Gesante van God
Madelein Wolfaardt
Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen. 2 Kor 5:20
Dra jy jou Land en Koning se Naam hoog?
‘n Ambassadeur is altyd in aanraking met sy tuisland, en so moet ons ook wees as ambassadeurs/gesante van God. Deur middel van gebed en die Bybel. ‘n Ambassadeur tree altyd op met integriteit – veral omdat jy die grootste en kragtigste kininkryk verteenwoordig. ‘n Ware gesant bedel nooit vir geld nie! (Het jy al een van Amerika se ambassadeurs sien bedel?) Ons het ‘n baie groot verantwoordelikheid.
2 Korinthiërs
Paulus ons voorbeeld as ambassadeur vir Christus:
1. Hy was geroep deur God (2 Kor 1:1)
Daar is ‘n plan en doel met elkeen se lewe. Elkeen is geroep deur God, en by wedergeboorte het elkeen die groot opdrag ontvang om te getuig en vissers van mense te word. Jy word nie gered net om hemel toe te gaan nie, dit is jou erfdeel ja, maar tot dan moet ons arbei vir Jesus. (Matt 4:19 En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.) As ons Hom volg, maak Hy ons vissers van mense.
2. Hy was totaal opreg (2 Kor 1:12)
So moet ons ook sorg dat ons opreg, met ‘n rein gewete in die genade van God in die wêreld verkeer. Jy kan nie getuig as jy nie opreg is nie, mense sien dit raak. Ons moet ook ‘n skoon gewete hê voor God en mense, sodat ons vrymoedigheid kan hê om te getuig. As jou gewete nie skoon is nie, hoe kan jy dan iets vir mense wil sê? (Rom 2:21-23)
3. Hy was met die Heilige Gees vervul (2 Kor 1:22)
Ons weet dat ons met die Gees vervul moet word. Maar dit beteken nie dat ons nog nie moet getuig nie, aangesie ons nog nie met die Gees vervul is nie. Ons is op die pad na heiligmaking, en wandel in die lig wat die Here vir ons nou gee. Ons het altyd iets om oor te kan getuig.
4. Hy was lief vir die mense wat hy gedien het (2 Kor 2:4)
Ons moet ‘n liefde hê vir verloregaande sielle, en vir diegene waarmee ons werk. Hoe anders sal jy iemand op die hart kan dra as jy nie ‘n liefde vir die persoon het nie? Dit is die liefde vir God eerste en vir mense wat ons sal dryf om te bid vir hulle en te werk onder hulle.
5. Hy het totaal op God vertrou (2 Kor 3:5)
Ons is totaal onbekwaam om vir die Here te kan getuig en werk, maar dit is in ons onbekwaamde toestand wanneer ons dan werklik staat maak op die Here, en nie op ons eie kennis en meriete nie. Dan kan die Heilige Gees deur jou werk en praat, en ons in die Here roem en nie in onself nie, want dit is niks uit onsself nie. (2 Kor 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.)
6. Hy het nooit opgegee nie (2 Kor 4:1)
Ons moet nie moedeloos word nie, maar net aanhou stry. Hou aan getuig met jou mond en ook met jou lewe. Moenie moeg word nie, laat moeilikhede jou aanspoor en nie ontmoedig nie.
7. Hy was ‘n voorbeeld vir ander mense (2 Kor 6:3,4)
Dra jou getuienis altyd hoog sodat die bedienning nie beklad mag word nie. Wees ‘n voorbeeld in woord en in daad. As jy foute maak, maak dit so gou moontlik reg, by God en by mense.
8. Hy was wys met geld (2 Kor 8:20-21)
Hoe jy met jou geld handel is deel van jou getuienis. Daar moet geen vingers na jou gewys kan word nie, dit maak afbreek aan jou getuienis. Leef nougeset in elke aspek van jou lewe, al dink jy niemand sien dit nie. Dit is ook deel daarvan om ‘n rein gewete te hê.
9. Hy was bereid om te ly (2 Kor 11:23-33; 12:9-10)
Die dag toe ons die Here aangeneem het, moes ons ‘n kosteberekening doen om te sien of ons werklik bereid is om die Here te dien. Ons moet ons verbly in beproewinge omdat dit God se manier is om dinge in ons in te bou of uit te haal. Maar ons moet ook beried wees om te ly wanneer ons geen vriend meer oor het nie, uitgeskyf word of beskinder en gespot word omdat ons Jesus gekies het. (2 Kor 12:15 En ek sal baie graag uitgee, ja, myself weggee vir julle siele, al word ek, terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin.)
10. Hy het begeer om gelowiges na heiligheid te lei (2 Kor 13:9)
As ons van hierdie wonderlike boodskap bewus word, kom dit vanself dat ons vir andere ook daarvan wil vertel. Dit is ‘n kosbare boodskap wat ons graag wil hê elkeen moet smaak.
Hier sien ons ‘n hoë standaard om na op te leef in Paulus se voorbeeld. Hou altyd voor oë dat ons vreemdelinge hier is, oppad na ons huis, maar oppad soontoe moet ons soveel moontlik mense saam vat.
Waarskuwing!
Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Hand 28:27
Almal gaan nie luister nie, maar wees jy net getrou en volhard tot die einde toe.