Uitredding Vóór Goddelike Toorn
Johan Malan - Afrikaanse Artikels, Mosselbaai (April 2014)
Die tema van Paulus se twee briewe aan die Thessalonicense is die fisiese uitredding van Christene voor die uitstorting van Goddelike toorn tydens die eindtydse verdrukking, asook die geestelike voorbereidings wat nodig is vir ons ontmoeting met die hemelse Bruidegom. Hieruit blyk die noodsaaklikheid daarvan om ’n hoopvolle toekomsverwagting te hê en onsself gereed te maak vir Christus se skielike verskyning. Ons moet ’n duidelike begrip van toekomstige dinge hê, sodat ons nie dalk ’n Antichrisverwagting koester wat voortvloei uit ’n foutiewe siening dat die wegraping eers ná die Antichris se verskyning sal plaasvind nie.
Dit is noodsaaklik dat die stellings wat Paulus maak, reg vertolk word. Ons moet ook daarteen waak om nie die chronologiese orde waarin dit vervul sal word te verander nie, want slegs dan sal ons ’n duidelike patroon van eindtydse gebeure verkry. In hierdie artikel sal ons eerstens die begrippe verduidelik wat op God se toorn betrekking het; daarna word die belofte van ontvlugting voor die uitstorting van die toorn bespreek; en dan sal die ernstige gevolge van verkeerde leerstellings met betrekking tot die eskatologie aangedui word.
Die dag van die Here
Paulus verwys telkens in sy briewe aan dié gemeente na die eindtydse uitstorting van God se toorn oor die goddeloses, en beskryf dit as:
- “die toekomstige toorn” (1 Thess. 1:10; 5:9) wanneer Goddelike toorn uitgestort sal word oor ’n Christusverwerpende wêreld;
- “die dag van die Here” (1 Thess. 5:2) wanneer Hy met die ongelowiges in die gerig sal tree;
- ’n “skielike verderf” (1 Thess. 5:3) wat sal plaasvind wanneer die Antichris geopenbaar sal word om sy misleiding en skrikbewind tot hoë hoogtes te voer; en
- “die dag van Christus” (2 Thess. 2:2) wanneer Hy self as Regter die oordele van God oor die wêreld sal uitstort. Die sondaars op aarde sal terdeë hiervan bewus wees (Op. 6:16-17).
Dit is duidelik dat Paulus tydens sy besoek aan Thessalonika intensiewe onderrig oor die eskatologie aan die gemeente gegee het (vgl. 2 Thess. 2:5). Hulle was dus vertroud met die ernstige aard van die tyd van oordele wat aan die kom is.
In sy preke oor die dag van die Here sou Paulus beslis na belangrike Ou-Testamentiese uitsprake hieroor verwys het. Jesaja sê: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ’n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg” (Jes. 13:9 e.v.; vgl.; Jes. 24:1-23). Joël sê: “Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra? ... Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Joël 2:11, 31).
In sy profetiese rede verwys die Here Jesus na hierdie tyd as die “groot verdrukking” en voeg by dat die mensdom dit nie sou oorleef indien daardie dae nie verkort sou word nie (Matt. 24:21-22). Hy bevestig ook die feit dat sy sigbare koms wanneer elke oog Hom sal sien, direk ná die donker dae van die groot verdrukking sal plaasvind (Matt. 24:29-30; Luk. 21:25-27). In Openbaring beskryf Johannes die tyd van oordele as “die toorn van die Lam” en “die groot dag van sy toorn” (Op. 6:16-17).
God die Vader het Jesus nie alleen as Verlosser na die wêreld gestuur nie, maar Hom ook as die Regter van alle mense aangestel (Hand. 17:30-31). Sy toorn sal uitgestort word oor almal wat hulle nie tot God bekeer het nie. Die gemeente in Thessalonika was goed hieroor ingelig.
