fbpx

5 Kleure Kinderevangelie

Ongeredde kinders het 'n ernstige probleem. Hulle gaan ook sterf agv hulle sondes. Hulle het die reg om die evangelie te hoor. Dis 'n kwessie van lewe en dood. Vanaf 4jr tot 14jr neem 85% van kinders vir Jesus aan.

Onthou om die kind se eie vertaling van die Bybel te gebruik (sodat hulle kan sien dat hulle eie Bybel sê wat jy vertel).

Kry die atmosfeer reg, stil en ernstig. Vra 'n paar vrae om hulle gemaklik te maak. Jy kan ook probeer vasstel of hulle gered is deur te vra: Wat het Jesus vir jou gedoen?

Moet nooit net aanneem 'n kind is gered nie!

Mar 10:13-14  En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf.  (14)  Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.

Dit is belangrik om gebruik te maak van visuele hulpmiddels om deur die stappe te gaan.

Jy kan ‘n boek maak met die 5 kleure met elke bladsy ‘n kleur, blaai dan deur die boek soos wat jy deur die stappe gaan. Dit word die ‘Woordlose Boekie’ genoem. Jy kan ‘n grote maak as jy ‘n klas kinders het en ook ‘n kleintjie wat jy in jou Bybel kan hou vir een tot een evangelisasie. Dit is nie nodig om die Woordlose boekie te gebruik nie, jy kan ook die vorms uitdruk en uitknip om te wys vir die klas. Elke kind kan dan ook sy eie stelletjie kry wat hulle dan in volgorde vir jou kan pak of kan gebruik om dit vir jou terug te verduidelik. Gebruik jou verbeelding, hou dit interesant en interaktief.

Kyk na die praktiese hulpmiddels beskikbaar in on aanlyn winkel.

1. Goud - God en die hemel

  • God het alles gemaak (bv. Diere, plante ens.).
  • God het jou ook gemaak.
  • God is baie lief vir jou.
    Joh 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad ....
  • Hy het die perfekte plek vir jou in die hemel gemaak.

Maar: Daar is iets wat nooit in die hemel kan wees nie. Dit is sonde.

2. Donker hart

NB! Verduidelik dat dit nie swart is nie, maar donker soos duister.

Sonde is enigeiets wat God ongelukkig/ hartseer maak. Dit kan verkeerde dinge wees wat jy: doen, of sê, of dink, of dinge wat jy nie doen nie wat jy behoort te doen.

  • Bv. nie jou speelgoed bêre nie maar dit onder die bed ingooi.
  • Bv. vloek of jok of skinder.
  • Bv. dink hoe jy geld uit jou ma se beursie gaan steel.
  • Bv. nie vir iemand help wat seergekry het nie, maar net verby stap.
  • Ons elkeen (ek, en jy ook) is gebore met 'n wil om verkeerde dinge te wil doen (om jou eie wil te doen).
    Rom 3:23a  want almal het gesondig …
  • Sonde skei jou van God.
    Jes 59:2  maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.
    (Ongeregtighede = sonde).
  • Sonde keer jou om in die hemel te kan ingaan (na God se perfekte plek vir jou).
  • Jy kan jouself nie red nie – jy kan nie goed genoeg wees vir God nie.
    Efe 2:8-9  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;  (9)  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
    Verduidelik Genade = God se goedheid, niks wat ons verdien nie; gawe = 'n geskenk, niks wat jy verdien nie.

Maar, God het 'n wonderlike plan gemaak sodat jou sonde kan vergewe word en jy eendag hemel toe kan gaan.

3. Rooi - Die kruis

  • Jesus Chirstus is die Seun van God.
    Hand 9:20  En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.
  • Jesus het Sy bloed gegee sodat jou sonde vergewe kan word.
    Heb 9:22b  ... en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.
  • Hy het gewillig die straf gedra wat vir jou bedoel is.
  • Hy kon in jou plek aan die kruis sterf omdat Hy perfek/sondeloos is.
    2Kor 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
  • Hy het doodgegaan, maar Hy het weer opgestaan.
    1Kor 15:3b-4  ... dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;  (4)  en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
  • Hy is nou in die hemel by Sy Vader.

Omdat Jesus dit vir jou gedoen het, kan jou sonde vergewe word en jy kan gereed wees vir die hemel.

4. Skoon hart

NB! Verduidelik dat dit nie 'n wit hart is nie, maar 'n skoon hart.

