is nie,” want “die bloed van Jesus Christus reinig hom van alle sonde.”
Leerstellige Bespreking
Alle evangeliese Christene glo dat heiligmaking ‘n Bybelse leerstelling is, dat dit volle verlossing van sonde insluit, dat dit op Christus se soendood gebaseer is, en dat dit die erfenis is van hulle wat reeds gelowiges is. Daar is diegene wat glo dat hierdie ervaring by die wedergeboorte verkry word, ander beskou die verkryging daarvan as deel van ‘n geestelike groeiproses, terwyl daar ook diegene is wat glo dat mens dit eers by jou dood verkry (Introduction to Christian Theology).
Dit is waar dat heiligmaking by die eerste werk van genade begin op grond van die reinigende bloed van Christus, maar daar is ook ‘n verdere betekenis van heiligmaking wat opgesluit lê in opdragte wat net aan gelowiges gegee word. ‘n Noukeurige studie van hierdie woorde sal lig werp op heiligmaking as ‘n tweede genadewerk.
Die Griekse woord wat dikwels gebruik word om die ervaring te beskryf waardeur ‘n mens van vleeslikheid ontslae raak om heiligmaking te ontvang, is katharidzo. Hierdie woord het die betekenis van reiniging. Tekste waarin dié begrip gebruik word, is Hand. 15:9, 2 Kor. 7:1 en Titus 2:14. In al hierdie tekste word verskillende vorms van dieselfde woord gebruik.
Die volgende verse gebruik ook hierdie woord om skoonmaak of reinig te beskryf: Matt. 23:25-26, Luk. 11:39. Ef. 5:26, Heb. 10:14 en Jak. 4:8.
Romeine 6:6 gebruik die woord katargeo om aan te toon dat die liggaam van die sonde vernietig kan word. Purkiser sê: “Die term vernietig moet nie versag word nie. Die New International Version se vertaling daarvan as ‘rendered powerless’ is meer ‘n interpretasie as ‘n vertaling. Katargein word op verskeie plekke in die Nuwe Testament gebruik. Die voorkoms daarvan in 1 Kor. 6:13, 15:26, 2 Kor. 3:13, Ef. 2:15, 2 Thess. 2:8 en Heb. 2:14 toon die diepte en intensiteit van die term aan” (Exploring Christian Holiness). In die lig hiervan is dit duidelik dat tot niet maak in ooreenstemming met die bedoeling van Romeine 6:6 is.
‘n Ander woord wat op die vernietiging van die vlees betrekking het, is stauroo. Dit word op só ‘n wyse gebruik dat dit daarop dui dat jy vir die sonde dood is; daarom word jou band met jou vleeslike natuur verbreek. Die vleeslike verdwyn dus uit ons persoonlikheid. Hierdie idee word in Galásiërs 5:24 uitgedruk, asook in Galásiërs 2:19 wat van kruisiging praat.
Hagiadzo word soms gebruik om die afsondering van die gelowige aan te dui, asook sy heiligmaking. ‘n Voorbeeld van hierdie gebruik word in Johannes 17:17 aangetref.
Daar is ook ander woorde wat aandui dat die vleeslike uit ons persoonlikheid verwyder moet word. Vleeslikheid bestaan uit persoonlikheidseienskappe wat daartoe lei dat gelowiges vleeslik optree en die sondaars sondig. Ons is almal sonder die teenwoordigheid van die Heilige Gees gebore, met generiese geneigdhede tot vleeslikheid in ons. Dit is ons oortuiging dat wanneer ‘n persoon volkome heilig gemaak word, die vleeslike neigings uit hom verwyder word.