Skielike aanbreek van die dag van die Here
Hoewel daar baie profesieë oor die eindtydse verdrukking is wat tydens die openbaring van Christus ’n aanvang sal neem, sal hierdie tyd nietemin skielik en onverwags aanbreek: “... want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:2-3). Vir die nie-Christelike wêreld sal daar nie ’n ontvlugting deur middel van die wegraping wees nie, want hulle sal ’n valse, mensgemaakte vrede najaag in die vorm van ’n nuwe wêreldorde wat globalisme en internasionale versoening voorstaan. Hulle sal hoegenaamd nie daarop ingestel wees om Christus as Vredevors te ontvang nie, maar sal Hom inteendeel openlik verwerp (vgl. Ps. 2:2-3). Vir die goddeloses sal die dag van die Here deur oordele ingelui word.
Christene is egter nie vir die oordele van God bestem nie, daarom begin die dag van die Here se eindtydse openbarings vir hulle by die wegraping wanneer Hy onverwags soos ’n dief in die nag sal kom om hulle te kom haal. Hy sê: “Kyk, Ek kom soos ’n dief. Salig is elkeen wat sy klere bewaar” (Op. 16:15). Tydens sy geheime koms sal die wêreld Hom nie sien nie, want Hy sal sy bruidsgemeente in die lug ontmoet en hulle dan na die hemel wegvoer. Dit is die geredde mense wat heilig geleef, hulle met Christus beklee, en op sy koms gewag het. Hulle is nie die voorwerpe van God se toorn nie, daarom sal hulle weggeneem word voordat die dag van die Here se oordele op aarde aanbreek.
Die skielike afwesigheid van die ware kerk wat – deur bemiddeling van die Heilige Gees – Christus se lig in die wêreld laat skyn het, sal aan die Antichris die geleentheid bied om die wêreld sonder teëstand oor te neem en alle mense aan sy skrikbewind te onderwerp. In daardie tyd sal Christus die seëls van God se oordele in die hemel breek en as gevolg daarvan sal die verdrukking op aarde met Goddelike toorn gepaard gaan.
Die ontvlugting
Die Thessalonicense het hulleself daaraan toegewy “om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:9-10). Wat ’n vooruitsig! Die Here Jesus het die straf vir ons sonde betaal; Hy is uit die dood opgewek; en Hy het na die hemel opgevaar, vanwaar Hy sal terugkom om ons te kom haal. Dit sal só gebeur:
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).
Hierdie belofte sluit aan by dié in Lukas 21:36, waar ons tot gereedheid vir Christus se koms aangemoedig word: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Ons sal die Here in die lug ontmoet wanneer Hy soos ’n dief in die nag kom om ons te kom haal. Daarna sal ons saam met Hom terugkeer hemel toe. Op die aarde sal ons plekke skielik leeg wees: “In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word ...” (Luk. 17:34 e.v.). Indien ons op die tekens van die tye ag slaan en ’n aktiewe verwagting na die koms van die Bruidegom koester, sal ons nie daardeur onkant betrap (“oorval”) word nie: “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie” (1 Thess. 5:4).
Tydens die wegraping sal Christus net verskyn aan “die wat Hom verwag tot saligheid” (Heb. 9:28). Paulus bevestig hierdie belofte telkens: “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur ons Here Jesus Christus” (1 Thess. 5:9). Die gemeente word herhaaldelik opgeroep om onberispelik te wees in heiligheid vir die ontmoeting met die hemelse Bruidegom (1 Thess. 4:7-8; 5:23-24).
Valse leerstellings weerlê
Nadat Paulus van Thessalonika af weg is, is valse leerstellings oor gebeure rondom die wederkoms van Christus in die gemeente verkondig. Verskeie groepe mense het beweer dat daar nie, soos Paulus aanvanklik geleer het, ’n wegraping voor die verdrukking is nie, maar dat die kerk deur die verdrukking moes gaan. Die lidmate van die gemeente was ontvanklik vir hierdie nuwe idees, weens die feit dat die Romeinse Ryk ’n verskerpte veldtog van vervolging teen die Christene ingestel het. Paniek en vrees het in die gemeente ontstaan. Nadat Paulus hiervan verneem het, het hy ’n tweede brief aan hulle geskryf om die dwalings te weerlê. Hierin het hy die aanvanklike belofte van ’n voorverdrukkingwegraping herbevestig deur daarop te wys dat hulle nog nie in die dag van die Here was nie:
“Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom [die wegvoering], om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus [die tyd van oordele op aarde] al daar is” (2 Thess. 2:1-2).