  • God nooi jou uit om na Hom te kom.
    Op 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
  • Erken aan God dat jy 'n sondaar is en graag wil wegdraai van jou sonde af.
  • Glo dat Jesus vir jou gesterf het, en dat Hy die enigste een is wat jou sonde kan wegneem.
    Hand 16:30-31  En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?  (31)  Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
  • Kies die Here Jesus, neem Hom aan en weet dat Hy jou die reg gee om dan 'n kind van God te word.
    Joh 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Moet nooit die kind forseer om 'n besluit te maak nie! Moet ook nie die kind probeer oortuig nie – dis die Heilige Gees se werk.

As die kind die Here Jesus wil aanneem as sy Verlosser, hersien weer wat jy hom geleer het by elke kleur, en vra vrae om te sien of hy verstaan, bv:

   Wat is sonde?

   Het jy sonde in jou lewe?

   Noem voorbeelde.

   Wat is die probleem van sonde?

   Hoe straf God sonde?

   Kan jy iets doen om jou sonde te laat weggaan?

   Wie is die Here Jesus?

   Hoekom het God Sy Seun na die wêreld gestuur?

   Vir wie het Jesus aan die kruis gesterf?

   Wat het Jesus vir jou aan die kruis gedoen?

   Wat het met Jesus gebeur na Hy gekruisig was en waar is Hy nou?

Die kind moet besef hy het 'n probleem, hy moet besef die probleem is sy sonde, en hy moet besef net Jesus kan hom daarmee help. Dan kan jy weer die kind vra: “Wil jy vir God sê dat jy glo die Here Jesus het gesterf vir die sondige dinge wat jy gedoen het?” 
As die kind “Ja” sê, laat die kind dan bid en dit vir God sê (erken, glo, kies):

  • Erken dat hy 'n sondaar is. Bely al die sondes waaraan hy kan dink wat hy al ooit in sy lewe gedoen het.
  • hy glo dat Jesus Christus die Seun van God is, wat gesterf het vir sy sondes, en wat sy sondes kan wegneem, en wat opgestaan het uit die dood en nou in die hemel is.
  • Kies die Here Jesus as Koning van jou lewe.

Nadat die kind gebid het, gee hom die versekering dat hy nou God se kind is:

  • Joh 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
  • Vra die kind of hy seker is dat dit nou so is. As hy nie seker is nie, gaan weer deur alles met hom.
  • Wanneer hy op die punt kom dat hy glo, sit die kind se naam dan in die vers (Joh 1:12) en lees dit weer.
  • Vra: “Wat sê die Bybel het God nou vir jou gedoen?” (My sondes vergewe en my Sy kind gemaak).
  • Hoe weet jy dit? (Die Bybel sê so).
  • Waar is Jesus nou?
  • Laat die kind dan 'n dankie-gebed bid.
  • Leer die kind van sondebelydenis: Bely onmiddelik as jy sonde gedoen het en vra God se vergifinis.
    1Joh 1:9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

5. Groen - Geestelike groei

Ons moet groei soos die plante daar buite in die sonlig nadat ons gered geword het. Die maniere om te groei kan onthou word deur die 5 vingers van jou hand.

Jy moet die Here Jesus elke dag 'high-five':

  1. Duim - jy kan nie jou Bybel optel sonder jou duim nie: Lees jou Bybel.
  2. Wysvinger - jy steek jou hand op as jy wil praat: Bid.
  3. Middelvinger - die langste vinger so hy staan uit: Getuig (vertel van Jesus), staan uit vir Jesus.
  4. Ringvinger - trouring vinger – bly getrou aan Jesus: Bely jou sondes.
  5. Pinkie - Gaan kerk en Sondagskool toe.

As jy 1 vinger minder het, kan jy die Here Jesus nie so styf vashou nie. Al 5 vingers is baie belangrik.

Volg op

Gee die kind 'n traktaatjie, boekmerk, Bybel ens.

Kry die kind se adres en telefoonnommer en volg op so ver moontlik. Stap 'n pad met die kind. Dit moet jy doen saam met 'n senior persoon. Moenie die kind op jou eie kontak of sien nie (want dit kan moeilikheid veroorsaak).

Vertel die kind dat hy nou by almal (sy ouers, sy broers en susters, sy vriende, onderwysers ens) moet gaan getuig dat hy nou 'n kind van God is.

Bid vir die kind.