Die Voorspoed van die Here
Psalm 118:18-29
deur Madelein Wolfaardt
Die tug van die Here
Psalm 118:18, 19 & 20 “Die HERE het my hard gekasty, maar my aan die dood nie oorgegee nie. Maak oop vir my die poorte van die geregtigheid; ek wil daardeur ingaan, ek wil die HERE loof. Dit is die poort van die HERE; regverdiges mag daardeur ingaan.”
Die Here vermaan en tugtig ons vir ons eie beswil. Hy sal ons nooit verlaat of opgee op ons nie of ons aan die dood oorgee nie, maar Hy is lankmoedig en neem tyd om ons te vorm na Sy ewebeeld. Niemand verander en strek na meer daar waar dit gemaklik is nie. Ons groei in ongemaklikheid want dan word ons uit ons gmaklike plekke uit gedwing.
Die tug van die Here vorm en verander ons om regverdig te kan wees sodat Hy ons kan seen.
Regverdig = om in ooreenstemming te wees met dit wat reg is.
Ons moet regverdig wees sodat ons waardig kan wees om by die poorte van geregtigheid in te kan gaan.
Geregtigheid = om gelykvormig te wees aan God se wil in doel, gedagte en aksie.
Die Here is altyddeur besig met ons
Psalm 118:21 & 22 “Ek wil U loof, omdat U my verhoor het en my tot heil geword het. Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.”
Die Here hoor ons gebede, al voel dit soms of Hy talm om antwoord te gee moet ons altyd onthou dat die Here ALLES weet. Hy sien die toekoms en weet presies watter plan Hy met ons het. Daarom vorm en tugtig Hy ons, sodat Hy daardie plan met ons kan bereik. Dit is hoekom dit so belangrik is vir ons om nooit in die Here te twyfel nie. Ons moet oorgee aan Hom en weet dat, al lyk dit soms of Hy nie hoor nie en die omstandighede sleg is, Hy is nog altyd in beheer en besig om in ons te werk. Ons moet steun op Jesus wat die hoeksteen is, Hy is vas, onveranderlik en waardig om vertrou te word.
As jy agter kom dat jou geloof swak is en jy baie kere wankel omdat jy nie jou vertroue in die Here kan stel nie, moet jy onthou dat ons kan bid en die Here vra vir meer geloof, net soos die dissipels ook gedoen het in Lukas 17:5.
Psalm 118:23 & 24 “Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë. Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”
“Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.” Ek het al gewonder hoe die vrou in Spreuke 31:25 dit reg kry om te lag oor die dag wat kom, en hier het ek my antwoord gekry.
Ons moet juig en bly wees oor elke dag, omdat dit van die Here af kom behoort dit wonderbaar te wees vir ons – dit is die dag wat Here gemaak het en Hy skenk dit aan ons! Net omdat die Here vir ons ‘n nuwe dag geskenk het is genoeg om oor te juig en bly te wees. As ons nou nog boonop dit net moet gaan sit en dink aan alles waaroor ons dankbaar kan wees, dan sal ons nog veel meer rede he om te juig en bly te wees oor elke dag.
As ons elke dag met hierdie posetiewe houding benader sal niks vir ons te groot of te moeilik voel nie. Alle negatiewe gedagtes sal uitgedryf word. Ons sal met afwagting elke dag kan ingaan. Al kom moeilike dinge of swaarkry oor ons pad, sal ons dit totaal anders hanteer en sal molshope nie in berge verander nie. Ons sal in afwagting wag om te sien hoe die hand van die Here in ons lewens werk. Hierdie positiewe ingesteldheid is baie belangrik in die Christen se lewe omdat ons ligdraers is in ‘n duistere wereld. As ons ligte self flou brand deur negatiewiteit en moedeloosheid, hoe sal ons die Lig vir andere kan wees?
Voorspoed van die Here
Psalm 118:25, 26 & 27a “Ag, HERE, gee tog heil; ag, HERE, gee tog voorspoed! Geseënd is hy wat kom in die Naam van die HERE! Ons seën julle uit die huis van die HERE. Die HERE is God, en Hy het vir ons lig gegee.”
Ons gebed is dat die Here ons heil (welsyn/ welvaart) en voorspoed sal gee. In hierdie verse sien ons wie geseend is en voorspoed het – dit is die mense wat kom in die Naam van die Here. Hulle wat die Here ken. Dit is vir hulle wie die Here lig wys en gee, die mense wie Hom ken en volg. Ons moet wandel in die lig wat die Here vir ons gee dan sal ons voorspoedig wees. Het jy al ooit saam met iemand geloop in die aand wat die flitslig vashou op ‘n donker paadjie? Dan sal jy weet dat dit is om Hom naby te volg en om te loop net daar waar Hy die lig skyn.
Ps 18:29 “Want U laat my lamp skyn; die HERE my God laat my duisternis opklaar.”
Oorgegewe lewe
Psalm 118:27b “Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar.”
Om op die altaar te gaan lê: Daar moet ‘n tyd in elke Christen se lewe kom wat hy besef dat hy nie ‘n oorgegewe lewe aan die Here lei nie, maar dat hy sy eie sake wil reël en sy eie wil volg. Ons moet die offer goed vasbind op die altaar – hierdie offer is ek self. Wanneer ek myself oorgee aan die Here, kies ek om daar op die altaar te gaan le. Dit is nie maklik om daar te lê nie, want nou gee ek my hele lewe in die Here se hande oor – my man, kinders, tyd, werk, geld, huis, besittings, drome, ambisies, planne en my toekoms. Dit is alles nou in die Here se hande. Daarom moet die offer goed vasgebind word op die altaar, sodat ons nie weer sal afklim nie, maar dat ons op die altaar sal bly - oorgegee aan die Here.
Hoe om op die altaar te bly: Om oorgegee te bly aan die Here is ‘n aanhoudende besluit wat ons moet maak. Die oomblik wat ons agter kom dat ons nie meer oorgegewe aan die Here is nie, gaan ons maar net in gebed na die Here en gee weer opnuut aan Hom oor. “…Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar.” Horings spreek van krag/ sterkte. Ons moet nie in ons eie krag op hierdie altaar probeer bly nie, maar deur die krag wat die Here ons sal gee om daar te bly. Dit is net in Sy krag wat ons dit sal regkry om altyd deur goorgegee aan Hom te bly in alle opsigte van ons lewens.
‘n Lewe wat God verheerlik
Psalm 118:28 & 29 “U is my God, en ek wil U loof; o my God, ek wil U verhoog. Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!”
Wanneer ons die Here toelaat om in ons te werk, ons te verander en om ons te tugtig en te vorm – dan loop dit uit op ‘n lewe wat die Here vereer en verheerlik. Die Here tugtig ons en gebruik ons goeie en slegte omstandighede om ons te kan vorm sodat ons regverdig sal wees. Gelykvormig aan God se wil in doel, gedagte en aksie. Soos wat ons leer om die Here meer te vertrou gee Hy vir ons meer geloof. Hoe meer geloof ons het, hoe makliker is dit vir ons om op die altaar te gaan le en daar te bly. Hierdie oorgegewe lewe is ‘n lewe wat God verheerlik, ‘n lewe wat God se lig uitstraal na die donker wereld.