Daar was drie verskillende oorde waaruit hierdie valse leerstellings gekom het. Eerstens was daar valse profete wat op die gawe van profesie aanspraak gemaak het. Volgens dié profete het die Heilige Gees aan hulle geopenbaar dat die dag van die Here al klaar aangebreek het en dat daar geen ontvlugting vir gelowiges sou wees nie. Tweedens was daar valse leerstellings deur verskillende mense wat openlik beweer het dat Paulus verkeerd was om ’n ontvlugting voor die oordele te verkondig. Derdens was daar selfs vervalste briewe wat in die naam van Paulus geskryf is, waarin hy glo die boodskap aan die gemeente sou oorgedra het dat hulle wel in die dag van die Here was en in werklikheid daarvoor bestem was. Paulus het hierdie valse leerstellings ontmasker en weerlê deur verdere inligting te verskaf wat op die gemeente se uitredding vóór die oordele dui:
“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak; hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:3-12).
Paulus voer in hierdie gedeelte verskeie redes aan waarom die dag van die Here se oordele nog nie aangebreek het nie, en verskaf verdere inligting oor wat gaan gebeur nadat die ware kerk van Christus weggeneem is:
- Hy begin deur die gemeente teen geestelike misleiding te waarsku: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie.” Paulus het dit tydens sy sendingreise nodig gevind om ook ander gemeentes te waarsku teen geestelike misleiding wat dikwels uit hulle eie geledere afkomstig was (Hand. 20:29-30). Enige boodskap of mening wat uitgespreek word, moet eers aan die Skrif getoets word voordat dit aanvaar word (Hand. 17:11).
- Hy wys voorts daarop dat daar aan die begin van die dag van die Here en die daaropvolgende openbaring van die Antichris as die mens van sonde eers ’n “afval” (letterlik ’n “vertrek”) moet plaasvind. Die Griekse woord wat hier gebruik word, nl. “apostasia” beteken bloot “vertrek”, en moet dus verder gekwalifiseer word in die verband waarin dit gebruik word. Wanneer mense van die waarheid af “vertrek” (Eng. “departing from the faith”) dan tree geestelike afvalligheid inderdaad in. Die “vertrek” in hierdie vers dui egter op die vertrek van die Christene voor die verskyning van die Antichris. Hierdie betekenis word bevestig in ’n voetnota in die Amplified Bible: “A possible rendering of apostasia is ‘departure [of the church]’.” Hierdie gebeurtenis sal gevolg word deur grootskaalse misleiding op aarde, asook die openbaring van die Antichris, omdat die verkondigers van die waarheid skielik weg sal wees. Vir ’n meer volledige uiteensetting van die betekenis en implikasies van “apostasia” in hierdie gedeelte, lees die artikel: “Groot afval volg ná Christene se vertrek”(http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Vertrek.htm).
- In die lig van hierdie stelling was dit duidelik dat die keiser in Rome nie, soos die Christene gedink het, die Antichris kon wees nie; daarom was die gemeente se gevolgtrekkings oor die identiteit van die Antichris ongegrond. Die keiser het homself ook nie in die tempel in Jerusalem tot God verklaar nie, daarom kon hy hoogstens een van die baie voorlopers van die eindtydse Antichris wees (vgl. 1 Joh. 2:18).
- Paulus verskaf dubbele bevestiging van ’n voorverdrukkingwegraping. Hy herinner die gemeente daaraan dat, soos hy in die verlede aan hulle verkondig het, die teëhouer eers uit die weg geruim moes word voordat die Antichris geopenbaar sal kan word. Die teëhouer is die ware kerk van Christus wat die tempel van die Heilige Gees is. Hulle is die lig van ’n donker wêreld (Fil. 2:15) en verteenwoordig die koninkryk van God op aarde tydens die kerkdispensasie. Wanneer hulle egter weggeneem word sal groot geestelike duisternis op aarde toesak, sodat die “ongeregtige” (die Antichris) sonder teëstand geopenbaar sal kan word. Dan eers sal die dag van die Here se oordele oor die sondaars ’n aanvang neem.