Dit is belangrik om daarop te let dat niks wat vir ons persoonlikheid belangrik is, vernietig word nie. Die vermoë van ons geheiligde persoonlikheid om sekere van sy eienskappe te misbruik, soos bv. liefde, toorn of saggeaardheid, bestaan nog altyd soos wat dit ook in Adam aanwesig was. Die verskil is net dat Adam nie ‘n persoonlikheid gehad het wat deur sonde beïnvloed is nie. Terwyl ons gees vervolmaak is, wag ons liggaam en verstand nog op die opstanding om ook vervolmaak te word. Dit is waarom ons elke oomblik van die dag die genade van God nodig het om ons verhouding met Hom in stand te hou. Dit is ook waar dat daar onbekende dinge is wat ons doen, waardeur God mishaag word. Ons oordeel oor sake is ook soms verkeerd, en hieruit spruit verkeerde dade. Vir al hierdie dinge het ons die versoenende bloed van Christus nodig om ons in die regte verhouding met God te hou.
‘n Vergelyking tussen die twee werke van genade sal die verskille tussen hulle duidelik aandui:
Die eerste werk |
Die tweede werk |
1. ‘n Geboorte (Joh. 3:3) |
1. ‘n Dood (Rom. 6:6). |
2. Wedergeboorte (Titus 3:5) |
2. Loutering (Mattt 3:11-12) |
3. Vergifnis (Ps. 25:11) |
3. Reiniging (Hand. 15:8-9). |
4. Bekering (Hand. 3:19) |
4. Heiligmaking (2 Kor. 7:1) |
Wanneer daar oor die tweede werk van genade gepraat word, word die opdrag en beloftes altyd aan mense gerig wat reeds weergebore is. Neem bv. die boek Efésiërs. In hoofstuk 1 sê Paulus dat hulle reeds die verlossing het (1:7). In hoofstuk 2 sê hy dat hulle geestelik lewend gemaak is (2:5). In 3:12-20 vind ons dat daar vir hierdie ‘lewende’ Christene gebid word dat hulle deur die Heilige Gees met die krag (3:16) en volheid (3:19) van God vervul sal word. Wanneer hulle hierdie vervulling verkry het, het hulle die tweede werk van genade ontvang. Dan sal hulle die werke van die vlees aflê en in suiwer liefde teenoor mekaar én teenoor God wandel. Hoewel baie van die Efésiërs hulle eerste liefde verlaat het (Op. 2:4), kán hulle volgens Efésiërs 5:2 hierdie liefde behou en voortdurend daarin wandel.
Vrae en Antwoorde
Die volgende is vrae wat dikwels oor heiligmaking gevra word, asook die antwoorde daarop:
1. Wat is volkome heiligmaking?
Dit is die tweede, besliste werk van genade waardeur die hart van ‘n geregverdigde persoon van die Adamiese natuur gereinig en met die Heilige Gees vervul word. Dit sluit ‘n volle oorgawe aan God se wil in, en ook ‘n oorgawe aan die Heilige Gees om die hart van alle neigings tot sonde te reinig en met sy teenwoordigheid te vul.
2. Wat is toewyding?
Dit is ‘n daad van jou waardeur jy aan God die volle beheer oor elke faset van jou lewe gee – oor jou loopbaan, jou besittings, jou gesin, jou drome en jou tydsverdryf – nou én in die toekoms. Daar moet niks teruggehou word nie. God sal jou nie heilig voordat jy alles aan Hom toegewy het nie.
3. Is Heiligmaking dieselfde as toewyding?
Nee. Ons gee ons harte aan die Here oor en wy dit aan Hom toe. Hy heilig dit dan deur dit te reinig, met sy Heilige Gees te vervul en ons vir sy diens af te sonder.
4. Wat is sommige van die name vir volkome heiligmaking?
Christelike volmaaktheid, volmaakte liefde, hartsreiniging, vervulling met die Heilige Gees, die volheid van die seën, volle verlossing, die dieper lewe, Christelike heiligheid, Bybelse heiligheid, en die belofte van die Vader.
5. Wat is die verskil tussen verlossing en volkome heiligmaking?
“Sonde is wetteloosheid” (1 Joh. 3:4). Elkeen van ons het dinge gedoen wat ons weet dat dit oortredinge van God se wette is. Hierdie dade van sonde het daartoe gelei dat ons in disharmonie met God geleef het. Om in die regte verhouding tot God te kom, moet ons ‘n goddelike berou oor ons sonde hê, ons daarvan bekeer en glo dat God al ons sondes om Christus ontwil vergewe. Hierdie redding, wedergeboorte en regverdigmaking van ‘n sondaar word verlossing genoem.
