Seerkry & Verlies
Hoe hanteer ek dit?
Jesaja 43:1-2, 19
Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!
As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.
Binne in die moeilike tye is die Here reeds besig om iets nuuts te maak, al sien jy dit nie raak terwyl jy in die vuur is of deur die rivier gaan nie. God het ‘n plan.
Rou is natuurlik en is iets wat moet gebeur, dit is ‘n proses om deur te werk, maar daarna moet jy ook aan beweeg en nie hier vasval nie.
Hoe word ek nou gesond?
- Ek moet erken dit is seer.
Baiekeer hardloop mens weg vir jou emosies omdat dit so moeilik is om dit in die gesig te staar. Baie mense maak of niks gebeur het nie en weier om aan die dinge te dink wat hul soveel pyn veroorsaak. Deur dit te doen hardloop ek net weg en gaan die gevoelens nie weg gaan nie maar later lei dit na bitterheid, verweite, kwaad en haat. - Ek moet my vertroosting by God vind.
Gaan eerste na die Here toe in plaas daarvan om eerste met mense te praat daaroor. Vertel Hom hoe jy nou oor die situasie voel en pak jou hart uit in gebed met vrymoedigheid. By Hom kry ons vertroosting, duidelikheid en rigting. - Nou kan ek met ‘n mede Christen vriend daaroor praat.
Dit is goed om ook daaroor te kan praat met iemand wat jy vertrou, wat saam met jou sal bid oor die saak en wie vir jou Bybelse raad sal gee. Luister na raad en word ook so vertroos. - Neem aksie.
Neem aksie deur te vergewe en te groet, groet beteken nie vergeet nie. Vind ‘n plek van oorgawe en aanvaarding in jouself. Daar is niks wat jy kan doen om die verlede te verander nie, maar jy het beheer oor die toekoms. Gryp dit aan. ‘n Mens mag huil en hartseer wees.
Om te Rou
Rou is ‘n proses en nie ‘n gebeurtenis nie, gee dit tyd. Gee mense of jouself spasie om deur die rou proses te gaan. Elkeen rou op sy eie manier en dit is nodig, sodat die genesing kan kom. Verstaan waardeur jy self of andere gaan.
- Praat oor jou gevoelens.
- Wys liefde aan so iemand.
- Verseker so persoon.
- Wees geduldig.
- Plak teksverse wat bemoedigend en vertroostend is op in die huis waar jy dit kan lees en daaraan herinner kan word.
Jesaja 41:10 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
Psalm 119:50 Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak.
Mat 5:4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.