- Terwyl die Antichris groot wonderwerke sal doen deur die krag van Satan (iets wat die keiser in Rome nie gedoen het nie), sal Goddelike oordele ook oor die aarde uitgestort word. Daar is egter geen sprake daarvan dat die oordele van God tydens die kerkbedeling oor die aarde uitgestort word nie, omdat dit die bedeling van genade is – nie van oordele nie. Hoewel die vroeë Christelike kerk baie gely het, was dit aan die hand van goddelose mense en nie as gevolg van God se toorn nie. Juis daarom kon hulle lyding nie aan die oordele van die dag van die Here toegeskryf word nie.
- Die Antichris was nie een of ander leier wat al reeds histories die wêreldtoneel oorheers en wie se rol nou uitgespeel is nie. Sy persoon en optrede is bepaal vir die eindtyd; daarom sal hy ’n lewende persoon op aarde wees wanneer Christus terugkom, sy voete op die Olyfberg sit, en oorlog voer teen sy vyande (2 Thess. 2:8; vgl. Sag. 14:1-13; Op. 19:19-21). Saam met die Antichris sal almal geoordeel word wat die waarheid verwerp het en behae gehad het in die ongeregtigheid (2 Thess. 2:12).
Die beloftes van die Here staan dus vas: die Antichris kan nie geopenbaar word voordat die teëhouer uit die weg geruim is nie, en dit gebeur eers aan die einde van die kerkbedeling. Dan sal daardie onvergelyklike donker tyd wat as die groot en vreeslike dag van die Here beskryf word, in die wêreldgeskiedenis aanbreek. Die aardbewoners sal weet dat die toorn van die Lam oor hulle uitgestort word, en dit sal tot uiteenlopende reaksies onder hulle lei. Sommige sal na die berge vlug in ’n poging om die toorn van die Lam te probeer ontvlug, maar steeds weier om hulle te bekeer (Op. 6:16-17; 9:20-21). Baie van hulle sal God selfs laster oor al sy plae (Op. 16:11, 21). Daar sal egter ook diegene wees wat hulle foute en sonde sal erken en Christus as Verlosser sal aanneem. Hoewel hulle hewig vervolg sal word deur die Antichris sal hulle getrou bly en volhard op die pad van die Here, selfs al beteken dit ook ’n marteldood (Op. 6:9-11; 7:9-17; 12:11; 20:4).
Die boodskap wat Paulus aan die Thessalonicense gerig het, is dat hulle geheel en al ’n nuwe lewe in Christus verkry het nadat hulle hulself van die afgode bekeer het om die lewende en waaragtige God te dien en te wag op sy Seun uit die hemele wat ons van die toekomstige toorn van die verdrukking sal verlos (1 Thess. 1:9-10). Hulle lewensbeginsels en lewenswyse moes heeltemal anders as dié van die verdorwe wêreld wees, en dit geld ewe so vir ons omdat ons ’n hoë roeping van God in Christus Jesus het. Ons lewe moet op die bevordering van Christus se koninkryk ingestel wees, asook op ons vereniging met Hom tydens sy wederkoms. Dit vereis dat ons na liggaam, gees en siel onberispelik in heiligheid sal wees. Ons is nie in die duister oor hierdie beloftes, soos wat die wêreld is nie, daarom sal ons nie deur die tyd van Goddelike oordele oorval word nie.
Die oordele van die dag van die Here sal oor almal kom wat meegedoen het aan die sondekultuur van “die mens van sonde” en “die seun van die verderf”, die Antichris (2 Thess. 2:3). Hierdie misleier sal deur Christus self verdelg word, asook al sy meelopers wat saam met hom in ’n toestand van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel verkeer het. Diegene wat Jesus Christus nie as Verlosser aangeneem en sodoende deel van sy koninkryk geword het nie, sal in die komende groot verdrukking deur Hom geoordeel word. Hulle het egter nou nog die geleentheid om uit die duisternis van sonde en ongeregtigheid oor te kom tot sy wonderbare lig.