Hierna is daar nog steeds ‘n natuurlike neiging om verkeerd te doen, waarmee elkeen van ons gebore is. Dit word deur verskillende name genoem, insluitende vleeslikheid. Aangesien ons hiermee gebore word, is dit nie ‘n daad van sonde waarvoor ons vergewe kan word nie. Ons moet daarvan gereinig word – dit moet deur die reinigende krag van die Heilige Gees ontwortel en verwyder word. Ons wy ons alles aan God toe, en Hy reinig ons harte van hierdie neiging om te sondig, en vervul ons ook met sy teenwoordigheid. Dit is volkome heiligmaking.
6. Kan ‘n mens verlossing en volkome heiligmaking op dieselfde oomblik kry?
Nee, dit is twee afsonderlike, definitiewe werke van genade, soos hierbo aangetoon. Handelinge 3:19 sê: “Bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word.” ‘n Opregte bekering van jou sonde, tesame met geloof dat die Here jou dit sal vergewe, lei na jou verlossing [of redding] deur die Here. Dit is die eerste werk van genade wat in die hart van die sondaar gedoen word.
Ander gedeeltes in die Bybel dui op die vervulling met die Heilige Gees, of volkome heiligmaking, as ‘n tweede besliste werk van genade. Dit is slegs vir diegene wie se sondes reeds vergewe is. In Johannes 14:16-17 dui Jesus aan dat volkome heiligmaking ‘n tweede werk van genade is vir diegene wie se sondes reeds vergewe is. Hy sê aan sy dissipels: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
7. Is volkome heiligmaking ‘n krisisondervinding of ‘n proses? Kan mens in dit ingroei?
Die uitdrukking ‘groei in genade’ dui aan dat terwyl ons aanhou om in die lig te wandel en God se opdragte uit te voer, sal ons geestelik groei. Hoewel ons “in” die genade groei, groei ons nie van buite af “daarin” nie. ‘n Sondaar moet eers van sy sonde gered word. Daarna moet hy op ‘n bepaalde tyd of plek die ondervinding van heiligmaking soek. Hy sal nie vanself in dit ingroei nie. Wanneer hy die tweede genadewerk in ‘n krisisondervinding deelagtig geword het, kan hy verder in die genade groei en toeneem.
‘n Voorbeeld van só ‘n krisisondervinding kry ons in Efésiërs 4:22 en 24 waar Paulus aan die gemeente sê “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan... en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Die oue mens met sy sonde-geneigdheid moet afgelê word voordat ons onder die leiding van die Heilige Gees met die nuwe mens beklee kan word wat deur ware heiligheid gekenmerk word. Dit is ‘n besliste stap en nie ‘n proses nie.
8. Indien volkome heiligmaking so belangrik is, waarom kan redding nie oorgeslaan en ‘n persoon regstreeks geheilig word nie?
Die Here Jesus het gesê dat die wêreld [die sondaars] nie die inwoning van die Heilige Gees kan ontvang nie, omdat hulle ‘n ander god, Satan, dien. ‘n Persoon se hart moet deur die vergifnis van alle dade van sonde vir reiniging voorberei word. Dan kan hy, as ‘n volgeling van Christus, na die volheid van die seën soek. Die Heilige Gees kan dan die weergebore hart van ingebore sonde reinig en dit met sy teenwoordigheid en krag vervul.
Redding [of verlossing] is essensieel om in die regte verhouding met God te kom. Ons sondes móét eers vergewe word in ‘n eerste definitiewe werk van genade. Daarna moet ons egter verder gaan en die Heilige Gees toelaat om die neiging tot sonde uit ons harte te haal. Hy sal ons reinig en met sy teenwoordigheid vervul as ‘n tweede definitiewe werk van genade – dit is volkome heiligmaking.
Inhoud
1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe
2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe
3. Die Betekenis van Heiligmaking
4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe
5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe
7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe
8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk
9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms
10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe
11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings